Is jy verraai?

2021-02-28
Psalm 41:10 NLV

Nie net moet ons spasie los vir onverwagte teleurstellings en onbekende veranderlikes in die lewe nie, ons moet ook besef dat ons onvermydelik deur ander mense verraai en seergemaak sal word. Miskien het hulle ons mislei deur ons te laat glo dat hulle betroubaar is, of dalk het hulle opreg begin maar deur die virusse van jaloesie en gierigheid geïnfekteer geraak. In alle geval, jy sal iewers voor verraad te staan kom. Selfs die psalmdigter, Dawid, het geskryf: ‘My beste vriend wat ek vertrou het, wat saam met my geëet het, selfs hy het sy rug op my gedraai.’ Ingesluit by die lys teenspoed waaronder Paulus in sy bediening gely het, is ‘valse medegelowiges’ (sien 2 Korintiërs 11:26).

Ja, soos een skrywer opmerk: ‘As jy lank genoeg lewe, sal jy agterkom hoe wisselvallig en selfsugtig die mens se hart kan wees.’ Dis dikwels die mense vir wie ons die liefste is en volkome vertrou, wat die meeste mag het om ons te verraai. Wat kan ons dus doen? Ons moet die seer en woede hanteer, sonder om toe te laat dat dit ons vir die langdurige nagevolge van bitterheid verblind. Moet ook nie van jou lewensdoelwitte of ander verhoudings afsien wanneer dit gebeur nie. Soos ‘n kind wat leer loop en deur ‘n boelie gepootjie word, moet jy weer opstaan en met jou reis voortgaan. Jy sal aan die begin ‘n bietjie seer en vol bloukolle wees, maar die rowe sal genees en jy sal sterker wees omdat jy die val oorleef het. Nadat hy die verraad van sy beste vriend betreur het, het Dawid vir God gesê: ‘Ek weet dat U my liefhet, want my vyand seëvier nie oor my nie. U hou my staande…’ (Psalm 41:12-13 NLV). Dis die wenhouding!

Sielskos: Eks 17:8-16; 2 Kor 1:3-7

Fokus op die oplossing, nie die probleem nie

2021-02-27
Jesaja 30:15 NLV

Soos probleme in jou verhoudings opduik, sal jy geforseer word om ‘n vertaler, onderhandelaar, diplomaat en vredemaker te wees. Goeie kommunikasievaardighede is altyd noodsaaklik. Niks is meer frustrerend as om misverstaan, verkeerd gehoor, geïgnoreer of verkeerd opgevat te word nie.

Om daaroor te praat is egter nie altyd die antwoord nie. Soms bekragtig dit die probleem. Ons fout is dat ons dikwels te veel oor die kwessie praat, in plaas daarvan om stil te wees en op ‘n oplossing te fokus. God het vir jou die gawes gegee om die situasie te verander. Moenie net daaroor praat nie, doen dit!

As ons woorde verkeerd gebruik of uit ons beurt praat, kan dit ons van ‘n oplossing weglei wat ons andersins sou gesien het. Jakobus sê vir ons dat die dinge wat ons sê groot mag het, wat tot vernietiging kan lei: ‘So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek’ (Jakobus 3:5 NLV). Net ons stemtoon kan die gesprek tot ‘n woedende vuur stook! Moenie die persoon wees uit wie se mond vlamme kon nie. Tem jou tong. Ons gesprekke moet met genade deurspek wees (sien Kolossense 4:6). Praat op ‘n positiewe manier, want God is steeds op die troon en Hy het ‘n plan. Dit verg dikwels stilte en versigtige besinning om toepaslik te reageer.

Soms is dit beter om net stil te bly. Wanneer jy angstig is, is die kans goed dat jy te veel sal praat. Wanneer jy kwaad is, sal jy die situasie vererger. Wanneer jy aggressief is, sal jy verloor, in plaas daarvan om te wen. Die Bybel sê: ‘…Deur stil te raak en te vertrou, sal julle sterk word…’ Dis ‘n skriftuurlike beginsel wat altyd werk.

Sielskos: Gen 28:1-30:24; Matt 19:1-14; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22

Wees buigbaar

2021-02-26
Filippense 2:4 NLV

Wanneer dit by die waarheid kom, moet jy onbuigsaam wees. Wanneer dit egter by verhoudings kom, moet jy leer om buigbaar te wees. As jy altyd ‘reg’ moet wees en die ander persoon ‘verkeerd’ moet bewys, sal jy nooit stabiele, langdurige verhoudings geniet nie.

Een skrywer merk op: ‘Die rede hoekom ons verhoudings hou is nie omdat ons nooit verkeerd is nie. Dit hou omdat wanneer ons verkeerd was, ons die wil vind om die verkeerde te korrigeer en die genade vind om dit wat nodig is om saam te oorleef, te verduur. Ons families is nie perfek nie, maar dit beteken nie dat ons nie ‘n weg kan vind om dit oor die onstuimige see tot by die strande van liefde en lewe te maak nie. Omdat ons uit agtergronde met verskillende tradisies en teenstrydige idees kom, bring ons bagasie en onrealistiese verwagtinge in ons verhouding in, of ons nou daarvan bewus is of nie.’

Wat staan jou dus te doen? Hy gaan voort: ‘Skep in jouself ‘n gewilligheid om te verander en verstaan dat daar baie korreksies gemaak sal word wat nodig is vir dit waarvoor julle te staan kom. Maak hierdie houding die bloudruk vir hoe julle as paartjie gaan funksioneer. Wees altyd gewillig om julle verhouding te herkalibreer om te verseker dat besluite wat op een stadium van die lewe gemaak is, nog steeds by die groei en volwassenheid van die hede pas.’

Weet jy wat die grootste probleem in ons verhoudings is? Selfsugtigheid! Ons wil dinge volgens ons manier hê. Dis egter nie die skriftuurlike manier nie. Die Bybel sê: ‘Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange.’ Wanneer jy met hierdie lewensuitkyk lewe, sal jy ryk, lonende verhoudings geniet.

Sielskos: Gen 25:19-27:46; Matt 18:21-35; Ps 61; Spr 6:16-19

Hou ‘n dinkskrum (2)

2021-02-25
Spreuke 20:5 NLV

Die stigter van IBM, Thomas J. Watson, het gesê: ‘Stel jou idees bloot aan die gevare van omstredenheid. Sê dit wat op jou hart is en vrees die etiket van ‘eksentriekebid, malkop’ minder as die stigma van konformiteit. Elke keer wat ons in IBM vooruit beweeg het, was dit as gevolg van iemand wat gewillig was om ‘n kans te waag, sy kop op ‘n blok te sit en iets nuuts te probeer.’

Baie van ons het goeie idees wat nooit êrens heen gaan nie. Uiteindelik moet jy jou lysie verminder na die idee wat die beste vir jou is. Dis nie maklik nie, maar dis nodig. Begin by voor die hand liggende idees wat nie kan werk nie as gevolg van die begroting, tydsberekening of ‘n gebrek aan hulpbronne. Vervolgens, sit die idees wat goed is, maar nie jou spesifieke probleem oplos nie, eenkant. Tydsberekening is alles en sommige goeie idees is net hulle tyd vooruit. Hou dus ‘n lêer met idees en kyk volgende jaar weer daarna.

Hier is egter ‘n waarskuwing: Wanneer jou sirkel van raadgewers jou help om goeie idees te genereer, maar jou nooit dit sien uitvoer nie, sal hulle belangstelling verloor. Die Bybel sê: ‘…So is die geloof wat nie dade word nie, ook dood’ (Jakobus 2:26 NLV). Verbind jouself dus tot ‘n lewe van kreatiwiteit, oorspronklike denke en aksie!

As jy aanhou doen wat jy nog altyd gedoen het, sal jy aanhou kry wat jy nog altyd gekry het. Dink anders! Moenie jouself te ernstig opneem nie! As ‘n idee nie uitwerk nie, moenie uitmekaar val nie. Merk dit van jou lysie af en beweeg na die volgende idee. Op ‘n sekere stadium mag jy ontdek dat jou goeie idee – inderwaarheid ‘n Godgegewe idee is. Wanneer dit gebeur, verander dit alles!

Sielskos: Gen 24:1-25:18; Matt 18:10-20; Ps 58; Spr 6:12-15

Hou ‘n dinkskrum (1)

2021-02-24
Spreuke 24:6 NLV

Daar is wyse en ervare mense rondom jou wat gewillig is om jou te help, kom dus gereeld met hulle byeen en hou ‘n dinkskrum. Maak seker dat almal betrokke weet dat daar geen beperkings, grense of begrotingsbeperkings is nie. Die doel is om alles op die tafel te kry. Jy weet nooit wat jou volgende groot idee is nie, moet jouself dus nie beperk tot wat jy dink tans moontlik of bekostigbaar is nie. Maak ‘n lys van die idees wat julle genereer en nommer hulle. Dit sal help wanneer jy teruggaan om hulle te hersien, sowel as om jou ‘n idee te gee van hoeveel idees uitgedink word.

‘n Ander voorstel is om ‘n bord op die muur te hang waar mense hulle idees kan skryf of teken soos dit by hulle opkom. Dit hou mense aan die beweeg, idees aan die gang en momentum vorentoe. Dis ‘n forum waar kritiek nie toegelaat word nie. Onthou, as iemand jou ‘n idee gee wat jy simpel of onmoontlik noem, is die kans goed dat dit die laaste idee sal wees wat jy van hulle kry. Wie weet, hulle idee mag dalk die groot een wees wat die probleem oplos, die deur oopmaak en vir jou ‘n toekomstige strategie gee.

Nog ‘n woord van raad: Beperk jou dinkskrumsessies tot ‘n uur of so. Alfred Hitchcock het geskerts: ‘Die lengte van ‘n rolprent moet direk verwant wees aan die uithouvermoë van die menslike blaas!’ Dis beter om korter sessies te hê, mense se tyd te respekteer, hulle vir hulle insette te bedank en dan te gaan dink oor wat julle bespreek het, voordat julle later weer bymekaar kom.

Sielskos: Gen 20-23; Matt 18:1-9; Ps 53; Spr 6:9-11

Hou jou gewete skoon

2021-02-23
Romeine 9:1 NLV

Paulus skryf: ‘…my gewete, bekragtig deur die Heilige Gees, bevestig dat wat ek nou gaan sê die waarheid is.’ Let op dat wanneer die Heilige Gees met jou gewete praat, twee dinge gebeur. Eerstens, verhelder Hy jou hart met die waarheid. Tweedens, wys Hy jou wat om te doen. Sommige dinge mag dalk ‘reg’ vir ander mense, maar ‘verkeerd’ vir jou wees. Hoekom? Omdat God ‘n spesifieke plan vir jou lewe het en Hy wil nie hê dat jy negatief beïnvloed moet word of die pad byster moet raak nie.

Lees die volgende Skrifgedeeltes en dink met gebed oor hulle na: ‘Daarom doen ek ook my uiterste bes om altyd ‘n skoon gewete voor God en die mense te hê’ (Handelinge 24:16 NLV). ‘Hou styf vas aan jou geloof in Christus, en hou altyd jou gewete skoon. Want sommige mense het opsetlik hulle gewete onderdruk, en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely’ (1 Timoteus 1:19 NLV). ‘Hulle moet verbind wees aan die geopenbaarde waarhede van die Christelike geloof, en hulle moet met ‘n skoon gewete leef’ (1 Timoteus 3:9 NLV). ‘Bid vir ons. Ons glo dat ons gewete skoon is, want ons probeer om in alle omstandighede reg op te tree’ (Hebreërs 13:18 NLV).

As verloste kind van God, verloor jy jou sin van vrede en vreugde en word jy ongemaklik in jou eie vel, wanneer jy opsetlik sondig en nie berou daaroor het nie. Die woord vir jou vandag is dus – hou jou gewete skoon.

Sielskos: Gen 17-19; Matt 17:14-27; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8