Goedhartigheid (1)
2021-05-05Spreuke 11:3 NLV
Het jy geweet dat daar ‘n verband tussen goedhartigheid en die nasionale ekonomie is? ‘n Christelike outeur skryf dat wanneer leuens, luiheid, onverantwoordelikheid, oneerlikheid en korrupsie in ons publieke en private lewens ‘n algemene verskynsel word, die nasionale ekonomie afneem. ‘n Samelewing wat witboordjie kriminele en blouboordjie plunderaars produseer, spandeer duisende rande elke dag om die oortreders opgesluit te hou. ‘n Samelewing met wydverspreide dwelmmisbruik moet vir rehabilitasiesentrums betaal. Gebroke families beteken meer pleegsorghuise en meer studente wat die skool verlaat en nie ‘n werk kan kry nie en in ‘n siklus van staatswelsyn vasgevang word.
Hoe minder goedhartigheid daar is, hoe meer moet die regering ingryp – en hoe hoër is die samelewing se koste. Net soos morele goedhartigheid tot geweldige ekonomiese en finansiële voordele lei, so kom die ineenstoring van morele waardes met ‘n enorme finansiële en ekonomiese prys.
Jy sê: ‘Maar ek is net een mens. Wat kan ek daaraan doen?’ Jesus antwoord: ‘Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal uitstraal. Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!’ (Matteus 5:16 NLV).
St Francis van Assisi het gesê: ‘Al die donker van die wêreld kan nie die lig van een enkele kers uitdoof nie.’ In plaas daarvan om oor die donker te kla, laat jou lig skyn waar jy ook al gaan. John Wesley, die stigter van die Metodiste Kerk, het gesê: ‘Doen so goed as wat jy kan, op al die maniere wat jy kan, in al die plekke wat jy kan, op al die tye wat jy kan, aan al die mense wat jy kan, solank as wat jy kan.’
As elke verloste kind van God volgens hierdie formule lewe, sal ons die samelewing op sy kop kan keer – of eerder weer regop kan sit.
Sielskos: Num 22-24; Mark 6:45-56; Ps 37:25-31; Spr 11:5-6