Kom van die kantlyn af
2024-05-02Levitikus 23:22 NLV
Onder die wet in die Ou Testament, het God die Joodse boere beveel: ‘Wannneer julle julle lande oes, moenie die graan aan die kante van die lande ook oes nie… Los dit vir die armes en die vreemdelinge wat tussen julle woon…’ (vers 22 NLV). Rut het aan die kant van ‘n stuk landery wat deur ‘n ryk man genaamd Boas besit is, gewerk. Toe Boas vir Rut sien, het hy haar van die kantlyn af geroep na die middel van sy landerye toe. Hy het ook sy werkers beveel om are met opset op die grond te laat val sodat sy dit maklik sou kon optel (sien Rut 2:16).
Daar is ‘n les hieruit te leer. Een oomblik van God se guns kan jou lewe verander. Hy kan dit doen deur iemand wat Hy alreeds daarvoor voorberei het, iemand wat jy nog nie eers ontmoet het nie. Rut het dit nie geweet nie, maar omdat Boas aan haar skoonma Naomi verwant was, het dit hom as haar losser – iemand wat haar skuld sou kon delg, vir haar sorg en aan haar behoeftes kon voldoen – geposisioneer (sien Rut 3:1-9).
Jesus het gesê: ‘So sal jou hulpbetoon geheim bly, en jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon’ (Matteus 6:4 NLV). Wees verseker, God het jou nie misgekyk nie. Ander mense mag dalk nie jou getrouheid raaksien nie, maar Hy doen en Hy sal jou daarvoor beloon. ‘God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie; hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle mede-Christene gedien het en dit nog steeds doen nie’ (Hebreërs 6:10 NLV). Een van die dae gaan God vir jou sê: ‘Kom van die kantlyn af!’
Sielskos: Deut 1-2; Mark 6:1-6; Ps 35; Spr 11:19-21