Oorwin jou grootste vyand – jouself!

2021-06-06
1 Petrus 2:21 NLV

Richard C. Halverson, voormalige kapelaan van die Amerikaanse senaat, het gesê: ‘Wil jy ‘n wenner wees? Ding dan met jouself mee, nie met iemand anders nie. Net omdat jy jou teenstander in die resies wen, beteken nie dat jy jou beste resies gehardloop het nie. Jy kan iemand anders wen en steeds nie jou volle potensiaal bereik nie. Om jou beste te wees, moet jy met jouself meeding. Oorwinning oor ander mag dalk die struikelblok wees wat tot die wenner se onvermoë om homself te oorwin, bydra. Oorwinnig kan jou trots, arrogant, onafhanklik, selfsugtig en soms wreed, maak. Om dit anders te stel, dis nie wat met jou gebeur wat die verskil maak nie, maar hoe jy dit hanteer. Die een wat ophou om geestelik volwasse te word, omdat hy dink dat hy meer van die Skrif as ander mense weet of meer sukses in die bediening behaal, is nog ver van wat Christus vir hom beplan het.’

Dit mag dalk goed lyk wanneer jy jouself met ander mense vergelyk, maar God se plan is om in jou die karaktereienskappe van Christus te produseer. ‘As Christene word daar van julle verwag om soos Jesus te leef. Hy het vir julle ‘n voorbeeld gestel hoe julle moet leef. Leef soos Hy geleef het. Onthou dan, Hy het vir julle gely en nooit iets gedoen waarvan God nie gehou het nie. Wat Hy gesê het, kan julle maar altyd glo. Hy het mense wat lelike dinge vir Hom gesê het, nie terugbeledig nie. Toe hulle Hom seergemaak het, het Hy nie gesê dat Hy hulle gaan terugkry nie. Hy was tevrede om alles in God se hande te los. God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur’ (1 Petrus 2:22-23 DB).

Sielskos: 2 Kon 5:1-14; Joh 5:1-15