Lewe vir iets groters as jouself
2021-04-24Johannes 12:24 NLV
Jesus het gesê: ‘Ek verseker julle, as ‘n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy baie vrug op.’
Iemand het een keer geskat dat een graankorrel ‘n graangewas sal produseer wat drie graanare sal dra. In elke graanaar is daar vyftien tot vyf-en-dertig graankorrels wat beteken dat elke plant amper ‘n honderd korrels sal produseer. Nadat hulle geplant is, sal hierdie graankorrels tienduisend korrels produseer. Wanneer hulle weer geplant word, sal hulle ‘n miljoen graankorrels produseer. As jy aanhou, sal jy die hele aarde met graan kan bedek!
Dis wonderbaarlik wat een persoon kan doen wanneer hulle hul lewe aan Christus toewy. D.L. Moody het een maal gesê: ‘Die wêreld het nog nie gesien wat God deur ‘n man kan doen wat aan Hom oorgegee is nie.’ Hy het besluit om daardie persoon te wees en het ‘n groot impak vir Christus op die wêreld gehad.
Toe Petrus, Jakobus en Johannes vir Jesus ontmoet het, was hulle lewensdoel om ‘n lewe te maak. Toe het Jesus hulle uitgenooi om Hom te volg en ‘n verskil te maak. Vandag nooi Hy jou uit om dieselfde te doen. Hy nooi jou uit om ‘n behoefte te vind wat niemand tans aan voldoen nie en jouself daaraan oor te gee. Hy vra jou om sy saak op te neem, wat groter as enige selfbelang is en jou lewe daaraan oor te gee.
Toe Jesus sy dissipels gevra het om hulle werke en sekuriteit te verlaat, het Hy hulle wêreld in beroering gebring. Toe hulle egter vir Hom ja gesê het, het hulle so suksesvol geword dat hulle vyande hulle daarvan beskuldig het dat hulle die ‘hele wêreld in beroering bring’ (sien Handelinge 17:6).
Sielskos: Num 1-2; Mark 4:13-25; Ps 144:1-8; Spr 10:19-21