Hou vas totdat jou vreugde kom

2021-02-22
Psalm 30:6 NLV

Pyn is ‘n onvermydelike deel van die lewe en van groei; ‘n voordelige deel! Stop en dink oor die voordele daarvan na:

1) Dit laat jou weet wanneer daar iets in jou liggaam is wat verkeerd is en wat reggestel moet word.

2) Dit forseer jou om te erken dat daar ‘n toestand is waarvan jy nie geweet het nie; een wat moontlik jou lewe kan neem.

3) Dit laat jou jou prioriteite en skedule herrangskik en hulp soek.

4) Dit maak jou gewillig om behandeling wat jy nie noodwendig geniet nie, te ondergaan, met die geloof dat dit jou weer heel sal maak.

Kry jy die idee? Vreemd as wat dit mag voorkom, hoe meer jy pyn vrees en teenstaan, hoe groter is die effek daarvan op jou. Dit wat ons teenstaan, duur voort en hoe meer ons pyn teenstaan, hoe sterker word dit. Wanneer ‘n swanger vrou in kraam gaan, is die raad van haar mediese span gewoonlik om te ‘ontspan.’ Hulle weet dat hoe meer sy die pyn beveg, hoe sterker dit sal word en dat die bevalling dan al hoe langer sal neem. Wanneer jy dus pyn ervaar, moet dit nie beveg nie. Stap daardeur en laat dit toe om die doelwit te bereik.

Die Bybel sê: ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie’ (Jakobus 1:2-4 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – leer om hierdie seisoen van pyn te verduur, met die wete dat God jou vreugde aan die ander kant daarvan beloof het!

Sielskos: Gen 13-16; Matt 17:1-13; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5

Vergeet daarvan en beweeg aan

2021-02-21
Filippense 3:13-14 NLV

Ons almal het ‘n ‘verlede.’ Dis gevul met seer wat ander mense ons aangedoen het, foute wat ons in die moeilikheid laat beland het en dinge waaroor ons so skaam is dat ons dit nie waag om openlik daaroor te praat nie. Wat staan ons te doen?

Daar is net twee dinge wat jy met jou verlede kan doen: fokus daarop, of vergeet daarvan en beweeg aan. As jy vergifnis nodig het, vra God daarvoor, ontvang dit deur geloof, leer uit jou foute en probeer om volgende keer beter te doen. Paulus het geskryf: ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het’ (verse 13-14 NLV).

Voor Paulus vir Christus ontmoet het, het hy Christene gevange geneem, tereggestel en kerke toegemaak. Wat erger is – hy is daarvoor betaal! Miskien laat dit jou bietjie beter oor jou verlede voel. Nou het Paulus egter net een doelwit gehad – om homself uit te strek na dit wat voorlê.

Wanneer jy deur sonde misluk, vererger jy jou mislukking deur daaroor te tob en in skuldgevoelens te verdrink. Hoekom? Omdat God vir jou van vergifnis voorsien het! Of jy dus twintig jaar terug of twintig minute terug gesondig het, daar is niks wat jy daaraan kan doen nie, behalwe om God om vergifnis te vra, dit te ontvang, dit agter jou te sit en aan te beweeg. Jy moet gister se foute laat gaan om vandag se seëninge te kan aangryp. Wanneer jy leer om dit te doen, sal jy die lewe geniet soos God dit bedoel het.

Sielskos: 1 Sam 3:1-11; Hand 9:1-9

Het jy daaroor gebid?

2021-02-20
2 Korintiërs 4:18 NLV

God het nie gebed moeilik of gekompliseerd gemaak nie, maar regtig eenvoudig. Die waarheid is dat baie van ons meer gereeld bid as wat ons weet. Ons het ‘n effektiewer en suksesvoller gebedslewe as wat ons besef. Die probleem is dat ons nie altyd besef wanneer ons bid nie. Dis omdat jy die verkeerde idee daaroor het. Ons is geleer dat gebed ‘n spesifieke omgewing soos die kerk nodig het, dat ons ‘n spesifieke posisie moet inneem, deur byvoorbeeld te kniel, dat ons spesifieke woorde soos ‘O Heer’ moet gebruik en dat ons streng aan sekere godsdienstige rituele moet voldoen. Nee, gebed is eenvoudig ‘n gesprek met God, waarna jy stil word en Hom toelaat om met jou te praat. Jy kan enige tyd, enige plek, oor enigiets bid, deur jou gedagtes – gesproke en ongesproke – na God toe te rig.

Paulus skryf: ‘Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare is vir altyd.’ Verbeel jou dat al God se seëninge en voordele in ‘n pakhuis in die onsigbare ryk gestoor word; dinge soos vergifnis, krag, wysheid, leiding, guns en hulpbronne. Deur gebed gaan jy God se pakhuis van seëninge binne en deur geloof ontvang jy dit en bring dit na jou lewe toe terug.

Die Bybel sê dat ons nie het nie, omdat ons nie vra nie (sien Jakobus 4:2). Wat jy dus ook al vandag benodig, bid en vra God daarvoor – met die geloof dat Hy dit vir jou sal gee. Jesus het gesê: ‘As julle aan My verbind bly en my woorde ‘n stewige vastrapplek in julle gekry het, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry’ (Johannes 15:7 NLV). So, het jy daaroor gebid?

Sielskos: Gen 10-12; Matt 16:13-28; Ps 36; Spr 5:21-23

Rande en robyne

2021-02-19
Efesiërs 2:8 NLV

Om te verstaan hoe God jou sien, kyk na hierdie twee voorbeelde:

1) ‘n R10 noot. Wat maak dit waardevoller as enige ander stukkie papier van dieselfde grootte? Die rykdom en stabiliteit van die regering wie se stempel daarop afgedruk is. Jy kan die R10 noot opfrommel, daarop trap of dit selfs in twee skeur en weer vasplak, maar sy waarde bly steeds dieselfde.

2) ‘n Robyn. As jy ‘n robyn in die stof rondrol, is dit steeds ‘n robyn, net ‘n vuile. Ons moet uitwys dat jy dan egter eers die vuilheid sal moet afwas en die robyn sal moet poets, om waarlik die skoonheid daarvan te kan waardeer.

Wat is die punt van hierdie twee illustrasies? Dat jou waarde in God se oë, as sy verloste kind, nie verander of verminder wanneer jy vuil word, op getrap word of deur die lewe en omstandighede uitmekaar geskeur word nie. Dis omdat jou werklike waarde nie deur jou eie pogings bepaal word nie, maar deur die prys wat Jesus vir jou aan die kruis betaal het. Daar het die groot wisseling plaasgevind. Al jou sondes, van jou geboorte tot by jou graf, is op Hom gelê. Wanneer jy Hom dan as jou Redder aanvaar, word sy geregtigheid na jou toe oorgedra. Jy hoef dit nie na te streef nie; dis “‘n gawe.” ‘…julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God.’

Sielskos: Gen 7-9; Matt 16:1-12; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20

Stel gesonde grense vir jouself

2021-02-18
Spreuke 25:28 NLV

‘n Christelike leier skryf: ‘Die Groot Muur van China is in die derde eeu NC as verdediging teen strooptogte van die nomadiese volke uit die noorde opgerig. Dwarsdeur die daaropvolgende eeue, veral gedurende die Ming Dinastie (1368 – 1644), is die Groot Muur herstel en uitgebrei totdat dit uiteindelik vyf-en-veertig myl lank gestrek het.’ Eeue voor die oprigting daarvan, het Bybelse volke mure gebruik om hulself te beskerm en om grense rondom hulle op te rig, om sodoende die land wat aan hulle behoort het, te kon identifiseer. Om effektief te wees, moes die mure egter gereeld onderhou word. Die kleinste gat kon die vyand ‘n noodlottige voordeel gee. Daar is ‘n waardevolle les hieruit te leer.

As ‘n Christen, is daar een muur in jou verdedigingsisteem wat ten alle tye onderhou en beskerm moet word – die muur van selfbeheersing. Die Bybel sê: ‘Iemand wat homself nie in bedwang kan hou nie, is soos ‘n stad sonder ‘n muur wat beskerming bied.’ Jou versuim om selfbeheersing te handhaaf, is soos om die hekke van die stad oop te maak en vir die Duiwel ‘n uitnodiging te stuur om jou aan te val.

J. Wilbur Chapman, een van grootste predikers in die geskiedenis, het ‘n reël wat hy ‘My reël vir ‘n Christelike lewenstyl’ genoem het, geformuleer. Dis ‘n reël wat jy in jou lewe moet nastreef. Hy het gesê: ‘Die reël wat my lewe regeer is as volg: Enigiets wat my visie vir Christus aantas, of my lus vir Bybelstudie wegneem, of my gebedslewe inperk, of Christelike werk moeilik maak, is verkeerd vir my en ek moet, as Christen, daarvan af wegdraai.’ Vraag: Is jou verdedigingsmure geskend of het dit vervalle geraak? Indien so, doen vandag iets daaraan.

Sielskos: Gen 4-6; Matt 15:29-39; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14

Die Mickey Mantle verhaal

2021-02-17
2 Korintiërs 5:17 NLV

Mickey Mantle is een van die ware legendes in die geskiedenis van bofbal. Hy het van 1951 tot 1968 tweeduisend vierhonderd en een wedstryde vir die New York Yankees gespeel en met ‘n rekord van agtien tuislopies in twaalf wêreldreekse, vir hom ‘n plek in bofbal se ‘Hall of Fame’ in 1974 losgeslaan. Die skare was mal oor hom. Hy was beroemd. Hy was ryk. Maar tog het hy leeg gevoel, dus het hy na alkohol gedraai.

In ‘n onderhoud met Sports Illustrated, het hy sy lang stryd met drank en sy hartverskeurende probleme met sy familie beskryf. Die onderhoudvoerder het hom gevra: ‘Hoe gaan dinge deesdae met jou, Mickey?’ Hy het geantwoord: ‘Ek het al vir agt maande nie ‘n druppel drank gedrink nie. Ek begin my lewe weer agtermekaar kry, maar ek voel dat daar iets ontbreek.’

Voel jy dieselfde vandag? Het al die dinge wat jy bereik het of verkry het jou nie bevredig nie? Mickey Mantle het uiteindelik uitgevind hoe om die gat in sy siel te vul.

Aan die einde van sy lewe het hy dít gevind waarna hy nog altyd op soek was – Jesus Christus. ‘n Ander beroemde bofbalspeler, Bobby Richardson, het hom na Christus gelei. By Mantle se begrafnis, het Richardson vertel hoe hy Mantle gehelp het om die Here Jesus as sy persoonlike Redder te aanvaar. Op sy sterfbed het Mickey Mantle gesê: ‘Ek vertrou in Christus se dood om my hemel toe te neem.’ Wat Jesus vir Mickey Mantle gedoen het, wil Hy vir jou ook doen. ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’

Sielskos: Gen 1-3; Matt 15:15-28; Ps 28; Spr 5:3-6