Die krag van intimiteit met Christus
2021-04-23Filippense 3:10 NLV
Een pastoor vertel van ‘n dame wat met haar gewig gesukkel het. Sy het omtrent elke dieet onder die son probeer, maar haar gewig het aanhou op en af wissel. ‘n Paar maande het verbygegaan sonder dat hy haar in die kerk gesien het. Een Sondag het sy weer haar verskyning gemaak en hy was geskok. Hy kon haar kwalik herken, omdat sy soveel gewig verloor het. Hoe het dit gebeur? Sy het ‘n man ontmoet en verlief geraak! Sy het vir die pastoor verduidelik dat hulle gaan trou en dat sy op haar heel beste vir haar aanstaande in haar trourok wou lyk.
Daar is ‘n belangrike les hieruit te leer. Wanneer jou Christelike lewe daarop gebaseer is om reĆ«ls na te kom, sal jy agterkom dat dit ‘n moeilike, op-en-af pad is om te stap. Dis egter nie die geval wanneer jou benadering op ‘n verhouding gebaseer is nie. Die vrou was in staat om dit wat haar al jare gepla het te oorkom, omdat sy ‘n verhouding ontwikkel het waar sy hom wou behaag.
Intimiteit met Christus bring krag mee. Dit bring ook vreugde mee. Dis hoekom Paulus geskryf het: ‘Op hierdie manier kan ek Christus persoonlik ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood’.
Hoe naby is jy vandag aan die Here? Wil jy graag nader beweeg? Jy kan; Hy wag vir jou om die eerste tree te gee. ‘Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom…’ (Jakobus 4:8 NLV). Hoe beweeg jy nader aan God? Deur dit jou lewensdoel te maak om Christus intiem te leer ken.
Sielskos: Jak 3-5; Mark 4:1-12; Ps 7:10-17; Spr 10:17-18