Omskep jou verlies in wins (1)

2021-04-14
Rigters 11:1 NLV

Jefta was die buite-egtelike kind van ‘n man genaamd Gilead. Sy ma was ‘n prostituut. Hy het in die huishouding van Gilead se ander wettige seuns grootgeword, wat hom later weggejaag het. “…Hulle het vir hom gesê: ‘Jou ma is ‘n prostituut. Jy mag nie saam met ons van ons pa erf nie'” (vers 2 NLV). Jefta het toe in ‘n grot gaan woon.

Daar het hy ‘n bende leeglêers en rebelle bymekaar gebring en hulle in ‘n groot weermag omskep. Toe die Ammoniete vir Israel bedreig het, het die leiers na hom toe gegaan vir hulp. Jefta het egter vir hulle gesê: “….’Julle het my dan so gehaat dat julle my uit my pa se huis weggejaag het. Vir wat kom julle nou na my toe wanneer julle in die moeilikheid is?’ ‘Ons het jou nodig,’ het die leiers van Gilead vir Jefta gesê. ‘Kom voer ons aan teen die Ammoniete! Ons sal jou die hoof maak van almal wat in Gilead woon'” (verse 7-8 NLV).

Nie net het Jefta hulle na ‘n oorwinning gelei nie, maar sy naam word ook saam met mense soos Abraham, Moses en Dawid met eer in die Bybel genoem. Sy lewe was vol lesse. Hier is ‘n belangrike een: Verwerping kan deel van God se plan vir jou lewe wees. Jefta is vir redes buite sy beheer verwerp – hy was buite-egtelik. In plaas daarvan om bitter te word, het hy aanbeweeg en iets goeds van sy lewe gemaak.

Miskien is jy al verwerp omdat jy te oud, jonk, intelligent, dom, mooi, lelik, bevoorreg, arm, aantreklik, onaantreklik, manlik, vroulik, wit, swart ens is. Deur God se genade het Jefta ‘n lelike situasie geneem en dit in ‘n mooi een omskep. As jy jou situasie vandag vir God gee, sal Hy dieselfde genade aan jou voorsien.

Sielskos: Lev 26-27; Mark 1:40-45; Ps 56; Spr 10:8-9