Wees altyd eerlik

2021-06-01
Spreuke 21:6 NLV

Een dag het ‘n predikant by die straat afgestap toe hy op ‘n groep seuns afkom wat ‘n hond omsingel. ‘Wat doen julle?’ het hy gevra. Een van die seuns het geantwoord: ‘Hy is ‘n rondloperhond in die buurt. Ons almal wil hom hê, maar net een van ons kan hom huis toe neem. Dus het ons besluit dat die een wat die grootste leuen kan vertel, hom kan huis toe vat.’

Die predikant het verklaar: ‘Julle seuns moenie ‘n kompetisie hou wat leuens behels nie!’ Hy het toe vir hulle begin preek met: ‘Dis sonde om te lieg,’ en geëindig met: ‘Toe ek julle ouderdom was, het ek nooit gejok nie.’ Daar was ‘n doodse stilte vir ‘n minuut. Net toe die predikant dink dat hy tot die seuns deurgedring het, het een van die seuns ‘n groot sug gegee en gesê: ‘Ag nou ja, gee die hond vir die dominee!’

Op ‘n ernstiger noot, leuens is altyd nadelig: 1) Jy moet altyd onthou wat jy gesê het en as jou geheue nie so goed is nie, is die kanse goed dat jy aan die kaak gestel sal word. 2) Jy moet met jouself lewe met die wete dat jy gelieg het en jou karakter geskend het. 3) Wanneer jy besluit om te bid, sal die eerste ding wat in jou gedagtes opkom, die laaste ding wees wat jy met God wil bespreek; jou leuens. 4) Anders as wat jy dalk mag dink, is verbode vrugte nie soet nie, dis suur.

‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Jy sal met die smaak van daardie leuen in jou mond moet saamlewe. Sal dit nie beter wees om net eerlik te wees nie?

Sielskos: Op 1-4; Mark 13:12-23; Ps 117; Spr 12:20-22

Hou aan volhard

2021-05-31
Jakobus 1:3 NLV

Volharding laat jou aanhou wanneer jou vriende jou eenkant toe skuif, mismoedigheid fluister: ‘Gee op,’ en twyfel sê: ‘Dit kan nie gedoen word nie.’ Dis jou anker in die lewe se storms, jou kompas wanneer jy verdwaal en die dryfkrag wat jou by die volgende berg opkry. Jakobus sê: ‘…Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard…’

Volharding ontwikkel jou geloof. Wanneer die proses voltooi is, sal God die toets beëindig, maar nie ‘n oomblik voor dit nie. Intussen is hier drie Skrifgedeeltes waarop jy moet staan: 1) ‘…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne. Wanneer jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie…’ (Jesaja 43:1-2 NLV).

2) ‘…God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV).

3) ‘…Ons hou aan om vir God te werk wanneer ons swaarkry, wanneer ons bang is, wanneer ons probleme het, wanneer mense ons slaan, wanneer ons in die tronk is, wanneer mense vir ons probleme gee, wanneer ons hard moet werk, wanneer ons nie kan slaap nie, wanneer ons honger is… Ons hou aan om die werk te doen wanneer mense goeie dinge oor ons sê en wanneer mense slegte dinge oor ons sê, ons hou aan wanneer hulle dink ons is nie belangrik nie en wanneer hulle dink ons is baie belangrik… Dit lyk of ons altyd huil, maar ons is bly… Ons lyk soos mense wat niks het nie, maar ons het alles’ (2 Korintiërs 6:1-10 ABA).

Volhard dus; alles wat jy tans beleef sal dit werd wees aan die einde.

Sielskos: 1 Kon 21-22; Mark 13:1-11; Ps 82; Spr 12:18-19

Moenie bekommerd wees nie, God is getrou

2021-05-30
2 Tessalonisense 3:3 NLV

Die meeste van ons bekommernisse kan in twee woorde opgesom word: ‘Wat as?’ Wat as die mediese toetse se uitslae sleg is… wat as die mark ineenstort… wat as my maat my los… wat as ek my werk verloor… die lys is oneindig. ‘…Want vrees sluit straf in…’ (1 Johannes 4:18 AFR53), en deur op jou bekommernisse in plaas van God se getrouheid te fokus, laat jy toe dat Satan jou straf.

Jy hoef dit egter nie te doen nie! Jesus sê vir ons om nie ‘…beangs of ontsteld…’ (Johannes 14:27 NLV), te word nie. Paulus sê: ‘Moenie… die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (Efesiërs 4:26-27 NLV). Salomo skryf ook: ‘Vir die bedrukte mens bring elke dag net probleme. Vir die blymoedige mens is die hele lewe ‘n fees’ (Spreuke 15:15 NLV).

As jy bang is vir wat voor jou lê, stop en kyk op God se getrouheid terug. ‘Mag God self, dié God wat vrede bewerk, julle volkome aan Hom toewy. Mag Hy julle heeltemal – gees, siel en liggaam – onberispelik bewaar…’ (1 Tessalonisense 5:23 NLV). As jy dus deur bekommernisse geteister word, kan jy op die volgende beloftes in die Bybel staan. ‘…Loof die Here wat ons… vrede gegee het. Hy het sy beloftes gehou wat Hy lank reeds gemaak het’ (1 Konings 8:56 DB).

Jy sê: ‘Maar ek het God gefaal. Kan ek regtig van Hom verwag om my te help?’ Ja, want: ‘…as ons ontrou is – Hy bly getrou…’ (2 Timoteus 2:13 NLV). Voor God jou verlos het en jou sy kind gemaak het, was Hy van al jou foute, gebreke en mislukkings bewus. Nietemin, sy Woord sê Hy is: ‘…getrou! Hy sal julle sterk maak en van die Bose bewaar.’ Die woord vir jou vandag is dus: Moenie bekommerd wees nie, God is getrou.

Sielskos: Eks 16:1-35; Joh 6:30-40

Om verder as die ‘kerplaks’ te kom

2021-05-29
Hebreërs 12:1 NLV

Daar is die verhaal van ‘n reisiger wat ‘n ghoeroe langs die pad teëgekom het en vir hom gevra het: ‘Waar is die pad na sukses?’ Die bebaarde wysgeer het nie geantwoord nie, maar net na ‘n plek in die verte gewys. Die man, opgewonde oor die vooruitsig van vinnige en maklike sukses, het in die regte rigting gehardloop. Kerplaks! Hy het hom in ‘n ander bloedgroep in geval. Hy het terug gestrompel, seer en verbaas. Hy het aangeneem dat hy seker die boodskap misverstaan het en het die ghoeroe weer dieselfde vraag gevra. Weer het hy stom na dieselfde rigting gewys. Dus het die reisiger weer in daardie rigting begin hardloop. Hierdie keer was die kerplaks oorverdowend. Bebloed, gebroke en kwaad het die reisiger teruggekruip en vir die ghoeroe geskree: ‘Ek het gevra waar die pad na sukses is! Jy beter nou praat en my sê!’ Eers toe het die wysgeer gepraat. ‘Sukses is daardie kant toe. Dis net ‘n entjie verder as die kerplaks.’

Ons almal het al die ‘kerplaks’ ervaar. Daar is geen manier om dit te vermy nie. Dis egter wat ons na die kerplaks doen wat die verskil maak. Volharding wen altyd. Die Bybel sê: ‘…Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê.’ Daar word vertel dat die kampioenjaer, Rick Mears, die volgende gesê het: ‘Om eerste klaar te maak, moet jy eers klaarmaak.’ As jy dus geval het, staan weer op en hou aan.

Die Amerikaanse leerkrag Hamilton Holt het gesê: ‘Niks wat die moeite werd is, kom maklik nie. Halwe inspanning produseer nie halwe resultate nie, dit produseer geen resultate nie. Werk, aanhoudende werk en harde werk, is die enigste manier om resultate te bereik.’ Die woord vir jou vandag is dus: Hou aan volhard en jy sal wen.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Mark 12:28-44; Ps 113; Spr 12:15-17

Behou die opgewondenheid

2021-05-28
1 Korintiërs 7:33-34 NLV

Dr James Dobson skryf: ‘Watter een van die volgende paartjies is meer geneig om die grootste fisiese aantrekkingskrag in die huwelik te geniet? Die paartjie wat elke uur saam deurbring en omtrent eksklusief net op mekaar fokus, of die man en vrou wat ander belangstellings het en na tye van onafhanklikheid weer bymekaar kom? Verrassend genoeg is dit die paartjie wat mekaar spasie gun.

Volgens gedragsnavorsers, is die gesondste huwelike met die hoogste seksuele spanning die huwelike wat asemhaal – verhoudings wat wissel tussen tye van nabyheid en teerheid en tye wat meer onafhanklik is, wat dan weer bymekaar kom vir nog ‘n reünie soos die siklus vorder. Dit is hoekom dit nie altyd voordelig is vir ‘n man en vrou om saam te werk nie, of eksklusief op mekaar in die afwesigheid van vriende en kollegas buite die familie, te konsentreer nie.

Daar is iets aan die diversiteit van belangstellings en aktiwiteite van elke eggenoot wat die paartjie daarvan weerhou om mekaar te verteer en die verhouding uiteindelik uit te laat brand. Die huwelik is ‘n marathon en nie ‘n naelloop nie. Mans en vrouens moet ‘n sisteem uitwerk wat hulle liefde vir ‘n leeftyd sal lewendig hou. Om ‘n gesonde belangstelling in baie dinge te kweek, is ‘n groot stap in daardie rigting.’

Hoe doen mens dit? 1) Deur te deel sonder om te versmoor. 2) Deur so veilig in julle liefde te voel dat julle mekaar vertrou. 3) Deur te begryp dat jou maat se persoonlike groei sekere elemente benodig wat jy nie kan voorsien nie en dit heeltemal so te aanvaar.

Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Mark 12:13-27; Ps 108; Spr 12:14

Wees wie God jou gemaak het om te wees!

2021-05-27
1 Korintiërs 15:10 NLV

Het jy die verhaal gehoor van die vrou wat ‘n hartaanval gehad het en dringend hospitaal toe is? Op die operasietafel het haar hart gaan staan, waartydens sy God gesien het en Hom gevra het of haar lewe verby was. ‘Nee,’ het God geantwoord. ‘Jy het nog drie-en-veertig jaar, twee maande en agt dae oor om te leef.’ Die vrou was so in haar skik dat sy besluit het om in die hospitaal te bly en plastiese chirurgie op haar gesig en lyf te kry. Sy het selfs ‘n stilis laat kom om haar haarkleur te verander, met die gedagte dat omdat sy soveel tyd oor het, sy die meeste daarvan moet maak. Nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, is sy egter deur ‘n ambulans omgery toe sy oor die pad stap. Terug in God se teenwoordigheid, het sy woedend gevra: ‘Ek dog U sê ek het nog meer as veertig jaar oor om te lewe!’ God het geantwoord: ‘Jammer, ek het jou nie herken nie.’

Op ‘n ernstiger noot, sal God jou help om die beste te wees wat jy kan wees, maar Hy sal jou nie help om iets te word wat Hy nooit vir jou bedoel het om te wees nie. Aanvaar dus jouself, wees lief vir jouself en geniet dit om die beste weergawe van jouself te wees. Die Engelse teoloog Julius Hare het gesê: ‘Wees wie jy is. Dis die eerste stap om beter te word as wat jy is.’

Daar is niks meer uitputtend en frustrerend as om jou lewe as iemand wat jy nie is nie, te probeer lei. Wees dus vandag wie God jou gemaak het om te wees! Staan op en verklaar die volgende saam met die apostel Paulus: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is.’

Sielskos: 1 Kon 14-15; Mark 12:1-12; Ps 101; Spr 12:12-13