2021-07-17
Deuteronomium 15:8 NLV
God het vir die Israeliete opdrag gegee: ‘As daar in een van die dorpe in die land… ‘n arm Israeliet is… Maak jou hand vir hom oop…’ (verse 7-8 NLV). Om te gee, is die hoogste vlak van lewe. Vrygewige mense fokus hulle tyd en inspanning op wat hulle vir ander mense kan gee, nie op wat hulle van hulle kan kry nie. Hoe meer jy gee, hoe beter sal jou lewensuitkyk ook word.
Baie mense verstaan nie hierdie konsep nie. Hulle dink dat die hoeveelheid wat jy besit, die hoeveelheid wat jy moet deel, bepaal. Dis nie wat jy het wat saak maak nie; dis wat jy doen met wat jy het wat saak maak. Om ander te dien is iets wat jy vandag kan begin doen. Of dit nou beteken dat jy meer tyd met jou familie deurbring, ‘n werknemer wat potensiaal toon mentor, of mense in jou kerk of gemeenskap help – dit gaan daaroor om jou eie begeertes eenkant toe te skuif om sodoende iemand anders te seën. Die Bybel sê: ‘Sê jou sê sodat die regte dinge kan gebeur. Sorg jy vir die armes en die onderdruktes’ (Spreuke 31:9 DB).
Die enigste manier om ‘n houding van vrygewigheid te handhaaf, is om dit ‘n gewoonte te maak om jou tyd, aandag, geld en hulpbronne uit te deel. Dink oor dit wat jy reeds gee, wat jy gevra is om te gee, en wat jy graag sal wil gee. Jou redes om ‘n versoek vir finansiële hulp toe te ken of af te wys mag dalk geldig wees, maar is dit goddelik? Dink hoe dit voel wanneer jy gee en laat dit toe om jou te lei.
Sielskos: Hand 14-15; Luk 8:1-15; Ps 133; Spr 16:2
2021-07-16
Spreuke 11:13 NLV
Verraad is erger as ‘n geskinder. ‘n Skinderbek mag nie noodwendig enige slegte gevoelens teenoor sy of haar slagoffer hê nie; maar ‘n verraaier openbaar willens en wetens inligting wat vertroulik aan hom of haar vertel is. Hulle pleeg ‘verhoudingsverraad’ deur die vertroue wat iemand in hulle geplaas het, te skend.
Judas was in die posisie om Jesus met baie min inspanning te verraai, omdat hy met Jesus se bewegings vertroud was. Die Bybel sê: ‘Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook die plek geken omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het’ (Johannes 18:2 NLV). Later het Judas se gedrag soveel selfveragting by homself gekweek, dat hy selfdood gepleeg het. Dade van verraad vreet aan jou selfbeeld en jou sin van waardigheid.
So, het jy al ooit ‘n vertrouensbreuk gepleeg? Indien dit die geval is, hoekom het jy dit gedoen? Wat was die beloning? Het jy voordeel daaruit getrek? Was jy jaloers of gegriefd op daardie stadium? Was daar onopgeloste konflik tussen jou en die ander persoon? Het jy berou oor dit wat jy gedoen het?
Aan die ander kant, het iemand al ooit jou vertroue geskend? Indien wel, was jy besig om te oes wat jy gesaai het? Watter waardevolle lesse het jy daaruit geleer? Het jy die oortreder in jou hart vergewe en wil jy nie meer vergelding hê nie? Indien nie, is jy steeds aan hulle gebonde en beheer hulle jou lewe. Laat dit gaan! Herinner jouself: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet…’ (Romeine 8:28 NLV).
Strewe daarna om ‘n betroubare persoon te word, waarop ander mense kan staatmaak om hulle geheime te beskerm. As jy geseënd is om self ‘n betroubare vriend te hê, dank God vir hom/haar!
Sielskos: Hand 12-13; Luk 7:36-50; Ps 123; Spr 16:1
2021-07-15
1 Timoteus 6:17-18 NLV
Daar is min bestuurders wat taaier as Bob Thompson was. Vir veertig jaar lank het hy sy werkers gedruk om ses dae ‘n week, van April tot Desember, hard te werk om die werk klaar te kry voor die eerste sneeu val. Hulle lojaliteit, sweet en harde werk het gehelp om hom ‘n baie ryk man te maak. Thompson het dit onthou en guns aan hulle terug bewys. Toe hy sy maatskappy, Michigan se grootste teer- en plaveiselbesigheid verkoop het, het hy vir sy huidige en afgetrede werknemers $128 miljoen van die wins gegee.
Thompson het die Thompson-McCully maatskappy met $3,500 wat sy vrou, Ellen, met onderrig verdien het, begin. Die eerste vyf jaar van die besigheid was uitdagend. Thompson het nie eers ‘n salaris getrek nie. Hoekom het hy dan later so baie van sy fortuin weggegee? ‘Dit was die regte ding om te doen,’ het hy gesê. ‘Jy besef dat die mense rondom jou al die pyn en lyding saam met jou deurgemaak het. Ek wou hulle daarvoor terugbetaal.’ Toe die tjeks uitgedeel is, was Thompson nie teenwoordig nie. Hy het gesê: ‘Ek wou nie daar wees nie, want dit raak te emosioneel.’
Hierdie man het opgetree soos waarvan die apostel Paulus gepraat het: ‘Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld om… hulle geld [te] gebruik om goed te doen. Hulle moet ryk wees in goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood; hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel.’
Om goed te doen moet nie net hier en daar gebeur nie. Dis ‘n voltydse werk. ‘n Persoon met goeie karakter vra hom of haar in elke situasie af: ‘Wat is die regte ding om te doen?’ Die antwoord is altyd: ‘Doen goed aan ander.’
Sielskos: Hand 10-11; Luk 7:24-35; Ps 118:19-29; Spr 15:33
2021-07-14
Lukas 5:5 NLV
Les vyf: Staan op God se beloftes. Met hulle vorige visvangpoging, het die dissipels op hulle eie ervaring en vermoëns staatgemaak. Hierdie keer het hulle egter op Christus se belofte staatgemaak: ‘…Vaar nou dieper in en gooi jou nette uit, en jy sal baie vis vang’ (vers 4 NLV). Jesus het nie spesifiek gesê: ‘Petrus, as jy saam met My gaan visvang, belowe Ek dat jy ‘n groot vangs sal vang nie.’ Dit was nie nodig vir Hom om dit te sê nie, want Petrus het besef dat toe Christus vir hom sê om te gaan visvang, en toe vir hom presies sê waar om sy nette uit te gooi, was daar geen manier wat die nette leeg sou terugkom nie!
Wanneer jy God se teenwoordigheid in jou boot, God se plan in jou gedagtes en God se beloftes in jou hart ontvang, kan jy nie misluk nie. Miskien sê jy: ‘Dit klink alles goed en wel, maar jy ken nie my omstandighede nie.’ As jy deur jou omstandighede oorweldig voel, doen die volgende: Lees jou Bybel, vind ‘n spesifieke belofte van God en begin dit vir jouself opeis. Begin om van God te verwag om op te tree en jy sal vind dat sy belofte nuwe hoop in jou situasie sal meebring.
Net omdat jy nie jou probleem al opgelos het nie, beteken dit nie dat die oplossing nie bestaan nie. Met God, begin sukses dikwels op die punt van mislukking. Dis nadat jy heel nag jou nette uitgegooi het en niks gevang het nie, dat Hy intree. Die woord vir jou vandag is dus – moenie tou opgooi nie! Probeer weer. Doen dit hierdie keer met Jesus in jou boot; en Hy sal die wêreld se verskil maak.
Sielskos: Hand 8-9; Luk 7:11-23; Ps 118:10-18; Spr 15:31-32
2021-07-13
Lukas 5:4 NLV
Les vier: God se plan vir jou lewe behels altyd risiko’s. Hoekom? Omdat Hy wil hê dat jy jou lewe deur geloof moet lei. Hoekom dink jy het Jesus vir Petrus gesê: ‘Vaar nou dieper in’? Omdat dit is waar die groot visse is. Die meeste mense bestee hul lewens in die vlak waters van die lewe. Daar is min diepte aan hulle lewens; hulle is tevrede daarmee om nooit in die dieper waters in te gaan nie. Hoekom? Omdat dit veiliger in die vlak water is. Hulle dink: ‘As ek in die diep water gaan, mag daar dalk golwe wees. Dit mag dalk my boot wieg en my boot mag dalk omslaan. Ek sal dus maar net hier bly waar dit gemaklik is en hier rondplas.’
Ons maak skaars ons voete nat, omdat ons bang is dat ons nie kop bo water sal kan hou nie. Ons dink: ‘As ek regtig ernstig oor my toewyding aan God raak, mag Hy my dalk ‘n fanatikus maak. My familie kan dalk regtig ontsteld raak. Wat sal my vriende dink? Wat as God my vra om iets te doen waartoe ek nie in staat is nie?’ Dus is ons geneë daarmee om in die vlak water te bly – en ons loop so baie mis.
Verstaan die volgende: God se plan vir jou lewe is ‘n goeie plan, een wat tot jou voordeel sal werk (sien Jeremia 29:11-14). Hy sê: ‘Laat My toe om in jou boot te klim. Laat my teenwoordigheid saam met jou gaan – in jou besigheid, jou loopbaan, jou familie, jou huwelik, in elke area. Laat My toe om jou te lei. Werk saam met my plan en Ek sal jou meer as in jou wildste drome seën.’ Neem Hom vandag op sy woord en vaar in geloof uit.
Sielskos: Hand 6-7; Luk 7:1-10; Ps 118:1-9; Spr 15:27-30
2021-07-12
Lukas 5:5 NLV
Les drie: Werk saam met God se plan vir jou lewe. ‘Toe Hy klaar gepraat het, het Hy vir Simon gesê: ‘Vaar nou dieper in en gooi jou nette uit, en jy sal baie vis vang.’ ‘Meneer,’ het Simon geantwoord, ‘ons het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie. Maar as u so sê, sal ons weer probeer.’ En hierdie keer was hulle nette so vol dat dit begin skeur het!’ (verse 4-6 NLV).
Jesus het die dissipels geleer waar om vis te vang, wanneer om vis te vang en hoe om vis te vang. Hy sal jou ook leer om sukses in die lewe te behaal. Soos Petrus, sal jou plan egter soms moet misluk voordat jy gewillig word om God se plan te aanvaar.
Let twee dinge op: 1) Petrus het nie met Jesus gestry nie, hy het Hom eenvoudig gehoorsaam. As professionele visserman mag hy dalk gedink het: ‘Here, wie is U om my te vertel hoe om vis te vang?’ Hy mag dalk selfs gedink het dat as hy niks in die nag wanneer die visse gewoonlik byt gevang het nie, sou hy sekerlik nie iets in die middel van die dag gevang het met die son wat op die water bak nie. Hy het egter nie gestry nie; hy het net gehoorsaam. Jy moet dit ook doen.
2) Hy het nie na sy gevoelens geluister nie. Hy was seker doodmoeg nadat hy die hele nag gewerk het. Hy het egter nie gevra: ‘Wat is die punt? Hoekom moet ek aanhou probeer?’ nie. In plaas daarvan om deur sy gevoelens gelei te word, het hy geloof in Christus se belofte uitgeoefen – en die resultate was wonderbaarlik. As jy vandag jou geloof in Jesus plaas, sal Hy dieselfde vir jou doen.
Sielskos: Hand 3:11-5:42; Luk 6:37-49; Ps 109:16-31; Spr 15:23-26