Die kind wat jou die nodigste het

2021-10-04
Lukas 15:20 NLV

Goeie ouers probeer om hulle kinders ewe lief te hê. Dis egter die kind wat ons die nodigste het, wat die spesiale fokus van ons liefde word.

Die skrywer Erma Bombeck het gesê: ‘Elke moeder het ‘n gunstelingkind. Sy kan dit nie help nie. Sy is maar net menslik. Ek het een – die kind met wie ek ‘n spesiale band deel, met wie ek ‘n liefde wat niemand anders ooit sal kan verstaan nie, deel. My gunstelingkind was die een wat te siek was om roomys by sy verjaarsdagpartytjie te eet, wat masels op Kersfees gehad het, wat in die middel van die nag ‘n asma aanval gehad het, die kind in my arms by ongevalle. My gunstelingkind is die een wat sy woorde by die kunswedstryd vergeet het, die verkeerde rigting in ‘n rugbywedstryd gehardloop het en wie se fiets gesteel is omdat hy agtelosig was. My gunstelingkind was selfsugtig, onvolwasse, het ‘n slegte humeur gehad en was selfgesentreerd. Hy was weerloos, eensaam, onseker van homself – en heeltemal wonderlik. Almal het hul eie gunstelingkind. Dis altyd dieselfde een: die een wat jou op daardie oomblik nodig het. Wat jou om watter rede ook al nodig het – om aan vas te hou, om op jou te skree of seer te maak, om jou te druk, te vlei, om op af te pak – maar meestal net om daar te wees.’

Of soos Jesus oor die Verlore Seun gesê het: ‘…En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop…’

Sielskos: 1 Sam 24-26; Luk 24:36-44; Ps 51; Spr 22:12-16