Dinge gaan beter word

2021-08-10
Jeremia 29:11 NLV

Rou jy oor die afsterwe van ‘n geliefde? Loop jy deur die vure van ‘n skeisaak? Het jy jou huis of werk verloor? Probeer jy om die skerwe van jou lewe op te tel en oor te begin? God sê: ‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie…’ Wanneer jy God betrokke maak, lê die beste nog voor!

Toe Ignace Paderewski begin klavierlesse neem het, het sy onderwyser vir hom gesê dat sy hande te klein is om die klawerbord te bemeester. Tog het die vuur in sy gees hom aangedryf om ‘n wêreldbekende pianis te word. Toe Enrico Caruso begin sanglesse neem het, het sy onderwyser gesê hy klink soos die wind wat by die venster inwaai. Vandag word hy egter as een van die wêreld se beste tenore onthou.

As jy inspirasie nodig het, hoef jy nie verder as Christus te soek nie. ‘Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou… Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag… As julle sy voorbeeld volg, sal julle nooit moedeloos word en tou opgooi nie’ (Hebreërs 12:2-3 DB).

Wanneer dit by verliese in jou lewe kom, rou oor hulle en laat hulle dan agter. ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie… Sien julle dit nie? Ek gaan ‘n pad maak in die wildernis… Ek maak vir hulle riviere in die woestyn!’ (Jesaja 43:18-19 NLV). Die woord vir jou vandag is: Hou aan vorentoe kyk, want dinge gaan beter word.

Sielskos: Obadja; 2 Joh; Luk 12:22-34; Ps 119:33-40; Spr 17:16

Misluk en behaal daarna sukses

2021-08-09
Johannes 21:5 DB

God gebruik soms mislukking om ons aandag te trek en ons nader aan Hom te bring. In Johannes 21 lees ons die dissipels: ‘…is met ‘n skuit die meer in. Daardie hele nag lank het hulle iets probeer kry, maar hulle het nie ‘n enkele vis gevang nie. Toe die son begin kop uitsteek, staan Jesus daar op die wal… ‘En toe,’ roep Jesus, ‘het julle enigiets gevang?’ ‘Nee wat,’ roep hulle terug. ‘Gooi die net daar regs van die skuit uit. Daar is vis,’ kom dit van Jesus se kant af. Hulle maak toe so. Die net was toe so vol vis dat hulle dit nie in die skuit kon kry nie…’ (vers 3-6 DB).

Let drie dinge op: 1) Jesus kan doen wat jy nie kan doen nie. Solank as wat jy dink dat jy dinge op eie houtjie kan hanteer, sal Hy jou toelaat om te probeer. Dis eers wanneer jy uit antwoorde hardloop wat jy ontdek: ‘…Dit sal jou ook nie help om op jou eie krag staat te maak nie. Dit is die Gees van die Here wat vir jou sukses sal gee…’ (Sagaria 4:6 DB).

2) God kan meer doen as wat jy kan doen. Hy het vir sy dissipels gesê: ‘…Gooi die net daar regs van die skuit uit. Daar is vis…’ Dit het nie reg geklink nie, maar deur Hom te gehoorsaam het hulle ‘n vlak van seën en oorvloed betree wat hulle nie gedink het moontlik is nie.

3) God wil ‘n verhouding met jou hê. Jesus het vir Petrus gesê: ‘…Wees ‘n herder vir my skape…’ (Johannes 21:17 NLV). Vissermanne sien nie gewoonlik na skape om nie – herders doen! Wat het dus gebeur? Jesus het Petrus aan sy ware roeping voorgestel – en Hy sal dieselfde vir jou doen!

Sielskos: 1 Pet 1-5; Luk 12:13-21; Ps 119:25-32; Spr 17:11-15

Wil jy die regte ding doen?

2021-08-08
Spreuke 4:23 NLV

Salomo sê: ‘Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.’ Let die verloop van gebeurtenisse op wat tot Dawid se ondergang gelei het. ‘…Van die dak af sien hy ‘n besonder mooi vrou wat besig was om te bad. Hy stuur toe iemand om uit te vind wie sy is… Dawid het haar laat haal…’ (2 Samuel 11:2-4 NLV). Hy het gesien… hy het uitgevind… hy het haar laat haal. As jy na iemand hunker wat nie joune is nie, neem dadelik jou oë van daardie persoon af. ‘…Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:5 NLV).

Bewaak jou gedagtes. In plaas daarvan om dit met fantasieë uit tydskrifte, televisie of die internet te vul, vul dit met God se Woord en herinneringe van jou en jou maat se beste oomblikke saam. Werk daaraan om jou huweliksband te versterk. Besluit om lief te hê, selfs wanneer jy nie lus is nie, en julle liefde sal begin blom. Jesus het gesê: ‘…elke man wat met ‘n wellustige oog na ‘n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg’ (Matteus 5:28 NLV).

Hoe minder jy jou maat begeer, hoe meer sal jy redes soek om jou fantasieë te regverdig. Die hartseerste deel is dat jy nooit sal weet hoe goed jou verhouding kon wees nie. As jy ‘n probleem met wellus het, vind ‘n pastoor, berader of vriend wat jou kan help. Die Bybel sê: ‘…Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is’ (Spreuke 17:17 NLV). Soms is die verskil tussen oorwinning en mislukking ‘n paar minute op die foon om met iemand wat verstaan, te praat en te bid. Die vraag is egter – wil jy waarlik die regte ding doen?

Sielskos: Est 4:13-5:3; Matt 6:16-21; Mark 2:18-22

Bou ander mense op (2)

2021-08-07
Romeine 15:2 DB

Albert Schweitzer het een maal gesê: ‘Ek weet nie wat julle lotsbestemming gaan wees nie, maar ek weet wel een ding: die enigstes onder julle wat waarlik gelukkig sal wees, is diegene wat gesoek en uitgevind het hoe om te dien.’

Is ander mense vanself tot jou aangetrokke? Hou ander mense van jou? Indien dit nie die geval is nie, mag dit dalk as gevolg van een van die volgende dinge wees: a) Trots. Niemand wil iemand volg wat dink dat hy beter as ander mense is nie. b) Onsekerheid. As jy ongemaklik is met wie jy is, sal ander mense ook wees. c) Buierigheid. Wanneer mense nooit weet wat om van jou te verwag nie, sal hulle ophou om enigiets te verwag. d) Perfeksionisme. Ander mense respekteer die begeerte na uitnemendheid, maar vrees onrealistiese verwagtinge. e) Sinisme. Mense wil nie op gereën word deur iemand wat ‘n donker wolk in elke silwer randjie sien nie. Hoe bou jy dus mense op?

1) Verander jou fokus. As jy selfgesentreerd is, kan jy nie ander mense versterk en aanmoedig nie. Observeer dus jou interaksies met mense oor die volgende paar dae. Soos jy met hulle praat, let op hoe baie die gesprek oor jou gaan en probeer dan eerder die gesprek op die ander persoon fokus.

2) Probeer om ‘n goeie eerste indruk te maak. Die volgende keer wat jy iemand ontmoet, leer hulle naam, fokus op hulle belangstellings, luister na hulle sonder om te onderbreek en moedig hulle aan.

As jy dit vir een dag kan doen, kan jy dit elke dag doen. Die Bybel sê: ‘Daarom moet ons alles in ons vermoë doen om te sorg dat ander gelowiges ook gelukkig is. Dit is ons plig om hulle geloof sterk te maak en op te bou.’

Sielskos: Deut 32:29-34:12; Luk 12:1-12; Ps 119:17-24; Spr 17:7-10

Bou ander mense op (1)

2021-08-06
Efesiërs 4:29 DB

Die apostel Paulus skryf: ‘…As julle iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te sê en vir ander iets beteken. Kyk wat nodig en goed is om in die omstandighede te sê en sê dit dan.’ Dink aan die mense met wie jy dit die meeste geniet om tyd mee deur te bring. Hoe sal jy hulle beskryf? Knorrig? Bitter? Negatief? Natuurlik nie! Hulle is mense wat die lewe vier, nie klakouse nie. Hulle is passievol oor die lewe. Die manier om ander mense op te bou, is om hulle as geleenthede in plaas van struikelblokke of verpligtinge te sien. Een leierskapskundige skryf: ‘Een van die beste dinge wat jy vir mense kan doen – wat hulle ook na jou toe sal aantrek – is om die beste van hulle te verwag. Dit help hulle om beter van hulself te dink en help jou terselfdertyd om hulle in ‘n goeie lig te sien.’

‘n Opname van eenhonderd multi-miljoenêrs het een algemene eienskap bewys. Hierdie hoogs suksesvolle mans en vrouens het gereeld die beste in ander mense gesoek. Benjamin Disraeli, een van Brittanje se beste Eerste Ministers, het dit as volg gestel: ‘Die beste ding wat jy vir iemand anders kan doen, is nie net om jou rykdom met hom te deel nie, maar om vir hom sy eie rykdom te openbaar.’ Jy doen dit deur ander mense te waardeer, aan te moedig en hulle te help om hulle potensiaal te bereik.

Napoleon het leiers as ‘handelaars van hoop’ beskryf. Hy het verstaan dat hoop die grootste van alle besittings is. As jy die persoon is wat daardie gawe aan ander mense kan gee, sal hulle nie net aangetrokke tot jou wees nie, maar vir ewig dankbaar wees.

Sielskos: Deut 30:1-32:28; Luk 11:45-54; Ps 119:9-16; Spr 17:4-6

Wat het God vir jou belowe? Glo dit!

2021-08-05
Markus 4:39 NLV

“Teen die aand sê Jesus vir sy dissipels: ‘Kom ons vaar oorkant toe.’ Hulle het die skare toe agtergelaat en Jesus… saamgeneem… Daar het ‘n hewige stormwind opgekom. Groot golwe het teen die skuit gebreek… Jesus het agter in die skuit gelê en slaap… Sy dissipels maak Hom toe wakker en sê vir Hom: ‘Leermeester, gee U nie om dat ons besig is om te vergaan nie?’ Jesus het opgestaan, die stormwind ernstig aangespreek en vir die see gesê: ‘Bedaar! Word kalm!’ Toe het die wind gaan lê en daar het ‘n groot rustigheid gekom. Hy vra toe vir hulle: ‘Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?’ Hulle was heeltemal oorweldig en het vir mekaar gesê: ‘Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see luister na Hom!'” (verse 35-41 NLV).

Om Jesus te volg stel jou nie vry van die lewe se storms nie, dus moet jy die volgende doen: 1) Herinner jouself wie saam met jou is – Jesus! Dink daaroor: As Jesus die storm kan laat bedaar, kan Hy dit verseker voorkom. Hy laat ons egter toe om deur die storms te gaan om te bewys dat daar nie ‘n probleem is wat Hy nie kan oplos nie. Sy doel is om jou sterker aan die ander kant uit te bring.

2) Vertrou dit wat Hy vir jou sê. As Jesus vir jou sê: ‘Kom ons vaar oorkant toe,’ is daar nie ‘n golf groot genoeg om jou onder te kry nie. Die waarheid is dat ons nie in die lewe se storms op iemand anders se geloof staande kan bly nie. Ons moet ten volle in ons eie harte en gedagtes oortuig wees (sien 1 Johannes 5:14-15). Wat het God vir jou belowe? Staan daarop!

Sielskos: Deut 28-29; Luk 11:29-44; Ps 119:1-8; Spr 17:3