Vertrou op God se reddende en blywende krag

2021-03-12
1 Petrus 1:5 AFR83

As ons redding verseker is wanneer ons ons vertroue in Christus plaas, kan sommige mense nie dalk misbruik van hierdie versekering maak nie? Ja, hulle mag dalk, vir ‘n tyd lank. Soos genade egter dieper gaan en soos God se liefde en goedheid by hulle insink, begin hulle verander.

Genade bevorder gehoorsaamheid. ‘Die liefdevolle goedheid van God wat verlossing bring, het inderdaad vir almal sigbaar geword. Dit voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, met opregtheid en toewyding aan God, in die huidige tyd te leef’ (Titus 2:11-12 NLV). God se genade doen meer as om jou in moeilikheid te troos; dit oortuig jou in jou ongehoorsaamheid.

As jy jouself ooit vang dink: ‘Ek kan doen wat ek wil, want God sal my vergewe,’ beteken dit dat genade nie in jou posgevat het nie. Selfsug, dalk. Arrogansie, vir seker. Maar genade? Nee. Genade skep ‘n voorneme om goed te doen, nie toestemming om sleg te doen nie.

Kyk na Christus vir jou begin en einde. Hy is die Alfa en die Omega. Hy sal jou en jou geliefdes vashou. Het jy ‘n verlore seun of dogter? Smag jy vir jou eggenoot om terug te keer na God toe? Het jy ‘n vriend wie se geloof koud geword het? God wil hulle nog meer as jy terughê. Hou aan bid en moenie opgee nie. Ons weet nie altyd of iemand God se genade vertrou het nie. ‘n Persoon mag dalk voorgegee het dat hulle glo, maar dit nie regtig bedoel het nie. Dis nie vir ons om te weet nie. Ons weet egter die volgende: waar daar opregte bekering is, hou genade nooit op werk nie. Vertrou dus vandag op God se reddende en blywende krag.

Sielskos: Job 1-4; Matt 22:23-33; Ps 24; Spr 7:24-25

Waar kan jy vrede vind?

2021-03-11
Psalm 29:11 NLV

Met die dat ons ons pas verhoog het, het ons ons vrede verlaag. Daar is ‘n ou grap van ‘n gespanne persoonlike assistent wat vir haar baas gesê het: ‘Wanneer hierdie stormloop verby is, gaan ek ‘n senu-ineenstoring hê. Ek het dit verdien en niemand gaan dit van my af wegneem nie!’ Ons glimlag, maar die kans is goed dat jy daarby aanklank kan vind.

Nie lank gelede nie het ons die verloop van tyd in seisoene gemeet. Seisoene het egter in maandelikse kalenders verander, wat in dagbeplanners verander het en vandag sit ons met elektroniese persoonlike organiseerders in ons hande. Waartoe lei dit alles? Soos ons produktiwiteit toeneem, lyk dit of ons lewenskwaliteit afneem.

‘n Artikel in USA Today beskryf hoe die terapeut Ofer Zur ‘n konferensie getiteld: ‘Speed.com: The Search for Meaning in the New Millennium,’ aangebied het. Soos die konferensiegangers begin instroom het, het Zur die fronsende gesigte en bekommerde kyke van sy gehoor begin oplet. Hy sê dat hy bekommerd begin raak het toe hy sien dat hulle selfone en skootrekenaars saamgebring het – wat hulle van plan was om tydens die konferensie te gebruik. Hier is wat hy daaroor te sê gehad het: ‘Ons het obsessief oor spoed geraak. Ons eindig op met baie planne wat ons nie kan uitvoer nie en ‘n vol skedule wat ons nie kan volg nie. Die paradoks van ons tegnologiese toestelle wat ons tyd moet bespaar, is dat ons met geen vrye tyd opgeëindig het nie.’

Klink dit bekend? Waar kan jy dus gaan om vrede te kry? Na die Een wie se naam die ‘Prins van Vrede’ is. Vandag sê Hy vir jou: ‘As jy maar net na my gebooie geluister het! Dan sou jou vrede soos ‘n rivier gewees het, en jou geregtigheid soos die golwe van die see’ (Jesaja 48:18 NLV).

Sielskos: 1 Tess 1-5; Matt 22:15-22; Ps 135; Spr 7:21-23

Leer om te wag

2021-03-10
Galasiërs 6:9 NLV

Daar is nie so ‘n ding soos onmiddellike sukses nie, nie as dit by mense of probleme kom nie. Of jy nou tien kilogram of eenhonderd kilogram moet verloor, die gewig kan net een kilogram op ‘n slag afgeskud word. Dis opwindend om op die kruin van die berg te staan, maar jy kan net met een tree op ‘n slag daar kom. Niks groots vind onmiddellik plaas nie; amper alle betekenisvolle sukses in die lewe vind eers na ‘n lang, moeilike wagtydperk plaas. Totdat jy hierdie waarheid aanvaar, sal jy te gou tou opgooi of met minder as die sukses wat God vir jou in gedagte het, tevrede wees.

Jell-O het in 1997 sy eenhonderdste herdenking gevier, maar as die uitvinder daarvan nog gelewe het, sou hy heel waarskynlik min troos in sy produk se sukses gevind het. In 1897 het Pearl Wait baie hoede gedra. Hy was ‘n konstruksiewerker wat ook met patent medisyne geëksperimenteer het wat hy deur tot deur verkoop het. Tydens sy eksperimente het hy met die idee vorendag gekom om vrugtegeursel met gegranuleerde gelatien te meng. Sy vrou het dit Jell-O gedoop en Wait het nog ‘n produk gehad om mee te smous. Ongelukkig was die aanvanklike verkope van sy wriemelrige happie nie so goed soos hy gehoop het nie, dus het hy die regte van sy Jell-O uitvindsel vir ‘n skamele $450 aan Orator Woodward verkoop.

Woodward was ‘n slim besigheidsman. Hy het die waarde van bemarking geken en binne agt jaar het hy die $450 belegging in ‘n miljoen dollar besigheid omskep. Vandag verdien nie een van Pearl Wait se nasate ‘n sent van die meer as een miljoen boksies Jell-O wat elke dag verkoop word nie. Hoekom nie? Omdat Wait nie kon wag nie!

Sielskos: Gen 50; Haggai 1-2; Matt 22:1-14; Ps 27; Spr 7:10-20

Het jy vandag jou Bybel gelees?

2021-03-09
2 Timoteus 3:15 NLV

Die Bybel intimideer mense om verskeie redes. Vir sommige mense is dit so ‘n groot boek dat dit hulle bang maak en hulle nie weet waar om te begin nie. Ander dink weer dat dit so ‘n antieke boek is, wat oor so ‘n lang historiese tydperk strek en so baie temas bevat, dat hulle dit nooit sal kan ontrafel nie. Kom ons probeer dit dus vereenvoudig.

Dink aan die Bybel as ‘n biblioteek wat ses-en-sestig boeke van verskeie lengtes bevat, wat oor ‘n periode van vyftien honderd jaar, deur meer as veertig mense uit alle kulturele en opvoedkundige agtergronde, geskryf is. Dis buitengewoon uniek en samehangend deurdat die woorde van elke boek ‘deur God geïnspireer’ is (vers 16 NLV). Saam vertel die boeke van die Bybel die verhaal van God se wonderbaarlike liefde vir ons en bereik ‘n hoogtepunt by die kruis.

Soos Paulus vir Timoteus geskryf het: ‘Jy moet getrou bly aan die dinge wat jy geleer het. Jy weet dit is waar, want jy weet jy kan dié vertrou wat jou geleer het. Jy is van kindsbeen af onderrig in die Heilige Skrif en dit het jou die wysheid gegee om die verlossing te ontvang wat deur geloof in Christus Jesus kom’ (verse 14-15 NLV).

Die Bybel is hoofsaaklik die verhaal van God se liefde vir jou. Laat dit elke keer wat jy dit dus lees, toe om in jou hart as ‘n liefdesbrief wat God aan jou geskryf het, te ontvou. Soos jy dit lees en daaroor mediteer, sal jou vrese en bekommernisse opgelos word, jou vrae sal beantwoord word en jy sal krag en leiding vir jou daaglikse lewe ontvang.

Sielskos: Gen 47-49; Matt 21:33-46; Ps 112; Spr 7:6-9

Hoekom moet jy bid?

2021-03-08
Matteus 21:22 NLV

Jy sê: ‘As God lief is vir my en weet wat ek nodig het, hoekom moet ek Hom dan daarvoor vra?’ Omdat gebed beteken dat jy met God praat en na God luister, wat daartoe lei dat jy ‘n verhouding met Hom bou. Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV).

Wanneer jou gebede op jou verhouding met God gebaseer is, word daar aan jou behoeftes voldoen. Wanneer jy vir God lief is en tyd met Hom deurbring, sê sy Woord: ‘…Wat geen oog gesien het; wat geen oog gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet’ (1 Korintiërs 2:9 NLV). God het ‘n vlak van seën vir jou in gedagte wat geen aardse oog kan sien of wat geen aardse gedagtes kan verstaan nie.

Wanneer jy bid, openbaar Hy dinge deur sy Gees aan jou. Wanneer dit gebeur, groei jou geloof en is jy in staat om dit te ontvang wat God vir jou wil voorsien. Ontwikkel dus ‘n leefstyl van gebed – deur voortdurend te bid, orals waar jy gaan, te midde van jou daaglikse roetine. ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).

God gee oor elke detail van jou lewe om. Wanneer jy dus angstig oor iets raak, praat met Hom daaroor. Moet ook nie vergeet om sy Woord te lees nie. Wanneer ‘n probleem dus opduik, kan jy die volgende sê: ‘Vader, U het in u Woord gesê dat U dit vir my sal doen,’ en dan die belofte aanhaal en daarop staan.

Sielskos: Gen 44-46; Matt 21:18-32; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5

Wees kreatief (4)

2021-03-07
Eksodus 28:3 AFR53

God het vir Moses gesê: ‘En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad. Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak…’ (verse 2-3 AFR53). Let die woord ‘kunsvaardig’ op. God het vir ons kunssinnige vermoëns gegee en wanneer ons dit gebruik, verheerlik ons Hom. Klere ‘tot eer en tot sieraad’ verg kreatiwiteit.

Hou op om onderskeid tussen die geestelike en die sekulêre te tref! ‘Verder, doen alles – of dit nou met woorde of dade is – asof julle dit namens die Here Jesus doen…’ (Kolossense 3:17 NLV). Hoe word jy kreatief?

1) Deur te erken dat God jou gemaak het om kreatief te wees.

2) Deur Hom te vra om jou areas van talent en kreatiwiteit aan jou te openbaar.

3) Deur kreatiewe idees te waardeer. Maak nie saak wat jy tans doen, of hoe goed jy dit doen nie, ‘n kreatiewe idee sal jou in staat stel om dit beter te doen.

Kreatiwiteit is die vermoë om te sien wat almal anders gesien het, te dink wat niemand anders gedink het nie, om te kan doen wat niemand anders al gedoen het nie. Soms lê kreatiewe denke langs die lyne van uitvinding, waar jy nuwe grond breek. Ander kere beweeg dit langs die lyne van innovasie, wat jou help om ou dinge op ‘n nuwe manier te doen. In elke geval, is dit om die wêreld deur nuwe oë te sien sodat nuwe oplossings te voorskyn kom.

‘Op die sewende dag was God klaar met alles wat Hy gemaak het…’ (Genesis 2:2 NLV). Kreatiwiteit verg werk, daarom neig baie mense om dit te vermy. As jy egter gewillig is om aan jou kreatiwiteit te werk, sal God jou gebruik om groot dinge te doen.

Sielskos: Joel 2:23-32; Hand 2:1-21