Seën vir die generasie

2021-04-12
Handelinge 2:39 NLV

Elke familie het unieke en verskillende sterkpunte. Jy kan ‘n erflating aan jou kinders gee deur die waardes, insigte en liefde wat jou familie tot op hede gebring het waar julle is, aan hulle oor te dra. Deur ‘n sin van geskiedenis te hê, kan jy in hulle ‘n begeerte inspireer om die grootsheid te laat voortbestaan. Jy moet hulle vertel hoe jy dit deur jou Jordaanrivier gemaak het en jou beloofde land binnegegaan het.

Dit is noodsaaklik om elke familielid se gawes te beklemtoon. Daar is iets in elke persoon wat hom of haar bo die ander laat uitstaan. Almal van ons het spesiale talente en almal van ons wil graag hoor wat ons goed doen. Ons moet die uniekheid van elke familielid herken en verbaliseer.

Ons moet beklemtoon dat alhoewel ons deel van ‘n goeie familie is, ons nie deur ons erfenis beperk word nie; ons het die vryheid en die vermoë om ons eie individuele gawes uit te oefen. Inspireer jou familie om trots te wees op waar hulle vandaan kom, waar hulle is en waar hulle kan gaan. Ons verlede bind ons aan mekaar, maar dis die individuele lede wat hulle unieke gawes gebruik en hulle spesifieke rolle vervul, wat ‘n familie veerkragtig maak en vir hulle ‘n sterk toekoms in die beloftes van God gee. ‘Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders…’

Moenie die laaste skakel in die ketting wees nie. Moenie toelaat dat dit by jou eindig nie. Neem die seëninge wat God in jou geplaas het en gee hulle oor aan jou kinders – en ook aan jou kleinkinders.

Sielskos: Lev 21:1-23:25; Mark 1:29-34; Ps 50:1-15; Spr 10:3

Om ander mense lief te hê en te aanvaar

2021-04-11
Filippense 2:3 NLV

Jy kan leer om iemand lief te hê en te aanvaar, sonder om noodwendig met hulle opinies saam te stem of hulle dade of leefstyle goed te keur. ‘n Belangrike sleutel om dit reg te kry, is om mense as individue te sien. Hoe meer ons besef dat ons ten spyte van ons verskille almal menslik is en deur ons Vader volgens sy beeld geskep is, hoe vryer word ons om op ons gemeenskaplike behoeftes te fokus. Wanneer ons nie iemand anders se beweegredes, sienings of persoonlikheid verstaan nie, is dit maklik om die ergste oor hulle aan te neem en irritasie en woede te projekteer.

Kommunikasie en vertroue help baie om ons geduld en begrip teenoor ander wat anders as ons is, te vermeerder. Jy kan hierdie twee dinge in ‘n verhouding verskaf deur bloot die regte vrae te vra. Te dikwels is ons bang om iemand te vra waar hulle vandaan kom, of wat die probleem is. Of wanneer ons dit wel vra, doen ons dit op so ‘n manier wat net die vrees en vyandigheid wat die ander persoon ervaar, verhoog. As ons vriendelik vra, of ten minste op ‘n eerbiedige manier, maak ons dit vir die ander persoon makliker om oop te maak en leer ons hulle beter ken. ‘n Konstruktiewe gesprek bou vertroue, wat die waarskynlikheid van meer en beter kommunikasie tussen julle verhoog.

Die Bybel stel ‘n hoë standaard vir ons om ander mense lief te hê en te aanvaar. Paulus sê: ‘Al sou ek enige taal op aarde of selfs in die hemel kon praat, maar ek kom die liefde kort, het ek ‘n galmende trom of ‘n klinkende simbaal geword’ (1 Korintiërs 13:1 NLV).

Sielskos: 2 Kro 7:12-16; Matt 6:5-15; Luk 18:1-8

God sal in alles wat jy nodig het voorsien

2021-04-10
Romeine 8:32 NLV

George Müller word as een van die grootste geestelike reuse van die kerk geag. Doen jouself ‘n guns en gaan lees op oor sy lewensverhaal. Hy het keer op keer voor oorweldigende behoeftes te staan gekom, na God toe in gebed gedraai, sy beloftes opgeëis en wonderbaarlike wonderwerke ervaar. Groot geloof word egter nie oornag verkry nie; dit word deur ‘n leeftyd van wandel met God gebou.

Müller het gesê: “My geloof is dieselfde geloof wat in elke gelowige te vinde is. Dit het bietjie-vir-bietjie oor die afgelope ses-en-twintig jaar vermeerder. Baie kere wat ek mal van bekommernis moes geword het, het ek vrede gehad omdat my siel die waarheid van God se beloftes geglo het. God se Woord, tesame met die hele karakter van God soos Hy Homself openbaar, beantwoord alle vrae. Sy onveranderende liefde en sy oneindige wysheid het my kalmeer. Ek het geweet: ‘God is in staat en gewillig om my hierdeur te bring.’ Daar staan geskrywe: ‘As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie.”

Jy vra: ‘Hoe kry ek hierdie tipe geloof?’ Die Bybel sê: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap…’ (Romeine 10:17 NLV). Net soos ‘n daaglikse dieet van goeie kos jou fisies versterk, so versterk lees, mediteer, bestudeer, verbaliseer en staan op God se Woord jou geestelik.

Die ‘geheim’ tot ‘n suksesvolle Christelike lewe is glad nie ‘n geheim nie – bestudeer God se Woord en ontvang God se Woord in jou. Jy kan nie situasies in die lewe wat angs veroorsaak vermy nie, maar wanneer jou geloof sterk is, kan jy hulle oorkom.

Sielskos: Lev 18-20; Mark 1:21-28; Ps 25:16-22; Spr 10:2

Die angel

2021-04-09
2 Korintiërs 11:3 NLV

Al ooit van die fluweelmier gehoor? Hy het klein haartjies op sy lyf wat glad en fluweelagtig voel. Dis egter net ‘n vermomming. Hy is inderwaarheid glad nie ‘n mier nie, maar ‘n vlerklose perdeby met ‘n aaklige angel. Nadat hy sy slagoffers met gif gespuit het, lê hy sy eiers in hulle lewelose liggame.

Een van Paulus se grootste bekommernisse was dat die kerke, nadat hulle deur genade gered is, weer sou terugkeer na ‘n lewe onder die Ou Testamentiese wet. Hy het hulle aanhoudend daarteen gewaarsku om nie hulle verlossing en verhouding met God op hulle eie dade te baseer nie. ‘Ek is tog bang dat julle gedagtes weggevoer sal word van julle opregte en suiwer toewyding aan Christus, net soos die slang Eva met sy listigheid verlei het. As iemand ‘n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, of ‘n ander Gees of ‘n ander evangelie aanvaar as dié wat julle van ons ontvang het, is julle só maklik tevrede daarmee’ (verse 3-4 NLV). ‘n Ander Jesus! ‘n Ander Gees! Paulus waarsku weer: ‘Die Satan self gee immers voor dat hy ‘n engel van die lig is’ (vers 14 NLV).

Ja, jou werk op aarde bepaal jou beloning in die hemel. Maar slegs deur op die voltooide werk van Christus te vertrou, sal jy in die hemel kom. Wetlikheid sal jou nie net infekteer nie, maar jou leweloos laat. Die Skotse dominee, Horatius Bonar, het geskryf: ‘In die hande van ‘n lewe wat ek nie gelei het nie, op ‘n sterfte wat ek nie gesterwe het nie; iemand anders se lewe, iemand anders se dood, plaas ek my hele ewigheid.’

Hoe beskerm jy jou teen ‘die angel’ van wetlikheid? Deur slegs op God se genade staat te maak.

Sielskos: Lev 15-17; Mark 1:14-20; Ps 25:8-15; Spr 10:1

Hoe om twyfel te hanteer (2)

2021-04-08
Johannes 20:25 NLV

Sommige van ons neem die boodskap van Christenskap en plaas dit in ‘n boks gemerk: ‘Moenie vra nie, moenie vertel nie.’ Die verhaal van ongelowige Tomas leer ons dat dit nie net in die haak is om te twyfel nie – dis soms nodig! As jy dit nie doen nie, sal jy nie groei nie. Jy sal met iemand anders se antwoorde opeindig, wat in baie gevalle onvoldoende antwoorde vir jou sal wees – selfs as jy eerlik genoeg is om hulle te vra.

Vraag: Het ‘n godsdienstige siel wat goed bedoel jou al ooit in ‘n hoek gedruk en jou probeer oortuig dat jou vrae ‘n oortreding teenoor Christus is? As dit die geval is, is dit tyd om weer na die sagte woorde van die Een wat jou twyfel en vrese beter as jyself ken, te luister: ‘Vrede vir jou. Kyk na my hande en voete. Kyk met oë van geloof en glo. Jy is geseënd wanneer jy ten spyte van jou vertwyfelinge glo.’

Jy mag bid: ‘Here, soos Tomas sukkel ek soms met vertwyfelinge. Ek het nog nie al die stukke van my lewe heeltemal bymekaar gesit nie. Dit sal ook nie gebeur totdat ek by U is nie. Dankie dat U my in my worsteling aanvaar en dat U nie my vrae ignoreer nie. Tomas het eindelik die plek bereik waar hy kon sê: ‘My Here en my God!’ Dankie dat U geduldig met my is terwyl ek strewe om ook daardie plek te bereik.’

So, hoe kom ons deur ons vertwyfelinge? Soos Tomas! Deur hulle eerlik in die gesig te staar, hulle na Jesus toe te bring en as gevolg van hulle, geestelik te groei.

Sielskos: Lev 13:38-14:57; Mark 1:9-13; Ps 25:1-7; Spr 9:17-18

Hoe om twyfel te hanteer (1)

2021-04-07
Johannes 20:25 NLV

Tomas was nie daar toe Jesus die eerste keer aan sy dissipels na die opstanding verskyn het nie. Soos baie van ons, was ander mense se ervarings nie goed genoeg vir Tomas nie – hy moes sy eie hê. Jesus het seker gemaak dat hy dit kry. Let op dat Hy nie Tomas verwyt het omdat hy getwyfel het nie. Hy het verstaan dat enige vraag wat in ‘n eerlike hart ontstaan, nie ‘n skeptiese vraag is nie, maar ‘n soeke na die waarheid.

Die Bybel sê vir ons: ‘Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle… Jesus het tussen hulle kom staan en aan hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’ Daarna sê Hy vir Tomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar glo.’ Tomas het vir Jesus gesê: ‘My Here en my God!’ (verse 26-28 NLV).

Ons kan twee belangrike lesse uit hierdie verhaal leer: 1) Jou twyfel kan jou na ‘n nuwe vlak van geloof lei. Wanneer die bodem uit jou wêreld val, wanneer die pyn van jou omstandighede ondraaglik voel, wanneer ‘n verwoestende gebeurtenis plaasvind en twyfel onaangekondig instap, moenie dit ontken nie – erken dit. Tye van vertwyfeling word klaskamers van onderrig wanneer hulle jou na God vir antwoorde dryf. Soos jy deur hulle werk, sal jy ‘n nuwe vlak van geloof bereik.

2) Jou twyfel kan jou na ‘n dieper verhouding met Jesus lei. Die getuienis van ander sal jou net sover dra, maar uiteindelik het jy jou eie persoonlike ervaring met die Here nodig. Jy kan dit hê! Tomas het begin deur Jesus in twyfel te trek en het opgeëindig as ‘n martelaar wat vir Jesus se koninkryk gesterf het. Dink daaroor!

Sielskos: Lev 11:1-13:37; Mark 1:1-8; Ps 32; Spr 9:10-16