2021-04-24
Johannes 12:24 NLV
Jesus het gesê: ‘Ek verseker julle, as ‘n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy baie vrug op.’
Iemand het een keer geskat dat een graankorrel ‘n graangewas sal produseer wat drie graanare sal dra. In elke graanaar is daar vyftien tot vyf-en-dertig graankorrels wat beteken dat elke plant amper ‘n honderd korrels sal produseer. Nadat hulle geplant is, sal hierdie graankorrels tienduisend korrels produseer. Wanneer hulle weer geplant word, sal hulle ‘n miljoen graankorrels produseer. As jy aanhou, sal jy die hele aarde met graan kan bedek!
Dis wonderbaarlik wat een persoon kan doen wanneer hulle hul lewe aan Christus toewy. D.L. Moody het een maal gesê: ‘Die wêreld het nog nie gesien wat God deur ‘n man kan doen wat aan Hom oorgegee is nie.’ Hy het besluit om daardie persoon te wees en het ‘n groot impak vir Christus op die wêreld gehad.
Toe Petrus, Jakobus en Johannes vir Jesus ontmoet het, was hulle lewensdoel om ‘n lewe te maak. Toe het Jesus hulle uitgenooi om Hom te volg en ‘n verskil te maak. Vandag nooi Hy jou uit om dieselfde te doen. Hy nooi jou uit om ‘n behoefte te vind wat niemand tans aan voldoen nie en jouself daaraan oor te gee. Hy vra jou om sy saak op te neem, wat groter as enige selfbelang is en jou lewe daaraan oor te gee.
Toe Jesus sy dissipels gevra het om hulle werke en sekuriteit te verlaat, het Hy hulle wêreld in beroering gebring. Toe hulle egter vir Hom ja gesê het, het hulle so suksesvol geword dat hulle vyande hulle daarvan beskuldig het dat hulle die ‘hele wêreld in beroering bring’ (sien Handelinge 17:6).
Sielskos: Num 1-2; Mark 4:13-25; Ps 144:1-8; Spr 10:19-21
2021-04-23
Filippense 3:10 NLV
Een pastoor vertel van ‘n dame wat met haar gewig gesukkel het. Sy het omtrent elke dieet onder die son probeer, maar haar gewig het aanhou op en af wissel. ‘n Paar maande het verbygegaan sonder dat hy haar in die kerk gesien het. Een Sondag het sy weer haar verskyning gemaak en hy was geskok. Hy kon haar kwalik herken, omdat sy soveel gewig verloor het. Hoe het dit gebeur? Sy het ‘n man ontmoet en verlief geraak! Sy het vir die pastoor verduidelik dat hulle gaan trou en dat sy op haar heel beste vir haar aanstaande in haar trourok wou lyk.
Daar is ‘n belangrike les hieruit te leer. Wanneer jou Christelike lewe daarop gebaseer is om reëls na te kom, sal jy agterkom dat dit ‘n moeilike, op-en-af pad is om te stap. Dis egter nie die geval wanneer jou benadering op ‘n verhouding gebaseer is nie. Die vrou was in staat om dit wat haar al jare gepla het te oorkom, omdat sy ‘n verhouding ontwikkel het waar sy hom wou behaag.
Intimiteit met Christus bring krag mee. Dit bring ook vreugde mee. Dis hoekom Paulus geskryf het: ‘Op hierdie manier kan ek Christus persoonlik ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood’.
Hoe naby is jy vandag aan die Here? Wil jy graag nader beweeg? Jy kan; Hy wag vir jou om die eerste tree te gee. ‘Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom…’ (Jakobus 4:8 NLV). Hoe beweeg jy nader aan God? Deur dit jou lewensdoel te maak om Christus intiem te leer ken.
Sielskos: Jak 3-5; Mark 4:1-12; Ps 7:10-17; Spr 10:17-18
2021-04-22
Jona 2:10 NLV
Sommige mense bevraagteken die verhaal van Jona wat deur die groot vis ingesluk is en geleef het om daarvan te vertel. Hier is twee redes hoekom jy dit moet glo: Eerstens, omdat Jesus dit geglo het. ‘Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ‘n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees’ (Matteus 12:40 NLV).
Daar is ook ‘n tweede rede hoekom jy die verhaal kan glo. In 1891 het twee vissersbote ‘n massiewe potvis naby die Falklands Eilande teëgekom. Die eerste boot het die vis met harpoene geskiet, terwyl die ander boot omgevaar het om dieselfde van die ander kant af te doen. Die potvis se stert het egter hulle boot getref en dit omgegooi. Daar was twee mans in die boot. Een het verdrink en die ander een is nie gevind nie. Twee dae later het ‘n paar ander bote dieselfde potvis teëgekom en hom doodgemaak. Hulle het die vis na die strand toe gebring en hom oopgesny en raai wat het hulle daar gekry? Die tweede man. Hy was bewusteloos, maar steeds lewendig en na versorging het hy sy lewe hervat.
Dr Tony Evans merk op: ‘Die wonderwerk is nie dat ‘n vis ‘n man ingesluk het nie, omdat dit al vantevore gebeur het. Die wonderwerk is dat die vis op die Here ag geslaan het.’
Jy vra: ‘Wat het dit met my te doen?’ Eenvoudig die volgende: Wanneer jy na God vir hulp draai en Hy met jou praat, begin daar bonatuurlike dinge namens jou gebeur. Jesus het gesê: ‘Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV).
Sielskos: Jak 1-2; Mark 3:20-35; Ps 7:1-9; Spr 10:16
2021-04-21
2 Korintiërs 5:10 NLV
Paulus skryf: ‘Ons streef in elk geval daarna… om Hom tevrede te stel. Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggame gedoen het, of dit goed en of dit sleg was’ (verse 9-10 NLV). As jy wys is, sal jy elke dag met hierdie waarheid op die voorgrond van jou gedagtes lewe. Jy sal ‘n ‘voorbereidingsperspektief’ hê!
Dink so daaroor: Jy het nie net een oggend wakker geword en gesê: ‘Ek het besluit om ‘n prokureur, of ‘n dokter, of ‘n boekhouer, te wees,’ nie; nee, jy het daardie besluit jare vantevore geneem en toe na daardie doelwit toe gewerk.
Kom ons wees duidelik: As ‘n Christen, werk jy nie om jou verlossing te verdien nie, maar om jou beloning in die hemel te verdien. Verlossing is die fondament waarop jy bou en die Bybel sê: ‘Want niemand kan ‘n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus’ (1 Korintiërs 3:11 NLV). Dan gaan Paulus voort deur te sê: ‘As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels. Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou. Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word. Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ‘n brand gered word’ (verse 12-15 NLV).
Wanneer jy voor Christus staan, sal jy twee opsies hê – beloning of berou. Kry dus ‘n ‘voorbereidingsperspektief.’
Sielskos: Dan 11-12; Mark 3:7-19; Ps 16; Spr 10:15
2021-04-20
Kolossense 4:6 NLV
Die Chinese Christelike leier, Watchman Nee, verduidelik in sy boek getiteld The Normal Christian Worker, hoe belangrik dit is om op te let wat jy sê en hoe jy dit sê. ‘As gevolg van onbeheerste uitsprake, word die bruikbaarheid van baie Christelike werkers hewig ingekort. In plaas daarvan om kragtige instrumente in die Here se diens te wees, maak hulle bediening min impak as gevolg van die konstante lekkasie van krag deur hulle agtelosige praatjies.’
Paulus skryf: ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Dit beteken dat jy wanneer jy praat, moet jy seker maak dat dit in goeie smaak is. Jou gesigsuitdrukking en stemtoon kan bepaal of ‘n persoon dit wat jy sê, ontvang of daaroor aanstoot neem. Weer skryf Paulus: ‘Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel’ (Efesiërs 4:29 NLV).
Voor jy dus praat, moet jy jou houding ondersoek en jouself afvra: ‘In watter gemoedstemming is ek op die oomblik?’ Nie net dit nie, maar ook: ‘Sal dit wat ek nou wil sê help of seermaak, verduidelik of verwar, my laat beter voel of die ander persoon beter laat voel?’
Dawid het sy geneigdheid om die verkeerde ding te sê erken en gebid: ‘Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê. Bewaar my van verkeerde begeertes wat lei na bose dade…’ (Psalm 141:3-4 NLV). Dis nie genoeg om net talentvol te wees nie; om sukses in die lewe te behaal, moet jy ook met wysheid praat.
Sielskos: Dan 8-10; Mark 3:1-6; Ps 103:13-22; Spr 10:14v
2021-04-19
1 Kronieke 29:14 NLV
Vrygewige mense is dikwels gemaklik daarmee om oor geld te praat en selfs meer gemaklik daarmee om dit uit te deel. Selfgesentreerde mense het ‘n obsessie daaroor om dit wat hulle het te behou en hoe om meer daarvan te kry. Dis hoekom Jesus, wat die vrygewigste mens in die geskiedenis was, so baie oor geld gepraat het. Hy het die bron daarvan verstaan, die gebruik daarvan verstaan en aan wie dit alles behoort. Sestien van sy agt-en-dertig gelykenisse gaan oor hoe om geld en besittings te hanteer. In die vier evangelies, raak een uit elke tien verse die kwessie aan. Die Bybel het vyfhonderd verse oor gebed, rofweg dieselfde hoeveelheid verse oor geloof, maar oor die tweeduisend verse oor geld en besittings.
Probeer God vir jou iets sê? Alles wat jy het, kom van God af! Jy is dus nie ‘n eienaar nie, maar ‘n bestuurder van sy eiendom. Dit beteken dat wanneer Hy jou op die skouer tik en sê: ‘Gee vir hierdie person of vir daardie saak,’ stry of rasionaliseer jy nie, maar sê: ‘Ja, Here!’ Nadat al die geld ingesamel is om die tempel te bou, het Dawid gebid: ‘Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk. Ons dank U, o God, en prys u heerlike Naam! Maar wie is ek tog, en wie is my volk, dat ons enigiets vir U kan gee? Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het!’ (verse 12-14 NLV).
Wanneer jy aan God gee, gee jy terug aan jou Voorsiener.
Sielskos: Dan 5-7; Mark 2:23-28; Ps 103:1-12; Spr 10:13