Die goedkeuring van mense (2)

2021-05-02
Psalm 56:12 NLV

Ander mense se goedkeuring is iets wat ons almal geniet, maar jy het dit nie nodig om selfwaarde te kan hê nie. Om ander mense se goedkeuring na te streef sal jou inderwaarheid van jou selfwaarde beroof. Jy sal agteroor vir ander mense buig en net as jy dink jy het alles reg gedoen, sal hulle van plan verander.

Behalwe dat jou sin van vrede gesteel word, maak die strewe na mense se goedkeuring dit onmoontlik om God se leiding te volg – wat jou grootste verlies is. As jy iemand is wat ander mense se goedkeuring soek, sal dit moeilik wees om ‘n leeftyd se gewoonte te verander. Dawid het gesê: ‘in God stel ek my vertroue. Daarom sal ek nie bang wees nie! Wat kan ‘n gewone mens aan my doen?’

Wanneer dit daarby kom om mense se goedkeuring te soek, is daar twee dinge wat jy moet verstaan: 1) Om die siklus te breek, beteken dat jy verwerping kan ervaar wanneer jy nee sê en ander mense van jou verwag om ja te sê. Wanneer die mense in jou lewe gewoond is aan sagmoedige, inskiklike antwoorde, sal hulle aan die begin negatief reageer, totdat hulle aan ‘die nuwe jy’ gewoond geraak het. Dit sal aan die begin intimiderend wees, maar is dit regtig erger as om jou lewe in vrees vir ander mense se reaksies te leef?

2) Jy mag dalk aan ander mense moet verduidelik dat jy in die verlede hulle goedkeuring gesoek het omdat jy onseker gevoel het, maar dat dit nie meer die geval is nie. Jy kan kies om vir ‘n kort tydjie op pad na vryheid te ly, of om lewenslank te ly soos jy sukkel om ander mense te behaag. Maak vandag die regte keuse.

Sielskos: 2 Kon 5:1-27; Matt 6:19-34; Hand 5:1-11

Die goedkeuring van mense (1)

2021-05-01
Spreuke 29:25 NLV

Koning Saul was veronderstel om vir die profeet Samuel te wag om ‘n offer aan God te bring, om sodoende oorwinning in sy geveg te behaal. Soos die dag egter aangestap het en die mense ongeduldig geword het, het Saul die offer self gebring. Toe Samuel vir Saul vra hoekom hy dit gedoen het, het Saul geantwoord: “…’Ek het gesien hoe my manskappe wegloop… Ek het toe verplig gevoel om die brandoffer self te bring…’ ‘Dit was dwaas van jou!’ sê Samuel… ‘As jy geluister het, sou die Here jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie voortduur nie…'” (1 Samuel 13: 11-14 NLV). Omdat Saul mense se goedkeuring nodig gehad het, het hy alles verloor.

Het jy al ooit ongemaklik gevoel oor iets wat iemand jou gevra het om te doen? Een van die maniere wat God ons lei, is deur ‘n sin van innerlike vrede. Jesaja sê: ‘Julle sal… in vrede gelei word…’ (Jesaja 55:12 NLV). Paulus skryf ook: ‘Daarom moet ons dinge doen wat help dat daar vrede is…’ (Romeine 14:19 ABA).

As iets nie reg voel nie, laat jou stem gehoor word. Sê: ‘Ek het nie vrede hieroor nie.’ Mense moenie van jou verwag om voort te gaan totdat jy vrede het nie, alhoewel dit selde gebeur wanneer ander mense eise aan ons stel. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘As hulle julle nie wil ontvang of luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp en skud die stof van julle voete af’ (Matteus 10:14 NLV). Wanneer iemand se reaksie jou daarvan wil weerhou om te doen wat jy weet reg is – is dit tyd om dit af te skud en aan te beweeg.

Sielskos: Num 14-15; Mark 6:1-13; Ps 37:1-7; Spr 11:1-2

Hou altyd jou gewete skoon

2021-04-30
Handelinge 23:1 NLV

By die Mark Twain gedenkteken in Hartford, Connecticut, sal jy die volgende woorde vind: ‘Always do right. It will gratify some people and astonish the rest. Truly yours, Mark Twain, New York, February 16, 1901.’

Wanneer jou gewete deur God se Woord geprogrammeer en geregeer word, sal dit jou lei om elke keer die regte ding te doen. Dit word deur die eerste lesse wat jy oor reg en verkeerd leer geskep; dus is dit hoekom jy as ouer die belangrikste werk in die wêreld het.

As jy nooit daardie lesse leer nie, ontwikkel jy nooit ‘n gewete nie. As jy die lesse nie goed genoeg nie of onvolledig leer, sal jou gewete nie volledig ontwikkel nie. As jy jou gewete oorheers en weier om sy innerlike stem te gehoorsaam, sal jy ‘n geharde gewete ontwikkel en met tyd sal jy begin om jou lewe te leef asof jy nie ‘n gewete het nie. Jy sal kompromieë aangaan, wegsteek en hoeke sny om te kry wat jy wil hê.

Jy kan nie ‘n gewete sien of een ontleed nie, maar jy kan dit in jou gedagtes hoor fluister en jou hartsnare voel roer. Jy moet aan hierdie fluisteringe en roeringe gehoor gee om in God se seën te kan wandel.

Paulus het twee belangrike dinge oor sy gewete gesê: 1) ‘Daarom doen ek ook my uiterste bes om altyd ‘n skoon gewete voor God en die mense te hê’ (Handelinge 24:16 NLV). 2) ‘…met ‘n absoluut goeie gewete het ek my lewe tot vandag toe in diens van God gelei!’ Moet bo alles nie jou gewete afskeep nie – dit is óf gesond, óf besig om ongesond te word. As dit ongesond word, sal jou karakter, jou reputasie en jou lewenskwaliteit ook afneem.

Sielskos: Num 11-13; Mark 5:31-43; Ps 2; Spr 10:30-32

Skep moed en doen wat jy moet doen

2021-04-29
Esra 10:4 NLV

Jy het heel waarskynlik nog nie van Harlow Curtice gehoor nie, omdat hy nie ‘n Harvard-gegradueerde was nie, maar ‘n plaasjapie met net ‘n hoërskooldiploma. Hy het egter groot drome gehad. Hy het as boekhouer by General Motors begin en die suksesleer geklim om teen die ouderdom van vyf-en-dertig die president van ‘n maatskappy te word. Teen die tyd wat hy veertig was, was hy die bestuurder van General Motors se hooggeagte Buick afdeling. Hy het sy pad na die bokant van sy professie deur ‘n talent vir nuwe idees en aksie, oopgewerk. Hy het ook persoonlik dwarsdeur Amerika gereis om motorhandelaars te inspireer en in hulle ‘n nuwe entoesiasme vir hulle Buick produkte aan te wakker.

Raai wanneer het hy dit gedoen? In die middel van die Groot Depressie! Onder sy leierskap het die verkope van Buick motors vervierdubbel; sy afdeling het die tweede meeste geld in General Motors se geskiedenis gemaak. Toe hy gevra is waaraan sy sukses toegeskryf kan word, het hy die volgende drie dinge genoem: 1) Hy het doelwitte vir homself gestel en van die mense rondom hom verwag om dieselfde te doen. 2) Hy was trots daarop om struikelblokke te konfronteer en te oorkom. 3) Hy was gewillig om risiko’s te neem en die dinge te doen wat talentvolle, maar bang mense rondom hom geweier het om te doen. Gevolglik het oorwinning ‘n gewoonte en ‘n lewenstyl geword.

Sy drie beginsels is ten volle Skriftuurlik van aard en hulle sal jou lei om sukses in alles wat jy aanpak, te behaal. Die woord vir jou vandag is dus: ‘Staan op! Die aangeleentheid is nou u verantwoordelikheid! Skep moed en doen wat u moet doen…’

Sielskos: Num 8-10; Mark 5:21-30; Ps 35; Spr 10:28-29

Gebruik wat God jou gegee het

2021-04-28
Spreuke 11:24 NLV

Jesus het sy dissipels geleer om die verspreiders van sy seën te wees en eerste op diegene wat in nood is, te reageer. Dis hoekom Hy hulle by die proses betrek het; Hy het hulle toegerus om Hom in die toekoms te verteenwoordig.

Toe hulle die vyfduisend gevoed het, het die wonderwerk van vermeerdering nie plaasgevind toe die kos Christus se hande verlaat het nie, maar die dissipels se hande. Hy het die vyf brode en die twee vissies geseën, dit vir hulle gegee en hulle het iets wonderbaarliks daarmee gedoen: ‘n magdom mense met ‘n seuntjie se middagete gevoed. Soos hulle dit gedoen het, het hulle die wonderbaarlike ervaar.

Wanneer die Here se seën op dit wat jy het is, sal jy sukses behaal, ten spyte van uitdagings en struikelblokke. God het elkeen van ons iets gegee wat ander mense nodig het. Soms sien ons dit nie raak nie, of ons twyfel aan die waarde daarvan. Dus dink ons: ‘Ek het nie dit wat nodig is nie.’ Jy doen – dis nog net in saadvorm! Jesus het dit as volg beskryf: ‘…eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar’ (Markus 4:28 NLV).

God het iets in jou geplaas wat Hy wil hê jy moet herken, koester en tot sy verheerliking moet gebruik. Wanneer Hy dit seën, sal jy verbaas staan oor die onderontwikkelde potensiaal wat jy nog altyd met jou saamgedra het.

Die wonderwerk het begin toe die seuntjie voor ‘n behoefte te staan gekom het en besluit het: ‘Hierdie mense is honger en het kos nodig.’ Dis ook toe dat die dissipels ontdek het wat Jesus met dit wat hulle gehad het, kon doen, selfs al het dit hopeloos onvoldoende gelyk. Die woord vir jou vandag is – gebruik wat God jou gegee het!

Sielskos: Num 7; Mark 5:11-20; Ps 94:12-23; Spr 10:27

‘Doen’ God se Woord

2021-04-27
Jakobus 1:25 NLV

Dr David Jeremiah vertel van ‘n welbekende kweekskoolprofessor wat ‘n somer lank in Jerusalem gestudeer het. In sy woonstelblok het daar ‘n ortodokse Joodse rabbi gewoon, saam met wie hy Hebreeus bestudeer het. Een dag het die professor gesit en luister hoe sy Joodse vriend die hele boek van Psalms, in Hebreeus opsê.

Dis nogal indrukwekkend, nie waar nie? God seën jou egter nie as jy net sy Woord lees, dit memoriseer of dit selfs woord vir woord kan opsê nie. God beloof slegs om diegene wat ‘doen’ wat sy Woord sê, te seën. Om jou Bybel te lees, sonder om daarvolgens op te tree, is soos om in ‘n goeie restaurant te sit en die spyskaart te eet, terwyl jy die maaltyd ignoreer. ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie; dan bedrieg julle julleself.

Julle sal saamstem: As jy altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is dit so goed of jy kyk na jou gesig in die spieël sonder om iets aan jou voorkoms te doen. Jy bekyk jouself, gee pad, en vergeet wat jy gesien het. As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet – dié wet wat ‘n mens vrymaak – en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen’ (verse 22-25 NLV).

Die kennis van God se Woord is lewensbelangrik. Kennis van die Skrif kan egter geestelike trots in jou hart kweek, waarvolgens jy die Skrif toejuig, maar dit nie toepas nie. Die woord vir jou vandag is dus – ‘doen’ God se Woord!

Sielskos: Num 4:34-6:27; Mark 5:1-10; Ps 94:1-11; Spr 10:24-26