Hoe God selfgesentreerdheid hanteer

2021-10-10
Galasiërs 5:24 DB

Daar word geskat dat die gemiddelde persoon omtrent nege miljoen woorde ‘n jaar praat en meer as helfte van hierdie woorde is: ‘Ek, my, myne.’ Wanneer jy egter vir Christus volg, beteken dit dat jou sondige gees moet sterf, maar selfgesentreerdheid gee nie sonder ‘n geveg op nie.

Dis hoekom Paulus skryf: ‘…al ons sondige begeertes is saam met Hom aan die kruis vasgespyker.’ Selfbelang sal nie net omrol en doodgaan nie; dit moet doodgemaak word. Dis ‘n daaglikse stryd, omdat ons die geneigdheid het om met ‘n doodsgreep aan ons eie belange vas te klou.

Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘En wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees’ (Matteus 20:27 NLV). In daardie dae was ‘n slaaf as die laagste van die huishoudelike personeel gesien. Dit beteken dat jy geroep is om jou eie belange op te offer, om sodoende ander mense te dien.

Indien nodig, sal God jou met ‘n ‘herinnering’ los aan dit wat jy moes deurgaan om jou spesifieke areas van hardkoppigheid en selfgesentreerdheid te kruisig. Jakob het byvoorbeeld mank geloop na sy ontmoeting met God, wat ‘n konstante herinnering aan sy totale afhanklikheid aan God was. Die groot apostel Paulus skryf ook: ‘Om seker te maak dat ek nie te veel van myself sou begin dink oor al die openbarings wat ek ontvang het nie, het God ‘n groot struikelblok oor my pad gestuur…’ (2 Korintiërs 12:7 DB).

Wat is jou struikelblok? ‘n Gewoonte waarteen jy veg? Vrees wat jou agtervolg? ‘n Moeilike verhouding? ‘n Finansiële tekort? ‘n Fisiese kwaal? Hoekom neem God dit nie weg nie? Omdat Hy enigiets wat jou meer afhanklik van Hom en minder afhanklik van jouself maak, as ‘n plus en nie ‘n minus sien nie.

Sielskos: Eseg 37:1-14; Matt 27:50-53; 1 Tess 4:13-18