Hoe om God se stem te herken
2021-10-151 Samuel 3:9 DB
Samuel het nie God se stem herken toe hy as klein seuntjie in die tempel gewerk het nie. Later, toe hy as profeet opgetree het, was sy oor egter die poort waardeur God met ‘n nasie gepraat het. Om te leer om God se stem te herken is nie ‘n vaardigheid wat oornag aangeleer kan word nie, omdat Hy op verskillende tye, op verskillende maniere en in verskillende omstandighede met ons praat.
Om God se stem te herken: 1) Verg geestelike volwassenheid. Jesus het gesê: ‘…die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:4 NLV). Let op dat Hy gesê het dat die skape, nie die lammers nie, sy stem ken. Dit beteken dat daar genade vir die onvolwassenes is. As jou geestelike ore dus nog nie ontwikkel is nie, sal God met jou werk totdat hulle is.
2) Beteken dat jy nie deur jou vorige ervarings beperk word nie. Toe God met Moses gepraat het, het ‘n berg geskud, terwyl Hy met Elia in ‘n stil, klein stem gepraat het. Moenie God beperk nie en moet Hom nie probeer uitpluis nie. Hy kan deur jou Bybel, deur diegene wat opgelei is om sy Woord te verkondig, deur ‘n lied, deur ‘n pynlike situasie of deur jou gedagtes en begeertes met jou praat, wanneer jy jou aan Hom onderwerp het. Die sleutel is om naby aan God te bly en jou ore op sy stem ingestel te hou.
3) Beteken dat jy gehoorsaam is. Dawid het gesê: ‘Dis my begeerte om u wil te doen…’ (Psalm 40:9 NLV). Wees gehoorsaam en maak werk daarvan om God se stem te leer herken. ‘As hulle luister en Hom gehoorsaam, word hulle geseën met voorspoed deur hulle hele lewe’ (Job 36:11 NLV).
Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 4:1-12; Ps 100; Spr 23:22-28