Moenie jou gawe verkleineer nie

2021-05-17
Efesiërs 3:20 NLV

Die volgende keer wat jy ‘n groot eikeboom sien, herinner jouself daaraan dat hy as ‘n klein akker begin het. Dit wat jy kan bied mag dalk klein lyk, maar wanneer God dit seën, kan dit groei.

In 1912 het dr Russell Conwell, ‘n pastoor van die Grace Baptist Kerk in Philadelphia, die verhaal van ‘n Sondagskoolleerder genaamd Hattie May Wiatt vertel. Omdat hulle so baie gemeentelede was, het dr Conwell aan Hattie May genoem dat hy graag ‘n kerkgebou wou hê wat groot genoeg was om al die gemeentelede te akkomodeer. Toe Hattie May siek geword het en gesterf het, is Conwell gevra om by haar begrafnis te preek. Die dogtertjie se ma het hom vertel dat Hattie May haar geld gespaar het om te help met die bou van ‘n groter kerk. In Hattie se beursie was daar sewe-en-vyftig sent. Conwell het die sente geneem en hulle uitgestal en ‘verkoop.’ Met die wins daarvan, is ‘n nabygeleë huis aangekoop vir die kindervleuel van die kerk. Mense is deur Hattie se storie geïnspireer, meer geld is ingesamel en uit haar sewe-en-vyftig sent is die Temple Baptiste Kerk, Temple Universiteit en die Good Samaritan Hospitaal uiteindelik gebou.

Miskien voel jy dat jou gawes, jou tyd, jou talente en jou inspanning te klein is om ‘n verskil te maak. As jy dit egter aan God oorgee en Hom vra om dit te seën, sal jy agterkom dat Hy ‘n groot wiskundige en ‘n wonderlike vermenigvuldiger is. Hy kan jou woorde, jou pogings en jou hulpbronne neem en hulle ver bo enigiets wat jy jouself kan indink, vermeerder. ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra.’

Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18