Praat die waarheid
2024-05-03Spreuke 12:22 NLV
Is jy in ‘n situasie waar dit lyk asof om te lieg die enigste oplossing is? Tensy jy ‘n probleem tussen jouself en God wil skep – moet dit nie doen nie! ‘Die Here verafsku mense wat hulle woord breek. Hy hou van mense wat by hulle woord staan.’ Wanneer jy ‘n leuen vertel, maak jy God, jouself en ander mense seer. ‘…Die valsheid van onbetroubare mense bring hulle ondergang’ (Spreuke 11:3 NLV). Leuens het altyd die volgende gevolge:
1) God hoor jou. Wanneer jy besluit om te bid, is die laaste ding wat jy wil bespreek die eerste ding wat Hy met jou wil bespreek; naamlik, jou oneerlikheid!
2) Dit steel jou selfvertroue voor God. Die Bybel sê: ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:21-22 NLV).
3) Jy loop die risiko om uitgevang te word. Onthou: ‘Die waarheid hou vir altyd; die leuen kom gou aan die lig’ (Spreuke 12:19 NLV). Wanneer mense agterkom dat jy gelieg het, verloor hulle respek vir jou, hulle vertroue in jou word geskend en jou reputasie waaraan jy al jare bou, kry ‘n knou waarvan dit moontlik nie kan herstel nie.
Paulus skryf: ‘Julle het tog van Hom gehoor… Julle het tog die waarheid oor julle verhouding met Jesus geleer, naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek… Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is… Gevolglik moet julle ophou leuens vertel en die waarheid teenoor mekaar praat…’ (Efesiërs 4:21-25 NLV).
Sielskos: Deut 3-4; Mark 6:7-13; Ps 2; Spr 11:22-23