Gebed: maak dit eenvoudig en gereeld

2021-06-15
Matteus 6:7 NLV

Jesus het geweet van ons neiging om dinge onnodig te kompliseer en het gesê: ‘Wanneer julle dan bid, moenie met woorde mors… nie… julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!’ (verse 7-8 NLV). Jesus leer ons hier dat gebed nie lank, luid of moeisaam hoef te wees nie. Hy nooi jou ook uit om ‘n Skriftuurlike belofte te soek wat met jou behoefte ooreenstem en dan daarop te staan.

Charles Swindoll, wat sy tyd in die kar gebruik het om te bid, skryf die volgende: ‘Ek praat dikwels hardop met God. Soms sing ek vir Hom. Met tye is my hele gebed in my gedagtes. Elke keer wat ek myself aan gebed oorgee, kom ek agter dat God my fokus word, eerder as een van my persoonlike probleme. My bekommernisse smelt weg. Ek is in staat om enigiets wat my bekommer te laat gaan, sodat ek heeltemal verlore in sy teenwoordigheid en die vreugde van bediening kan word. Wanneer ek by my bestemming arriveer, is ek opgewonde om God se wil te doen. Ek voel verkwik, verlig en gereed. My gedagtes is gefokus. My hart is voorbereid. My emosies is helder en wat my ookal gepla het terwyl ek bestuur het, pla my nie meer nie. Gebed het dit moontlik gemaak. Ek wens ek kon sê dat ek elke rit, elke dag gebruik om in gebed te deur te bring. Soos baie mense, vergeet ek egter dikwels. My gedagtes sal van een probleem na die volgende spring en eerder as om te bid, broei ek daaroor. Met tye sal ek so angstig wees dat dit nie by my opkom dat ek eerder myself moet ophou bekommer en begin bid nie.’

Gebed: maak dit eenvoudig en gereeld.

Sielskos: 2 Kon 21-23; Luk 1:1-10; Ps 73:1-16; Spr 13:17-19