Gee God die eerste oomblikke van jou dag
2021-06-03Psalm 63:2 NLV
Hoe lyk die eerste oomblikke van jou dag? Skakel jy die televisie aan, of haas jy jou na die badkamer, of begin jy dadelik op jou lysie vir die dag fokus?
Probeer eerder om stil daar te lê en God toe te laat om met jou te praat. Met jou gedagtes wat op ‘n skoon bladsy is en jou hart wat oop is, sal Hy vir jou insigte, idees, oplossings vir probleme en die wete dat Hy vandag by jou sal wees, gee.
Colleen Townsend Evans skryf: ‘Stilte hoef nie ongemaklik of verleë te wees nie. Om sonder woorde by die persoon vir wie jy lief is te wees, is ‘n pragtige en bevredigende vorm van kommunikasie. Ek onthou tye wat ons kinders na my toe aangehardloop gekom het, almal van hulle gelyk aan die praat oor die dinge wat die dag met hulle gebeur het – dit was wonderlik dat hulle hul gevoelens met my gedeel het. Daar was egter ook tye wat hulle net wou gehad het dat ek hulle moet vashou, hulle hare moet streel en hulle aan die slaap moet sus. So is dit ook soms tussen ons en God, ons Vader. Met tye sal jou kragtigste gebede gedagtes, eerder as woorde, wees. Jou woorde word deur jou woordeskat beperk, maar jou gedagtes het oneindige kapasiteit waarin God vir jou lewensveranderende konsepte kan gee.’
Paulus skryf: ‘…ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV). Word dus stil en laat Hom toe om sy gedagtes deur jou te dink. Johannes skryf: ‘Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees’ (1 Johannes 2:20 NLV). God kan jou laat ‘weet’ wat jy nodig het, gee Hom dus die eerste oomblikke van jou dag.
Sielskos: Op 10-14; Mark 14:1-11; Ps 4; Spr 12:25