2021-04-14
Rigters 11:1 NLV
Jefta was die buite-egtelike kind van ‘n man genaamd Gilead. Sy ma was ‘n prostituut. Hy het in die huishouding van Gilead se ander wettige seuns grootgeword, wat hom later weggejaag het. “…Hulle het vir hom gesê: ‘Jou ma is ‘n prostituut. Jy mag nie saam met ons van ons pa erf nie'” (vers 2 NLV). Jefta het toe in ‘n grot gaan woon.
Daar het hy ‘n bende leeglêers en rebelle bymekaar gebring en hulle in ‘n groot weermag omskep. Toe die Ammoniete vir Israel bedreig het, het die leiers na hom toe gegaan vir hulp. Jefta het egter vir hulle gesê: “….’Julle het my dan so gehaat dat julle my uit my pa se huis weggejaag het. Vir wat kom julle nou na my toe wanneer julle in die moeilikheid is?’ ‘Ons het jou nodig,’ het die leiers van Gilead vir Jefta gesê. ‘Kom voer ons aan teen die Ammoniete! Ons sal jou die hoof maak van almal wat in Gilead woon'” (verse 7-8 NLV).
Nie net het Jefta hulle na ‘n oorwinning gelei nie, maar sy naam word ook saam met mense soos Abraham, Moses en Dawid met eer in die Bybel genoem. Sy lewe was vol lesse. Hier is ‘n belangrike een: Verwerping kan deel van God se plan vir jou lewe wees. Jefta is vir redes buite sy beheer verwerp – hy was buite-egtelik. In plaas daarvan om bitter te word, het hy aanbeweeg en iets goeds van sy lewe gemaak.
Miskien is jy al verwerp omdat jy te oud, jonk, intelligent, dom, mooi, lelik, bevoorreg, arm, aantreklik, onaantreklik, manlik, vroulik, wit, swart ens is. Deur God se genade het Jefta ‘n lelike situasie geneem en dit in ‘n mooi een omskep. As jy jou situasie vandag vir God gee, sal Hy dieselfde genade aan jou voorsien.
Sielskos: Lev 26-27; Mark 1:40-45; Ps 56; Spr 10:8-9
2021-04-13
2 Petrus 3:18 AFR83
Hoe hanteer ons die seer wat in die verlede in ons verhoudings plaasgevind het? Hoe kombineer twee mense aparte en unieke perspektiewe om ‘n bevredigende en liefdevolle verhouding te skep?
Daar is ‘n baie spesiale bestanddeel genaamd ‘genade’ wat by die mengsel bygevoeg moet word. Dit vereis dat jy aan die ander persoon dieselfde genade bewys as wat God aan jou bewys. Dit gee krag aan diegene wat sukkel om funksioneel in areas te wees waar hulle in die verlede disfunksioneel was. Genade herstel die hart en los die probleme van ‘n gefolterde gees op. Dit is liefdevolle barmhartigheid en vergifnis. Dis die Guns van God.
Soos Hy dit aan ons skenk, moet ons dit ook aan ander gee wat ons medelye en liefde nodig het. Ons is almal in sekere areas gebroke en ons moet leer om dit te aanvaar en ander te help om die gebrokenheid in hulle te herstel.
Petrus het nie geglo dat hy in staat was om sy Here te verraai nie. Hy het gesweer dat hy dit nooit sou doen nie. Jesus het dit egter nie net voorspel nie, maar ook beloof om vir Hom te bid totdat hy ten volle tot inkeer gekom het (sien Lukas 22:32).
Ons word ook geroep om dit te doen; om aan ander onvolmaakte mense dieselfde liefde en genade te bewys as wat aan ons bewys is. Paulus het aan die mense in Tessalonika geskryf: ‘Liewe broers en susters, dit is gepas dat ons altyd vir God dankie sê vir julle, want julle geloof hou net aan groei en julle almal se liefde vir mekaar word net groter!’ (2 Tessalonisense 1:3 NLV). Dan voeg Petrus by: ‘Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade…’ Dis ‘n proses, dus moet jy daaraan werk!
Sielskos: Lev 23:26-25:55; Mark 1:35-39; Ps 50:16-23; Spr 10:4-7
2021-04-12
Handelinge 2:39 NLV
Elke familie het unieke en verskillende sterkpunte. Jy kan ‘n erflating aan jou kinders gee deur die waardes, insigte en liefde wat jou familie tot op hede gebring het waar julle is, aan hulle oor te dra. Deur ‘n sin van geskiedenis te hê, kan jy in hulle ‘n begeerte inspireer om die grootsheid te laat voortbestaan. Jy moet hulle vertel hoe jy dit deur jou Jordaanrivier gemaak het en jou beloofde land binnegegaan het.
Dit is noodsaaklik om elke familielid se gawes te beklemtoon. Daar is iets in elke persoon wat hom of haar bo die ander laat uitstaan. Almal van ons het spesiale talente en almal van ons wil graag hoor wat ons goed doen. Ons moet die uniekheid van elke familielid herken en verbaliseer.
Ons moet beklemtoon dat alhoewel ons deel van ‘n goeie familie is, ons nie deur ons erfenis beperk word nie; ons het die vryheid en die vermoë om ons eie individuele gawes uit te oefen. Inspireer jou familie om trots te wees op waar hulle vandaan kom, waar hulle is en waar hulle kan gaan. Ons verlede bind ons aan mekaar, maar dis die individuele lede wat hulle unieke gawes gebruik en hulle spesifieke rolle vervul, wat ‘n familie veerkragtig maak en vir hulle ‘n sterk toekoms in die beloftes van God gee. ‘Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders…’
Moenie die laaste skakel in die ketting wees nie. Moenie toelaat dat dit by jou eindig nie. Neem die seëninge wat God in jou geplaas het en gee hulle oor aan jou kinders – en ook aan jou kleinkinders.
Sielskos: Lev 21:1-23:25; Mark 1:29-34; Ps 50:1-15; Spr 10:3
2021-04-11
Filippense 2:3 NLV
Jy kan leer om iemand lief te hê en te aanvaar, sonder om noodwendig met hulle opinies saam te stem of hulle dade of leefstyle goed te keur. ‘n Belangrike sleutel om dit reg te kry, is om mense as individue te sien. Hoe meer ons besef dat ons ten spyte van ons verskille almal menslik is en deur ons Vader volgens sy beeld geskep is, hoe vryer word ons om op ons gemeenskaplike behoeftes te fokus. Wanneer ons nie iemand anders se beweegredes, sienings of persoonlikheid verstaan nie, is dit maklik om die ergste oor hulle aan te neem en irritasie en woede te projekteer.
Kommunikasie en vertroue help baie om ons geduld en begrip teenoor ander wat anders as ons is, te vermeerder. Jy kan hierdie twee dinge in ‘n verhouding verskaf deur bloot die regte vrae te vra. Te dikwels is ons bang om iemand te vra waar hulle vandaan kom, of wat die probleem is. Of wanneer ons dit wel vra, doen ons dit op so ‘n manier wat net die vrees en vyandigheid wat die ander persoon ervaar, verhoog. As ons vriendelik vra, of ten minste op ‘n eerbiedige manier, maak ons dit vir die ander persoon makliker om oop te maak en leer ons hulle beter ken. ‘n Konstruktiewe gesprek bou vertroue, wat die waarskynlikheid van meer en beter kommunikasie tussen julle verhoog.
Die Bybel stel ‘n hoë standaard vir ons om ander mense lief te hê en te aanvaar. Paulus sê: ‘Al sou ek enige taal op aarde of selfs in die hemel kon praat, maar ek kom die liefde kort, het ek ‘n galmende trom of ‘n klinkende simbaal geword’ (1 Korintiërs 13:1 NLV).
Sielskos: 2 Kro 7:12-16; Matt 6:5-15; Luk 18:1-8
2021-04-10
Romeine 8:32 NLV
George Müller word as een van die grootste geestelike reuse van die kerk geag. Doen jouself ‘n guns en gaan lees op oor sy lewensverhaal. Hy het keer op keer voor oorweldigende behoeftes te staan gekom, na God toe in gebed gedraai, sy beloftes opgeëis en wonderbaarlike wonderwerke ervaar. Groot geloof word egter nie oornag verkry nie; dit word deur ‘n leeftyd van wandel met God gebou.
Müller het gesê: “My geloof is dieselfde geloof wat in elke gelowige te vinde is. Dit het bietjie-vir-bietjie oor die afgelope ses-en-twintig jaar vermeerder. Baie kere wat ek mal van bekommernis moes geword het, het ek vrede gehad omdat my siel die waarheid van God se beloftes geglo het. God se Woord, tesame met die hele karakter van God soos Hy Homself openbaar, beantwoord alle vrae. Sy onveranderende liefde en sy oneindige wysheid het my kalmeer. Ek het geweet: ‘God is in staat en gewillig om my hierdeur te bring.’ Daar staan geskrywe: ‘As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie.”
Jy vra: ‘Hoe kry ek hierdie tipe geloof?’ Die Bybel sê: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap…’ (Romeine 10:17 NLV). Net soos ‘n daaglikse dieet van goeie kos jou fisies versterk, so versterk lees, mediteer, bestudeer, verbaliseer en staan op God se Woord jou geestelik.
Die ‘geheim’ tot ‘n suksesvolle Christelike lewe is glad nie ‘n geheim nie – bestudeer God se Woord en ontvang God se Woord in jou. Jy kan nie situasies in die lewe wat angs veroorsaak vermy nie, maar wanneer jou geloof sterk is, kan jy hulle oorkom.
Sielskos: Lev 18-20; Mark 1:21-28; Ps 25:16-22; Spr 10:2
2021-04-09
2 Korintiërs 11:3 NLV
Al ooit van die fluweelmier gehoor? Hy het klein haartjies op sy lyf wat glad en fluweelagtig voel. Dis egter net ‘n vermomming. Hy is inderwaarheid glad nie ‘n mier nie, maar ‘n vlerklose perdeby met ‘n aaklige angel. Nadat hy sy slagoffers met gif gespuit het, lê hy sy eiers in hulle lewelose liggame.
Een van Paulus se grootste bekommernisse was dat die kerke, nadat hulle deur genade gered is, weer sou terugkeer na ‘n lewe onder die Ou Testamentiese wet. Hy het hulle aanhoudend daarteen gewaarsku om nie hulle verlossing en verhouding met God op hulle eie dade te baseer nie. ‘Ek is tog bang dat julle gedagtes weggevoer sal word van julle opregte en suiwer toewyding aan Christus, net soos die slang Eva met sy listigheid verlei het. As iemand ‘n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, of ‘n ander Gees of ‘n ander evangelie aanvaar as dié wat julle van ons ontvang het, is julle só maklik tevrede daarmee’ (verse 3-4 NLV). ‘n Ander Jesus! ‘n Ander Gees! Paulus waarsku weer: ‘Die Satan self gee immers voor dat hy ‘n engel van die lig is’ (vers 14 NLV).
Ja, jou werk op aarde bepaal jou beloning in die hemel. Maar slegs deur op die voltooide werk van Christus te vertrou, sal jy in die hemel kom. Wetlikheid sal jou nie net infekteer nie, maar jou leweloos laat. Die Skotse dominee, Horatius Bonar, het geskryf: ‘In die hande van ‘n lewe wat ek nie gelei het nie, op ‘n sterfte wat ek nie gesterwe het nie; iemand anders se lewe, iemand anders se dood, plaas ek my hele ewigheid.’
Hoe beskerm jy jou teen ‘die angel’ van wetlikheid? Deur slegs op God se genade staat te maak.
Sielskos: Lev 15-17; Mark 1:14-20; Ps 25:8-15; Spr 10:1