Begryp ware heiligheid

2021-04-26
Sagaria 14:21 NLV

Heiligheid moet altyd ‘vir die Here die Almagtige’ toegewys wees. Wanneer ons dit aan mense toewys, is dit altyd verkeerd en misplaas, omdat dit net trots en pretensie is. Jesus het die Fariseërs veroordeel, nie vir hulle vroom dade nie, maar omdat hulle dit gedoen het om ander mense te beïndruk. Nie net het hulle volgens ‘n lang lys godsdienstige ‘moets en moenies’ gelewe nie, hulle het ook telling gehou van ander mense wat nie volgens hulle lys lewe nie en hulle daaroor veroordeel.

Sommige van ons het in huise en kerke grootgeword wat dit doen en wanneer ons die woord ‘heiligheid’ hoor, raak ons ongemaklik en dink aan Christene met somber gesigte en vingers wat in beskuldiging na ons wys. Dis nie Bybelse heiligheid nie, dis wettiesheid! God haat dit en die Bybel veroordeel dit.

Om te verstaan wat ware heiligheid is, dink aan die woord ‘kontaminasie.’ Dis een van elke hospitaal se grootste bekommernisse. Dis hoekom dokters in operasieteaters daarop aandring dat hulle sjirurgiese instrumente konstant gesteriliseer word; dat almal die regte klere dra en dat in die teater ‘n temperatuur gehou word waarin kieme nie kan oorleef nie. Kry jy die prentjie?

Pas nou die lens ‘n bietjie aan en jy sal die geestelike toepassing sien. Ware heiligheid isoleer jou nie van die wêreld nie, dit insuleer jou van die wêreld se besoedeling. Paulus het die kerk in Korinte se benadering tot die nagmaaltafel gekorrigeer: ‘Want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen haastig sy eie ete met die gevolg dat die een honger bly en die ander een weer dronk word’ (1 Korintiërs 11:21 NLV). Paulus het hulle slordige geestelike houding aangespreek. ‘Dit is waarom daar baie swakkes en siekes onder julle is, en heelwat onder julle reeds oorlede is’ (vers 30 NLV).

Wat is dus die antwoord? Heiligheid – vir die Here die Almagtige!

Sielskos: Num 3:1-4:33; Mark 4:26-41; Ps 144:9-15; Spr 10:22-23

Hoe om ons sonde te hanteer

2021-04-25
Psalm 51:6 NLV

Ons het ‘n nuwe manier nodig om na sonde te kyk; om ‘n nuwe begrip daarvan te kry. John Ortberg skryf: ‘Alle sonde behels ontkenning. Dit dra ‘n sekere morele bysiendheid mee.’ Die enigste manier om dit duidelik te sien, is deur die oë van die Een teen wie ons gesondig het. Die psalmdigter het gebid: ‘Teen U, U alleen, het ek gesondig…’

‘n Christelike universiteitsprofessor stel dit so: ‘Ek is vriendelik met my studente; respekvol teenoor my kollegas; lief vir my familie; ek steel nie; pleeg nie owerspel nie; gebruik nie dwelms of vloek nie; en ek vlos gereeld. Maar wanneer ek eerlik na myself kyk, sien ek dat ek bitterheid herberg gee, my tyd opgaar en ander mense kwalik neem wanneer hulle my aandag opeis. Ek is ydel en word verteer deur hoe ander mense my sien. Ek stoei met my seksualiteit en het al met my oë en my hart oor die tou getrap. Ek gee voor asof ek luister, maar ek doen dit nie. Ek maak asof ek meer geestelik is as wat ek waarlik is. Ek is ‘n gemors – gebroke op elke manier – en my enigste hoop is God se genade.’

Toe Jesaja die Here op sy troon sien sit het, het hy uitgeroep: ‘Ellende het my getref! Want ek is ‘n sondige mens…’ (Jesaja 6:5 NLV). Toe het ‘n engel ‘n gloeiende kool van die altaar geneem, sy lippe daarmee aangeraak en gesê: “…’Nou is jou skuld weg en jou sondes vergewe'” (vers 7 NLV).

Maak nie saak hoe gereeld jy al geval het of hoe erg jy al misluk het nie, God reik vandag sy genade na jou toe uit en gee jou ‘n kans om oor te begin as jy gewillig is om dit te aanvaar.

Sielskos: 2 Kon 6:1-7; Matt 14:22-33

Lewe vir iets groters as jouself

2021-04-24
Johannes 12:24 NLV

Jesus het gesê: ‘Ek verseker julle, as ‘n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy baie vrug op.’

Iemand het een keer geskat dat een graankorrel ‘n graangewas sal produseer wat drie graanare sal dra. In elke graanaar is daar vyftien tot vyf-en-dertig graankorrels wat beteken dat elke plant amper ‘n honderd korrels sal produseer. Nadat hulle geplant is, sal hierdie graankorrels tienduisend korrels produseer. Wanneer hulle weer geplant word, sal hulle ‘n miljoen graankorrels produseer. As jy aanhou, sal jy die hele aarde met graan kan bedek!

Dis wonderbaarlik wat een persoon kan doen wanneer hulle hul lewe aan Christus toewy. D.L. Moody het een maal gesê: ‘Die wêreld het nog nie gesien wat God deur ‘n man kan doen wat aan Hom oorgegee is nie.’ Hy het besluit om daardie persoon te wees en het ‘n groot impak vir Christus op die wêreld gehad.

Toe Petrus, Jakobus en Johannes vir Jesus ontmoet het, was hulle lewensdoel om ‘n lewe te maak. Toe het Jesus hulle uitgenooi om Hom te volg en ‘n verskil te maak. Vandag nooi Hy jou uit om dieselfde te doen. Hy nooi jou uit om ‘n behoefte te vind wat niemand tans aan voldoen nie en jouself daaraan oor te gee. Hy vra jou om sy saak op te neem, wat groter as enige selfbelang is en jou lewe daaraan oor te gee.

Toe Jesus sy dissipels gevra het om hulle werke en sekuriteit te verlaat, het Hy hulle wêreld in beroering gebring. Toe hulle egter vir Hom ja gesê het, het hulle so suksesvol geword dat hulle vyande hulle daarvan beskuldig het dat hulle die ‘hele wêreld in beroering bring’ (sien Handelinge 17:6).

Sielskos: Num 1-2; Mark 4:13-25; Ps 144:1-8; Spr 10:19-21

Die krag van intimiteit met Christus

2021-04-23
Filippense 3:10 NLV

Een pastoor vertel van ‘n dame wat met haar gewig gesukkel het. Sy het omtrent elke dieet onder die son probeer, maar haar gewig het aanhou op en af wissel. ‘n Paar maande het verbygegaan sonder dat hy haar in die kerk gesien het. Een Sondag het sy weer haar verskyning gemaak en hy was geskok. Hy kon haar kwalik herken, omdat sy soveel gewig verloor het. Hoe het dit gebeur? Sy het ‘n man ontmoet en verlief geraak! Sy het vir die pastoor verduidelik dat hulle gaan trou en dat sy op haar heel beste vir haar aanstaande in haar trourok wou lyk.

Daar is ‘n belangrike les hieruit te leer. Wanneer jou Christelike lewe daarop gebaseer is om reëls na te kom, sal jy agterkom dat dit ‘n moeilike, op-en-af pad is om te stap. Dis egter nie die geval wanneer jou benadering op ‘n verhouding gebaseer is nie. Die vrou was in staat om dit wat haar al jare gepla het te oorkom, omdat sy ‘n verhouding ontwikkel het waar sy hom wou behaag.

Intimiteit met Christus bring krag mee. Dit bring ook vreugde mee. Dis hoekom Paulus geskryf het: ‘Op hierdie manier kan ek Christus persoonlik ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood’.

Hoe naby is jy vandag aan die Here? Wil jy graag nader beweeg? Jy kan; Hy wag vir jou om die eerste tree te gee. ‘Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom…’ (Jakobus 4:8 NLV). Hoe beweeg jy nader aan God? Deur dit jou lewensdoel te maak om Christus intiem te leer ken.

Sielskos: Jak 3-5; Mark 4:1-12; Ps 7:10-17; Spr 10:17-18

Glo dit, God se Woord is waar

2021-04-22
Jona 2:10 NLV

Sommige mense bevraagteken die verhaal van Jona wat deur die groot vis ingesluk is en geleef het om daarvan te vertel. Hier is twee redes hoekom jy dit moet glo: Eerstens, omdat Jesus dit geglo het. ‘Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ‘n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees’ (Matteus 12:40 NLV).

Daar is ook ‘n tweede rede hoekom jy die verhaal kan glo. In 1891 het twee vissersbote ‘n massiewe potvis naby die Falklands Eilande teëgekom. Die eerste boot het die vis met harpoene geskiet, terwyl die ander boot omgevaar het om dieselfde van die ander kant af te doen. Die potvis se stert het egter hulle boot getref en dit omgegooi. Daar was twee mans in die boot. Een het verdrink en die ander een is nie gevind nie. Twee dae later het ‘n paar ander bote dieselfde potvis teëgekom en hom doodgemaak. Hulle het die vis na die strand toe gebring en hom oopgesny en raai wat het hulle daar gekry? Die tweede man. Hy was bewusteloos, maar steeds lewendig en na versorging het hy sy lewe hervat.

Dr Tony Evans merk op: ‘Die wonderwerk is nie dat ‘n vis ‘n man ingesluk het nie, omdat dit al vantevore gebeur het. Die wonderwerk is dat die vis op die Here ag geslaan het.’

Jy vra: ‘Wat het dit met my te doen?’ Eenvoudig die volgende: Wanneer jy na God vir hulp draai en Hy met jou praat, begin daar bonatuurlike dinge namens jou gebeur. Jesus het gesê: ‘Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV).

Sielskos: Jak 1-2; Mark 3:20-35; Ps 7:1-9; Spr 10:16

Kry ‘n ‘voorbereidingsperspektief’

2021-04-21
2 Korintiërs 5:10 NLV

Paulus skryf: ‘Ons streef in elk geval daarna… om Hom tevrede te stel. Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggame gedoen het, of dit goed en of dit sleg was’ (verse 9-10 NLV). As jy wys is, sal jy elke dag met hierdie waarheid op die voorgrond van jou gedagtes lewe. Jy sal ‘n ‘voorbereidingsperspektief’ hê!

Dink so daaroor: Jy het nie net een oggend wakker geword en gesê: ‘Ek het besluit om ‘n prokureur, of ‘n dokter, of ‘n boekhouer, te wees,’ nie; nee, jy het daardie besluit jare vantevore geneem en toe na daardie doelwit toe gewerk.

Kom ons wees duidelik: As ‘n Christen, werk jy nie om jou verlossing te verdien nie, maar om jou beloning in die hemel te verdien. Verlossing is die fondament waarop jy bou en die Bybel sê: ‘Want niemand kan ‘n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus’ (1 Korintiërs 3:11 NLV). Dan gaan Paulus voort deur te sê: ‘As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels. Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou. Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word. Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ‘n brand gered word’ (verse 12-15 NLV).

Wanneer jy voor Christus staan, sal jy twee opsies hê – beloning of berou. Kry dus ‘n ‘voorbereidingsperspektief.’

Sielskos: Dan 11-12; Mark 3:7-19; Ps 16; Spr 10:15