2021-09-03
Job 9:27 NLV
Kom ons begin deur te erken dat die lewe soms moeilik is. Sommige van ons het dit moeiliker as ander. Dis hoekom die Bybel sê dat daar: “‘n Tyd om te huil en ‘n tyd om te lag…” (Prediker 3:4 NLV), is. Wat as jy egter net aanhou om oor die lewe te huil? Hoe kan jy die spanning en dreinering wat deur negatiewe self-praatjies veroorsaak word, verminder?
Hier is drie maniere: 1) Vervang dit. Leer jouself om die negatiewe innerlike praatjies die oomblik wat dit begin, te herken en wis dit onmiddellik uit. Jy kan selfs ‘n T-vorm met jou hand maak as ‘n fisiese gebaar om jouself te herinner om tyd te neem en dit te staak. Dit stop egter nie daar nie. Jy moet daardie negatiewe gedagtes met Skriftuurlike self-praatjies vervang. ‘Wie ‘n wag voor sy mond het, bly uit die moeilikheid’ (Spreuke 21:23 NLV).
2) Pas jou stemtoon aan. Jy weet hoe die dokter sê: ‘Jy mag dalk ‘n klein prikkie voel,’ wanneer hy die naald in jou arm steek? Gebruik sy tegniek en verminder groot negatiewe woorde tot klein woordjies wat nie so intimiderend is nie. ‘Onmoontlik’ is ‘n baksteenmuur teenoor ‘Hierdie mag dalk werk nodig hê.’ Sal jy nie eerder ‘n projek aanpak wat ‘uitdagend’ eerder as ‘onhanteerbaar’ is nie?
3) Wees jou eie beste vriend. Gebruik jou vriendelike stem om die negatiewe stem binne-in jou uit te doof. Praat met jouself soos jy met jou beste vriend sou praat. Die Bybel sê: ‘…Maar Dawid het by die Here sy God krag ontvang’ (1 Samuel 30:6 NLV). Herlaai jou gedagtes. Herprogrammeer jou denke. Daar is krag in God se Woord. Begin dus om diesefde dinge te sê as wat Hy oor jou sê en kyk hoe jou lewe ten goede verander.
Sielskos: Eseg 22-23; Luk 19:41-48; Ps 142; Spr 19:21-23
2021-09-02
Filippense 4:13 NLV
Wanneer jy nie ‘n keuse het of jou omstandighede kan beheer nie, kan jy steeds besluit hoe jy daarop gaan reageer. Paulus was in die tronk toe hy geskryf het: ‘Wees altyd bly omdat julle Christene is…’ (vers 4 NLV). Daar is mense wat ‘n voortdurende pessimistiese lewensuitkyk het en meeste van die tyd op ‘n negatiewe manier praat. Dis ernstige sake! ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Dit beteken dat jy jouself dood kan praat of lewendig kan praat. Dis ‘n Skriftuurlike waarheid!
Die probleem is egter dat ons nie altyd agterkom wanneer ons met negatiewe self-praatjies besig is nie, omdat dit ‘n gewoonte word. Ons ontwikkel onbewustelik ‘n verkeerde siening van onsself wanneer ons aanhoudend ding soos: ‘Ek is so ‘n “loser”,’ of ‘Dit is te moeilik, ek gaan nie eers probeer nie,’ dink en sê. Ons is tevrede met verloor, wanneer ons met ‘n paar klein houdingsveranderinge die deur na wonderbaarlike moontlikhede kan oopmaak.
As verloste kind van God, is daar binne-in jou die krag om beter te dink, beter te praat en beter te doen. ‘Staan dit in die Bybel?’ vra jy. Ja, Paulus sê: ‘…Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). Dis tyd om ‘n lyn in die sand te trek en te verklaar: ‘Dit wat God van my sê, sal ek ook sê!’ Hier is ‘n wonderlike vers om mee te begin: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.’
Sielskos: Eseg 20-21; Luk 19:28-40; Ps 111; Spr 19:18-20
2021-09-01
Handelinge 15:37-39 NLV
Paulus en Barnabas het saam gereis, mekaar bemoedig, saam vervolging verduur en baie mense vir Christus gewen. Selfs die beste verhoudings kan egter skeefloop en hulle was geen uitsondering nie. ‘Daar het toe kwade gevoelens ontstaan, en hulle het elkeen sy eie koers gegaan…’ Paulus en Barnabas het nooit bedoel om mekaar seer te maak nie. Hulle was altwee goeie mense en God se koninkryk was hulle hoofprioriteit. God het Paulus gekies om die Evangelie vir die heidene te bring en die Bybel noem Barnabas: ‘…’n goeie man, vol van die Heilige Gees en van geloof…’ (Handelinge 11:24 NLV). Altwee het oor die grootste kwessie saamgestem: naamlik om weer kerke te besoek waar hulle vroeër gepreek het. Hulle het net verskil oor hoe om te werk te gaan. Barnabas wou vir Johannes saamvat. Paulus wou nie; hy wou vir Silas saamvat.
Dit gebeur dikwels dat ons saamstem oor dit wat gedoen moet word, maar verskil oor hoe ons dit moet bereik. Natasha Robinson sê dat dit belangrik is om: a) Te herken wanneer God ‘n verhouding tot ‘n einde bring en nie probeer om ‘seisoenale’ mense in lewenslange vriendskappe te verander nie. Omdat jy hulle egter lief het en aan hulle geheg raak is dit moeilik om hulle te laat gaan, selfs wanneer dit daarvoor tyd is. b) Dit ‘n skoon breuk te maak wanneer julle paaie skei en nie toe te laat dat woede jou laat sondig nie. Dis maklik om bitter te raak en jou kant van die storie te wil vertel en sodoende verdeeldheid te veroorsaak. ‘Ons moet altyd die waarheid praat en altyd lief wees vir mekaar…’ (Efesiërs 4:15 ABA).
Weier om die ander persoon sleg te sê en God sal jou eer. God weet as hulle sleg van jou praat en Hy sal dit hanteer.
Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Luk 19:11-27; Ps 103:13-22; Spr 19:17
2021-08-31
Prediker 11:4 NLV
Die skrywer Betty Mahalik sê: ‘Ons word deesdae deur boodskappe omring wat skree: ‘My lewe sou perfek gewees het as ek net ‘n ander werk… kar… huis… neus… eggenoot… bankrekening (jy kan die spasie invul), gehad het. Of as ek soos een of ander beroemde wie se lewe goed georden en perfek is, was. Wel, hierdie week het ek opgehou om die ‘my lewe sou perfek wees as,’ speletjie te speel en het begin om die ‘my perfekte lewe’ speletjie te speel. Wat is die verskil?
Drie dinge: 1) Om in die hede teenwoordig te wees; 2) ‘n Houding van dankbaarheid; 3) Om aksie te neem met dit wat nou beskikbaar is.
Wanneer ons in die ‘my lewe sou perfek wees as’ strik trap, raak ons uit voeling met die hede en kan ons nie meer dankbaarheid uitoefen nie. Kyk rondom jou: Het jy ‘n dak oor jou kop en kos om te eet? ‘n Paar goeie vriende en naby verhoudings? Waardeer hulle dan.
Jy dink seker: ‘Ja, maar ek wil meer geld, ‘n beter verhouding, hê; ek wil maerder, gelukkiger of wat ook al wees.’ Hou op om op dit wat jy nie het nie te fokus en begin op dit wat jy wel het, te fokus.’ Die Bybel sê: ‘As jy heeldag na die wind kyk, sal jy nooit saai nie. En as jy na die wolke kyk, sal jy nooit oes nie.’
Die feit dat ons God se handewerk is (sien Efesiërs 2:10), beteken dat alhoewel ons beste altyd prysenswaardig is, geeneen van ons perfeksie op aarde sal kan behaal nie. Dis egter in die haak, want Christus het ons in sy regverdigheid geklee en ons ‘…het die volheid in Hom…’ (Kolossense 2:10 AFR53).
Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Luk 19:1-10; Ps 103:1-12; Spr 19:12-16
2021-08-30
Job 29:24 NLV
‘n Pastoor het vir twaalf jaar by ‘n kerk gedien. Hy het die gewoonte gedurende die oggenddiens op ‘n Sondag gehad om die kinders net voor sy preek vorentoe te roep, sodat hulle na hul eie spesiale kinderkerk kon gaan. Die kinders sou verby die preekstoel loop en hy sou ‘n punt maak om vir elkeen van hulle te glimlag en het glimlagte in ruil daarvoor teruggekry. ‘Dit was een van die hoogtepunte van die diens vir my’ het hy onthou.
Een dag het hy blykbaar egter een kind in die skare gemis en nie vir haar geglimlag nie. Die vierjarige krulkoppie het gehardloop en haarself huilend in haar ma se arms gegooi, terwyl sy gesnik het asof haar hart breek. Na die diens het die pastoor gaan uitvind wat gebeur het. Die ma het verduidelik dat haar kind gesê het: ‘Ek het vir God geglimlag, maar hy het nie terug geglimlag nie!’ Die pastoor het daaroor nagedink: ‘Vir daardie kind het ek God verteenwoordig. Ek het met my glimlag misluk en die wêreld het donker geword.’
Soos jy deur hierdie dag beweeg, wy jouself daaraan toe om die glimlag-strategie te gebruik. Jy sê: ‘Ek het meer probleme as Job, so ek het niks om oor te glimlag nie.’ Job het meer moeilikheid in ‘n jaar as wat die meeste van ons in ‘n leeftyd sal hê, gehad. Alhoewel hy egter af was, het hy ander mense opgehef. Alhoewel hy wanhopig was, het hy ander mense aangemoedig. Hoe het hy dit gedoen? ‘Hulle het gewag vir my om te praat, soos ‘n mens wag op reën… Wanneer hulle moedeloos was, het ek hulle met ‘n glimlag bemoedig. Wanneer ek met goedkeuring na hulle kyk, was dit vir hulle kosbaar’ (verse 23-24 NLV).
Sielskos: Eseg 10-13; Luk 18:31-43; Ps 84; Spr 19:11
2021-08-29
1 Korintiërs 10:31 NLV
Dawid het gesê: ‘…Ek sal liewer net ‘n deurwag in u huis wees as om in die grootste paleise saam met mense te bly wat nie van U hou nie’ (Psalm 84:11 DB). In ooreenstemming hiermee, skryf Joni Eareckson Tada: ‘Elsie bestuur ‘n Christelike huis vir jong meisies wat die lewe van prostitusie en dwelms op die strate van Hollywood agtergelaat het. Sy stap in die strate, deel die Evangelie en lei hierdie meisies na Christus toe. As hierdie nuwe bekeerlinge dit waarlik begeer om hulle lewens te verander, is daar vir hulle in Elsie se huis plek. Pam is een so ‘n bekeerling. As Christen met ‘n mooi geaardheid, dra sy die littekens van mesgevegte en heroïen-naalde met haar saam. Ek het haar vreugde en diepe waardering toe sy haar rol in die huis vir my vertel het, aangevoel: ‘Ek skrop die toilette en die badkamers. Dis my werk en ek is mal daaroor!’ Hierdie jong dame was so dankbaar om struktuur in haar lewe, ‘n veilige omgewing en ‘n eerlike werk te hê, dat een dag van diensskap in Elsie se huis ‘n miljoen keer beter was as ‘n duisend dae wat aan die strewe na selfvernietigende plesiere bestee word. Haar vreugdevolle siening van haar werk het vanuit ‘n fyn bewustheid van haar rol in die liggaam van Christus, gespruit. Min gelowiges het dieselfde agtergrond as Pam, maar elkeen van ons rol daagliks ons moue op om geringe, basiese take te verrig – om die motor se olie te gaan ruil, om nuwe ink in die drukker te sit, of om doeke om te ruil (dalk selfs ‘n bejaarde ouer s’n).’
Hoe lyk jou houding teenoor geringe werke? Wanneer jy die Here met blydskap dien (sien Psalm 100:2), sal jy vreugde in jou alledaagse take vind, omdat jy onthou vir wie jy werk.
Sielskos: Gen 6:9-8:4; Matt 24:37-51