God sal jou lei

2021-08-04
Jesaja 52:12 NLV

Wanneer jy onder druk is en in die versoeking kom om te vinnig te beweeg, sal jy God die volgende hoor sê as jy stop en bid: ‘Julle sal nie haastig padgee nie… Die Here sal voor julle uittrek en die God van Israel sal julle van agter beskerm.’ Wat ‘n wonderlike belofte! God gaan voor jou uit om die pad voor te berei en kom van agter af om jou foute reg te maak en jou treë te rig.

Wanneer jy op die punt is om ‘n verkeerde afdraai te maak, sê sy Woord: “‘n Mens beplan sy koers, maar die Here bepaal sy bestemming” (Spreuke 16:9 NLV). As jy Hom toelaat, sal God jou besluite oorheers en jou pad soos nodig herlei. Sy belofte aan jou is: “Die Here sal jou altyd lei. Selfs in tye van droogte sal Hy voorsien in jou behoeftes. Hy sal jou gesond en sterk hou. Jy sal wees soos ‘n tuin wat genoeg water kry… Hulle sal jou noem: ‘Herbouer van Gebreekte Mure, Hersteller van Strate en Huise'” (Jesaja 58:11-12 NLV).

Wanneer jy nie antwoorde het nie en nie weet wat om te doen nie, stel Hy jou gerus: ‘…Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees’ (Psalm 32:8 NLV). Wanneer die las wat jy dra te swaar word vir jou, sal jy sy stem hoor wat sê: ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg…’ (Psalm 55:23 NLV).

Om egter in staat te wees om sy stem te hoor, sal jy jou prioriteite moet herrangskik en ander stemme moet ignoreer. Jy moet dit egter doen, want niks is belangriker as die wete in jou hart dat God jou lei nie.

Sielskos: Deut 25-27; Luk 11:14-28; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2

Fokus op dit wat goed is

2021-08-03
Filippense 4:8 NLV

Die waarheid is dat ons nie baie ver hoef te soek om iets te kry om oor te kla nie. God het Adam en Eva in die tuin van Eden geplaas, waar hulle alles gehad het wat nodig was om gelukkig te wees. Waarop het hulle egter gefokus? Die een boom wat hulle nie kon kry nie!

God het die Rooi See wonderbaarlik geskei, die Israeliete deur die woestyn gelei en elke dag kos uit die hemel voorsien sodat hulle nie honger sou ly nie. Het hulle dit waardeer? Ja, vir ‘n rukkie. ‘Toe eers het Israel… sy lof besing. Tog het hulle gou sy dade vergeet…’ (Psalm 106:12-13 NLV). Dis hoekom Paulus skryf: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV).

Generaal Robbie Risner het die sewe jaar wat hy as krygsgevangene in ‘n Viëtnamese kamp deurgebring het, as die ‘wese van wanhoop’ beskryf. Hy het egter oorleef. Hoe? Hy het die deksel van ‘n vloerdrein afgekap en ‘n eensame grashalmpie gesien; die enigste stukke kleur in sy kleurlose wêreld. Risner het dit ‘n ‘bloedoortapping vir die siel’ genoem en elke dag begin bid, terwyl hy op die vloer gelê het en op daardie enkele grashalm gefokus het.

Wanneer dinge in jou lewe nie goed gaan nie, het jy ‘n keuse waarop jy kan fokus: vrees of geloof, wanhoop of hoop, probleme of oplossings. Selfs wanneer die probleem nie na wense opgelos word nie, sal God jou, wanneer jy op Hom fokus, bo jou omstandighede oplig en jou vrede te midde daarvan gee.

Sielskos: Deut 22-24; Luk 11:1-13; Ps 78:56-64; Spr 16:33

Belydenis is goed vir die siel

2021-08-02
1 Johannes 1:9 NLV

Die Sondagskoolonderwyser, Ranai Carlton, skryf: “Ek was besig om die kinders te probeer leer dat ons almal God se vergifnis nodig het. Dus het ek een van die dogters gevra: ‘Lisa, wanneer is ‘n tyd wanneer jy dalk God se vergifnis mag nodig kry?’ Die frons op haar gesig het my seun genoop om te antwoord: ‘Jy hoef nie vir haar te sê nie, Lisa. Ons hoef nie ons probleme te vertel nie. Hierdie is nie die Oprah Winfrey Show nie.'” Jy hoef nie vir ander mense van jou sondes te vertel nie, maar jy moet vir God daarvan vertel.

Belydenis bring vier dinge mee: 1) Dit laat jou God se vergifnis ervaar. Hy ken reeds jou sonde, maar Hy kan jou nie vergewe as jy die blaam probeer verskuif of verskonings daarvoor maak nie. Jy moet die eerste skuif maak.

2) Dit herstel jou emosionele en fisiese energie. Niks is meer dreinerend as ontkenning nie en niks is meer verkwikkend as ‘n skoon bladsy nie. Toe Dawid oor sy owerspel met Batseba nadink, het hy gesê: ‘Toe ek oor my sonde stilgebly het, het my liggaam gekwyn van ellende… maar ek het my oortredings bely… En my sonde en oortredings het U vergewe’ (Psalm 32:3-5 NLV).

3) Dit laat jou toe om aan te beweeg. Belydenis laat jou toe om oor te begin. Dis belangrik om ‘n lyn tussen die verlede en die toekoms te trek, vir ingeval jy in die versoeking kom om weer agteruit te beweeg.

4) Dit laat jou groei. Thomas Edison het gesê dat mislukking hom 10,000 maniere geleer het om nie ‘n gloeilamp te maak nie. Om mislukking toe te laat om vir jou, nie teen jou te werk nie, begin deur voor God te bely en sy vergifnis te aanvaar.

Sielskos: Deut 18-21; Luk 10:38-42; Ps 78:40-55; Spr 16:32

Kommunikeer met jou familie

2021-08-01
Spreuke 24:3 NLV

Die storms van die lewe sal toets of jy ‘n goeie werk met jou familie gedoen het. ‘n Belangrike sleutel om tuis sukses te behaal, is kommunikasie. Vra jouself dus die volgende vier vrae af:

1) Hoe goed kommunikeer ek met die mense wat ek liefhet? Jy mag dalk onbewus ‘n kommunikasiestyl aangeneem het wat nie goed werk nie. Slaan jy byvoorbeeld terug? Dit het ‘n vernederende effek. Domineer jy? Dit het ‘n intimiderende effek. Isoleer jy? Dit het ‘n frustrerende effek. Of werk jy saam? Dit het ‘n bemoedigende effek. As jy in die gewoonte is om enige ander kommunikasiestyl ipv die saamwerkende styl te gebruik, sal jy dit moet verander om ‘n goeie verhouding met jou familie te bou.

2) Het ek my kommunikasiedoders geïdentifiseer? Die Internet, selfone en televisie is van die groot sondaars. Sal dit jou verras om te weet dat die deursnee paartjie minder as ‘n uur per week in betekenisvolle gesprek deurbring, maar ongeveer vyf ure ‘n dag televisie kyk?

3) Moedig ek almal aan om hulle eerlike mening te deel? Wanneer hulle vrylik praat, kritiseer, pruil of slaan jy terug? Verskille in opinie kan gesond wees. Die Bybel sê: ‘Yster slyp yster…’ (Spreuke 27:17 NLV). Wanneer dit met respek hanteer word, kan verskillende opinies dinge vir almal beter maak.

4) Dink jy kreatief? Bestee julle tyd as ‘n familie saam? Bel jy jou maat gedurende die dag en probeer om hom/haar êrens vir middagete te ontmoet? Vat jy jou kinders skool of sportoefening toe sodat jy met hulle kan gesels? Kommunikasie kan enige plek plaasvind, maar dit vind slegs plaas wanneer jy dit ‘n prioriteit maak.

Sielskos: Lev 24:17-22; Deut 15:7-11; Matt 5:38-48

Moenie in ander mense se sake inmeng nie

2021-07-30
2 Tessalonisense 3:11 NLV

As jy na enige skinderkoerant of geselsprogram op televisie kyk, sal jy ontdek dat ‘inmenging’ ‘n multi-biljoen dollar industrie geword het. Dis egter nie die tipe besigheid waarmee ‘n volgeling van Christus hom of haar moet bemoei nie. Skoonma’s het soms die reputasie dat hulle inmengerig is, maar hulle besit nie die grootste aandeel in die mark nie. Mans, familielede, kollegas en vriende wat goed bedoel, is ook geneig om in te meng.

Anders as skinderbekke, hou inmengers daarvan om persoonlike inligting direk by hulle teikens te kry. ‘Hoe kan jy so ‘n duur kar bekostig?’ Watse grootte hemp dra jy?’ ‘Hoeveel het jy vir jou huis betaal?’ ‘Hoe lank is jy by die werk afgeboek?’ Dikwels dien hierdie tipe vrae geen ander doel as om ‘n nuuskierige agie te bevredig nie.

Ja, sommige mense wil regtig van hulp wees, of selfs oor jou situasie bid – maar nie inmengers nie. Leer dus om jou nuuskierigheid binne toepaslike perke te hou. Salomo het gesê: ‘Om in te meng in ander mense se rusie is soos om ‘n kwaai hond sommer aan sy ore te gryp’ (Spreuke 26:17 NLV). ‘n Hond se ore is een van die sensitiefste dele van sy liggaam. As jy ‘n hond se ore trek, sal hy jou dalk byt. Net so kan jou neus dalk afgebyt word as jy hom in sake steek wat jou nie aangaan nie.

God klassifiseer inmenging as ‘n sonde – dieselfde as moord en diefstal. ‘Want niemand van julle moet swaarkry omdat hy ‘n moordenaar is, of omdat hy ‘n dief is, of omdat hy iemand is wat slegte dinge doen, of omdat hy nuuskierig is en praat oor ander mense nie’ (1 Petrus 4:15 ABA). Moet dus nie inmeng nie!

Sielskos: Deut 14-17; Luk 10:25-37; Ps 78:32-39; Spr 16:31

Die beloning vir goedhartigheid (2)


Genesis 24:19 NLV

Rebekka se verhaal leer ons ‘n belangrike waarheid oor die lewe: Wanneer die geleentheid klop, moet jy gereed wees om die deur oop te maak. Rebekka het nie aan die ekstra inspanning en tyd gedink wat dit sou neem om tien dors kamele water te gee nie. Sy het nie gesê: ‘Ek gaan dit nie doen nie; dis nie in my posbeskrywing nie.’ Sy het volgens hierdie beginsel gelewe: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ (Prediker 9:10 NLV). Sy het nie skielik werksetiek ontwikkel toe Abraham se slaaf opgedaag het nie, sy het dit elke dag beoefen. Uiteindelik het dit vrugte afgewerp.

Betroubaarheid in klein dingetjies bring groot beloning mee. God is jou baas; Hy hou jou houding en optrede in die klein dinge dop. Groot oomblikke kom nie na mense wat daarop staan en wag nie; hulle kom na mense wat in klein oomblikke betroubaar is, in daaglikse roetines en diens wat nie glansryk is nie.

Jy sal nog iets oplet. Rebekka het nie die Tora aangehaal of die slaaf gevra watter godsdiens hy aanhang nie. In plaas daarvan om ‘super geestelik’ te wees, het sy besluit om goedhartig te wees. Gevolglik het sy sy aandag getrek, sy respek verdien en uiteindelik in Abraham se familie opgeëindig. Beter as dit raak dit nie! Toe Rebekka en Abraham se slaaf by haar familie kom, wou hulle gehad het sy moet tien dae wag voor sy Isak gaan ontmoet. Rebekka het egter gesê: ‘…ek wil gaan…’ (Genesis 24:58 NLV).

Wanneer God die deur oopmaak, moenie wag nie. Moenie sê: ‘Ander mense is meer gekwalifiseerd as ek’ nie. As God jou geroep het, dan is jy die regte persoon vir die werk. Laat dus jou vrese agter en beweeg in die rigting waarin Hy jou lei.

Sielskos: Deut 11-13; Luk 10:13-24; Ps 78:17-31; Spr 16:26-30