Gedagtes oor vrygewigheid (2)

2021-10-02
Romeine 12:8 DB

Die Bybel sê: ‘…God [het] vir ons elkeen besondere hemelse geskenke gegee… As jou hemelse geskenk is… om jou besittings met ander te deel, moet dan nie suinig wees nie…’ (verse 6-8 DB). Elke gelowige ontvang die genade om te gee, maar sommige van ons het die gawe om te gee, ontvang. Wie is hierdie mense? Hulle het die Midas aanraking. Hulle weet hoe om slim beleggings te maak en ‘n goeie kopie raak te sien. Hulle trek inderwaarheid goeie kopies soos ‘n magneet aan. Hulle weet hoe om die beste opbrengs uit hulle beleggings te kry. As jy een van hierdie mense is, moet jy besef dat jou vermoë om rykdom bymekaar te maak ‘n gawe van God is: ‘Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word…’ (Deuteronomium 8:18 NLV). God sê ook: ‘…Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan’ (Jesaja 48:17 AFR83).

Moet egter nie toelaat dat voorspoed veroorsaak dat jy trots word nie. Jy is nie ryk as gevolg van jou vermoë om sake te beklink nie, maar omdat God jou geseën het. Hy het dit vir ‘n rede gedoen; sodat jy ‘n seën vir ander kan wees. God het vir Abraham gesê: ‘…Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tog ‘n seën sal wees’ (Genesis 12:2 NLV). Dit beteken dat wanneer God jou op die skouer tik en vir jou sê om ‘n tjek uit te skryf, moet jy nie met Hom argumenteer nie. Vra net: ‘Hoeveel?’ Hoekom? Omdat God nie net kan gee nie, maar ook kan neem!

Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Luk 24:25-35; Ps 60; Spr 22:7-11