Leer om alleen by God te wees
2021-10-06Eksodus 24:2 NLV
Dis noodsaaklik om alleen by God te wees om Hom duidelik te kan hoor. Vir ‘n generasie wat aan selfone en 24 uur media verslaaf is, kan dit ‘n moeilike konsep wees om te snap. Is jy ernstig daaroor om Jesus te volg? Hy het ‘…Hom gereeld in ‘n verlate plek afgesonder om te bid’ (Lukas 5:16 NLV). Hy het ‘…teen die berg uitgeklim om eenkant te gaan bid…’ (Matteus 14:23 NLV).
Die Bybel sê: ‘Hy het alleen agtergebly. Dáár kom hy ‘n man teë (die engel van die Here) wat tot die dagbreek met hom worstel’ (Genesis 32:24 NLV). Die grootste geestelike oorwinnings kom deur gevegte waar God jou roep om te veg wanneer jy alleen met Hom is. Hy verduidelik sy planne vir jou lewe wanneer daar niemand anders in die omtrek is nie. Dis omdat Hy wil hê dat jy deur Hom, en nie deur ander mense nie, beïnvloed moet word.
Wanneer God jou gereed maak vir ‘n spesiale opdrag, sal daar van jou verwag word om tyd buite die geselskap van ander mense deur te bring. In Eksodus het God gesê: ‘Moses, net jy mag naby aan die Here kom. Die ander mag nie naderkom nie…’ Nadat Elia ‘n nag alleen in ‘n grot deurgebring het, het God vir hom gesê: ‘Kom buitentoe en gaan staan voor My op die berg’… Terwyl Elia daar staan, het die Here by Hom verbygegaan…’ (1 Konings 19:11 NLV). Daniël ‘…het alleen agtergebly en na hierdie visioen staan en kyk…’ (Daniël 10:8 NLV). Jeremia het geskryf: ‘…Ek moes alleen sit omdat u hand op my was…’ (Jeremia 15:17 NLV).
Leer die verskil tussen eensaamheid en afsondering. Wanneer God jou op die kantlyn plaas, leer alles wat jy kan uit die ervaring uit en beweeg dan na die volgende vlak toe.
Sielskos: Ef 1:1-4:16; Joh 1:1-13; Ps 92; Spr 22:24-25