Glo dit, God se Woord is waar

2021-04-22
Jona 2:10 NLV

Sommige mense bevraagteken die verhaal van Jona wat deur die groot vis ingesluk is en geleef het om daarvan te vertel. Hier is twee redes hoekom jy dit moet glo: Eerstens, omdat Jesus dit geglo het. ‘Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ‘n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees’ (Matteus 12:40 NLV).

Daar is ook ‘n tweede rede hoekom jy die verhaal kan glo. In 1891 het twee vissersbote ‘n massiewe potvis naby die Falklands Eilande teëgekom. Die eerste boot het die vis met harpoene geskiet, terwyl die ander boot omgevaar het om dieselfde van die ander kant af te doen. Die potvis se stert het egter hulle boot getref en dit omgegooi. Daar was twee mans in die boot. Een het verdrink en die ander een is nie gevind nie. Twee dae later het ‘n paar ander bote dieselfde potvis teëgekom en hom doodgemaak. Hulle het die vis na die strand toe gebring en hom oopgesny en raai wat het hulle daar gekry? Die tweede man. Hy was bewusteloos, maar steeds lewendig en na versorging het hy sy lewe hervat.

Dr Tony Evans merk op: ‘Die wonderwerk is nie dat ‘n vis ‘n man ingesluk het nie, omdat dit al vantevore gebeur het. Die wonderwerk is dat die vis op die Here ag geslaan het.’

Jy vra: ‘Wat het dit met my te doen?’ Eenvoudig die volgende: Wanneer jy na God vir hulp draai en Hy met jou praat, begin daar bonatuurlike dinge namens jou gebeur. Jesus het gesê: ‘Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV).

Sielskos: Jak 1-2; Mark 3:20-35; Ps 7:1-9; Spr 10:16