Hernu jou liefde vir Christus

2021-04-05
Openbaring 2:5 NLV

Jesus het met die kerk in Efese gepraat en die volgende gesê: ‘Ek ken jou handel en wandel. Ek het ook jou harde werk en volharding raakgesien, en dat jy slegte mense net nie kan verdra nie… Verder volhard jy ook en het jy ter wille van My baie verdra sonder om moeg te word. Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak het. Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het en kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het…’ (verse 2-5 NLV).

Dink terug aan jou eerste dae as Christen. Onthou hoe opgewonde jy geword het wanneer jy oor die Here gepraat het. Onthou hoe jy elke dag tyd in gebed bestee het en hoe sy teenwoordigheid jou versterk het. Jy kon nie genoeg van sy Woord kry nie. Dit was met vars insigte gevul wat jou siel opgewonde gemaak het en jou uitgedaag het om dieper oor Hom te delf. Jy het nie ‘n geleentheid laat verbygaan om met ander mense oor die Here te praat nie. Jou pad met Hom was vervuld en die spil waarom jou lewe gedraai het.

Wat het gebeur? Het jy dieselfde punt as die Christene in Efese waarmee Jesus gepraat het, bereik? As dit die geval is, moet jy verstaan dat God nie jou besige skedule sal onderbreek of sy pas sal versnel om by jou te bly nie. Nee, jy moet stadiger loop om weer in pas met Hom te kom. Jy moet kies om Hom eerste te stel en Hom daar te hou. Vandag rig die Here dalk die volgende woorde tot jou: ‘Kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het.’

Sielskos: Lev 5-7; Matt 28:11-15; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6

Die werk was klaar

2021-04-04
Johannes 20:7 NLV

In die Bybelse tyd het jy iemand met ‘n reputasie van uitnemendheid uitgesoek wanneer jy ‘n mooi meubelstuk gemaak wou hê – ‘n meesterskrynwerker of -afwerker. Hierdie skrynwerkers het egter ‘n interessante gebruik gehad. Wanneer die skrynwerker ‘n werk voltooi het, het hy sy voorskoot afgehaal, dit opgevou en dit op sy voltooide werk gesit as ‘n teken dat die werk voltooi is.

Met daardie prentjie in gedagte, lees die volgende: ‘Vroeg die Sondagoggend toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf aan en merk op dat die klip voor die graf weggerol is. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en die lieflingdissipel… Petrus en die ander dissipel het uitgekom en na die graf toe gehardloop. Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf aangekom. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke daar lê, maar hy het nie ingegaan nie. Simon Petrus het ná hom ook daar aangekom en by die graf ingegaan. Hy sien toe ook die linnedoeke daar lê, én die kopdoek wat om Jesus se kop was. Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol. Daarna het die ander dissipel wat eerste by die graf aangekom het, ook ingegaan, gesien, en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie’ (verse 1-9 NLV).

Let op die woorde: ‘Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol’. Die meesterskrynwerker het die werk voltooi. Ons verlossing is voltooi. Jy hoef nie te werk om gered te word nie, jy moet slegs jou vertroue in Christus plaas en jou sondes word vergewe en jou plek in die hemel verseker.

Sielskos: 1 Kor 15; Matt 28:1-10

Die stryd oor die opstanding

2021-04-03
1 Korintiërs 15:17 NLV

Fox nuus het berig oor ‘n professor in Florida wat sy studente aangesê het om Jesus se naam op ‘n stuk papier te skryf, die papier op die vloer te sit en dan daarop te trap. Al die studente het dit gedoen – behalwe een! Uit liefde en lojaliteit aan Jesus, het hy gesê dat hy nie bereid was om dit te doen nie.

Dit lei ons na die volgende vraag: ‘Hoekom sal ‘n onderwyser, selfs ‘n ateïs, so ‘n ding doen?’ Die antwoord: Omdat ons dit wat ons vrees, soms probeer beveg. Dit word ‘n lewe van ontkenning genoem.

Dink daaroor: Haat en gegriefdheid eindig gewoonlik by die graf, omdat die persoon dood is en geen mag meer oor jou het nie. Hoekom haat sommige mense dan steeds vir Jesus? Vrees! Diep binne-in hulle vrees hulle dat Hy lewe en dat sy invloed in die wêreld aan die groei is. Sy invloed sal aanhou groei! ‘Soos die water die see vol maak, so sal die aarde vol wees van mense wat die Here ken’ (Jesaja 11:9 NLV).

Die geskiedkundige waarheid van Christus se opstanding word nie betwyfel deur enige eerlike, oop gemoed nie. Die grootste bewys van sy opstanding kan egter in lewens wat verander, gesien word. Paulus skryf: ‘As Christus in julle lewe, is julle liggame wel nog as gevolg van die sonde aan die dood onderhewig, maar julle gees is die ene lewe omdat julle saak met God reggemaak is. Omdat die Gees van die God wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy… ook julle dooie liggame weer lewendig maak deur dieselfde Gees wat in julle woon’ (Romeine 8:10-11 NLV). Die liedjieskrywer Alfred Ackley het dit só gestel: ‘You ask me how I know He lives? He lives within my heart.’

Sielskos: Num 21:4-9; Matt 27:51-66; Ps 69:7-21; Deut 21:22-23

Herdefinieer ‘Goeie’ Vrydag

2021-04-02
Kolossense 1:20 NLV

Carolyn Arends skryf: ‘Paassondag is die Christelike geloof se goue medalje oorwinningsrondte, die gelukkige einde. Ek vrees egter Goeie Vrydag. Die beelde van marteling en lyding, die somber musiek, die verskriklike uitroep: ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ As dit van my afgehang het, het ek heelwaarskynlik Goeie Vrydag oorgeslaan. As ek dit egter doen, sal Paassondag hol word. Ek sal vergeet hoeveel my redding gekos het. Ek sal by die leuen inkoop dat Christus se oorwinning oor die dood – en my besluit om Hom te volg – beteken dat my lewe van moeilikheid gevrywaar sal wees. Die Bybelse skrywers moedig ons aan om die lyding te oordink en bied ‘n geleentheid om met Christus te identifiseer en sy kruis op te neem. Tog, wanneer die werk verlore is, die gewas kwaadaardig is of die vriendskap verraai is, rou ons nie net oor die wond nie, maar ook oor die feit dat ons gewond kan word. Ons voel dat Jesus ons in die steek gelaat het. Ons sien dit nie as vreugde nie, maar as mislukking. Hoe word ons dus Paassondag Christene? Wanneer ek Paassondag verwag en Goeie Vrydag kry, probeer ek onthou dat God se definisie van ‘goed’ by verre my definisie daarvan oorskry.’

As jy sukkel om die ‘goeie’ in jou situasie te sien, lees die volgende: ‘…Die Seun is die begin. Hy is die Eerste wat uit die dood opgestaan het sodat Hy inderdaad eerste in alle dinge is. God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur die Seun sy goeie verhouding met alles in die hemel en op die aarde te herstel. Hierdie vrede is bewerk deur die bloed wat aan die kruis gevloei het’ (verse 18-20 NLV).

Sielskos: Gen 22:1-18; Matt 26:69-27:50; Ps 22; Jes 53

Hoekom jy ‘n verhouding met God nodig het

2021-04-01
Maleagi 2:6 NLV

Vanaf die heel eerste hoofstuk in Genesis, is dit duidelik dat ‘n verhouding met God die fondasie is waarop alles in ons lewens gebou moet word. As ons dit op enigiets anders probeer bou, bou ons dit op dryfsand. Hoekom? Omdat ons verhouding met ons kinders, ons sibbe, ons eggenoot, ons ouers en ons vriende dan later sal ineenstort.

Indien ons nie verstaan dat ons geskape is met ‘n intense honger na ‘n verhouding met God nie, sal ons nie verstaan waar die innerlike leemte en eensaamheid vandaan kom nie. Gevolglik sal ons (onsuksesvol) probeer om die leemte met drie dinge te vul:

1) Mense. Die regte persoon in jou lewe kan jou behoefte aan liefde en emosionele intimiteit vervul, maar niemand anders as God kan die geestelike leemte binne-in jou vul nie.

2) Dinge. Materiële dinge kan ons vertroosting en gemak bied. Geld bied aan ons die geleentheid om dinge te kan doen – dinge waarvan die minderbevoorregtes net kan droom. Jy kan egter materiële dinge hê en steeds eensaam en ongelukkig wees.

3) Godsdiens. God is nie in godsdiens geïnteresseerd nie; Hy is in ‘n verhouding met jou geïnteresseerd. Godsdiens word net betekenisvol wanneer dit daardie verhouding verbeter, wat dit nie altyd doen nie. Dikwels word godsdienstige reëls en regulasies ‘n afskrikmiddel vir ‘n verhouding met God. Die Bybel is gevul met godsdienstige mense wat die skakel met God heeltemal misgeloop het. Soms is ons so behep met ons godsdienstige ideologieë, leerstellings, doktrines en beginsels, dat ons nie verstaan dat die belangrikste ding in die lewe ‘n persoonlike, intieme, daaglikse, gesels-en-luister verhouding met God is nie.

Sielskos: Lev 1-4; Matt 26:47-68; Ps 31; Spr 8:34-36

Verkeer jy vandag onder druk?

2021-03-31
Jakobus 1:3 DB

Dit neem ‘n lang tyd en ontsettend baie druk om ‘n waardelose stuk koolstof in ‘n waardevolle diamant te omskep. Dis hoekom Jakobus skryf: ‘My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word… Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou… So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree’ (verse 2-4 DB).

Sodra jy hierdie Skriftuurlike waarheid begryp, sal jy God se hand in jou hele lewe sien. Die waarheid is dat jy jouself óf tans in ‘n toets bevind, óf pas uit ‘n toets uit kom, óf op pad is na die volgende een toe. Hierdie toetse kom in elke moontlike gedaante. Soos die briewe wat jy in die posbus kry, is sommige van hulle net aan: ‘Die Inwoner,’ geaddresseer.

Will Rogers het een keer ‘n koerantopskrif gelees wat gelui het: ‘Onskuldige omstander in New York geskiet.’ Hy het geskerts: ‘Wat daarvan? Al wat jy moet doen om in New York geskiet te word is om onskuldig te wees en rond te staan!’ Dis hoe dit ook met die lewe se toetse gaan. Staan net rond – en jy sal getref word.

Die feit bly egter staan dat dit teenspoed neem om geestelike volwassenheid te produseer. Jesus het gesê: ‘…In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV). Jesus was ‘n oorwinnaar en omdat Hy vandag in jou leef, kan jy ook ‘n oorwinnaar wees.

Sielskos: 2 Tess 1-3; Matt 26:30-46; Ps 6; Spr 8:32-33