Kweek ‘n bewustheid van God se teenwoordigheid

2021-05-14
Genesis 28:16 NLV

Jakob het sy lewe in die vinnige baan geleef, besigheidstransaksies beklink en baie geld gemaak, anders as Dawid wat rustig sy skape in die veld opgepas het. Let egter op wat elkeen van hulle oor God gesê het. “Toe Jakob wakker word, sê hy: ‘Sowaar! Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie!'” Aan die ander kant, het Dawid gesê: ‘Ek prys die Here wat my insig gee, ook in die nag is ek daarvan bewus. Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand, daarom sal Ek nie struikel nie. Hieroor is my hart vol vreugde. Ek besing sy lof, en rus in veiligheid’ (Psalm 16:7-9 NLV).

Sien jy die verskil? Jakob was so besig dat hy nie God se stem herken het of ‘n bewustheid van sy teenwoordigheid gekweek het nie. Dawid het egter gesê: ‘Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand, daarom sal Ek nie struikel nie.’ Hierdie woorde is dalk die eenvoudigste en beste definisie van ‘n geestelike lewe. Die Bybel sê: ‘…ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV).

Jy vra: ‘Wat beteken dit vir my?’ Dit beteken dat Christus wat in jou woon, sy gedagtes deur jou kan dink. Is dit nie wonderlik nie? Wanneer jy ‘n gevoel van gerusstelling, of ‘n sin van leiding, of die oordeel van sonde voel, beteken dit dat God by jou is. Gee dus aandag en eer sy teenwoordigheid deur op Hom te reageer. Miskien het jy nog altyd gewonder wat dit beteken om ‘n pad saam met God te stap. Nou weet jy.

Sielskos: Heb 1-4; Mark 9:14-29; Ps 18:1-29; Spr 11:19-21

Laat God toe om jou besigheid te gebruik

2021-05-13
Lukas 5:3 NLV

Wil jy hê dat God jou besigheid moet seën? Nooi Hom dan in! Laat Hom toe om jou besigheid te gebruik om sy besigheid te doen. Petrus het dit gedoen. Hy het ‘n vissersboot gehad en een dag het hy Jesus uitgenooi om aan boord te kom en sy boot te gebruik om die skare te leer. Dit het dividende afgewerp! Na die tyd het Jesus ‘n wonderwerk gedoen wat Petrus se boot so vol visse gemaak het, dat dit amper gesink het. Met Jesus aan boord, sal jy voorspoedig wees.

‘…Aan Hom wat ons steeds liefhet en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, en ons sy koninkryksmense gemaak het, priesters vir God… behoort die heerlikheid…’ (Openbaring 1:5-6 NLV). In Bybelse tye het die priesters in die kerk gewerk, terwyl die konings uitgegaan en geveg het. Wanneer hulle gewen het, het hulle die buit teruggebring om die werk van God te finansier. As jy dus ‘n besigheid het, is jy ‘n ‘koning,’ en omdat jy God se verloste kind is, sal Hy jou leer hoe om voorspoedig te wees (sien Jesaja 48:17).

Daar is egter een voorwaarde: Wanneer Hy dit doen, moet jy gewillig wees om sy plan om die wêreld met die evangelie te bereik, te finansier (sien Matteus 24:14). Jy moet dit as ‘n eer en ‘n geleentheid beskou, want wanneer jy in besigheid met God tree, is daar geen beperkinge nie! Henry Giles, ‘n negentiende-eeuse prediker, het gesê: ‘Daar is geen taak so laag dat ons dit nie kan verhoog nie; so vervelig dat ons dit nie kan opkikker nie, as ons verstaan dat wat ons doen, in diens van ons Here Jesus Christus is.’

Gebruik dus vandag jou besigheid om God se besigheid te doen en Hy sal jou besigheid seën.

Sielskos: Titus 1-3; Mark 9:1-13; Ps 150; Spr 11:16-18

Wys entoesiasme!

2021-05-12
2 Timoteus 1:6 ABA

Tensy jy jou entoesiasme behou, kan die lewe jou neerdruk. ‘n Werk wat jou eens op ‘n tyd uitgedaag het, word eentonig; ‘n verhouding wat jou opgewonde gemaak het, raak afgesaag en die daaglikse wandel met God wat jou eens op ‘n tyd geïnspireer het, voel deesdae of jy net deur die bewegings gaan. Die woord entoesiasme, kom van ‘n Griekse woord af wat ‘besit en geïnspireer deur God’ beteken.

Hoe bly jy egter geïnspireerd? Net soos die Israeliete elke oggend vars manna bymekaar gemaak het, so het jy ‘n daaglikse ingieting van God se Woord en God se Gees, nodig. Paulus het die Christene in Rome uitgedaag: ‘…wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here’ (Romeine 12:11 NLV). So ook die gelowiges in Galasië: ‘Dit is goed om baie vir ‘n goeie saak te doen…’ (Galasiërs 4:18 NLV).

In plaas daarvan om dus oor die dinge waarvan jy nie hou nie te kla, besef dat die teenwoordigheid en krag van God binne-in jou woon en sit dus ‘n glimlag op jou gesig en ‘n wip in jou stap. Onthou van wie se koninkryk jy ‘n burger is. God s’n! Die skrywer Sheldon Vanauken sê: ‘Die beste argument vir Christenskap is Christene: hulle vreudge, hulle sekerheid en hulle volledigheid. Die grootste argument teen Christenskap is egter ook Christene – wanneer hulle somber, vreugdeloos, selfsugtig, selfvoldaan, eng en onderdrukkend is.’

Dawid vertel vir ons dat God hom uit ‘n put van wanhoop getel het, sy voete op vaste grond gesit het en vir hom ‘n nuwe lied gegee het (sien Psalm 40:1-3). Het Hy nie ook al dieselfde vir jou gedoen nie? Wys dan entoesiasme!

Sielskos: Jona 1-4; Mark 8:27-38; Ps 62; Spr 11:15

Ons nasie kan gered word

2021-05-11
2 Kronieke 7:14 NLV

Winston Churchill het glo gesê: ‘Diegene wat nie uit die geskiedenis leer nie, is gedoem om dit te herhaal.’ Kyk na ons hedendaagse samelewing; sien ons die toestande wat die val van baie groot samelewings vooraf gegaan het, is in plek.

Jy vra: ‘Kan ons nasie gered word?’ Ja! God het vir Abraham gesê dat indien hy so min as tien geregtige mense in die land kon vind, sou Hy Sodom en Gomorra van die oordeel gespaar het. ‘n Geregtige minderheid kan ons land nog red. Hoe? Deur gebed! God het gesê: ‘Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle vergewe en hulle land gesond maak.’

Daar is vier belangrike voorwaardes wat in hierdie Skrifgedeelte genoem word: a) ‘Wanneer die volk wat my Naam dra.’ Die toekoms van ons nasie rus nie in die hande van bankiere, nuuslesers of politici nie, maar vierkantig in die hande van God se verloste mense. b) ‘Hulle verootmoedig en bid, en My weer soek.’ God, wat niemand se goedkeuring of magtiging nodig het om op te tree nie, belowe om te beweeg wanneer sy mense na Hom toe draai en sy aangesig soek. c) ‘Hulle afkeer van hulle bose lewens.’ In plaas daarvan om te kla wat met die samelewing verkeerd is, beveel God sy mense om hulle eie harte te ondersoek en reg te maak wat verkeerd is. Wanneer hulle dit doen, belowe Hy: d) ‘Sal Ek in die hemel hoor en hulle vergewe en hulle land gesond maak.’

Dit is ons verantwoordelikheid, nie hulle s’n nie! Dis nie te laat nie. Ons nasie kan gered word as ons bid en God met ons hele hart soek.

Sielskos: Num 34-36; Mark 8:14-26; Ps 57; Spr 11:14

Jou familie-agtergrond maak nie saak nie

2021-05-10
Hebreërs 2:11 NLV

Elke familie het geheime. ‘n Neef met ‘n misdaadrekord, of ‘n pa wat sy familie verlaat het, of ‘n ouma wat met ‘n kollega weggeloop het. Jy mag dalk verbaas wees om te hoor dat Jesus ook nie uit die perfekte familie gekom het nie. Die Bybel gee die details van Jesus se stamboom weer – wat ‘n paar vreemde karakters insluit! Daar is ‘n prostituut genaamd Ragab, asook ‘n witboordjie krimineel genaamd Jakob wat sy broer en skoonpa misbruik het om ryk te word. Wat van koning Dawid? Een dag skryf hy die Psalms, die volgende dag verlei hy die vrou van een van sy offisiere. Die lys gaan aan en die Skrif hou rekord daarvan om jou twee belangrike waarhede te wys:

1) Jy is nie uniek nie. As jou familieboom beskadigde vrugte het, wil Jesus vir jou laat weet dat Hy ook al in jou posisie was! Sommige kundiges vermoed dat Maria vir Jesus en sy sibbe alleen grootgemaak het, omdat daar geen melding van Josef se betrokkenheid by Jesus se volwasse lewe gemaak word nie. Jesus was nie skaam vir sy voorsate nie – en Hy is ook nie vir jou skaam nie.

2) Jesus kyk nie na jou verlede om jou toekoms te bepaal nie. In sy oë troef geestelike DNS, genetiese DNS! Die Bybel sê: ‘Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier! Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het’ (2 Korintiërs 5:17-18 NLV).

Moet dus nie bang wees om ander mense te vertel wat Jesus vir jou gedoen het; en wat Hy vir hulle sal doen wanneer hulle hul vertroue in Hom plaas, nie.

Sielskos: Num 32:25-33:56; Mark 8:1-13; Ps 44:17-26; Spr 11:12-13

Jou woorde openbaar jou hart

2021-05-09
Matteus 26:73 NLV

Die woorde wat jy spreek, sal jou elke keer weggee. Een nag is Jesus gearresteer en al sy dissipels het uitmekaar gespat, maar Petrus het naby gebly om te kan sien wat gebeur – maar nie naby genoeg om met Hom geïdentifiseer te word nie. Die Bybel sê: ‘Nog ‘n klein rukkie later kom sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: ‘Jy is definitief een van hulle; jou aksent verklap jou.’ Daarop het Petrus hewig begin vloek en gesê: ‘Ek sweer voor God, ek ken hierdie man hoegenaamd nie!’ Onmiddellik het die haan begin kraai. Skielik het Jesus se woorde deur Petrus se gedagtes geflits: ‘Voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.’ Daarop het hy buitentoe gegaan en hartstogtelik gehuil’ (verse 73-75 NLV). Na daardie episode het niemand Petrus daarvan beskuldig dat hy ‘n volgeling van Jesus is nie!

Is dit nie interessant hoe ‘n gevloekery in enige taal die vermoë het om ander mense die kwaliteit van jou verhouding met Christus te laat bevraagteken nie? Jou woorde het die mag om mense op te bou of hulle af te breek, om hulle nader aan Christus te bring of om hulle weg te dryf.

Met dit in gedagte, is hier twee Skrifgedeeltes wat jy moet onderstreep en gereeld aan moet dink: 1) ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee’ (Kolossense 4:6 NLV). 2) ‘Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel’ (Efesiërs 4:29 NLV).

Bid vandag die volgende gebed: ‘Vader, mag die woorde wat ek vandag spreek, eer aan die naam van Jesus bring en ander mense na Hom toe lei. In sy Naam bid ek dit, amen.’

Sielskos: Deut 9:13-29; Luk 4:1-13