Die beloning vir goedhartigheid (1)

2021-07-29
Genesis 24:19 NLV

Een dag het Abraham sy slaaf gestuur om ‘n vrou vir sy seun, Isak, te vind. Toe hy by ‘n klein dorpie se waterput aankom, het die slaaf gebid: ‘Laat die meisie wat aanbied om vir my kamele water te skep, die een wees wat U vir Isak gekies het.’ Skielik het Rebekka daar aangekom en vir hom gesê: ‘Ek sal sommer ook vir jou kamele water skep’ (sien Genesis 24:13-14). Rebekka het geen idee gehad dat haar lewe op die punt was om te verander nie. Sy het nie geweet dat haar goedhartige gebaar die deur tot groot seëninge sou oopmaak nie.

In die Ou Testament was dit die gebruik om water vir ‘n vreemdeling aan te bied. Dit was die wet van gasvryheid. Die Hebreërs het die volgende woorde geglo: ‘Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang!’ (Hebreërs 13:2 NLV).

Maar wie op aarde bied water vir dors kamele aan? Een kameel kan 150 liter water drink en die slaaf het tien kamele by hom gehad. Dis ‘n halwe dag se projek! Wat Rebekka egter nie geweet het nie, is dat daardie kamele haar na Isak toe sou vat, wat haar sy bruid sou maak en haar deel van Christus se stamboom sou maak.

As jy dus sukses wil behaal, daag vroeg op, bly laat agter, werk hard en los probleme op. Lewe volgens Christus se opdrag om die ekstra myl te gaan (sien Matteus 5:41). Die sleutel tot sukses in die lewe is om nie slegs te doen wat van jou verwag word nie, maar bietjie ekstra. Ja, kamele is onaangenaam en lelik, maar uit daardie lelike situasie het een van die mooiste dinge wat ooit met Rebekka gebeur het, gekom.

Sielskos: Deut 8-10; Luk 10:1-12; Ps 78:9-16; Spr 16:25

Stuur hulle almal uit!

2021-07-28
Markus 5:40 NLV

Wanneer jy God vir ‘n wonderwerk vertrou, sal niks jou vinniger as ongeloof aftrek nie. Verder is dit onmoontlik om te weet wat God besig is om te doen as jy kyk na hoe dinge op die oppervlak lyk. ‘Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur…’ (Hebreërs 11:1 NLV). Dit is dus belangrik om jou gedagtes met die regte dinge te vul, om sodoende sterk te bly: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is’ (Filippense 4:8 NLV).

Een pastoor skryf: ‘Daar was tye wat Jesus nie ongeloof rondom Hom geduld het nie, soos toe Hy Jaïrus se dogtertjie uit die dood uit opgewek het. Toe Hy hoor dat die dogtertjie gesterf het, het Hy vir haar pa gesê: ‘…Moet jou nie ontstel nie, vertrou net’ (Markus 5:36 NLV). Jy kan vertrou, of jy kan bang wees. Toe Jesus daardie dag na Jaïrus se huis gegaan het, het Hy slegs ‘die kindjie se pa en ma en die drie dissipels na die vertrek waar sy lê,’ geneem. Hy het diegene wat in wonderwerke geglo het, saamgeneem, maar ‘Toe hulle by die huis… aankom, sien Jesus… mense wat huil… Hy sê… vir die mense: ‘Waarom lawaai en huil julle so? Die kind is nie dood nie, sy slaap net.’ Die klomp het Hom uitgelag. Maar Hy het almal buitetoe gestuur. Toe vat Hy die kindjie se ma en pa en die drie dissipels na die vertrek waar sy lê. Terwyl Hy haar hand vat, sê Hy vir die kindjie: ‘Dogtertjie, staan op!’ Onmiddellik het die dogtertjie op haar voete gekom en begin rondstap…’ (verse 38-42 NLV).’

Menslik gesproke mag die situasie onmoontlik lyk, maar wanneer jy die ongelowiges en twyfelaars uitstuur en glo wat God sê, sal jy resultate kry.

Sielskos: Deut 5-7; Luk 9:57-62; Ps 78:1-8; Spr 16:23-24

Wees gewillig om te verander

2021-07-27
Deuteronomium 32:29 NLV

Tensy jy gewillig is om te verander, sal jy vyf-en-twintig jaar van nou af presies dieselfde wees as wat jy vandag is, behalwe dat jy ouer, met minder tyd en opsies, sal wees. Die Bybel sê: ‘Was hulle maar wys, sou hulle verstaan en sien wat hulle lot sou wees!’

Hoe word jy gewillig om te verander? Deur te besef dat verandering gaan plaasvind, of jy daarvan hou of nie. As jy dit besef, sal jy voorbereid daarvoor wees. Een skrywer sê: ‘Die enigste ding wat seker van môre is, is dat dit anders as vandag sal wees. As jy dit betwyfel, dink oor die volgende na: My oupa het ‘n plaas gehad, my ouers het ‘n tuin gehad, en ek het ‘n blikoopmaker! Dis ‘n ander wêreld as wat dit twintig jaar gelede was en dit sal ‘n ander wêreld oor nog twintig jaar wees.’ Die verskil tussen wie jy vandag is en wie jy oor vyf-en-twintig jaar sal wees, hang grootliks van drie dinge af: die boeke wat jy lees, die verhoudings wat jy bou en die tyd wat jy met God deurbring.

Wil jy graag wys wees? Die Bybel sê: ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig’ (Spreuke 2:6 NLV). Wil jy gelukkig wees? ‘Die mens wat wysheid kry is gelukkig. Dit gaan goed met die mens wat insig kry’ (Spreuke 3:13 NLV). Wil jy vervuld wees? ‘…staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd’ (1 Korintiërs 15:58 NLV).

Sielskos: Deut 3-4; Luk 9:46-56; Ps 46; Spr 16:20-22

Belê in jou kinders

2021-07-26
Job 8:7 NLV

Die Lazy B beesplaas beslaan tweehonderd en sestig vierkante myl, waarvan die meeste uit ruigtes bestaan. Die plaas is al sedert 1881 in die Day familie se besit. Toe Harry en Ada Mae Day hulle eerste kind, ‘n babadogter, gehad het, moes hulle tweehonderd myl na die naaste hospitaal vir die bevalling reis en het hulle haar daarna huis toe, na ‘n moeilike lewe, gebring. Die huis het uit vier kamers bestaan en het geen lopende water of elektrisiteit gehad nie en daar was geen skool binne ry afstand nie.

Jy sal dink dat met sulke beperkte hulpbronne, die dogtertjie se toekoms beperk sou wees. Harry en Ada Mae was egter vasbeslote dat hul kinders die beste opvoeding moontlik sou kry. Hulle het op koerante en tydskrifte ingeteken en ure lank vir hul kind gelees. Toe hulle dogter vier jaar oud was, het Ada Mae begin om haar tuisonderrig te gee en later het sy na die beste moontlike skole gegaan, waar sy in die koshuis gebly het.

Een somer het hulle hulle kinders in die kar gebondel en al die hoofstede in Amerika, wes van die Mississippirivier, besoek. Na skool, is die jong Sandra Sanford Universiteit toe, daarna regskool toe en het uiteindelike die eerste vroulike regter geword wat op die Hooggeregshof van die Verenigde State van Amerika se regsbank gesit het.

Die woord vir jou vandag is dus – belê in jou kinders. Wees gewillig om klein te begin, andersins sal jy glad nie begin nie. In plaas daarvan om op dit wat jy nie het nie te fokus, begin om dit wat God jou gegee het te gebruik en Hy sal dit seën. Staan op hierdie Skrifgedeelte vir jou kinders: ‘En al het jy met min begin, sal jy met baie eindig.’

Sielskos: Deut 1-2; Luk 9:37-45; Ps 42:6-11; Spr 16:17-19

Weier om bang te wees

2021-07-25
1 Samuel 16:7 NLV

Ons is trots op ons vermoë om mense en situasies volgens voorkoms te oordeel – en baie keer is ons verkeerd. Goliat het dieselfde uitdaging vir veertig dae lank aan Israel gestel: ‘Stuur julle beste soldaat en ek sal hom doodmaak. Ek is die kampioen. Ek is die beste.’ Hierdie tipe vreesgebaseerde denke is van toepassing op elke reus wat jy in jou lewe teëkom.

Chuck Swindoll skryf: ‘Vrees en bekommernis kom nie net een keer op nie; dit kom oggend en aand, dag na dag op en probeer jou sonder ophou intimideer. Hulle kom in die vorm van ‘n persoon, ‘n situasie, ‘n bekommernis. Min dinge is so aanhoudend en intimiderend soos ons vrese en bekommernisse – veral as ons hulle uit ons eie krag tegemoet gaan.’

Toe Israel se nuwe koning gekies moes word, het God vir die profeet Samuel gesê: ‘…Moenie volgens voorkoms of grootte of liggaamsbou oordeel nie… Die Here neem nie besluite soos mense nie! Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na gedagtes en bedoelings’ (vers 7 NLV). Ons kyk na wat aan die buitekant is en vorm opinies wat gebaseer is op dit wat ons kan sien.

Goliat was ‘n reus met ‘n groot stem en baie bravade – drie eienskappe wat vrees in die braafste hart sal aanwakker. God was egter nie met hom beïndruk of deur hom geïntimideer nie. Wat meer is, is dat Hy vir Dawid die vermoë gegee het om Goliat deur sy oë te sien.

Vrees is soos babas; hoe meer jy hulle versorg, hoe groter word hulle. Eers wanneer jy die reuse in jou lewe uit God se perspektief begin sien, verloor hulle hul krag om jou te immobiliseer en jou te intimideer. Weier dus om bang te wees.

Sielskos: 1 Sam 5:1-6:16; Op 11:15-19

God sal vir jou sorg

2021-07-24
Psalm 115:12 NLV

Hoeveel tyd bestee jy om jouself oor dinge te bekommer wat gewoonlik nooit gebeur nie? Wees eerlik! En het iets al enigsins verbeter as gevolg van jou kommer daaroor? Natuurlik nie! Paulus skryf: ‘…Onthou: Die Here kom binnekort! Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen’ (Filippense 4:5-6 NLV). Hy moedig ons dan aan deur te sê wanneer ons dit doen, die vrede van God ons harte en gedagtes sal vul (sien Filippense 4:7).

Die oomblik wat jy begin om bekommerd of angstig oor iets te voel, moet jy jou kommer na God in gebed neem. Laat gaan die gewig daarvan en vertrou Hom volkome om jou of te wys wat om te doen, of jou te wys dat Hy dit sal hanteer. Gebed is magtig teen bekommernis. Wanneer jy onder druk is, is dit altyd beter om daaroor te bid, eerder as om daaroor te wroeg of daaroor te praat.

Sal dit maklik wees om te doen? Nee, as jy jouself al jou hele lewe lank bekommer, dan het bekommernis ‘n gewoonte geword. Met toewyding, volharding en God se hulp, kan jy egter bekommernis oorwin.

Hier is twee sleutels waarmee jy dit kan doen: 1) In plaas daarvan om van jou negatiewe gedagtes te probeer ontslae raak, wat jou net meer daarop laat fokus, vul jou gedagtes met positiewe gedagtes. Skriftuurlike gedagtes! (Sien Filippense 4:8).

2) Tree vinnig op. Sodra jy jouself begin bekommer, sê: ‘Nee, ek gaan nie myself hieroor bekommer nie, want dit help nie.’ Jy mag dalk wonder: ‘Maar wie gaan die probleem oplos?’ God! Sy Woord sê: ‘Die Here dink aan ons en seën ons…’

Sielskos: Hand 27-28; Luk 9:28-36; Ps 42:1-5; Spr 16:16