God is net ‘n gebed weg

2021-08-28
Psalm 34:7 NLV

J.C. Penney het reeds gesterf en hemel toe gegaan, maar honderde kettingwinkels dwarsoor Amerika dra nog steeds sy naam. Toe hy begin werk het, was hy net in een ding geïnteresseerd: om geld te maak. Terwyl hy as klerk vir ses dollars ‘n week gewerk het, was sy brandende begeerte om meer as ‘n honderdduisend dollar werd te wees. Toe hy daardie doelwit bereik het, het hy vir ‘n rukkie tevrede gevoel, maar gou sy mikpunt na om ‘n miljoen dollar werd te wees, verander. Toe het tragedie sy lewe getref. Sy vrou het siek geword en van longontsteking gesterf.

Hy het daardie tyd as volg onthou: ‘Toe sy sterf, het my wêreld om my ineengestort. Om besighede te bou, om ‘n sukses in mense se oë te wees, om geld bymekaar te maak – wat was die punt van dit alles? Dit het vir my gevoel of die lewe, en selfs God, met my spot.’

Kort voor lank was hy finansieel verwoes en in ‘n diep depressie. Dit was op daardie punt wat hy na God toe gedraai het en ‘n wonderbaarlike omkering ervaar het. Hy het gesê: ‘Toe ek tot nederigheid en die besef van my afhanklikheid van God gebring is, was dit soos ‘n lig wat my wese verlig het. Ek kan dit nie anders beskryf nie, behalwe om te sê dat dit my as mens verander het.’

Het dinge vandag in jou lewe ineengestort? Wonder jy of jy ooit weer sal kan opstaan? Draai na God toe; Hy is net ‘n gebed weg. Dawid het gebid: ‘Hierdie geringe mens het geroep, en die Here het gehoor. Hy het hom uit al sy benoudheid gered.’ Wat God vir Dawid gedoen het, sal Hy vir jou vandag doen.

Sielskos: Eseg 5-9; Luk 18:18-30; Ps 119:169-176; Spr 19:9-10

Die vier fundamentele elemente van gebed

2021-08-27
Efesiërs 6:18 NLV

Dink aan die letters van die woord P-R-A-Y om die vier fundamentele elemente van gebed te onthou.

1) P – praise the Lord. Voor jy versoeke aan God rig, bestee eers tyd om Hom te prys. Daar is ‘n spesifieke protokol wat gevolg moet word wanneer jy ‘n president of eerste minister benader; en dis dieselfde wanneer jy God benader. Die Psalmdigter het gesê: ‘Gaan sy poorte in met dankliedere, sy hofsaal met lofgesange. Dank Hom en Prys sy Naam’ (Psalm 100:4 NLV).

2) R – repent of your sins. Net soos die hitte van ‘n smeltkroes die onsuiwerhede in metale na die oppervlak bring sodat die metaalsmid dit kan verwyder, so bring gebed die houdings wat moet verander en die gewoontes wat verbreek moet word, na vore. Wat as ons egter sommige van ons sonde vergeet? Paulus sê vir ons: ‘Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid… Dié God, wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree’ (Romeine 8:26-27 NLV).

3) A – ask for yourself and for others. Jou gebed nooi God in die situasie in en jou geloof aktiveer sy mag om dit te verander. Net soos ‘n skakelaar krag, lig en hitte kan laat voortbring, begin dinge verander wanneer jy bid. Jesus het gesê: ‘Ek vertrou die sleutels van God se koninkryk aan jou… wat jy ook al oopsluit, sal ook by God oopgesluit bly’ (Matteus 16:19 NLV).

4) Y – yield to God’s will. As jy nie weet wat God se wil is nie, is gebed die beginpunt. As jy reeds weet wat God se wil is en jy doen dit nie, sal gebed jou in die regte rigting stuur en korrigeer.

Sielskos: Eseg 1-4; Luk 18:1-17; Ps 119:161-168; Spr 19:3-8

Verander jou denkwyse!

2021-08-26
Jesaja 54:3 NLV

God het vir sy mense gesê: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het… Ek gaan iets nuuts doen…’ (Jesaja 43:18-19 NLV). As jy dus vir God vir ‘n visie vra, of om die een wat Hy reeds vir jou gegee het te vergroot, moet jy geestelik plek daarvoor maak. ‘Maak jou woning groter. Span jou tent wyer, en moenie huiwer nie. Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in. Want jy sal na links en regs uitbrei…” (Jesaja 54:2-3 NLV). Moenie met middelmatigheid in jou werk, jou verhoudings of you wandel met God tevrede wees nie.

Mark Twain het gesê: ‘Twintig jaar van nou af sal jy meer teleurgesteld wees deur die dinge wat jy nie gedoen het nie, as deur die dinge wat jy gedoen het. Gooi dus die booglyne af. Vaar weg van die veilige hawe. Vang die wind. Verken. Droom. Ontdek.’ Selfs indien jy uit ‘n agtergrond van verslawing, armoede, depressie, mishandeling en lae selfbeeld kom, sal God jou in staat stel om op te staan en ‘n einde aan daardie ou denkwyse van nederlaag en mislukking te maak.

In Bybelse tye was diervelle gebruik om wynhouers te maak. Aan die begin was hulle buigbaar en maklik om mee te werk, maar namate tyd verby gegaan het, het hulle onbuigsaam geword en hulle vermoë om uit te sit, verloor. Dis hoekom Jesus gesê het: ‘Net so min gooi ‘n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, sal die sakke skeur en die wyn uitloop… Nee ‘n mens gooi nuwe wyn in nuwe leersakke; dan hou al twee goed’ (Matteus 9:17 NLV). Gooi jou ou wynsakke weg! God sal nie versteende gedagtes met nuwe idees deurtrek nie, maar Hy sal jou lewe verander wanneer jy jou denke in lyn met syne bring.

Sielskos: Amos 5:18-9:15; Luk 17:20-37; Ps 119:145-160; Spr 19:1-2

Hoe om jou roeping te vind

2021-08-25
Handelinge 13:2 NLV

Die Bybel sê: “‘n Keer toe hulle bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: ‘Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.’ Na nog vas en gebed is hulle die hande opgelê en het die gemeente hulle weggestuur” (vers 2-3 NLV). Let drie dinge op:

1) Barnabas en Saulus was in die kerk toe God hulle geroep het. Die Heilige Gees praat met ons wanneer ons bymekaar kom om te bid, te lofprys en God se Woord te hoor. Een rede hoekom ons nie duidelike aanwysings vir ons lewens het nie, is omdat ons nie op die plek is waar God objektief deur sy Woord en subjektief deur sy Gees, met ons kan praat nie.

2) Hulle roeping is deur bewese leierskap bevestig. Die mense wat vir Saulus en Barnabas die hande opgelê het om hulle roeping te bevestig, was leiers wat die tyd geneem het om te bid, te vas en God se wil te soek. Sulke mense is ‘n gawe. Hulle sal jou raad gee, jou korrigeer en jou vertroos wanneer jy dit nodig het en God se wil vir jou bevestig.

3) God speel nie wegkruipertjie met sy wil vir jou lewe nie. God het Saulus en Barnabas op die naam geroep. Ja, Hy ken jou naam, waar jy woon en die omstandighede waarin jy jouself bevind. Gideon was besig om koring in ‘n parskuip te dors (om dit vir die Midianiete weg te steek) en Petrus was besig om vis te vang, toe God hulle geroep het.

Jou gebrek aan ervaring beperk God nie, omdat Hy nie gekwalifiseerdes roep nie, maar die geroeptes kwalifiseer. Wag dus op God en wanneer die tyd reg is, sal Hy jou roep.

Sielskos: Amos 1:1-5:17; Luk 17:11-19; Ps 119:137-144; Spr 18:22-24

Strewe na uitnemendheid (2)

2021-08-24
Filippense 1:10 DB

Uitnemendheid verg twee dinge: ekstra tyd en ekstra inspanning. Dit beteken dat jy meer doen as wat ander mense van jou verwag, omdat jy dit as ‘n saak van karakter en integriteit sien. Ons praat nie hier van die strewe na perfeksie nie. Dit kan jou en almal rondom jou mal maak. Perfeksionisme word in selfgesentreerdheid gebaseer. Dit soek goedkeuring en applous.

Jou doel moet wees om elke opdrag of taak te doen asof God dit self van jou verwag en jou optrede sal evalueer en beloon. Die ou gesegde: ‘Uit die oog, uit die hart,’ is nie op God van toepassing nie; Hy let op elke aktiwiteit wat jy doen. ‘Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie. Weet dat die Here julle met ‘n erfdeel sal beloon. Die Eienaar vir wie julle werk, is Christus!’ (Kolossense 3:23-24 NLV). Dit beteken dat jy die beste moontlike werk doen, selfs wanneer die baas nie in die omtrek is nie.

Nog ‘n belangrike punt is om mense te vermy wat slegte werksgewoontes het of op jou pogings om uitnemend te wees, neersien. Wil jy regtig soos hulle wees? Bereik jy die resultate in die lewe wat jy vir jouself begeer? As God jou hemelse Vader is, dan dra jy sy naam: ‘Here, ons Here, hoe vol majesteit is u Naam oor die hele aarde!..’ (Psalm 8:2 NLV).

Bid vandag: ‘Here, gee my die begeerte om uitnemend in al my aktiwiteite te wees. Help my om met die konstante bewustheid van u evaluerende en liefdevolle oog te leef, sodat ek alles vir U en nie vir mense nie, sal doen. In Jesus se naam bid ek dit, amen.’

Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Luk 17:1-10; Ps 119:129-136; Spr 18:21

Strewe na uitnemendheid (1)

2021-08-23
Daniël 5:14 NLV

Selfs al was Daniël ‘n gevangene, het hy geweier om middelmatigheid te aanvaar. Dit het hom onder die aandag van die koning van Babel gebring wat gesê het: ‘Ek hoor dat die gode in jou woon en dat jy besondere insig, begrip en wysheid het.’ Wat ‘n wonderlike reputasie! En wat ‘n berisping vir diegene van ons wat maar net aanploeter. Die Bybel sê: ‘Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie’ (Spreuke 22:29 NLV).

Die manier om aandag in die lewe te trek en vooruit te beweeg, is om te studeer, te groei en jou vaardighede op te knap. Het jy ‘n middelmatige houding teenoor jou werk, jou verhoudings en die lewe oor die algemeen? Indien dit die geval is, oorweeg bietjie die vlakke van frustrasie wat jy sou ervaar as die mense wat jou moet bedien, so ‘n houding gehad het. Wat as die kelner koue kos en jou drankie in ‘n vuil glas vir jou bedien het? Sou jy daaroor gekla het? Dink dan hoe mense voel wanneer jy hulle slordige vakmanskap en ‘n ‘kan-nie-minder-omgee’ houding gee nie.

Daar word gesê dat uitnemendheid sy eie beloning is. Ja, jy sal vir uitnemendheid beloon word, maar jou grootste beloning sal kom uit die wete dat jy jou beste gedoen het. Aristotel het gesê: ‘Ons is wat ons herhaaldelik doen. Uitnemendheid is dus nie ‘n daad nie, maar ‘n gewoonte.’ Kyk na die lewens van mense wat in hulle veld uitblink. Bestudeer hulle gewoontes en leer van hulle. Identifiseer hulle karaktereienskappe en strewe daarna om dit te ontwikkel. Eers wanneer jy jou beste gedoen het, kan jy op God vertrou om die res te doen.

Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Luk 16:19-31; Ps 119:121-128; Spr 18:13-20