2021-03-18
Josua 3:13 ABA
Om die Beloofde Land binne te gaan, moes die Israeliete die Jordaanrivier, wat in vloed was, oorsteek. Was hulle bang? Sou jy nie ook gewees het nie? Nietemin, die enigste manier om hulle bestemming te bereik was om die presiese aksie te neem wat hulle gevrees het!
Wanneer jy vrees ‘n houvas gee, word jy meer vol vrees en skep jy op die ou einde ‘n aftakelende siklus wat as volg werk: Vrees veroorsaak ‘n gebrek aan aksie. ‘n Gebrek aan aksie veroorsaak ‘n gebrek aan ervaring. ‘n Gebrek aan ervaring veroorsaak onkunde. En onkunde veroorsaak vrees. Dit maak jou bang om die presiese aksie te neem wat vir jou tot voordeel sal wees. Om aksie te neem beteken dat jy in die onbekende en onbeproefde moet inbeweeg – wat vreesaanjaend kan wees.
As jy egter tot jou vrese toegee, sal jy nie vorentoe beweeg nie. Jy sal nie die voordeel van dit wat jy vermy, sowel as die ervaring wat jou lewe sal verbeter, ontvang nie. Gevolglik bly jy onkundig oor daardie area van die lewe en onkunde kweek altyd meer vrees, wat dit soveel moeiliker maak om deur te druk en dinge gedoen te kry.
Harry Truman het opgemerk: ‘Die grootste gevaar waar voor ons te staan kom, is om deur vertwyfelinge en vrese verlam te word. Hierdie gevaar word meegebring deur diegene wat geloof agterlaat en hoop minag, deur diegene wat sinisme versprei en ons probeer verblind vir ons groot kans om goed vir die mensdom te doen.’
Iemand het gesê dat vrees die donkerkamer is waar al ons negatiewe ontwikkel word. Dis rente wat jy vooruit op ‘n bedrag betaal wat jy dalk nooit mag skuld nie. Dit ondermyn ook geloof – in jouself, in ander mense en in God.
Sielskos: Job 18-20; Matt 24:1-14; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9
2021-03-17
Job 4:14 NLV
Vrees kan verwoestend wees, omdat vrees nog meer vrees kweek. Die verraderlikste eienskap van vrees is sy vermoë om te oordryf. C. Everett Koop, die voormalige chirurg-generaal van Amerika, het opgemerk: ‘Mense het eenvoudig ‘n onvanpaste sin van wat onveilig is.’
Vrees jy dit om te vlieg? Die feit is dat jy waarskynliker aan ‘n stukkie kos sal verstik as wat jy in ‘n vliegtuigongeluk sal sterf. Is jy bang om in ‘n rooftog te sterf? Dis twee keer meer waarskynlik dat jy sal sterf terwyl jy sport beoefen as wat jy deur ‘n vreemdeling doodgesteek sal word. Is jy bang vir haaie? Elke jaar maak varke meer mense dood as wat haaie doen. Is jy bang om ‘n operasie te ondergaan? Jy is sestien keer meer blootgestel om in ‘n motorongeluk as van chirurgiese komplikasies te sterf.
Die situasies wat ons vrees gebeur selde. Ons roep in ons gedagtes rampe op wat heel waarskynlik nooit sal plaasvind nie. Wanneer dit nie gebeur nie, dink ons: ‘Sjoe, dit was nou amper!’ Die waarheid is dat ons gedagtes die enigste ding is wat potensiële gevaar vir ons skep.
Hoe moet jy dus jou vrese hanteer? Deur die waarheid van hierdie Skrifgedeelte uit te oefen: ‘Hierdie volk weet dat die Here hulle sal help. U sal hulle laat rus en vrede vir hulle gee, want hulle glo in U. Julle moet altyd in die Here glo, want as julle by Hom is, dan is julle by ‘n rots wat altyd vas staan. (Jesaja 26:3-4 ABA).
Sielskos: Job 15-17; Matt 23:23-39; Ps 19; Spr 8:6-7
2021-03-16
Genesis 3:10 NLV
Ons dink dat suksesvolle mense van vrees gevrywaar is. Niks kan egter verder van die waarheid af wees nie. Elke generasie in die geskiedenis het vrees ervaar. Die eerste mens wat God geskep het, was Adam en die eerste aangetekende woorde van Adam is as volg: ‘…Ek het U hoor aankom en kruip nou weg. Ek was bang omdat ek sonder klere is.’
Vrees is geneties; dis deel van die menslike natuur. Studies bevestig dat ons sewe grootste areas van vrees die volgende is: 1) finansies, 2) gesondheid, 3) kommer oor ons loopbane, 4) ouerskap, 5) familieverhoudings, 6) die bereiking van persoonlike doelwitte, en 7) die dood. Is jy in enige van hierdie areas angstig of vol vrees? Vrees kan ‘n vernietigende krag in jou lewe wees.
Een van die ou Engelse woorde vir vrees beteken ‘skielike aanval.’ Dit stem ooreen met ‘n ou Duitse woord vir vrees wat ‘hinderlaag of lokval’ beteken. Dis wat vrees doen; dit val ons aan en hou ons gevange.
Wat is dus die antwoord? Geloof in God! Vrees verswak, maar geloof versterk. Vrees neem gevange, maar geloof maak vry. Vrees verlam, maar geloof bemagtig. Vrees stel teleur, maar geloof bemoedig. Vrees maak siek, maar geloof genees. Daar word gesê dat die woorde ‘moenie bang wees nie,’ 366 verskillende kere in die Skrif aangeteken is. As dit die geval is, het God vir ons ‘n ‘moenie bang wees nie’ vir elke dag van die jaar gegee – en een vir ‘n skrikkeljaar! Hier is een van die Skrifgedeeltes: ‘…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne’ (Jesaja 43:1 NLV).
Vandag is God by jou en Hy belowe om jou in elke situasie waar voor jy te staan kom, te versterk en te lei.
Sielskos: Job 11-14; Matt 23:13-22; Ps 11; Spr 8:4-5
2021-03-15
Psalm 118:6 NLV
Gedurende die Groot Depressie het werkloosheid 25 persent van die Amerikaanse bevolking getref. Spaarrekeninge is deur banke wat ineengestort het uitgewis, boere se land is teruggeneem en mense het gesukkel om hulle families te voed. Gedurende hierdie donker tye het Franklin Delano Roosevelt die nasie met die volgende woorde toegespreek: ‘Laat ek my ferme geloof uitspreek dat die enigste ding wat ons het om te vrees, vrees self is – naamlose, onredelike, ongegronde vrees wat die nodige pogings om voort te bou, verlam.’
Wat die meeste mense nie besef nie is dat die president self tye waartydens vrees hom verlam het, ervaar het. Roosevelt is as bevoorregte kind gebore en het in Europa, by Harvard en by Columbia se regskool, studeer. Op die ouderdom van nege-en-dertig het hy egter polio opgedoen wat hom erg gestrem gelaat het. Gedurende sy siekbed het hy ‘n uiterste vrees vir vuur ontwikkel. Hy was bekommerd dat hy as gevolg van sy gebrek nie in staat sou wees om te ontsnap nie. Met verloop van tyd het hy egter sy vrees oorkom, die gebruik van sy hande herwin en selfs geleer om met stutte te loop. Hy het weer die politieke arena betree – en vreesloos ‘n veldtog geloods om goewerneur van New York te word, wat hy in 1929 reggekry het. Hy het voortgegaan om een van Amerika se grootste presidente te word en het die land na oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog gelei. In sy memoires het Roosevelt geskryf hoe hy na God vir hulp, moed en leiding gedraai het en hoe hy dit ontvang het.
Is jy vandag bang? Indien jy is, staan op hierdie belofte: ‘Die Here is by my, ek sal nie bang wees nie. Wat kan ‘n mens aan my doen?’
Sielskos: Job 8-10; Matt 23:1-12; Ps 115; Spr 8:1-3
2021-03-14
Spreuke 31:28 DB
Regdeur die geskiedenis was digters en sprekers oorvloedig met hulle huldeblyke aan moederskap. George Washington het gesê: ‘My ma was die mooiste vrou wat ek al ooit gesien het. Alles wat ek is, het ek aan my ma te danke. Ek skryf my sukses in die lewe aan die morele, intellektuele en fisiese opvoeding wat ek by haar ontvang het, toe.’ Abraham Lincoln het geskryf: ‘My ma se gebede het my gevolg. Hulle het my hele lewe aan my gekleef.’ Charles Haddon Spurgeon het gesê: ‘Ek kan jou nie vertel hoeveel ek aan die plegtige woorde van my goeie moeder te danke het nie.’
Die offisiële viering van Moedersdag in Amerika kan aan die aanhoudende briewe en druk van een volhardende vrou toegeskryf word. Toe Anna Jarvis se ma in 1905 oorlede is, het Anna besluit om haar lewe aan ‘n veldtog om publieke erkenning aan die moeders van Amerika te gee, toe te wy. Toe sy leer dat die Amerikaanse kongres ‘n wet moes goedkeur om sodoende moedersdag tot ‘n jaarlikse instelling te kan vestig, het Jarvis ‘n een-vrou drukgroep geword. Ontduiking, onverskilligheid en vyandigheid het haar nie af geskrik nie.
Nege jaar later kon sy vreugde in die sukses van haar inspanning vind. President Woodrow Wilson het verklaar dat Moedersdag vanaf 9 Mei, 1914, jaarliks gevier sal word. In 1948 is Jarvis, blind en armoedig, in Philadelphia oorlede, maar haar droom is bewaarheid.
Die Bybel sê: ‘Waar sal jy ‘n knap vrou kry? ‘n Goeie vrou is meer werd as edelstene… Sy werk baie hard. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy praat met wysheid, sy gee raad saam met liefde… Haar kinders is trots op haar…’ (verse 10, 17, 26, 28 NLV). Kan daar ‘n waardiger huldeblyk wees?
Sielskos: Jes 61:1-9;
Luk 4:16-30
2021-03-13
Spreuke 18:8 NLV
Skinderstories kan ‘so soet soos lekkers’ wees, wat moeilik is om te weerstaan. Wat is dus die oplossing? Keer jouself voor jy toegee daaraan! Vra jouself af hoekom jy besluit het om die draer van slegte nuus te wees. Is dit die enigste manier om kameraadskap met ander te bewerkstellig? Geniet jy dit om die middelpunt van aandag te wees? Laat dit jou meerderwaardig voel om iets negatiefs van iemand te weet? Is jy jaloers op die onderwerp van die storie se prestasies? Hoekom is jy gewillig om die tempel van God as ‘n ‘asblik’ te gebruik deur skinderstories aan te hoor? (sien 1 Korintiërs 6:19). Wat beplan jy om met die skinderstorie wat jy gehoor het te doen? Is jy verveeld en het meer bevredigende aktiwiteite nodig?
Mense wat weet wat hulle Godgegewe lewensdoel is en daaraan toegewyd is om dit te vervul, het nie tyd vir skinderstories nie. As jy dus ernstig is om dit uit jou lewe te elimineer, moet jy oorlog daarteen maak. Laat almal weet dat jy nie meer soet lekkers gaan aandra of aanhoor nie. Verklaar dat jou omgewing by die werk, by die huis, by die kerk of in jou vrye tyd ‘n ‘skinder-vrye sone’ is en wend elke poging aan om skindertonge te vermy. Salomo skryf: ‘Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit. Bly weg van iemand wat alte maklik praat’ (Spreuke 20:19 NLV).
Wanneer jy jou tong as ‘n instrument van geregtigheid gebruik, styg jou aandele in die hemel. Jy sal in staat wees om nederig, met volkome afhanklikheid aan die Vader, te verklaar: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (Psalm 19:15 NLV). Moenie skinder nie!
Sielskos: Job 5-7; Matt 22:34-46; Ps 26; Spr 7:26-27