Neem dit in gebed na God toe

2021-04-18
Psalm 55:23 NLV

Nadat hy gepreek het oor hoe ons ons bekommernisse in gebed na God toe moet neem, het ‘n dame die groot prediker G. Campbell Morgan genader en gesê: ‘Ek pla God nie met die klein goedjies nie; ek neem slegs die groot bekommernisse na Hom toe.’ Morgan het geantwoord: ‘My liewe dame, alles wat ons na God toe neem is klein.’

Die Bybel sê: ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg…’ God weet dat jy nie gebou is om die gewig van bekommernis te dra nie, dus nooi Hy jou vandag uit om dit vir Hom te gee. Enigiets wat groot genoeg is om ‘n bron van bekommernis te wees, moet in ‘n gebed omskep word. Petrus skryf: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).

Die oomblik wat jy vind dat ‘n bekommernis op jou begin neerdruk, gee dit vir die Here met die wete dat Hy vir jou omgee. As Hy ‘n ver af God was wat nie vir jou omgegee het nie, sou jy rede gehad het om bekommerd te wees. Of as Hy ‘n swak God was wat niks daaraan kon doen nie, sou jy rede gehad het om daaroor bekommerd te wees.

Die waarheid is dat wanneer jy jou sorge aan God oorgee, jy ontdek hoe groot Hy werklik is. Die liedjieskrywer Joseph Scriven het dit so gestel: ‘Oh, what peace we often forfeit, oh, what needless pain we bear, all because we do not carry everything to God in prayer.’

Sielskos: 2 Kon 6:8-23; Matt 5:43-48; Luk 6:27-36

Jou identiteit bepaal jou erflating

2021-04-17
Romeine 8:17 NLV

Wanneer ons gunsteling sportspan wen, sê ons: ‘Ons het gewen!’ Wat bedoel jy met ‘ons’? Jy was nie op die veld nie. Jy het nie die bal gegooi of geskop nie. Jy het nie ‘n enkele doel aangeteken nie. Wat jy bedoel is dat omdat die span wat jy ondersteun en mee identifiseer gewen het, beteken dit dat jy ook gewen het.

Hier is ‘n belangrike geestelike waarheid vir jou as verloste kind van God. Toe Jesus gesterf het, het jy saam met Hom gesterf. Toe Jesus opgestaan het, het jy saam met Hom opgestaan om ‘n totaal nuwe lewe te leef (sien Romeine 6:4). Die verskil tussen jou en die span wat gewen het, is dat jy nooit inderwaarheid deel daarvan sal wees nie. Toe Jesus egter die kruis oorwin het en jy Hom as jou Redder aanvaar het, het God jou ‘in Christus’ geposisioneer. Vandag sien Hy jou geklee in eenheid met Christus se geregtigheid (sien 2 Korintiërs 5:21 NLV).

Paulus verduidelik dit as volg: ‘Want die Gees self bevestig die getuienis van ons eie gees dat ons God se kinders is. En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom…’ (Romeine 8:16-17 NLV). As verloste kind van God, beteken dat jy ‘n ‘erfgenaam’ is van alles wat jou hemelse Vader besit. Dit raak beter, jy is ook ‘n mede-erfgenaam saam met Jesus, wat beteken dat alles waarop Jesus geregtig is, jy ook op geregtig is.

Wanneer jy hierdie waarheid verstaan en daarvolgens begin lewe, sal jy begin om die seëninge wat God vir jou in sy Woord beloof het, te identifiseer en op te eis. Hierdie seëninge sluit dinge soos genade, vergifnis, genesing, voorsiening, leiding, krag ensovoorts, in. Jou identiteit in Christus maak jou op al hierdie dinge geregtig.

Sielskos: Dan 3-4; Mark 2:18-22; Ps 130; Spr 10:12

Omskep jou verlies in wins (3)

2021-04-16
Jesaja 42:9 NLV

Dieselfde mense wat Jefta as ‘persona non grata’ verklaar het, was dieselfde mense wat na hom toe gedraai het vir hulp toe hulle deur ‘n magtige vyand bedreig is.

Hier is dus les een: Ander mense bepaal nie jou toekoms nie, God doen! Die Israeliete het in slawerny gelewe toe God aan hulle hierdie belofte gemaak het: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het,’ sê die Here. ‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê’ (Jeremia 29:11 NLV). God se plan vir jou sal bo elke ander plan seëvier.

Hier is les twee: ‘n Eenheidspad vereis eenheidspraatjies. Jefta het onmiddellik die nuwe verhouding aanvaar: “Jefta het boodskappers na die koning van die Ammoniete gestuur om by hom te hoor: ‘Wat is daar tussen ons dat jy hier in ons land kom oorlog maak?'” Let die woorde ‘ons’ en ‘ons land’ op. Hy het die seer van die verlede agter hom gesit.

Een skrywer merk op: ‘Hy was gereed om in eenheid te wandel. ‘n Eenheidswandel vereis eenheidspraatjies. Jy sal verbaas wees oor die impak wat eenheidspraatjies op jou houding en verhoudings kan hê. Jy sal vind dat jy minder krities teenoor ander mense is, wanneer jy sulke ‘spanpraatjies’ ‘n gewoonte maak.’

Dit beteken nie dat julle altyd oor elke kwessie sal saamstem nie. Dit beteken net dat die plan en visie wat julle deel, groter en belangriker is as julle verskille in gedagtes en opinie. Die Bybel sê: ‘Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle die eenheid wat die Gees bewerk het, bewaar’ (Efesiërs 4:3 NLV).

Sielskos: Dan 1-2; Mark 2:13-17; Ps 127; Spr 10:11

Omskep jou verlies in wins (2)

2021-04-15
Matteus 3:8 NLV

Toe Israel se leiers na Jefta vir hulp gedraai het, was hulle in nood en wou hulle hom ‘gebruik.’. Dus het Jefta in wese gesê: ‘Kom ons verstaan mekaar mooi oor die tipe verhouding wat ons gaan hê.’ Op daardie punt het hy met hulle onderhandel en het in die hoogste leierskapsposisie geëindig.

Wanneer jou vertroue geskend word, moet jy vergewe. Deur dit te doen, maak jy jouself vry. Jy moet egter wysheid aan die dag lê om vorentoe te beweeg. God verwag nie van jou om jouself in ‘n posisie te sit waar jy weer seergemaak kan word nie.

Miskien het jy al die storie gehoor van die man wat met ‘n ernstige brandwond op sy regteroor dokter toe is. Hy het verduidelik: ‘Ek was besig om te stryk en televisie te kyk toe die foon lui en toe tel ek die strykyster in plaas van die foon op.’ Die dokter het verbaas gevra: ‘Maar hoe het jy die brandwond op jou linkeroor opgedoen?’ Die man het uitgeroep: ‘Want hy het weer gebel!’

Wanneer jy deur iemand seergemaak word, moet jy versigtig wees om jouself nie weer in ‘n situasie te plaas waar hulle jou oor en oor kan seermaak nie. Vergifnis moet onmiddellik wees, maar vertroue moet verdien word. Jou oortreder moet die vrugte van sy bekering wys – konsekwente gedrag wat bewys dat hy of sy verander het. Jesus het gesê: ‘Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het.’

Jy benodig twee dinge: genade en wysheid. Genade beteken dat jy aan ander dieselfde vergifnis bewys wat God aan jou bewys het. Wysheid beteken dat jy weet watter tipe verhouding jy in die toekoms met daardie persoon kan hê.

Sielskos: Fil 1-4; Mark 2:1-12; Ps 43; Spr 10:10

Omskep jou verlies in wins (1)

2021-04-14
Rigters 11:1 NLV

Jefta was die buite-egtelike kind van ‘n man genaamd Gilead. Sy ma was ‘n prostituut. Hy het in die huishouding van Gilead se ander wettige seuns grootgeword, wat hom later weggejaag het. “…Hulle het vir hom gesê: ‘Jou ma is ‘n prostituut. Jy mag nie saam met ons van ons pa erf nie'” (vers 2 NLV). Jefta het toe in ‘n grot gaan woon.

Daar het hy ‘n bende leeglêers en rebelle bymekaar gebring en hulle in ‘n groot weermag omskep. Toe die Ammoniete vir Israel bedreig het, het die leiers na hom toe gegaan vir hulp. Jefta het egter vir hulle gesê: “….’Julle het my dan so gehaat dat julle my uit my pa se huis weggejaag het. Vir wat kom julle nou na my toe wanneer julle in die moeilikheid is?’ ‘Ons het jou nodig,’ het die leiers van Gilead vir Jefta gesê. ‘Kom voer ons aan teen die Ammoniete! Ons sal jou die hoof maak van almal wat in Gilead woon'” (verse 7-8 NLV).

Nie net het Jefta hulle na ‘n oorwinning gelei nie, maar sy naam word ook saam met mense soos Abraham, Moses en Dawid met eer in die Bybel genoem. Sy lewe was vol lesse. Hier is ‘n belangrike een: Verwerping kan deel van God se plan vir jou lewe wees. Jefta is vir redes buite sy beheer verwerp – hy was buite-egtelik. In plaas daarvan om bitter te word, het hy aanbeweeg en iets goeds van sy lewe gemaak.

Miskien is jy al verwerp omdat jy te oud, jonk, intelligent, dom, mooi, lelik, bevoorreg, arm, aantreklik, onaantreklik, manlik, vroulik, wit, swart ens is. Deur God se genade het Jefta ‘n lelike situasie geneem en dit in ‘n mooi een omskep. As jy jou situasie vandag vir God gee, sal Hy dieselfde genade aan jou voorsien.

Sielskos: Lev 26-27; Mark 1:40-45; Ps 56; Spr 10:8-9

Jy moet met genade reageer

2021-04-13
2 Petrus 3:18 AFR83

Hoe hanteer ons die seer wat in die verlede in ons verhoudings plaasgevind het? Hoe kombineer twee mense aparte en unieke perspektiewe om ‘n bevredigende en liefdevolle verhouding te skep?

Daar is ‘n baie spesiale bestanddeel genaamd ‘genade’ wat by die mengsel bygevoeg moet word. Dit vereis dat jy aan die ander persoon dieselfde genade bewys as wat God aan jou bewys. Dit gee krag aan diegene wat sukkel om funksioneel in areas te wees waar hulle in die verlede disfunksioneel was. Genade herstel die hart en los die probleme van ‘n gefolterde gees op. Dit is liefdevolle barmhartigheid en vergifnis. Dis die Guns van God.

Soos Hy dit aan ons skenk, moet ons dit ook aan ander gee wat ons medelye en liefde nodig het. Ons is almal in sekere areas gebroke en ons moet leer om dit te aanvaar en ander te help om die gebrokenheid in hulle te herstel.

Petrus het nie geglo dat hy in staat was om sy Here te verraai nie. Hy het gesweer dat hy dit nooit sou doen nie. Jesus het dit egter nie net voorspel nie, maar ook beloof om vir Hom te bid totdat hy ten volle tot inkeer gekom het (sien Lukas 22:32).

Ons word ook geroep om dit te doen; om aan ander onvolmaakte mense dieselfde liefde en genade te bewys as wat aan ons bewys is. Paulus het aan die mense in Tessalonika geskryf: ‘Liewe broers en susters, dit is gepas dat ons altyd vir God dankie sê vir julle, want julle geloof hou net aan groei en julle almal se liefde vir mekaar word net groter!’ (2 Tessalonisense 1:3 NLV). Dan voeg Petrus by: ‘Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade…’ Dis ‘n proses, dus moet jy daaraan werk!

Sielskos: Lev 23:26-25:55; Mark 1:35-39; Ps 50:16-23; Spr 10:4-7