Verwyder ‘n las van jou skouers

2021-07-23
Matteus 11:30 DB

Jesus het gesê: ‘Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry. Want my juk sal saggies op julle skouers rus en my las is lig om te dra’ (Matteus 11:28-30 NLV). Let op die woorde: ‘…my juk sal saggies op julle skouers rus en my las is lig om te dra’.

Dis goed om te weet dat ons nie oor dinge bekommerd hoef te wees, alles te moet uitpluis en die laste in ons lewens hoef te dra nie. Dit kan heel verfrissend wees om te besef dat dit nie nodig is dat ons alles oor alles hoef te weet nie! Ons moet leer om gemaklik daarmee te wees om te sê: ‘Ek weet nie wat die antwoord op hierdie penarie is nie, en ek gaan my nie daaroor bekommer nie, omdat God in beheer is en ek op Hom vertrou. Ek gaan in Hom ontspan en vry en lig lewe!’

Bekommernis steel ons rus en die voordele daarvan by ons. Wanneer jy jouself dus weer vind waar jy bekommerd en angstig is, moet jy onthou dat jou las lig en jou juk sag kan wees. Al wat jy moet doen is om in die versekering van God se liefde, voorsiening en leiding te rus.

As iemand jou vra wat jy aan jou probleem gaan doen, antwoord dat jy nie op die oomblik daaraan dink nie. As hulle jou vra hoekom nie, sê vir hulle dat jy dit aan God oorgegee het en dat jy Hom vertrou om dit vir jou te laat uitwerk.

Sielskos: Hand 24-26; Luk 9:18-27; Ps 1; Spr 16:10-15

Vereer vandag die Here

2021-07-22
Psalm 34:4 AFR53

Let twee dinge oor die Onse Vader op. Dit begin met die woorde: ‘…Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word’ (Matteus 6:9 AFR53), en eindig met die woorde: ‘…Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen’ (vers 13 AFR53).

God wil hê dat jy jou gebede moet begin en eindig deur aan Hom te dink. Hoekom? Omdat dit beter is om op God, as op enigiemand of enigiets anders, te fokus! Wanneer jy ‘n voorwerp groot maak, vergroot jy dit sodat jy dit beter kan sien en verstaan. Wanneer ons die Here groot maak, doen ons dieselfde. Ons vergroot ons bewustheid van Hom, sodat ons Hom beter kan verstaan. Dit is wat gebeur wanneer ons Hom aanbid – ons neem ons gedagtes van onsself af en fokus hulle op God.

In The Message, parafraseer Eugene Peterson die finale woorde van die Onse Vader as volg: ‘You’re in charge! You can do anything you want! You’re ablaze in beauty! Yes. Yes. Yes’ (Matteus 6:13). Kan dit enigsins duideliker gestel word? God is in beheer!

Paulus sê: ‘Verder bid ek ook dat julle sal agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is. Ons het gesien hoe geweldig daardie krag regtig is toe God Jesus uit die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee het. Nou regeer Jesus natuurlik oor al wat mag of regeerder of koning is. Niemand, ek herhaal, niemand en niks sal ooit belangriker of sterker as Jesus kan wees nie; nie nou nie en ook nie in die toekoms nie’ (Efesiërs 1:19-21 DB).

Wanneer jy dus die Here vereer, sê jy: ‘U regeer nie net die heelal nie, U regeer my hart!’

Sielskos: Hand 22-23; Luk 9:1-17; Ps 65; Spr 16:8-9

Word ‘n versorger

2021-07-21
Matteus 9:36 NLV

Die Bybel sê: ‘Leiers moet korrupsie met wortel en tak uitroei. Goeie leiers is altyd eerlik’ (Spreuke 16:12 DB). Jesus was ‘n goeie leier. Hy was lief vir mense, maar Hy het hulle nooit vir sy eie doelwitte gebruik nie. Hy was besig, maar nooit te besig om te stop en hulle te help nie.

Jesus het die volgende in sy gelykenis van die Goeie Samaritaan gesê: ‘Toe het ‘n veragte Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry. Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ‘n herberg geneem en daar verder versorg’ (Lukas 10:33-34 NLV).

Om iemand te lei, moet jy in staat wees om hulle te kan beïnvloed en jy doen dit deur die tyd te neem om hulle te versorg. Die kern van die versorgingsproses is ‘n opregte omgee vir ander mense. As jy mense wil help en positief wil beïnvloed, kan jy hulle nie minag of nie van hulle hou nie, want hulle sal dit aanvoel. Jy moet hulle liefhê en respekteer.

Miskien wonder jy hoekom jy die rol van versorger moet aanneem; is versorging nie iets wat mense êrens anders, soos by hulle familie, moet kry nie? Baie van die mense waarmee jy elke dag in kontak kom, is desperaat vir bemoediging en dis hartseer dat indien hulle dit nie van jou af kry nie, daar niemand anders is wat dit vir hulle sal gee nie. Wanneer jy ‘n versorger in die lewe van ‘n ander persoon word, het jy ‘n opregte geleentheid om hulle ten goede en vir God te beïnvloed. Word dus ‘n versorger!

Sielskos: Hand 20-21; Luk 8:40-56; Ps 14; Spr 16:6-7

Vra en luister

2021-07-20
Openbaring 12:10 NLV

Was jy al ooit skuldig daaraan dat jy iemand van iets aangekla het voordat jy al die feite geweet het? Indien dit die geval is, trek jy aan dieselfde tou as Satan, die offisiële ‘aanklaer’ van God se kinders. Die Bybel sê: ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het (vers 10 NLV). Emosionele en geestelike volwassenheid vereis dat jy eers probeer verstaan, voor jy ‘n haastige beskuldiging maak.

Kyk na die voorbeeld wat God ons in die tuin van Eden gegee het. Hy kon maklik gesê het: ‘Adam en Eva, julle ondankbare sondaars, Ek moes julle nooit in my tuin vertrou het nie!’ God se nie-beskuldigende manier om Adam en Eva met hulle sonde te konfronteer, voorsien diegene van ons wat geneig is om te praat voor ons al die relevante informasie het, van ‘n kragtige model.

Die Bybel sê: ‘Die Here God het die mens geroep: ‘Waar is jy?’ Hy antwoord: ‘Ek het U hoor aankom en kruip nou weg. Ek was bang omdat ek sonder klere is.’ ‘Wie het vir jou gesê dat jy sonder klere is?’ vra die Here God. ‘Het jy van die vrugte geëet wat Ek jou beveel het om nie te eet nie?’ (Genesis 3:9-11 NLV).

God het reeds die antwoorde op sy vrae geken. Nietemin, het Hy vir Adam die geleentheid gegee om sy kant van die storie te verduidelik. Hierdie goddelike beginsel staan steeds: Om ‘n vraag ter verduideliking te vra en versigtig na die antwoord te luister, is belangrike stappe om jou neiging tot kritiek of beskuldiging te oorkom. Is jy al ooit onregverdig van iets beskuldig? As jy is, moet jy dit nie aan ander mense doen nie. Vra, en luister!

Sielskos: Hand 18-19; Luk 8:26-39; Ps 146; Spr 16:4-5

Wees hardnekkig

2021-07-19
1 Korintiërs 15:58 NLV

Een van die algemeenste temas in die Bybel is volharding. Die apostel Paulus skryf: ‘Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd.’ Weer skryf hy: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV). Ook Jakobus voeg by: ‘Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang…’ (Jakobus 1:12 NLV).

Die verskil tussen wen en verloor is nie talent nie; dis hardnekkigheid. Om hardnekkig te wees beteken die volgende: 1) Om alles te gee wat jy het. Sommige mense glo verkeerdelik dat hardnekkigheid meer van hulle eis as wat hulle het om te gee. Gevolglik word hulle ontmoedig en hou hulle op om hulself te druk. Om hardnekkig te wees beteken egter dat jy 100 persent gee – nie meer nie en verseker nie minder nie.

2) Om met vasberadenheid te werk, eerder as om op jou lot te wag. Volhardende mense vertrou nie op geluk om sukses te behaal nie. Hulle besef dat wanneer dit moeilik gaan, dit nie die tyd is om op te hou probeer nie.

3) Om op te hou wanneer die werk klaar is, nie wanneer jy moeg is nie. Om sukses te behaal, moet jy dikwels verby dit wat jy dink jy kan doen, druk. Onthou, oorwinning word nie bepaal totdat die laaste stap van die wedren voltooi is nie.

Put dus krag uit God se genade uit, weier om tou op te gooi en volhard totdat jy die wenstreep oorgesteek het en die prys gewen het.

Sielskos: Hand 16-17; Luk 8:16-25; Ps 140; Spr 16:3

Bring die beste in ander uit

2021-07-18
Filippense 1:3 NLV

Die vermoë om die beste in ander uit te bring is vir twee redes belangrik. Eerstens, sien ons gewoonlik slegs in mense wat ons verwag om in hulle te sien. Tweedens, voldoen hulle gewoonlik aan ons verwagting.

Dr John Maxwell skryf: “Ek het nog nooit ‘n positiewe persoon geken wat nie lief was vir mense en die beste in hulle probeer sien het nie. Een van die effektiefste maniere om jou te help om die beste in ander te sien, is om, soos ek dit noem, ‘n ’10’ op mense se koppe te plaas. Wat ek daarmee bedoel is as volg: Ons het almal verwagtinge van ander mense, maar ons kan kies of daardie verwagtinge positief of negatief is. Ons kan dink dat ander waardeloos of wonderlik is. Wanneer ons die besluit maak om die beste te verwag en dan waarlik vir die goeie in plaas van die slegte uitkyk, sien ons hulle as ‘n ’10’.”

Dink hoe het die Christene in Filippi gevoel toe Paulus gesê het: ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God.’ Wanneer jy in iemand glo, gee jy hulle ‘n wonderbaarlike gawe, miskien selfs die beste geskenk wat jy aan ‘n ander persoon kan gee. Gee jy hulle geld, kan hulle dit in ‘n japtrap uitgee. Gee jy hulle hulpbronne, mag hulle dit dalk nie tot die beste voordeel gebruik nie. Verleen jy hulp aan hulle, mag hulle hulself gou weer op dieselfde plek bevind.

As jy egter geloof in hulle demonstreer, kry hulle selfvertroue en word hulle versterk, selfstandig en gemotiveerd om die vaardighede te bekom wat hulle nodig het om self sukses te behaal. As jy hulle dan later met geld, hulpbronne of ander tipes hulp bystaan, sal hulle beter toegerus wees om dit te gebruik om ‘n beter toekoms te bou.

Sielskos: 1 Sam 21:1-6; Hosea 6:4-6; Matt 12:1-14