Die goedkeuring van mense (1)

2021-05-01
Spreuke 29:25 NLV

Koning Saul was veronderstel om vir die profeet Samuel te wag om ‘n offer aan God te bring, om sodoende oorwinning in sy geveg te behaal. Soos die dag egter aangestap het en die mense ongeduldig geword het, het Saul die offer self gebring. Toe Samuel vir Saul vra hoekom hy dit gedoen het, het Saul geantwoord: “…’Ek het gesien hoe my manskappe wegloop… Ek het toe verplig gevoel om die brandoffer self te bring…’ ‘Dit was dwaas van jou!’ sê Samuel… ‘As jy geluister het, sou die Here jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie voortduur nie…'” (1 Samuel 13: 11-14 NLV). Omdat Saul mense se goedkeuring nodig gehad het, het hy alles verloor.

Het jy al ooit ongemaklik gevoel oor iets wat iemand jou gevra het om te doen? Een van die maniere wat God ons lei, is deur ‘n sin van innerlike vrede. Jesaja sê: ‘Julle sal… in vrede gelei word…’ (Jesaja 55:12 NLV). Paulus skryf ook: ‘Daarom moet ons dinge doen wat help dat daar vrede is…’ (Romeine 14:19 ABA).

As iets nie reg voel nie, laat jou stem gehoor word. Sê: ‘Ek het nie vrede hieroor nie.’ Mense moenie van jou verwag om voort te gaan totdat jy vrede het nie, alhoewel dit selde gebeur wanneer ander mense eise aan ons stel. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘As hulle julle nie wil ontvang of luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp en skud die stof van julle voete af’ (Matteus 10:14 NLV). Wanneer iemand se reaksie jou daarvan wil weerhou om te doen wat jy weet reg is – is dit tyd om dit af te skud en aan te beweeg.

Sielskos: Num 14-15; Mark 6:1-13; Ps 37:1-7; Spr 11:1-2