Hoe om Bybelstudie te benader

2021-08-22
Psalm 19:9 NLV

Die manier waarop jy Bybelstudie benader is noodsaaklik. Jy moet twee dinge doen: 1) Dit met integriteit benader. Toe ‘n nuwe Christen een keer tydens ‘n Bybelstudiegroep sê: ‘Ek sukkel om sekere dele van die Bybel te glo,’ het die ander lede geglimlag en hande geklap. Hulle het dit nie gedoen omdat ongeloof goeie nuus is nie; hulle het dit gedoen omdat hy uiteindelik eerlik genoeg was om sy vertwyfeling te erken. Moenie bekommerd wees nie; God is nie kwaad vir jou nie. Totdat jy gewillig is om oor jou vertwyfeling te praat, kan jy hulle nie oplos nie. Toe Tomas die opstanding betwyfel het, het Jesus opgedaag om hom daarvan te oortuig. Hy sal ook vir jou opdaag! Jesus het gesê: ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid… Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My ontvang het, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13-14 NLV).

2) Dit met verwagting lees. Sodra jy die skrywer van ‘n boek ontmoet het en sy handtekening op die boek gekry het, voel jy anders oor die boek. Jy koester dit. Wanneer jy die Bybel met ‘n hart vol verwagting lees, ontmoet jy die skrywer daarvan. Soos jy sy woorde lees, begin jy sy teenwoordigheid aanvoel en begin jy besef dat Hy persoonlik met jou praat. Jesus het gesê: ‘Dit is die Gees wat lewend maak, die liggaam baat jou niks. Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe’ (Johannes 6:63 NLV). Wanneer jy met ‘n honger en verwagting na die Skrif toe kom, gaan jy nooit teleurgesteld daarvan weg nie.

Sielskos: Jos 2:1-24; Hand 9:20-30

Gees-beheerde gedagtes

2021-08-21
Romeine 8:6 NLV

Die Bybel sê: ‘…Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak. As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede’ (vers 5-6 NLV). Met ander woorde, die Heilige Gees is die teenwoordigheid van God wat in jou lewe werk. Jy gee óf jou gedagtes aan die beheer van eksterne invloede en omstandighede oor, óf jy gee dit oor aan die Heilige Gees om te beheer. Hoe sal so ‘n lewe lyk?

Verbeel jouself ‘n lewe waar jy nie so vreesbevange is nie. Verbeel jouself dat jy finansiële probleme of ‘n woedende baas met innerlike kalmte en vasbeslotenheid kan tegemoet kom. Verbeel jouself dat jy slegte nuus kan ontvang en konstruktiewe maniere kan genereer om die probleem op te los. Verbeel jouself dat jy jou foute kan erken en met selfvertroue die toekoms kan binnegaan. Verbeel jouself dat jy dit alles met God as jou vennoot kan doen. Verbeel jouself dat die mense rondom jou na jou toe kan kom wanneer hulle ontsteld of moedeloos is, omdat jou sin van vrede aansteeklik is.

Wanneer jy mense teëkom wat gestres is, is jy veronderstel om ‘n verspreider van vrede te wees. Jesus het vrede oral waar Hy gegaan het, met Hom saamgedra. Toe die dissipels vreesbevange oor die storm was, het Hy eenvoudig vir die golwe gesê: ‘…Bedaar! Word kalm!..’ (Markus 4:39 NLV), en dit het gebeur. Jy kry nie vrede wanneer jy ‘n see sonder storms kry nie, jy kry vrede wanneer jy weet dat Jesus in jou boot is en dat geen storm jou onder kan kry, wanneer Hy aanboord is nie.

Sielskos: Gal 4-6; Luk 16:1-18; Ps 119:113-120; Spr 18:10-12

Dink minder aan jouself

2021-08-20
Jakobus 4:10 NLV

Daar is ‘n ware gesegde wat lui: ‘Nederigheid is nie om minder van jouself te dink nie; dit is om minder aan jouself te dink.’ Dit beteken nie dat jy ‘n deurmat waaroor mense loop moet wees of dat jy ruggraatloos met geen oortuigings of opinies is nie. Ware nederigheid is om God as die bron van alles wat jy het en alles wat jy nodig het, te erken. Die Bybel sê: ‘Toe vorm die Here God ‘n menslike liggaam uit die stof van die aarde. Nadat Hy die asem van die lewe daarin geblaas het, het dit ‘n lewende wese, die mens, geword’ (Genesis 2:7 NLV).

God se bedoeling met die mensdom was dat hulle in die paradys sou bly en elke dag sy teenwoordigheid sou geniet het. Ons was egter ongehoorsaam aan Hom en het besluit om volgens ons eie reëls te lewe. Gevolglik het God gesê: ‘…jy is van stof gemaak en jy sal weer stof word’ (Genesis 3:19 NLV). Daar word gereken dat elkeen van ons minder as vyf dollars werd is. Wanneer jy dus doodgaan en jou komponente in stof verander, is dit hoeveel jy fisies werd is. Dit maak mens redelik nederig!

Wanneer jy dus jou luukse kar bestuur, onthou dat minder as vyf dollars dit bestuur. Minder as vyf dollars bly in ‘n mooi huis. Minder as vyf dollars dra ontwerpersklere. Paulus definieer nederigheid as volg: ‘…ek [sê] aan elkeen van julle dat jy nie jouself moet oorskat nie, maar dat jy jouself nugter moet beoordeel…’ (Romeine 12:3 NLV).

Wil jy weet wat jou kosbaar maak? ‘…Christus leef in julle. Dit is die waarborg dat julle in die hemelse heerlikheid sal deel’ (Kolossense 1:27 NLV).

Sielskos: Gal 1-3; Luk 15:11-32; Ps 119:105-112; Spr 18:9

Jou ‘Noordooster’

2021-08-19
Handelinge 27:14 NLV

Die skip waarmee Paulus Rome toe geseil het, is deur ‘n sterk storm genaamd die ‘Noordooster’ stukkend geslaan. Hier is ‘n paar waardevolle lesse wat ons uit sy ervaring kan leer.

1) God kan ‘n slegte situasie ten goede vir jou laat uitwerk. Paulus het as gevolg van die storm op Malta opgeëindig, waar die mense die Evangelie vir die eerste keer aangehoor het. Ook, toe hy en sy volgelinge vertrek het, het die mense van Malta, ‘…vir ons alles opgelaai wat ons nodig gehad het’ (Handelinge 28:10 NLV). Soms kan jou probleem ‘n platform vir God wees om op maniere te werk wat jou sal verstom. Jou toekoms is in God se hande en Hy beskerm en versorg dit wat aan Hom behoort.

2) Om jou bestemming wat deur God vir jou bestem is te bereik, sal jy deur stormwaters moet vaar. Paulus het gesê: ‘…Uiteindelik is alle hoop laat vaar dat ons gered sou word’ (Handelinge 27:20 NLV). Daar sal dae wees wat jy wonder hoe jy dit gaan maak, maar jy sal dit deur God se genade doen (sien Psalm 37:34).

3) Storms sal openbaar hoe goed jy die Here ken. Paulus het gesê: “Verlede nag het daar ‘n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus…'” (Handelinge 27:23-24 NLV).

4) Hy kan sukses uit iets wat na mislukking lyk, voortbring. Let twee spesifieke dinge in hierdie verhaal op: a) Jy mag dalk party dinge oorboord moet gooi om jou bestemming te bereik (sien vers 18). b) Ten spyte van jou beste pogings, sal jou skip met tye strand (sien vers 26). Dis wanneer jy dit wat God aan jou beloof het moet onthou – en daarop staan (sien vers 25).

Sielskos: Rig 19:16-21:25; Luk 15:1-10; Ps 119:97-104; Spr 18:6-8

Het jy God daaroor geraadpleeg?

2021-08-18
Josua 9:14 NLV

Wanneer jy God raadpleeg voor jy besluite neem, hou dit jou uit allerhande soorte moeilikheid uit. Josua het dit op die harde manier geleer. Hy het pas Jerigo, die grootste stad in die Beloofde Land, ingeneem. Op die hakke van hierdie oorwinning, het die Israeliete gevoel dat hulle nie God rakende hulle volgende beweging hoef te raadpleeg nie.

Oormatige selfvertroue kan egter dodelik wees! Die Gibeoniete, een van die vyandige nasies van die Beloofde Land, het besef dat hulle nie God se mense kan verslaan nie, dus het hulle onderhandelaars gestuur om sogenaamde vrede met hulle te gaan maak. Dit het gewerk. Selfs al het die Gibeoniete gejok, het Josua aangeneem dat hulle die waarheid praat en het ‘n vredesverdrag met hulle geteken. Van daardie dag af was die Gibeoniete ‘n konstante doring in Israel se vlees. Josua was baie spyt dat hy nie ‘…by die Here gaan raad vra [het] nie.’ Sommige van die oudste gesange bevat die grootste waarhede. Hier is een van hulle: ‘Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart, net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart!’

Is jy iemand wat dinge uit jou eie krag wil laat gebeur? Daar is ‘n fyn lyn tussen Godgegewe selfvertroue en selfonderhoudendheid; en wanneer jy daardie lyn oorsteek kan dit jou duur te staan kom. As jy ‘n geneigdheid het om te vinnig te beweeg of vanuit jou eie sterkpunte en vaardighede op te tree, lees die volgende woorde versigtig en biddend: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal vir jou die regte pad wys. Moenie jouself oorskat nie…’ (Spreuke 3:5-7 NLV).

Sielskos: Rig 16:1-19:15; Luk 14:25-35; Ps 119:89-96; Spr 18:1-5

Om vooruit te beweeg, moet jy teëspoed oorkom

2021-08-17
2 Korintiërs 6:4 NLV

Die Christelike lewe kom met baie seëninge – en ook baie gevegte. Jy kan nie die een sonder die ander hê nie. Paulus beskryf dit as volg: ‘In elke opsig laat ons ons ken as diensknegte van God, ook in ons volharding en swaarkry, ontbering en nood. In die tronk, onder katshoue, onder swaarkry, in oproere, in hongersnood het ons met nougesetheid opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid, deur betoning van die teenwoordigheid van die Heilige Gees, deur opregte liefde, deur die boodskap van die waarheid en in die krag van God. Ons tree op met die wapens van geregtigheid in ons regter- en linkerhand, in eer en oneer, in veragting en aanprysing; soos verleiers, en tog is ons opreg; soos onbekendes, en tog is ons goed bekend; soos mense wat sterwend is, en kyk, ons lewe; soos swaar gestrafdes, en tog is ons nie doodgemaak nie; soos hartseer mense, en tog is ons altyd blymoedig; soos bedelaars, maar ons verryk baie mense; soos mense wat niks besit nie, en tog besit ons alles’ (verse 4-10 NLV).

God sal vir jou op jou slagveld baklei, jou deur jou storm neem en jou seisoen van teëspoed in ‘n seisoen van vooruitgang verander. Wanneer jou geloof aangeval word, trek dit sy krag aan en bring dit sy genade in jou situasie in. Die Bybel sê: ‘Selfs al was Hy die Seun, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het’ (Hebreërs 5:8 NLV). Verbly jou dus, jy is nie besig om te verloor nie – jy is besig om te kry!

Sielskos: Rig 12-15; Luk 14:15-24; Ps 119:81-88; Spr 17:27-28