2021-05-08
Matteus 25:23 NLV
Om sukses in die lewe te behaal, moet jy ‘n dik vel hê om kritiek te kan hanteer. As jy, byvoorbeeld, vir ‘n maat bid om jou lewe mee te deel, moet jy jouself afvra of jy vir die opoffering en verantwoordelikheid wat met die huwelik gepaardgaan, bereid is. Is jy stabiel? Is jy onselfsugtig? Is jy volwasse genoeg om vir ‘n gesin te voorsien?
As jy byvoorbeeld vir God vra om jou besigheid uit te brei, moet jy jouself afvra of jy reeds uitstekende diens aan jou bestaande kliënte verskaf. Iemand het een keer geskerts: “‘n Pou wat op sy vere rus, is net nog ‘n kalkoen!”
Soms is ons op die idee van sukses verlief, sonder dat ons al die ware koste van sukses bereken het. Dis ‘n goeie ding dat God nie alles wat ons voor vra, outomaties vir ons gee nie. Dikwels wil ons iets hê, omdat dit in iemand anders se lewe goed lyk. God weet egter in sy wysheid dat dit ons op die oomblik sal seermaak, omdat ons nie volwasse genoeg is om dit te hanteer nie.
God toets ons met dit wat ons het, om sodoende ons konsekwentheid en krag te ontwikkel. Hy let op hoe ons die druk wat met die seëninge gepaard gaan wat ons reeds van Hom ontvang het, hanteer. Hy wil ons op ‘n plek bring waar ons gepanser teen teenspoed is; ‘n plek waar ons al geleer het om die Gewer meer as sy gawes te waardeer. Wanneer ons daardie punt bereik, sal ons Hom hoor sê: ‘…In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees’ (vers 23 NLV).
Daardie woorde sal alles wat jy moes deurmaak, die moeite werd maak.
Sielskos: Num 30:1-32:24; Mark 7:24-37; Ps 44:9-16; Spr 11:10-11
2021-05-07
Johannes 4:35 NLV
Jesus het gesê: ‘Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes.’
Vandag het iemand naby aan jou ‘n desperate behoefte aan God se liefde. Jy mag dalk die enigste Christen wees wat hulle ooit sal ontmoet – of vandag sal ontmoet. As jy hulle dus nie van Christus vertel nie, wie sal dan? Oor die algemeen, is daar vyf redes hoekom ons nie meer dikwels ons geloof deel nie.
1) Ons dink dis die dominee se werk om dit te doen (sien Handelinge 1:8).
2) Ons is nie seker oor ons eie verlossing nie (sien 1 Johannes 5:13).
3) Ons is bang vir verwerping (sien Lukas 12:8-9).
4) Ons het nog nooit persoonlike verantwoordelikheid geneem om te leer hoe om ons geloof te deel nie (sien 1 Petrus 3:15).
5) Ons liefde vir Christus het koud geword (sien Openbaring 2:4-5).
Josh McDowell vertel van ‘n korporatiewe baas wat daarvan gehou het om bestuurders ontspanne te laat voel, hulle dan vas in die oë te kyk en hulle oor hulle doel in die lewe uit te vra. Een dag, nadat hy vir ‘n ruk lank met ‘n man genaamd Bob gesels het, het hy oorgeleun, hom in die oë gekyk en gevra: ‘En wat is jou doel in die lewe?’ Sonder om te aarsel het Bob geantwoord: ‘Om hemel toe te gaan en soveel mense as moontlik saam met my te neem.’ Die baas het gesê: ‘Vir die eerste keer in my loopbaan was ek sprakeloos.’
Vandag mag iemand se ewige lewe op jou gewilligheid om God se liefde met hulle te deel, rus. Dis jou Godgegewe opdrag – vertel hulle dus van Jesus.
Sielskos: Num 27-29; Mark 7:14-23; Ps 44:1-8; Spr 11:9
2021-05-06
Matteus 25:21 DB
Wanneer jy voor die regbank van Christus staan, sal jy een finale geleentheid hê om die woord ‘goed’ te hoor: ‘Uitstekend! Jy is regtig ‘n goeie werker op wie ‘n mens kan staatmaak…’ Jy sal beloon word vir wat jy doen. Op daardie dag, sal God op jou aksies, nie op jou opinies of bedoelings nie, fokus.
Goedhartigheid moet die laaste ding wees waaraan jy dink wanneer jy in die bed klim en die eerste ding waaraan jy dink wanneer jy in die oggend wakker word. Die Bybel sê: ‘Selfs ‘n jongmens word beoordeel volgens wat hy doen; aan sy optrede word bepaal of dit suiwer en opreg is’ (Spreuke 20:11 NLV). Jy weet hoe jy regtig aan die binnekant is, maar die enigste jy wat ander mense sien, is van buite af.
Een Christelike leier skryf: ‘Praat is goedkoop. Maak nie saak hoe baie jy beweer dat jy ‘n goeie mens is nie, die enigste publieke maatstaf is jou aksies. Moet nooit die krag en invloed van net een persoon wat eenvoudig die regte ding, op die regte plek, op die regte tyd doen, onderskat nie.’
Moeder Teresa het altyd die kollig probeer vermy. Haar grootste begeerte was nie om beroemd te wees nie, maar om getrou te wees. Gevolglik het sy die lewe van baie mense aangeraak, selfs al was haar enigste doelwit om die volgende persoon wat seer gehad het, te help. Een van haar gunsteling Skrifgedeeltes was die volgende woorde wat Jesus aan ons gegee het: ‘…Ek verseker julle: As julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het, selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir Mý gedoen’ (Matteus 25:40 NLV). Probeer dus vandag om goed te doen.
Sielskos: Num 25-26; Mark 7:1-13; Ps 37:32-40; Spr 11:7-8
2021-05-05
Spreuke 11:3 NLV
Het jy geweet dat daar ‘n verband tussen goedhartigheid en die nasionale ekonomie is? ‘n Christelike outeur skryf dat wanneer leuens, luiheid, onverantwoordelikheid, oneerlikheid en korrupsie in ons publieke en private lewens ‘n algemene verskynsel word, die nasionale ekonomie afneem. ‘n Samelewing wat witboordjie kriminele en blouboordjie plunderaars produseer, spandeer duisende rande elke dag om die oortreders opgesluit te hou. ‘n Samelewing met wydverspreide dwelmmisbruik moet vir rehabilitasiesentrums betaal. Gebroke families beteken meer pleegsorghuise en meer studente wat die skool verlaat en nie ‘n werk kan kry nie en in ‘n siklus van staatswelsyn vasgevang word.
Hoe minder goedhartigheid daar is, hoe meer moet die regering ingryp – en hoe hoër is die samelewing se koste. Net soos morele goedhartigheid tot geweldige ekonomiese en finansiële voordele lei, so kom die ineenstoring van morele waardes met ‘n enorme finansiële en ekonomiese prys.
Jy sê: ‘Maar ek is net een mens. Wat kan ek daaraan doen?’ Jesus antwoord: ‘Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal uitstraal. Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!’ (Matteus 5:16 NLV).
St Francis van Assisi het gesê: ‘Al die donker van die wêreld kan nie die lig van een enkele kers uitdoof nie.’ In plaas daarvan om oor die donker te kla, laat jou lig skyn waar jy ook al gaan. John Wesley, die stigter van die Metodiste Kerk, het gesê: ‘Doen so goed as wat jy kan, op al die maniere wat jy kan, in al die plekke wat jy kan, op al die tye wat jy kan, aan al die mense wat jy kan, solank as wat jy kan.’
As elke verloste kind van God volgens hierdie formule lewe, sal ons die samelewing op sy kop kan keer – of eerder weer regop kan sit.
Sielskos: Num 22-24; Mark 6:45-56; Ps 37:25-31; Spr 11:5-6
2021-05-04
Prediker 10:12 NLV
Aesop, die beroemde fabelskrywer, het gesê: ‘Geen daad van genade, maak nie saak hoe klein nie, is ooit tevergeefs nie.’ Soos een pastoor skryf: ‘Dit kos om onvriendelik te wees, maar dit betaal om genadig te wees.’ Om genadig te wees beteken nie dat jy verkeerde dinge verdra of weier om ‘n probleem te konfronteer om polities korrek te wees nie. Soms moet ons konfronteer. Dit moet egter altyd op ‘n genadige manier gedoen word. ‘n Kalm houding sal jou verder as ‘n harde opmerking of ‘n lelike stemtoon bring. Jy kan jou standpunt met ‘n genadige gees en selfs met ‘n sin vir humor maak.
Moenie soos die man wees wat in die tou gestaan het om ‘n vliegtuigkaartjie te koop nie. Toe hy die toonbank bereik, het hy gesê: ‘Ek wil graag ‘n kaartjie New York City toe koop.’ Die klerk het geantwoord: ‘Geen probleem, hoeveel bagasie het jy?’ Die passasier het geantwoord: ‘Ek het drie tasse.’ ‘Wil jy hê ek moet hulle al drie op die vlug na New York inboek?’ het die klerk gevra. ‘Nee,’ het die man geantwoord, ‘ek wil die eerste tas na Phoenix toe stuur, die tweede na Seattle en die derde Londen toe.’ Verbaas het die klerk na hom gekyk en gesê: ‘Ek is jammer meneer, maar ons kan dit nie doen nie.’ Die man het geglimlag en geantwoord: ‘Ek kan nie sien hoekom nie; dis wat julle verlede week gedoen het.’
Onthou: ‘Dis lekker om te luister na wyse woorde. Dwase se gepraat lei net tot vernietiging.’ As jy ernstig daaroor is om volgens die leringe van God se Woord te leef, moet jy vandag probeer om genadig te wees.
Sielskos: Num 19-21; Mark 6:30-44; Ps 37:16-24; Spr 11:4
2021-05-03
1 Korintiërs 9:26 DB
Langafstandatlete fokus nie net op spoed nie, maar op uithouvermoë. Hulle maak seker dat hulle hul spoed aanpas sodat wanneer hulle naby die eindstreep kom, hulle hul allerbeste kan gee. Paulus het gesê: ‘Daarom haal ek alles uit en speel die spel van hierdie lewe so goed ek kan, om te wen. Ek doen wat nodig is, al vra dit wat ook al van my. Dan vertel ek nie vir ander wat om te doen, maar sak self in die wedloop van die lewe uit nie’ (verse 26-27 DB).
As jy die tipe persoon is wat daarna smag om jou Godgegewe lewensdoel te vervul – moet jy alles uithaal. Strewe daarna en moenie vergeet dat Jesus die volgende gesê het nie: ‘…Hoe meer verantwoordelikhede daar aan mense toevertrou word, hoe groter plig rus daar op hulle skouers om te doen wat God vra…’ (Lukas 12:48 DB).
Dis een ding om sukses te behaal; dis ‘n ander ding om die druk te hanteer wat daarmee gepaard gaan. ‘…Dink aan [Jesus se] voorbeeld. Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag…’ (Hebreërs 12:2 DB).
God sal jou aan teenstand en kritiek blootstel om jou karakter te versterk; sodat jy groter seën en verantwoordelikhede in die toekoms kan hanteer. Die vraag is egter: kan jy die prys betaal? Kan jy, wanneer jy druk ervaar, soos Nehemia opstaan toe hy Jerusalem se mure herbou het en vir jou teenstanders sê: ‘…Ek is met ‘n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou… nie’ (Nehemia 6:3 NLV)? As jou antwoord ja is, fokus op jou doelwit en hardloop om die eindstreep te bereik.
Sielskos: Num 16-18; Mark 6:14-29; Ps 37:8-15; Spr 11:3