Doen wat God jou geroep het om te doen

2021-05-26
Johannes 17:4 NLV

Josef se broers het sy droom verafsku, dus het hulle hom in ‘n put gegooi. Jesus se familie het nie sy roeping verstaan nie; op ‘n stadium het hulle gedink Hy is mal. Tog, toe hy die einde van sy lewe bereik het, kon hy sê: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U my gegee het om te doen.’ As jy wag tot almal verstaan en met jou saamstem, sal jy nooit doen wat God jou geroep het om te doen nie.

In die laaste deel van die negentiende eeu, toe die Metodiste ‘n kerklike konferensie gehou het, het een leier opgestaan en sy visie vir beide die kerk en die groter samelewing gedeel. Hy het sy mede-predikante vertel hoe hy geglo het dat mense eendag van plek tot plek sou vlieg, eerder as om met perde te reis. Dit was ‘n konsep wat heeltemal te vreemd vir baie in die gehoor was. Een man, biskop Wright, het opgestaan en vurig geprotesteer: ‘Dwaalleer! Vlug is slegs vir die engele bedoel!’ Hy het verder gegaan deur te sê dat indien God wou gehad het dat mense moes vlieg, Hy vir hulle vlerke sou gegee het. Duidelik was die biskop nie in staat om in te sien wat die spreker voorspel het nie. Toe hy klaar geprotesteer het, het hy sy twee seuns, Orville en Wilbur, geroep en die ouditorium verlaat. Dis reg – sy seuns was die beroemde Orville en Wilbur Wright! Verskeie jare later, op 17 Desember 1903, het hulle reggekry wat hulle pa as onmoontlik verklaar het; hulle het die eerste menslike vlug onderneem.

Baie mense verkies die gemak van die verlede bo die risiko’s van die toekoms. As jy hulle ondersteuning en goedkeuring nodig het, sal jy nooit doen wat God jou geroep het om te doen nie.

Sielskos: 1 Kon 12-13; Mark 11:27-33; Ps 128; Spr 12:10-11

Steek die ‘wat as’ lyn oor

2021-05-25
2 Korintiërs 9:11 NLV

Pastoor Andy Stanley skryf: ‘Soos jy vorentoe in jou verhouding met God beweeg, sal Hy af en toe jou greep op jou beursie toets. Dis ‘n toets van geloof; elke nou en dan sal God jou aanspoor om uit jou gemaksone van vrygewigheid te klim. As jy regtig God in beheer van jou finansies wil hou, moet jy toegee.

Daar is ‘n lyn wat jy gewillig moet wees om oor te steek. Jy moet gewillig wees om op ‘n plek te kom waar jy nie op jou eie finansiële opgaring kan vertrou nie, maar slegs op die Here self as jou voorsiener. Dit beteken nie dat jy onverantwoordelik met jou geld moet wees nie. Jy moet egter ‘n houding hê waar God se stem harder as jou eie ‘wat as’ vrae in jou lewe is. Jy kan daaraan as jou ‘wat as’ lyn dink. Jy sal weet dat jy naby daardie lyn is wanneer jou begeerte om vrygewig te wees voor vrae soos: ‘Wat as die rentekoers verander?’ of ‘Wat as die inflasiekoers verhoog?’ te staan kom.

Hierdie lyn is verskillend vir almal. So vreesaanjaend soos dit met tye kan voel, gee God ons finansiële saad vir een doel: om te saai. Tensy ons ons hande oopmaak en die saad laat val, sal ons nooit weet watter vrugte Hy daaruit te voorskyn kan bring nie.’ Hier is ‘n Bybelse beginsel waarvan jy altyd seker kan wees: ‘…wie ruimhartig saai, sal volop oes’ (2 Korintiërs 9:6 NLV). Wanneer jy daardie tree van geloof neem en die ‘wat as’ lyn oorsteek, belowe God jy sal: ‘In elke opsig… ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees…’ (vers 11 NLV). Begin saai en kyk wat gebeur.

Sielskos: 1 Kon 10-11; Mark 11:12-26; Ps 45; Spr 12:7-9

Saai vir die toekoms

2021-05-24
Matteus 6:32 NLV

Jesus het hierdie raad aan ‘n groep mense wat bekommerd oor hulle finansies was, gegee: ‘Moet julle dus nie bekommer nie… Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het… God [sal] vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (verse 31-33 NLV). Hy sal dit van dag tot dag doen, as jy vir Hom lewe en die koninkryk van God jou eerste prioriteit maak.

Wat vrees jy die meeste? Om nie genoeg geld te hê nie, of om nie God se seën op jou finansies te hê nie? As jy vrees om God se seën mis te loop, belê jy in iets wat nie kan misluk nie – God se koninkryk. Jy sal met ‘n oop hand saai en as gevolg daarvan, sal jy ‘n vrede wat nie rasioneel verduidelik kan word nie en ‘n vreugde wat met die wete kom dat God jou ondersteuner, bankier en geluksaligheid is, ervaar. Die Bybel sê: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).

Niemand van ons kan finansiële onsekerheid vryspring nie. Op tye wat dit lyk of alles ineen gaan stort, wil ons graag die versekering hê dat ons nie alleen is nie. Ons wil met sekerheid weet dat wanneer ons ons finansiële sorge vir ons hemelse Vader gee, Hy goed na ons sal kyk. Ironies genoeg kry mens nie finansiële vrede deur op te gaar en terug te hou nie, maar deur te gee op tye wanneer dit nie sin maak nie. Dis jou gewilligheid om nou te gee wat God se belofte om terug aan jou te gee wanneer jy dit nodig het, waarborg. Dis hoekom dit noodsaaklik is om enige tyd wat jy kan, met ‘n oop hand te saai.

Sielskos: 1 Kon 8-9; Mark 11:1-11; Ps 47; Spr 12:4-6

Wat gaan jou nalatenskap wees? (3)

2021-05-23
Spreuke 10:7 NLV

Die uitvinder Charles F. Kettering het een maal gesê: ‘Die grootste ding wat hierdie generasie kan doen, is om ‘n paar trapklippe vir die volgende generasie te lê.’ Mense mag dalk op die korttermyn met bewondering praat oor wat jy alles bereik het en vir jouself bekom het. Op die langtermyn sal hulle egter dit wat jy vir ander mense gedoen het, die meeste onthou. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Dié wat reg lewe, sal onthou word. Hulle wat verkeerd gelewe het, sal gou vergeet word.’ As jy ‘n seën vir ander mense wil wees, moet jy: 1) regtig vir mense omgee en dit wys, en 2) besef hoe groot impak ‘n goeie nalatenskap kan hê.

D. Elton Trueblood het glo die volgende geskryf: ‘Ons het alreeds ‘n begin gemaak om die betekenis van menslike lewe te ontdek, wanneer ons bome plant onder wie se skadu ons weet ons nooit sal sit nie.’ Die groot redenaar Henry Ward Beecher het gesê: ‘Ons moet so lewe en werk sodat dit wat na ons as sade kom, na die volgende generasie as bloeisels moet gaan en wat na ons in bloei kom, na hulle as vrugte mag gaan. Dit is die ware gees van liefde vir die mensdom.’

Wat gaan jou nalatenskap dus wees? Wat moet jy ophou doen? Wat moet jy begin doen? Waarvan moet jy meer doen om dit ‘n realiteit te maak? Dis nooit te vroeg om te begin dink aan wat jy wil hê jou lewe moet beteken wanneer jy nie meer hier is nie. Net soos die naskrif aan die onderkant van ‘n brief, sê jou nalatenskap vir die mense wat na jou volg: ‘Dít is waaroor my lewe gegaan het!’

Sielskos: Hand 1:4-8; Rom 12:1-8; 1 Kor 12:1-13

Wat gaan jou nalatenskap wees? (2)

2021-05-22
Psalm 61:6 AFR53

Daar is ‘n storie oor ‘n hipokonderse persoon wie se grafsteen gelees het: ‘Ek het julle mos gesê ek is siek!’ Wat wil jy hê moet eendag op jou grafsteen staan? In Walden, het Henry David Thoreau sy bekommernis uitgespreek dat wanneer sy tyd kom om te sterf, hy sal uitvind dat hy nooit ten volle gelewe het nie. Wanneer dit by jou nalatenskap kom, is daar twee dinge wat jy in gedagte moet hou:

1) Niemand sal soveel vir jou nalatenskap omgee soos jy nie. Wees dus doelgerig wanneer jy op jou nalatenskap besluit; op hierdie manier verhoog jy die kans aansienlik om ‘n impak op die volgende generasie te maak.

2) Die som van hoe jy jou lewe elke dag leef, word jou nalatenskap. Tel elke aksie oor baie jare op en jy sal jou nalatenskap sien vorm aanneem.

Grenville Kleiser skryf in Inspirations and Ideals: ‘Jou lewe is soos ‘n boek. Die voorblad is jou naam. Die voorwoord is jou bekendstelling aan die wêreld. Die bladsye is ‘n daaglikse weergawe van jou pogings, probleme, plesiere, teleurstellings, ambisies en prestasies. Dag na dag word jou gedagtes en dade opgeskryf as bewys van jou sukses of mislukking. Uur na uur word rekord gehou van dit wat vir altyd moet staan. Een dag moet die woorde ‘Die Einde’ geskryf word. Laat daar van jou boek gesê word dat dit ‘n opgawe van edele doelstellings, vrygewige diens en goed gedane werke is.’

Die meeste van ons kan nie kies hoe of wanneer ons gaan sterf nie, maar ons almal kan kies hoe ons gaan lewe. Dis ons nalatenskap aan diegene wat ons volg.

Sielskos: 1 Kon 6-7; Mark 10:35-52; Ps 97; Spr 12:1-3

Wat gaan jou nalatenskap wees? (1)

2021-05-21
Spreuke 13:22 NLV

Die leierskapskundige dr John Maxwell skryf: ‘Op 18 Desember, 1998, het ek ‘n ernstige hartaanval gehad. Ek onthou dat ek daardie aand, terwyl ek op die vloer gelê en vir die ambulans gewag het, twee dinge gedink het: Eerstens, dat ek te jonk was om dood te gaan. Tweedens, dat ek sommige van die dinge wat ek wou bereik, nog nie voltooi het nie. Een van die voordele van my ervaring is dat dit my gemotiveer het om myself af te vra: ‘Wat gaan my nalatenskap wees?’ ‘n Nalatenskap is iets wat ons vir die volgende generasie agterlaat. Dit kan besittings wees wat ons in ander se hande plaas. Dit kan beginsels wees waarvolgens ons gelewe het. Dit kan ook die mense wees op wie ons invloed uitgeoefen het en wie se lewens beter was omdat hulle ons geken het.’

Probeer altyd hierdie twee dinge in gedagte hou: 1) Vandag is al wat jy het. Onthou die woorde op ‘n grafsteen wat gelees het: ‘Ek het dit verwag, maar nie so gou nie!’ Ons almal hoop vir ‘n lang lewe, maar geeneen van ons weet of ons môre gaan sien nie. ‘Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie’ (Spreuke 27:1 NLV).

2) Jy sal ‘n nalatenskap agterlaat. “‘n Goeie mens laat iets na vir kleinkinders. ‘n Sondaar se besittings beland by die regverdiges.” ‘n Goeie man of vrou kan ‘n nalatenskap hê wat die volgende twee generasies sal seën. Fokus dus daarop om goed te wees en goed te doen en vra jouself gereeld af: ‘Hoe wil ek deur my geliefdes onthou word? Wanneer my tyd op aarde verby is, sal ek aanhou om ander mense vir goed en vir God te beïnvloed?’

Sielskos: 1 Kon 3-5; Mark 10:23-34; Ps 93; Spr 11:30-31