God is vandag by jou

2021-03-24
Deuteronomium 33:27 NLV

Dink na oor hierdie tydlose woorde deur Margaret Fishback Powers: ‘Een nag het ek ‘n droom gehad. Ek het gedroom dat ek op die strand loop en gebeure uit my verlede het voor my afgespeel. In elke toneel het ek twee rye voetspore in die sand gesien: myne en die Here Jesus s’n. Toe die laaste toneel voor my afspeel, het ek teruggekyk na die voetspore in die sand en merk toe op dat daar soms net een ry spore was. Dit was telkens gedurende die eensaamste en droewigste tye in my lewe! Dit het my gehinder en ek het gevra: ‘Here, toe ek begin het om U te volg, het U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie. Hoekom was daar dan net een ry spore gedurende daardie moeilike tye in my lewe? Ek kan nie verstaan waarom U, in die tye wat ek dit die nodigste gehad het, my verlaat het nie.’ Die Here het geantwoord: ‘My liewe kind! Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie. Die tye wat jy net een ry spore gesien het, was die tye toe Ek jou gedra het.’

As jy nog versekering nodig het, lees hierdie twee Skrifgedeeltes: ‘…die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie’ (Deuteronomium 31:8 NLV). “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp, daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV). Die woord vir jou vandag is – God is by jou.

Sielskos: Job 35-37; Matt 25:14-21; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23

Lewe vir dit wat saak maak!

2021-03-23
Prediker 2:18-19 NLV

As jy harder werk kan jy meer geld verdien, maar jy kan nie meer tyd verdien nie.

Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat die laat skof by ‘n fabriek gewerk het en in die vroeë oggendure huis toe gestap het. Een nag het hy ‘n kortpad deur die begraafplaas gevat. Hy het nie die nuwe graf wat in die middel van sy pad gegrawe is gesien nie en in die graf geval. Na verskeie onsuksesvolle pogings om uit te klim, het hy besluit om te ontspan tot die oggend wanneer iemand hom sou kon help. Soos hy half aan die slaap in die hoekie van die graf gesit het, het ‘n mede-reisiger wat bietjie oorbodig by die kroeg gekuier het, langs hom ingeval. Die dronkie was desperaat om uit te kom en het begin skree en woes by die graf probeer uitkom. Op daardie punt het ons held sy arm uitgesteek, saggies aan die dronk man se been gevat en gesê: ‘Dit gaan nie help nie, my vriend, ek het dit al probeer. Jy gaan nooit hier uitkom nie.’ Die dronk man het so groot geskrik dat hy met een groot sprong by die graf uitgespring het!

‘n Besoek aan die plaaslike begraafplaas sal jou dalk help om jou lewe te herevalueer en te herprioritiseer! Dit mag jou dalk, byvoorbeeld, aanmoedig om te stop en jouself af te vra waarvoor jy regtig lewe. Salomo het so ‘n openbaring gehad: ‘Alhoewel ek my werk met wysheid, kennis en vaardigheid doen, moet ek alles wat ek gekry het aan mense nalaat wat nie daarvoor gewerk het nie’ (geparafraseer).

Moenie net ‘n lewe maak nie; kom uit jou groef en maak ‘n verskil. Moenie net ‘n erfenis nalaat nie, laat ‘n nalatenskap na wat die mense wat jou volg, se lewens sal verryk.

Sielskos: Job 32-34; Matt 25:1-13; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21

Jy is beveel om lief te hê

2021-03-22
Johannes 15:12 NLV

As liefde slegs ‘n sentiment was wat van iemand anders se aksies en reaksies afgehang het, of ‘n emosie was waaroor jy geen beheer gehad het nie, sou Jesus nie gesê het: ‘Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het’ nie. Dit beteken dat liefde ‘n keuse is wat jy maak. Jesus het ook gesê: ‘…julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan dié wat julle haat. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak’ (Lukas 6:27-28 NLV). Hy sal ook vir jou die genade gee om dit te doen wat Hy jou beveel om te doen.

Vir duisende jare (en ook tot vandag nog in sommige Oosterse kulture), het ouers hulle kinders se huwelike gereël. Baie bruide en bruidegomme het eers op hul troudag mekaar vir die eerste keer ontmoet. ‘n Sekere jong dame van Indië moes met ‘n man trou wat sy nie geken het nie. Eendag het sy ‘n brief van haar verloofde ontvang, met die doel om hom voor die troue aan haar voor te stel. Die toekomstige bruid het egter die brief onoopgemaak teruggestuur, deur te sê dat sy glo dat die liefde na die troue ontwikkel moet word, nie voor dit nie.

‘Toe ons gebore is,’ het sy geskryf, ‘kon ons nie ons ma, pa, broers of susters kies nie en tog het ons geleer om saam met hulle te leef en hulle lief te hê. So is dit ook met man en vrou.’ In gemeenskappe wat hierdie filosofie nastreef, is skeisake amper ongehoord. Ons beveel nou nie gereëlde huwelike aan nie, maar die ‘romantiese liefde’ wat deesdae so algemeen is, het min te make met ‘n suksesvolle huwelik.

Wanneer jy daarna streef om iemand onvoorwaardelik lief te hê soos Christus jou liefhet, sal jy vreugde en vervulling ervaar.

Sielskos: Job 29-31; Matt 24:36-51; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18

Hanteer vrees (7)

2021-03-21
2 Timoteus 1:7 ABA

Gedurende die Amerikaanse Revolusie, het Spanje beheer van die Bahamas oorgeneem. In April van 1783, het Andrew Deveaux, ‘n luitenant-kolonel van Suid Carolina, ‘n handjievol soldate bymekaar gemaak om Nassau met ‘n slim strategie terug te neem. Deveaux het net tweehonderd manne by hom gehad, ‘n baie kleiner mag as die Spanjaarde, maar tog het hy daarin geslaag om die eiland na ‘n kort skermutseling te verower.

Die Spanjaarde het toegekyk hoe bote manskappe na manskappe van Deveaux se skepe tot sy verdedigende posisie op die oewer geneem het. Wat die Spanjaarde egter nie geweet het nie, was dat dit dieselfde mans was wat heen en weer gegaan het deur op te staan wanneer hulle na die eiland toe geroei het en plat te lê in die boot wanneer die boot na die skip toe teruggekeer het. Die leier van die Spaanse troepe het ‘n nederlaag van ‘n baie groter mag gevrees en hulself dus oorgegee.

Wanneer jy aan vrees toegee, is jy reeds oorwonne. Mense wat deur vrees regeer word, bly waar dit veilig is. Dis hartseer, want jy kan nie jou volle potensiaal bereik deur te bly waar dit veilig is nie. Shakespeare het gesê: ‘Our doubts are traitors, and they make us lose what we oft might win, by fearing to attempt.’

Wat sou jy aangepak het as jy seker was dat jy nie kon misluk nie? Voor jy antwoord, lees eers hierdie woorde van Dawid: ‘Die dag dat ek U roep om hulp, val my vyande terug. Omdat God aan my kant is, weet ek dit beslis’ (Psalm 56:10 NLV). Glo dat God vandag aan jou kant is en pak dan die ding aan wat jy bang is om te doen! Jy sal nooit weer dieselfde wees nie – jy sal bevry wees!

Sielskos: 2 Kon 4:42-44; Mark 6:30-44

Hanteer vrees (6)

2021-03-20
Job 3:25 NLV

Fantaseer jy ooit oor oplossings vir probleme wat jy vrees moontlik oor jou pad sal kom? Ironies genoeg kan ongegronde vrese op so ‘n manier in ‘n ware vrees omskep word, omdat jy energie aan verkwistende denke in plaas van produktiewe aksie bestee.

Joe Tye, die skrywer van Never Fear, Never Quit, sê: ‘Wensdenkery is die slot wat vrees op die tronkdeur sit. Vrees laat jou toe om jouself elke nou en dan aan wensdenkery oor te gee. Jy dink dat daar iets, op ‘n manier, kan gebeur om jou probleme te laat weggaan. Teen die tyd wat jy wakker word, is dit egter te laat. Wat jy gevrees het, het gebeur en vrees het jou oorwin. Die enigste manier om uit die tronk van vrees te ontsnap, is aksie. Jy kan nie jou weg daaruit wens of wag nie. Jy kan net jou weg daaruit werk. Elke keer wat jy uit die tronk van vrees ontsnap, word jy sterker.’

Vrees het geen voordele of goeie gevolge nie. Dit druk jou óf in die verkeerde rigting deur senuagtige energie te produseer wat veroorsaak dat jy die slegste in nuwe situasies optree, óf dit tap jou energie soos jy die verlammende effek daarvan probeer beveg. Die sielkundige Randall B. Hamrock het opgemerk: ‘In die 20 jaar van my praktyk het ek met ten minste 10,000 jong mans en vrouens gepraat, getoets en professionele raad gegee. Een karaktereienskap wat amper almal van hulle gehad het, was die neiging om te min van hulself te dink.’

Moenie toelaat dat vrees jou potensiaal by jou steel nie. Moenie toelaat dat dit jou kleiner maak as wat jy regtig is nie. Vertrou God vir groot dinge en probeer dit dan in sy krag aanpak. As jy dit doen, sal jy sukses behaal. Dis gewaarborg.

Sielskos: Job 24-28; Matt 24:26-35; Ps 13; Spr 8:14-16

Hanteer vrees (5)

2021-03-19
Psalm 27:1 NLV

‘n Ou gesegde lui: ‘Vrees maak die wolf groter as wat hy is.’ Dit oordryf die probleem en gevolglik bestee jy waardevolle energie op onnodige emosies. Jy vermy soms byvoorbeeld dinge wat jou glad nie skade kan aandoen nie. Soos die man wat met krapmerke en kneusplekke na ‘n staptog by sy vakansiehuis aangekom het. ‘Wat het gebeur?’ het sy vrou gevra. ‘Ek het in ‘n slang op die voetpaadjie vasgeloop,’ het hy geantwoord. ‘Onthou jy dan nie,’ het sy vrou gesê,’ die toergids het ons gister gesê dat die slange hier rond nie giftig is nie?’ Haar man het geantwoord: ‘Hulle hoef nie giftig te wees as hulle jou by ‘n ses meter krans kan laat afspring nie!’ Duidelik was hierdie man se vrees – nie die slang nie – die probleem.

Charles Spurgeon het een maal gesê: ‘Angs neem nie die droewighede van môre weg nie, maar wel vandag se krag.’ Solank as wat jy vrees toelaat om in die bestuursitplek te sit, sal jy nooit gaan waarheen God jou wil neem nie, of die talente wat Hy in jou geplaas het ontdek en ontwikkel nie. God sal jou egter help om die vrese wat jou beheer, te konfronteer en te oorwin.

Dawid, die skrywer van Psalms en Israel se geliefde koning, het gereeld homself met sy rug teen die muur bevind. Tydens een so ‘n geleentheid het hy geskryf: ‘…Kom tog gou om my te help, Here, my redder’ (Psalm 38:22 NLV). ‘Asseblief, Here, red my tog! Kom gou, Here, en help my!’ (Psalm 40:14 NLV). Dawid het geweet na wie toe om te draai: ‘Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees?..’ Wanneer God jou bron van krag is, kan jy jou ergste vrese in die gesig staar en hulle oorkom.

Sielskos: Job 21-23; Matt 24:15-25; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13