Leer om grense te stel

2021-05-20
2 Timoteus 2:5 NLV

Is jy so gretig om in almal se goeie boekies te bly dat jy aan al hulle eise toegee? Jy is nie alleen nie! Een Bybelonderwyser skryf: “Een keer toe ek oor my hewige skedule gekla het, het ek God se Gees hoor sê: ‘Jy is die een wat die skedule opstel; as jy nie daarvan hou nie, doen iets daaraan!'” Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Volg die Here se gedragskode om sy werk te doen, net soos ‘n atleet volgens die reëls meeding, of andersins gediskwalifiseer word en geen prys wen nie’ (vers 5 NLV).

Nie elke probleem is geestelik nie, sommige probleme is fisies. Jy kan ook nie die duiwel vir dinge blameer wat jou eie fout is nie. Ons neem mense kwalik wat druk op ons uitoefen, maar tog hou ons aan om te doen wat hulle wil hê, wat ons stil woede voed. Jy laat jouself toe om onder druk te wees deur nie verantwoordelikheid vir jou eie lewe te neem nie. Die feit is dat baie mense wat dit goed bedoel, elke dag met stres en depressie rondloop omdat hulle nie nee kan sê nie. Hulle vergeet dat Jesus hulle voorbeeld is en dat Hy gereelde tye van rus en vernuwing gehad het.

Die antwoord lê daarin dat jy: 1) Jou lewe onder die leiding van die Heilige Gees plaas; 2) Leer om eerste dinge eerste te stel; 3) Besef dat jy ook behoeftes het; 4) Nie verwag dat almal sal verstaan wanneer jy grense daar stel nie. Die Bybel sê: ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken…’ (Spreuke 17:17 NLV), nie net wanneer jy aan hulle eise voldoen nie. Jy moet dus leer om grense te stel, om sodoende God se wil vir jou lewe te vervul.

Sielskos: 1 Kon 1-2; Mark 10:13-22; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29

Aanvaar verantwoordelikheid vir jou lewe

2021-05-19
Spreuke 10:8 NLV

As jy in God se seën wil wandel, moet jy ophou verskonings maak en verantwoordelikheid vir jou lewe neem. Die Bybel sê: “‘n Mens met verstand aanvaar bevele. Hulle wat onsin babbel, bereik niks.” Die vermoë om verantwoordelikheid te aanvaar is ‘n kenmerk van karakter en volwassenheid. God kan jou nie herstel voor jy nie jou sonde erken en daarvan wegdraai nie. Die Bybel sê: ‘…God roep elkeen tot verantwoording vir wat hy gedoen het’ (Spreuke 24:12 NLV).

Wanneer jy aanhou om ander mense te blameer, sal jy nooit die plek van eerlike verantwoordelikheid – waar ware verandering begin! – bereik nie. ‘n Gerespekteerde berader skryf: ‘Alle blaam is ‘n mors van tyd. Maak nie saak hoeveel fout jy vind nie, dit gaan nie sake verander nie. Die enigste ding wat blaam doen, is om die fokus van jouself af te neem, wanneer jy vir redes soek om jou ongelukkigheid en frustrasie te probeer verduidelik. Jy mag dalk daarin slaag om iemand anders skuldig te laat voel, maar jy sal nie daarin slaag om dit wat jou ongelukkig maak, te verander nie.’

Om ander mense te blameer, is dikwels net ‘n manier om die waarheid oor jouself te probeer vermy. Jesus het gesê dat die waarheid jou vry sal maak (sien Johannes 8:32 NLV). Dit sal jou dalk aan die begin ongemaklik laat voel, maar dis die enigste ding wat jou waarlik sal vrymaak. Om weg te kruip daarvan sal dit nie laat weggaan nie. Solank jy nie gewillig is om jou foute in die gesig te staar nie, sal jy aanhou probleme hê. Is dit hoe jy jou lewe wil lei? Nie? Raak dan eerlik met God en laat Hom toe om jou te help om die dinge wat verkeerd in jou lewe is, te korrigeer.

Sielskos: Heb 11:17-13:25; Mark 10:1-12; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26

God sal vir jou sorg

2021-05-18
Job 10:12 ABA

Daar is geen kuur vir pyn van die verlede soos huidige begeerte nie. Wanneer die verlange na iets kragtig genoeg is, kan dit die pyn van die verlede uitwis, wat jou in staat stel om weer met hernude energie en doelgerigtheid op te staan. As jy enige vrou vra of die pyn van kindergeboorte die moeite werd was, is die kans goed dat sy dit weer sal doen net om die vreugde van ‘n baba in haar arms weer te kan ervaar.

Miskien het jy ‘n tragedie ervaar wat jou onverskillig teenoor die toekoms gelaat het, of ‘n gebroke hart wat jou van pyn laat steier het. Die vrees om seer te kry kan baie groot wees; ‘n kind wat gebrand het vrees die vlamme. Jy kan egter nie die res van jou lewe in vrees leef nie. Job het sy gesondheid, sy rykdom en al sy kinders in ‘n enkele dag verloor. Hoe het hy daardeur gekom? Hy het gesê: ‘…U het vir my gedoen wat U moes doen, U het vir my gesorg.’

God is nog nie klaar met jou nie. Hy sal vir jou sorg! Job se verhaal eindig met die volgende woorde: ‘…die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het’ (Job 42:10 NLV). God kan dieselfde vir jou doen. Hou moed – Hy het ‘n beter toekoms vir jou in gedagte: ‘As jy net jou hart aan Hom wil wy en jou hande lig in gebed! Raak ontslae van jou sondes. Los alle ongeregtigheid agter jou. Dan sal jou gesig verhelder in onskuld. Jy sal sterk wees en vry van angs. Jy sal jou swaarkry vergeet. Dit sal wees soos water onderdeur ‘n brug’ (Job 11:13-16 NLV).

Sielskos: Heb 9:1-11:16; Mark 9:38-50; Ps 75; Spr 11:23

Moenie jou gawe verkleineer nie

2021-05-17
Efesiërs 3:20 NLV

Die volgende keer wat jy ‘n groot eikeboom sien, herinner jouself daaraan dat hy as ‘n klein akker begin het. Dit wat jy kan bied mag dalk klein lyk, maar wanneer God dit seën, kan dit groei.

In 1912 het dr Russell Conwell, ‘n pastoor van die Grace Baptist Kerk in Philadelphia, die verhaal van ‘n Sondagskoolleerder genaamd Hattie May Wiatt vertel. Omdat hulle so baie gemeentelede was, het dr Conwell aan Hattie May genoem dat hy graag ‘n kerkgebou wou hê wat groot genoeg was om al die gemeentelede te akkomodeer. Toe Hattie May siek geword het en gesterf het, is Conwell gevra om by haar begrafnis te preek. Die dogtertjie se ma het hom vertel dat Hattie May haar geld gespaar het om te help met die bou van ‘n groter kerk. In Hattie se beursie was daar sewe-en-vyftig sent. Conwell het die sente geneem en hulle uitgestal en ‘verkoop.’ Met die wins daarvan, is ‘n nabygeleë huis aangekoop vir die kindervleuel van die kerk. Mense is deur Hattie se storie geïnspireer, meer geld is ingesamel en uit haar sewe-en-vyftig sent is die Temple Baptiste Kerk, Temple Universiteit en die Good Samaritan Hospitaal uiteindelik gebou.

Miskien voel jy dat jou gawes, jou tyd, jou talente en jou inspanning te klein is om ‘n verskil te maak. As jy dit egter aan God oorgee en Hom vra om dit te seën, sal jy agterkom dat Hy ‘n groot wiskundige en ‘n wonderlike vermenigvuldiger is. Hy kan jou woorde, jou pogings en jou hulpbronne neem en hulle ver bo enigiets wat jy jouself kan indink, vermeerder. ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra.’

Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18

Dryf jou vrees uit

2021-05-16
1 Johannes 4:18 AFR83

Jy sal verras wees om te weet hoeveel mense, selfs suksesvolle mense, elke dag met onuitgesproke vrese worstel. Miskien is jy een van hulle. Die Bybel sê: ‘Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 AFR53). As ons vrese dus nie van God af kom nie, waar kom hulle dan vandaan?

Van verskeie bronne af: 1) Die manier waarop jy geprogrammeer is in jou grootwordjare. 2) ‘n Daaglikse oordosis nuus, 90 persent daarvan wat negatief is. 3) Satan.

Die punt is, jou vrese kom nie van God af nie. Die eerste stap om jou vrese te oorkom, is om die ware bron daarvan vas te stel. God het jou ‘n magtige wapen gegee om hulle te oorwin: ‘…volmaakte liefde verdryf vrees …’ Jy sê: ‘Miskien as ek God volmaak lief gehad het, sou ek nie so bang gewees het nie.’ Nee, nou span jy die wa voor die perd in. Jy kan soveel probeer as wat jy wil, maar jy sal nooit God volmaak kan liefhê nie.

Daar is net een volmaakte liefde en dit is sy liefde vir jou. Dis onvoorwaardelik; gekoop en betaal deur Jesus Christus wat vir jou aan die kruis gesterf het. Wanneer jy ‘n openbaring van die onverdiende liefde, genade en guns wat God teenoor jou voel, ervaar, sal jy kan opstaan en alle vrees, angs, skuld, veroordeling en bekommernisse kan verdryf.

God se liefde vir jou is nie op jou optrede gebaseer nie, maar op Christus s’n. Wanneer jy jou vertroue in Christus se optrede, in plaas van jou eie, plaas, is jy God se kind (sien Efesiërs 1:5). Wanneer jy die versekering daarvan het, weet jy dat jy ook die mag het om al jou vrese te verdryf.

Sielskos: Eks 17:1-7; Joh 4:1-42

Wees lief vir die mense van wie jy nie hou nie

2021-05-15
Efesiërs 1:5 NLV

God beveel ons in die Bybel om vir mekaar lief te wees. Interessant genoeg beveel Hy ons nie om van mekaar te hou nie. Dis ‘n goeie ding, omdat jy vir iemand kan lief wees, terwyl jy nie van sekere dinge van hulle hou nie.

Paulus skryf: ‘…ons is God se handewerk…’ (Efesiërs 2:10 NLV). Die woord ‘handewerk’ kom van die Griekse woord ‘poiéma’ af, waarvan ons die woord ‘poësie’ kry. Poësie is ‘n gediversifiseerde en kreatiewe kunsvorm; dit kom in baie vorme voor. Dis hoekom die Bybel sê dat God deur verskillende mense op verskillende maniere werk (sien 1 Korintiërs 12:6). Hy gebruik alle soorte mense, insluitend die mense waarvan ons dalk nie hou nie of nie saam mee wil werk nie. ‘Elkeen van ons ontvang ‘n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel’ (1 Korintiërs 12:7 NLV), en dis ons verantwoordelikheid om dit te ontdek en dit te ontwikkel. ‘om God se mense toe te rus vir die werk wat hulle in sy diens moet doen’ (Efesiërs 4:12 NLV).

Die frase ‘toe te rus’ is ook interessant. Dit kom van ‘n mediese term in die oorspronklike Grieks af. Dokters het dit gebruik om die proses om ‘n gebreekte been te heg, te beskryf.

Stop en kyk vandag om jou. Het jy al ooit so baie gebroke harte, gebroke huise, gebroke drome en gebroke lewens gesien? God gebruik ons om mekaar te dien, vir mekaar lief te wees, mekaar te eer en mekaar se laste te dra. As jy mooi daaroor dink, is die kerk God se hospitaal vir alles wat ons makeer. Wanneer jy dit in gedagte hou, sal dit jou help om met diegene wat jy nie noodwendig van hou nie, oor die weg te kom en hulle lief te hê.

Sielskos: Heb 5-8; Mark 9:30-37; Ps 18:30-50; Spr 11:22