Sukkel jy met verandering?

2021-06-07
2 Korintiërs 3:18 NLV

Wanneer jy eers in ‘n groef is, is dit moeilik om daaruit te kom, veral as dit gemaklik is. Jy sal egter nooit word wat God wil hê jy moet wees, of alles wees wat jy kan wees, solank as wat jy verandering teenstaan en daarop aandring om te bly soos jy is nie.

Daar is twee tipes verandering. 1) Die verandering wat jy persoonlik moet maak. Die ruimtevaarder James Irwin het gesê: ‘Jy mag dalk dink dat om maan toe te gaan, die mees wetenskaplike projek ooit was, maar hulle het ons letterlik in die rigting van die maan gegooi. Ons moes elke tien minute ons koers aanpas en het slegs vyftig voet binne die vyfhonderd myl radius van ons teiken, geland.’ Op daardie vaart was elke verandering, maak nie saak hoe klein nie, noodsaaklik vir sukses.

Kom ons wees eerlik; ons hou nie van verandering nie, dus probeer ons dit so lank as moontlik teenstaan of uitstel. Tog is dit die enigste ding wat op die einde groei meebring. Die Bybel sê: ‘Hy wat hom nie wil laat reghelp nie, beland in armoede en vernedering. Hy wat ‘n teregwysing ter harte neem, ontvang eer’ (Spreuke 13:18 NLV). Wyse mense is gewillig om van plan te verander, dwase nie.

2) Die verandering wat slegs God kan maak. Sy doel vir jou lewe is om in jou die karaktereienskappe van Jesus te ontwikkel. Omdat dit nie deur jou eie inspanning bereik kan word nie, sê sy Woord: ‘Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee.’ Wat bring verandering mee? Om elke dag op God se krag staat te maak.

Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Mark 14:43-52; Ps 1; Spr 13:1