Raak van finansiële skuld ontslae

2021-10-08
Spreuke 22:7 NLV

Hoe om van finansiële skuld ontslae te raak: 1) Skryf jou finansiële doelwitte neer. Besluit wat waarlik belangrik is – hoeveel jy gaan spaar, hoeveel jy gaan spandeer en hoeveel skuld jy kan hanteer sonder om jou toekoms in gedrang te bring. Jy moet weet waarheen jy op pad is en hoe jy daar gaan kom.

2) Begin klein. Pak een rekening op ‘n slag aan. Dis wonderbaarlik wat jy kan bereik wanneer jy ernstig raak en daarmee volhou. Die Bybel sê: ‘…as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiës 6:9 NLV).

3) Hou op om jou kredietkaart te gebruik vir dit wat jy nie kan bekostig nie. Jy betaal baie rente daarop en dit dra tot jou las by. Gebruik kredietkaarte slegs as jy gedissiplineerd genoeg is om nie oorboord te gaan nie. Jou bedoeling mag dalk goed wees, maar onvoorsiene omstandighede kan jou dwing om ‘n balans van maand tot maand oor te dra. As jou besteding heeltemal buite beheer is, moet jy plastiese chirurgie doen – deur jou kredietkaarte op te sny!

4) Gee meer. Dit mag dalk dwaas en vreemd klink wanneer jy uit skuld uit probeer kom. Jesus het egter gesê: ‘…Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol… (Lukas 6:38 NLV).

5) Verwag afkeur. Wanneer jy begin om finansiële dissipline toe te pas, mag sommige mense dalk nie daaroor gelukkig wees nie – veral wanneer dit hulle persoonlik affekteer. As jy egter net die dinge in die lewe doen wat almal goedkeur, sal jy nie veel bereik nie. God wil hê dat jy vry van finansiële skuld moet wees – en vry moet bly (sien Johannes 8:36).

Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Joh 1:29-42; Ps 131; Spr 23:1-3