2024-03-15
Galasiërs 6:9 NLV
Paulus skryf: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (vers 9 NLV). Kyk na die patriarg Job: hy het die begrafnisse van sy tien kinders bygewoon, sy gesondheid en rykdom op een dag verloor en moes luister na ‘n vrou met ‘n tong wat skerp genoeg was om deur die sterkste staal te sny. Tog het hy nie tou opgegooi nie. ‘…Job is ‘n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is…’ (Jakobus 5:11 NLV). Job het op die einddoel gefokus gebly en die onmiddellike omstandighede verduur.
Ja, daar is tye wat dit aanloklik lyk om tou op te gooi, wanneer ‘n nederlaag onvermydelik lyk en om die aftog te blaas na jou enigste opsie lyk. Die vraag is: hoe hanteer jy daardie tye? Op die drumpel van die Beloofde Land het God vir Josua gesê: ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen’ (Josua 1:9 NLV).
Die Israeliese staatsman David Ben-Gurion het opgemerk: ‘Dapperheid is ‘n spesiale tipe kennis, die kennis van hoe om te vrees wat gevrees moet word en hoe om nie te vrees wat nie gevrees behoort te word nie. Uit hierdie kennis kom ‘n innerlike krag wat ons inspireer om in die aangesig van groot moeilikheid voort te gaan. Wat onmoontlik kan lyk, is dikwels met dapperheid moontlik.’ Waar kom hierdie dapperheid vandaan? Deur die wete dat: ‘…Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen.’ Wanneer jy misluk – kan jy weer begin!
Sielskos: 2 Kon 11-12; Matt 23:29-24:2; Ps 135; Spr 7:21-23
2024-03-14
Daniël 1:8 AFR83
Kan jy jou indink om uit jou huis gevange geneem en na ‘n vyandige land weggevoer te word? Dit het met Daniël gebeur. Koning Nebukadnesar het sy land ingeneem en hom as slaaf na Babel toe geneem. Hy het sy huis, sy werk, sy vryheid, sy kultuur, sy vriende en sy status as lid van Israel se adel verloor. Hy moes ‘n vreemde taal leer praat en op ‘n plek bly waar hy nie wou wees nie.
As jy Daniël was, sou jy nie in die versoeking gekom het om op die dinge wat jy nie kon beheer nie te fokus, soos om ballingskap vir jou ongelukkigheid te blameer en jammer vir jouself te voel? Nie Daniël nie! Hy het beheer van sy lewe in klein areas geneem. Die Bybel sê: ‘Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie…’ (vers 8 AFR83). Hy het besluit om – selfs in klein dingetjies – volgens sy oortuigings te lewe. Dis belangrik, aangesien klein gevegte jou vir groot gevegte oplei! As Daniël nie beheer oor die klein dingetjies geneem het nie, sou hy nie die krag gehad het om nee vir die groot dinge, soos die aanbidding van afgode, te sê nie.
Miskien kan jy nie tans iets aan jou huis of jou werk of jou verhouding doen nie, maar jy kan jou lewe verander deur beheer oor die klein dingetjies te neem. Miskien sal dit, soos Daniël, behels wat jy eet, wat jy op die televisie of internet kyk, of wat by jou mond uitkom. Wanneer jy jouself voorneem om God in die klein dinge te eer, sal Hy jou seën en op maniere wat jy nooit gedink het moontlik is nie, by jou lewe betrokke raak.
Sielskos: 2 Kon 9-10; Matt 23:15-28; Ps 28; Spr 7:14-20
2024-03-13
1 Korintiërs 16:13 NLV
Jesus het gesê: ‘Julle is gelukkige mense wanneer ander mense julle beledig en slegte dinge doen aan julle omdat julle My dien. Julle is gelukkige mense wanneer hulle slegte stories oor julle vertel wat alles leuens is. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle baie bly wees, want in die hemel sal God vir julle baie goed wees…’ (Matteus 5:11-12 ABA).
As jou vel dun is sal die lewe vir jou moeilik wees, omdat jy ‘n maklike teiken vir die duiwel sal wees. Paulus is deur sy vriende verlaat, hy het lelike briewe van die Korintiërs gekry, hy is in Filippi mishandel, in Athene gespot en het uiteindelik gevangenskap in Rome beleef en is daar onthoof. Die Bybel gee ons vier beginsels om in oorwinning te lewe:
1) Wees op en wakker. Hoekom? Omdat jy ‘n teenstander het wat daarop uit is om jou uit te vang (sien 1 Petrus 5:8). Hy is agter die Godgegewe potensiaal wat hy weet binne-in jou lê, aan. Jy is ‘n saad wat in staat is om ‘n oes van seën te produseer.
2) Staan vas in wat julle glo. Jy kan nie op jou gevoelens, jou omstandighede of die opinies van ander mense staatmaak nie. Dit verander aanhoudend, dus moet jy vas op die Woord van God staan.
3) Wees moedig. Jy moet moedig en dapper te midde van die stryd wees. Dit is tyd om groot te word; as jy vyf-en-twintig jaar later steeds dieselfde foute maak, leer jy nie genoeg nie.
4) Wees sterk. Swakheid is ‘n uitnodiging aan die Vyand. Maar om op te hou is nie vir jou ‘n opsie nie. God het vir sy mense gesê dat die Beloofde Land hulle s’n was – maar hulle sou daarvoor moet veg. Jy sal ook moet!
Sielskos: 2 Kon 7-8; Matt 23:1-14; Ps 27; Spr 7:10-13
2024-03-12
Efesiërs 4:16 NLV
Jy het waarskynlik al gehoor dat die uitsig selde verander, tensy jy die voorste hond in die trop is. Die probleem is egter dat almal nie die leier kan wees nie. Dit is beter om ‘n werkende akteur te wees as ‘n ster wat werkloos is; ten minste kan jy in die toneelstuk wees! Boonop sal die meeste groot presteerders, as hulle eerlik is, vir jou sê dat hulle dit nie alleen kon doen nie; hulle het die bydraes van elke lid van die span nodig gehad.
As God jou dus vandag in ‘n ondersteunende rol geplaas het, aanvaar dit sonder om te kla. Doen jou deel om die hele produksie sterker te maak. Nie net sal jy alles oor spangees leer nie, jy sal ook die Christelike deug van nederigheid leer. Die Bybel sê ons sal: ‘…so in alle opsigte groei om soos Christus te wees… Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit… Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie…’ (verse 15-16 NLV).
Stort dus jou hart in jou deel in. Stop en dink oor hoe jy jou lewe leef. Gee jy dit jou alles, of hou jy terug in die hoop dat iemand anders jou talent sal raaksien? Dit gaan nie oor die grootheid van die deel waarvoor jy verantwoordelik is nie, dit gaan oor hoeveel inspanning jy daaraan bestee het. As God jou in ‘n ondersteunende rol in plaas van ‘n leiersrol geplaas het, is dit omdat Hy weet dat die span jou spesifieke sterkpunte en talente nodig het. Vra Hom om jou te help om die rol wat Hy vir jou gegee het te aanvaar – wat dit ook al mag wees – en leer om dit met dankbaarheid en waardigheid te vervul. Maak ‘n bydrae van waar jy ook al vandag is.
Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 22:34-46; Ps 112; Spr 7:6-9
2024-03-11
Genesis 33:5 NLV
Weens die egskeidingsyfer vandag, beide binne die kerk en daar buite, raak paartjies verlief en staar die uitdaging in die gesig om twee gesinne in een te verander. Hier is ‘n paar van daardie uitdagings: besoekregte, hofingryping en betrokkenheid van die voormalige skoonouers. Voeg daarby ‘n berg papierwerk en wetlike spesifikasies en dit is soos om ‘n internasionale vredesverdrag te beding.
Jy het gekies om met jou nuwe eggenoot te trou, maar jou kinders het nie daardie keuse gehad nie. Dit is dus nie genoeg om hulle onder een dak saam te bring en te sê: ‘Wees mooi met mekaar,’ nie. Hulle wêreld is op sy kop gekeer en jy moet hulle tyd gee om die situasie te verwerk en hulle plek in die nuwe omstandighede te vind. ‘Die liefde sal al ons probleme oorkom,’ is ‘n mooi gedagte, maar dis nie waar nie. Jy sê: “Maar die Bybel sê: ‘Die liefde sal nooit vergaan nie…'” (1 Korintiërs 13:8 NLV). Ja, maar dit sê ook: ‘Die liefde is geduldig en vriendelik…’ (vers 4 NLV).
Jy gaan ‘n berg geduld en vriendelikheid nodig hê om die situasie te maak werk. Dus:
1) Berei jouself en jou kinders vir die veranderinge wat gaan plaasvind, voor.
2) Luister na jou kinders se vrese, sonder om te sê: ‘Moenie laf wees nie, alles sal uitwerk.’ Vir so lank as wat hulle nodig het om daaroor te praat, so lank moet jy na hulle luister.
3) Bid, bid, bid! Vra God om vir jou sy plan te gee om hierdie samevoeging so pynloos en stresvry as moontlik te maak. Jou nuwe maat mag dalk aan jou persoonlike behoeftes vir liefde en sekuriteit voldoen – maar onthou dat jou kinders dieselfde behoeftes het.
Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Matt 22:15-33; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5
2024-03-10
Romeine 12:3 NLV
‘n Ou, moeë hond het by ‘n vrou se erf ingestap. Sy kon aan sy voorkoms sien dat hy uit ‘n goeie huis kom. Hy het haar by die huis in gevolg en dadelik aan die slaap geraak. Twee ure later, het hy na die deur toe gestap en sy het hom uitgelaat. Die volgende dag het hy teruggekeer, weer sy posisie ingeneem en vir ‘n paar uur geslaap. Dit het vir ‘n week so aangegaan. Die vrou was nuuskierig en het ‘n nota aan sy halsband vasgemaak: ‘Jou hond kom elke middag na my huis toe vir ‘n middagslapie.’ Die volgende dag het die hond met ‘n nota opgedaag: ‘Hy lewe in ‘n huis saam met tien kinders – lyk my hy het bietjie alleentyd nodig. Kan ek môre saam met hom kom?’ As jy ‘n ma is, kan jy jou hiermee vereenselwig!
Carla Barnhill, die outeur van The Myth of the Perfect Mother, skryf: ‘Ek kan dit nie meer doen nie. Ek kan nie aanhou om SuperMa te probeer wees nie. Ek het probeer om die perfekte kombinasie van toegewyde ma, liefdevolle vrou en goeie Christen te wees… en ek het klaaglik misluk. Selfs al kon ek dit alles regkry, is ek nie oortuig dat enigeen van ons dit moet regkry nie. Ons hoef nie indrukwekkend te wees of ‘n paar willekeurige reëls te volg oor hoe moederskap moet lyk nie. Genade beteken dat ons reeds vir die Een wat die meeste saak maak, saak maak – ons goeie, liefdevolle en genadige God! Kom ons los dus ons mantels, sit ons stralekranse neer, pak ons medaljes weg en laat ons die soms gebrekkige, soms wonderlike mammas wees wat God ons gemaak het om te wees.’
Met ander woorde: ‘…jy [moet] jouself nugter… beoordeel…’
Sielskos: Eks 20:17; 2 Kon 5:1-27; Pred 5:10; Luk 12:13-31