Gebed kan jou lewe verander

2021-06-14
1 Timoteus 2:1 NLV

Gebed is eenvoudig kommunikasie met God. Kommunikasie kan gesproke of stil wees. Dit kan selfs in ‘n liedjie uitgedruk word. Baie van die Psalms is net gebede wat getoonset is. Gebed gaan daaroor om met God te skakel. Of dit nou die belydenis van sonde, lofprysing van sy Naam, om sy wil te vra, om vir ‘n vriend in te tree of om jou eie behoeftes te kommunikeer is, moet jou gebede Godgesentreerd en nooit selfgesentreerd wees nie. Dus moet jy genoeg tyd toelaat om te luister en aandagtig voor jou hemelse Vader te wag.

Gebed moet ook jou eerste prioriteit wees. Paulus het vir Timoteus opdrag gegee: ‘Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid. Terwyl jy jou versoeke rig, smeek God se onverdiende goedheid daaroor af en dank Hom’ (vers 1 NLV). Let die woord ‘Eerstens’ op. Voor jy uit die bed klim, voor jy gaan stort, voor jy werk toe gaan, voor jou eerste afspraak: bid, bid, bid!

Elke middag om drieuur het Petrus en Johannes na die tempel toe gegaan om te bid. Hulle het hulle skedule in die middel van die dag vir een doelwit onderbreek: gebed. Wanneer jou dag dus op sy eie pas verbygaan en in sy eie rigting beweeg, onderbreek dit met gebed. Soos jou dag na ‘n krisis toe opbou, stop opsetlik om te bid. Wanneer jou oggend begin verkeerd loop, onttrek jouself vir ‘n paar oomblikke van stilte om God se wil te soek en Hom vir sy instruksies te vra. Wanneer jou houding begin suur word, neem ‘n oomblik om jou houding deur gebed te verander. Moenie wag nie – bid onmiddellik.

Maak gebed jou eerste prioriteit in alle dinge en ten alle tye. As jy dit doen, sal jy uitvind dat gebed jou lewe ten goede verander.

Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Mark 16:1-20; Ps 80:12-19; Spr 13:13-16