Hoe om twyfel te hanteer (1)

2021-04-07
Johannes 20:25 NLV

Tomas was nie daar toe Jesus die eerste keer aan sy dissipels na die opstanding verskyn het nie. Soos baie van ons, was ander mense se ervarings nie goed genoeg vir Tomas nie – hy moes sy eie hê. Jesus het seker gemaak dat hy dit kry. Let op dat Hy nie Tomas verwyt het omdat hy getwyfel het nie. Hy het verstaan dat enige vraag wat in ‘n eerlike hart ontstaan, nie ‘n skeptiese vraag is nie, maar ‘n soeke na die waarheid.

Die Bybel sê vir ons: ‘Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle… Jesus het tussen hulle kom staan en aan hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’ Daarna sê Hy vir Tomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar glo.’ Tomas het vir Jesus gesê: ‘My Here en my God!’ (verse 26-28 NLV).

Ons kan twee belangrike lesse uit hierdie verhaal leer: 1) Jou twyfel kan jou na ‘n nuwe vlak van geloof lei. Wanneer die bodem uit jou wêreld val, wanneer die pyn van jou omstandighede ondraaglik voel, wanneer ‘n verwoestende gebeurtenis plaasvind en twyfel onaangekondig instap, moenie dit ontken nie – erken dit. Tye van vertwyfeling word klaskamers van onderrig wanneer hulle jou na God vir antwoorde dryf. Soos jy deur hulle werk, sal jy ‘n nuwe vlak van geloof bereik.

2) Jou twyfel kan jou na ‘n dieper verhouding met Jesus lei. Die getuienis van ander sal jou net sover dra, maar uiteindelik het jy jou eie persoonlike ervaring met die Here nodig. Jy kan dit hê! Tomas het begin deur Jesus in twyfel te trek en het opgeëindig as ‘n martelaar wat vir Jesus se koninkryk gesterf het. Dink daaroor!

Sielskos: Lev 11:1-13:37; Mark 1:1-8; Ps 32; Spr 9:10-16