Kan jy die prys betaal?

2021-05-03
1 Korintiërs 9:26 DB

Langafstandatlete fokus nie net op spoed nie, maar op uithouvermoë. Hulle maak seker dat hulle hul spoed aanpas sodat wanneer hulle naby die eindstreep kom, hulle hul allerbeste kan gee. Paulus het gesê: ‘Daarom haal ek alles uit en speel die spel van hierdie lewe so goed ek kan, om te wen. Ek doen wat nodig is, al vra dit wat ook al van my. Dan vertel ek nie vir ander wat om te doen, maar sak self in die wedloop van die lewe uit nie’ (verse 26-27 DB).

As jy die tipe persoon is wat daarna smag om jou Godgegewe lewensdoel te vervul – moet jy alles uithaal. Strewe daarna en moenie vergeet dat Jesus die volgende gesê het nie: ‘…Hoe meer verantwoordelikhede daar aan mense toevertrou word, hoe groter plig rus daar op hulle skouers om te doen wat God vra…’ (Lukas 12:48 DB).

Dis een ding om sukses te behaal; dis ‘n ander ding om die druk te hanteer wat daarmee gepaard gaan. ‘…Dink aan [Jesus se] voorbeeld. Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag…’ (Hebreërs 12:2 DB).

God sal jou aan teenstand en kritiek blootstel om jou karakter te versterk; sodat jy groter seën en verantwoordelikhede in die toekoms kan hanteer. Die vraag is egter: kan jy die prys betaal? Kan jy, wanneer jy druk ervaar, soos Nehemia opstaan toe hy Jerusalem se mure herbou het en vir jou teenstanders sê: ‘…Ek is met ‘n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou… nie’ (Nehemia 6:3 NLV)? As jou antwoord ja is, fokus op jou doelwit en hardloop om die eindstreep te bereik.

Sielskos: Num 16-18; Mark 6:14-29; Ps 37:8-15; Spr 11:3