God wil hê dat jy sukses moet behaal

2021-08-16
2 Kronieke 26:5 NLV

Dink oor die volgende vrae na en beantwoord hulle eerlik.

1) Glo jy dat jy terselftertyd suksesvol en geestelik kan wees? Sommige mense stel armoede aan nederigheid gelyk en kom tot die gevolgtrekking dat suksesvolle mense nie nederig kan wees nie. Dis egter nie die geval nie. ‘So lank as wat [Ussia] die Here se wil nagestreef het, het God hom sukses gegee.’ Sukses gee jou nie die reg om op ander mense neer te kyk nie, maar wanneer suksesvolle mense praat, luister ander mense. Leiers soos Josef en Daniël het hele nasies vir God beïnvloed. Die feit is dat ons ‘n boodskap van hoop het wat ander mense moet hoor, maar as ons nie genoegsame hulpbronne het nie, hoe sal hulle dit hoor? (sien Romeine 10:14-17). As jy met minder tevrede is, bid vir groter geloof en begin hoër in die lewe mik.

2) Is jy bang vir sukses? Miskien vrees jy die druk wat daarmee gepaardgaan gaan en die prys wat jy daarvoor sal moet betaal. Leierskap is eensaam; miskien sal jy eerder by die skare inval. Miskien het jy geval en is jy bang om weer op te staan. Toe Thomas Edison oor sy sukses uitgevra is, het hy geantwoord: ‘Ek begin waar ander mense ophou!’ Paulus het geskryf: ‘ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie’ (2 Korintiërs 4:9 NLV).

3) Is jy tevrede met hoe dinge tans is? As jy nie is nie, moet jy verantwoordelikheid vir jou lewe neem en ‘n tree in geloof neem. Uiteindelik is die enigste persoon wat jou kan keer om die mens te wees wat God bedoel het jy moet wees – jyself! God wil hê dat jy sukses moet behaal.

Sielskos: Rig 9:34-11:40; Luk 14:1-14; Ps 119:73-80; Spr 20:25; Pred 5:4-6

Het jou geliefde vandag ‘n wonderwerk nodig?

2021-08-15
Markus 2:3 NLV

‘…Jesus was besig om die Goeie Nuus aan hulle te vertel. Daar daag toe vier mans by Hom op wat ‘n verlamde persoon op ‘n mat dra. As gevolg van die baie mense kon hulle hom nie tot by Jesus bring nie. Daarom het hulle ‘n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat waarop die sieke gelê het, deur die dak sak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man… ‘Ek beveel jou, staan op, vat jou mat en gaan gesond na jou huis toe!’ (verse 2-5, 11 NLV).

As een van jou geliefdes vandag ‘n wonderwerk nodig het: 1) Gebruik jou geloof. Selfs as jy vir iemand bid wat min of geen geloof van hul eie het nie, sal God jou geloof namens hulle eer.

2) Weier om tou op te gooi. Doen wat hierdie vier vriende gedoen het. Die skare was ‘n probleem – dus het hulle rondom hulle gegaan. Die dak was ‘n probleem – dus het hulle daardeur gebreek. Hulle het geweier om tou op te gooi of moedeloos te word. Dokters kan mense behandel, maar slegs God kan hulle van binne en buite genees; bring dus jou geliefde in gebed na Hom toe.

3) Soek geloofsvennote. Dit het vier mense geneem om hierdie man by Jesus uit te kry, moet dit dus nie alleen doen nie. Kry iemand wat saam met jou in gebed sal saamstem. Jesus het gesê: ‘Boonop verseker Ek julle: As twee van julle hier op aarde sou saamstem oor enigiets wat julle van God behoort te vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen’ (Matteus 18:19 NLV). Hou dus aan om te bid en God vir ‘n wonderwerk te vertrou!

Sielskos: Eseg 47:1-12; Op 21:22-22:5

Sukkel jy met versoeking?

2021-08-14
1 Petrus 5:8 NLV

Jou areas van weerloosheid sal soos die seisoene in jou lewe verander, maar die waarheid is dat jy altyd op ‘n manier versoek sal word. Die goeie nuus is egter dat jy versoek kan word, maar triomfantelik kan wees. Jesus het ons gewys hoe om dit te doen. Toe Hy in die woestyn versoek is, het Hy op God se Woord gestaan. Hier is ‘n paar Skrifgedeeltes waarop jy kan staan wanneer jy in die versoeking kom:

1) Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red…’ (2 Petrus 2:9 NLV).

2) ‘Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer – behalwe dat Hy nie voor die sonde geswig het nie. Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:15-16 NLV).

3) ‘Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan’ (Efesiërs 6:13 NLV).

4) ‘Die God van vrede sal die Satan binnekort onder julle voete verpletter. Mag die onverdiende goedheid van ons Here Jesus met julle wees’ (Romeine 16:20 NLV).

5) ‘En Ek het julle gesag gegee oor alle mag van die vyand… niks sal julle beseer nie’ (Lukas 10:19 NLV).

6) ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV).

Sielskos: Rig 7:1-9:33; Luk 13:18-35; Ps 119:65-72; Spr 17:23-26

Maak dinge reg met God

2021-08-13
Jakobus 4:10 NLV

In die Ou Testament het God sy priesters gemerk deur bloed op hulle regteroor, hulle regterduim en die groottoon van hulle regtervoet te smeer. Dit het beteken dat hulle geroepe was om God in hulle gehoor, hulle vaardighede en hulle daaglikse wandel te eer.

Jy kan nie net jou eie ding doen nie; jy is geroep om volgens God se Woord te wandel. As jy dit nie doen nie, sal God jou tot berou roep en jou dissiplineer. ‘…jy moet dit nie geringskat as die Here jou dissiplineer nie. Moenie ontmoedig word as Hy jou aanspreek nie. Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is…’ (Hebreërs 12:5-6 NLV).

Let twee belangrike frases op: 1) Moenie die Here se dissipline geringskat nie. ‘…God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid’ (Jakobus 4:6 NLV).

2) Moenie moedeloos word as Hy jou dissiplineer nie. In plaas daarvan om God se korreksie as verwerping te sien, sien dit as bewys dat jy sy kind is en dat Hy ‘n plan vir jou lewe het.

God se geduld is wonderbaarlik – maar Hy sal nie vir ewig wag nie. Hy het van Isebel gesê: ‘Ek het haar ‘n bepaalde tyd gegun om tot inkeer te kom, maar sy weier… Ek pen haar op ‘n siekbed vas…’ (Openbaring 2:21-22 NLV). Aan die ander kant, toe Agab, Isebel se bose man, voor God neergeval het, het God hom gesond gemaak en herstel.

Deur te besef hoe afhanklik jy van die Here is, sal jy dinge in jou lewe regmaak wanneer niks anders sal werk nie. Die woord vir jou vandag is dus: Maak dinge reg met God!

Sielskos: Rig 4-6; Luk 13:1-17; Ps 119:57-64; Spr 17:22

Werk aan jou huwelik

2021-08-12
Matteus 19:5 NLV

Dr Joyce Brothers het een keer geskerts: ‘My man en ek het dit nog nooit oorweeg om te skei nie… ons het dit soms oorweeg om moord te pleeg, maar nooit om te skei nie!’ Dis maklik om te trou; om suksesvol saam te lewe is moeilik. Hoe doen jy dit dus? Deur kwessies te identifiseer wat opgelos moet word, daaraan te werk en te leer om met die res saam te leef! ‘n Gesnorkery, ‘n gebrek aan kommunikasie, vuil kouse op die vloer, onopgemaakte beddens – jou eggenoot se gewoontes kan jou teen die mure uitdryf.

Omdat Jesus gesê het: ‘…Wat God so saamgevoeg het, mag ‘n mens nie uitmekaarskeur nie’ (vers 6 NLV), hoe moet jy dus konflik hanteer? 1) Val die probleem, in plaas van mekaar, aan. 2) As jy jou stemtoon laag hou en kalm bly, sal jou maat meer geneig wees om aandag te gee. 3) Kies die beste tyd om die kwessie aan te spreek, nie wanneer die kinders honger is of julle altwee moeg is nie. 4) Onthou, mans en vrouens sien dinge verskillend. Wanneer jou eggenoot dus sy of haar siening deel, moenie sug en jou oë rol nie. 5) Daar sal tye wees wat elkeen van julle ‘n kompromie sal moet aangaan. 6) Kies jou woorde versigtig. ‘Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel’ (Efesiërs 4:29 NLV).

‘Daarom… moet julle aanhou om mekaar moed in te praat…’ (1 Tessalonisense 5:11 NLV). ‘…Vergewe mekaar…’ (Efesiërs 4:32 NLV). ‘…[bid] vir mekaar…’ (Jakobus 5:16 NLV). ‘…Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle…’ (Galasiërs 6:2 DB). ‘…julle [moet] mekaar in liefde koester…’ (Romeine 12:10 NLV). Gaan werk nou aan jou huwelik!

Sielskos: Rig 1-3; Luk 12:49-59; Ps 119:49-56; Spr 17:18-21

Laat kritiek vir jou werk

2021-08-11
Spreuke 12:1 NLV

Daar is twee tipes kritiek: 1) Onregverdige kritiek. Daar sal altyd mense wees wat hulself probeer opbou deur ander mense af te breek. Mark Twain het gesê: ‘Bly weg van mense wat jou ambisies probeer verkleineer. Kleingeestige mense doen dit altyd, maar waarlike groot mense laat jou voel dat jy ook groot kan wees.’ 2) Konstruktiewe kritiek. Salomo het gesê: ‘Soos ‘n goue ring by goue juwele, so is die wyse vermaning by die oor wat bereid is om daarna te luister’ (Spreuke 25:12 NLV).

Daar is ‘n groot struikelblok wat jy moet oorkom sodat jy jou hoogste potensiaal kan bereik. Wat is hierdie struikelblok? Ons natuurlike onwilligheid om enigiets onvleiend oor onsself te ontdek. Wanneer jy mure om jou eie onvoldoendheid bou en jou foute probeer wegsteek, maak jy die deur op ‘n noodsaaklike bron van self-kennis toe. Wanneer jy dit doen, ontneem jy jouself die vreugde van groei.

Elkeen van ons kan dit wat ons doen of die manier wat ons dit doen, verbeter. As jy steeds dit wat jy verlede jaar gedoen het vier, het jy nog nie genoeg vooruitgang hierdie jaar gemaak nie. Nadat hy sy derde wêreldkampioenskap gewen het, het die rodeo-kampioen, Tuff Hedeman, nie ‘n groot feesviering gehad nie, maar na Denver toe getrek om ‘n nuwe seisoen te begin – om die hele proses van voor af te begin. Sy redenasie was as volg: ‘Die bul in Denver sal nie beïndruk wees met dit wat ek verlede week gedoen het nie.’

Of jy nou ‘n nuweling of ‘n veteraan is, as jy môre ‘n kampioen wil wees, moet jy vandag onderrigbaar wees. Of, soos Salomo dit stel: ‘…iemand wat hom laat reghelp, is verstandig’ (Spreuke 15:5 NLV).

Sielskos: Rut 1-4; Luk 12:35-48; Ps 119:41-48; Spr 17:17