Die sewe-dag-uitdaging

2024-03-09
Filippense 2:14 NLV

Sommige kankers, soos velkanker, is meer opmerklik en jy kan dit laat verwyder. Dan is daar die soort wat onopgemerk groei en jou liggaam vernietig. Om te kla is dieselfde; dit beïnvloed jou gesondheid en saboteer jou sukses. Paulus sê: ‘Doen alles sonder kla of teëpraat.’

Dr Ann Shorb skryf: ‘As jy jouself bevind waar jy negatief en af voel, begin luister na dit wat rondom jou gesê word. Word daar baie gegrom en gekla? Is die mense saam met wie jy tyd bestee gedurig besig om uitdrukking aan ontmoedigende gedagtes en gevoelens te gee? Miskien is jy die een wat grom en kla. Baie keer word ons ons eie grootste vyand deur ‘n kwaai of bitter houding te ontwikkel. Jou gedagtes en houding is jou keuse. Jou gedagtes is jou verantwoordelikheid! Volg die riglyne wat Paulus gegee het om die negatiewe af te gooi en die positiewe aan te trek (sien Kolossense 3:1-15 en Efesiërs 4:20-32). Erken dat daar probleme is, maar moenie daarby stilstaan nie. Doen wat jy kan om die situasie reg te stel. Onthou, jy kan nooit ‘n ander persoon verander nie, jy kan slegs jouself en jou houding verander. Vind die positiewe dinge, fokus daarop en wees dankbaar dat God beloof het om deur die moeilike tye by jou te wees. Deur jou denke te verander, verander jy jou uitkyk en deur jou uitkyk te verander, verander jy jou lewe.’

Vir een mens lyk die wêreld wanhopig; vir ‘n ander lyk dieselfde wêreld ryk en interessant. Wat jy sien, hang hoofsaaklik af van waarna jy soek. Besluit om vir ‘n dag nie te kla nie. Daag jouself dan uit om vir ‘n week nie te kla nie. Jy sal verbaas wees hoeveel beter jy voel.

Sielskos: Op 19-22; Matt 22:1-14; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2

Moenie ‘n beheervraat wees nie!

2024-03-08
Romeine 12:10 NLV

Raak jy ontsteld wanneer jy nie ander mense kan beheer nie? Of raak jy buierig en geïrriteerd wanneer mense nie doen wat jy wil hê nie? Hoe reageer jy wanneer jou foute uitgewys word? Probeer jy mense forseer om aan jou eise te voldoen? Oordryf jy jou pyn, siekte of behoeftes sodat jy aandag of simpatie by ander kan kry? Kritiseer jy die opinies en keuses van ander en dink jy jy is beter as hulle? Raak jy kwaad en beledigend wanneer iemand van jou verskil of jou gesag uitdaag? Is jy onwillig om ander mense te komplimenteer, maar gou om iets wat jy dink verkeerd is met hulle te probeer regmaak? Probeer jy om ‘n wig tussen jou geliefdes en enigiemand wat naby aan hulle kom, te dryf? Gee jy ‘bevele’ aan diegene met wie jy in aanraking kom, eerder as om mooi ‘asseblief’ en ‘dankie’ te sê?

As jou antwoord op hierdie vrae ja is, is die woord vir jou vandag – moenie ‘n beheervraat wees nie! Die Bybel sê: ‘As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer’ (vers 10 NLV). Dit beteken dat jy moet stop en oorweeg hoe jou gedrag ander mense affekteer. Jy sê: ‘Ek het maar net ‘n sterk persoonlikheid.’ Jammer, dis nie ‘n goeie verskoning nie! ‘Die Here se diensknegte… moet goedgesind teenoor almal wees…’ (2 Timoteus 2:24 NLV). As jy dus ‘n beheervraat is, begin jou gedrag verander!

As jy jouself egter toelaat om beheer te word omdat jy bang vir woede en verwerping is, is dit tyd om jou voet neer te sit. Wanneer die beheervraat besef dat jy dit nie langer gaan toelaat nie, sal hulle ophou om dit te doen.

Sielskos: Op 15-18; Matt 21:33-46; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35

Kom uit die skuld en bly daaruit!

2024-03-07
Spreuke 22:7 NLV

Dis nie toevallig dat hierdie twee Skrifgedeeltes op mekaar volg nie: ‘Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie. Soos rykes oor armes heers, so is die man wat geld leen; Hy is die slaaf van die man by wie hy leen’ (verse 6-7 NLV). Dis in die haak om geld vir jou kind se studies, ‘n bekostigbare huis en ‘n betroubare kar te leen. Andersins, tensy jy vir iets kan betaal – leer om te wag!

Jesus het gesê: ‘…As enigeen van julle my dissipel wil word, moet jy jou selfsugtige ambisie aflê, elke dag jou kruis opneem en My volg’ (Lukas 9:23 NLV). Ons is nie baie goed daarmee om onsself die dinge wat ons wil hê, te ontsê nie. Tensy jy egter wil hê dat jou kinders jou skuld moet erf, self met skuld moet opeindig en die beginsel van onmiddellike bevrediging aan hulle kinders moet oordra, moet jy nou die siklus breek.

Kom uit die skuld en bly daaruit! Sê: ‘Here, ek gaan nie meer verskonings maak nie. Ek neem verantwoordelikheid vir die gemors waarin ek myself bevind. Ek het te veel spandeer, u beginsels van goeie rentmeesterskap geïgnoreer en ek het berou. Gee my die moed om my skuld in die gesig te staar en ‘n eerlike opname te maak van waar ek staan. Moet my nie toelaat om in ontkenning te leef nie. U het ons gewaarsku om nie onkundig oor Satan se taktieke te wees nie (sien 2 Korintiërs 2:11 NLV). Hy probeer my in finansiële slawerny hou. Help my om op te hou om bykomende skuld te maak. Verlos my van emosionele besteding. Asseblief, help my om uit die skuld te kom. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Op 10-14; Matt 21:18-32; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31

Jy het God se hulp nodig

2024-03-06
Johannes 15:5 NLV

Selfhelp boeke en motiveringsprekers is soos rasieleiers wat op die kantlyn staan en skree: ‘Jy kan dit doen!’ Hulle kan behulpsaam wees, maar as die ‘jy kan dit doen’ filosofie altyd waar was, sou ons nie vir God nodig gehad het nie. Paulus het dit verstaan. Dis hoekom hy geskryf het: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV).

Om die wil van God te ontdek, verg geloof in die onmoontlike en ‘n kinderlike afhanklikheid van Hom. Die Bybel is vol mans en vrouens wat hul roeping in die perfekte wil van God ontdek het, deur dinge te doen wat gewoonlik onmoontlik op hul eie sou wees. Byvoorbeeld:

1) Noag en sy onmoontlike projek. Noag is opdrag gegee om ‘n skip die grootte van ‘n vliegdekskip – met die hand en op land – te bou!
2) Abraham en sy onmoontlike belofte. God het vir hom toe hy negentig jaar oud was gesê dat sy kinders so baie soos die sterre aan die hemelruim en die sand van die see sou wees.
3) Maria en haar onmoontlike swangerskap. Verbeel jouself jy moet vir jou verloofde sê: ‘Ek is swanger en die baba se vader is die Heilige Gees.’

God het nog altyd gewone mense gekies om ongewone dinge te doen. Elkeen van hulle was geroepe om deel van iets groters as sy- of haarself te wees. As gevolg van hulle gewilligheid om aan God oor te gee en toe te laat dat sy doelwitte in hulle geopenbaar en deur hulle vervul word, het Hy hulle op wonderbaarlike wyses gebruik. God vind behae daarin om dinge deur ons te doen wat slegs Hy kan doen, sodat Hy op die ou einde al die glorie, eer en lofprysing ontvang.

Sielskos: Op 5-9; Matt 21:1-17; Ps 77; Spr 6:29

You need God’s help


John 15:5 NKJV

Self-help books and motivational speakers are like cheerleaders standing on the sidelines shouting, “You can do it!” They can be helpful, but if the “you can do it” philosophy always held true, we wouldn’t need God. Paul understood this. That’s why he wrote, “I can do all things through Christ who strengthens me” (Philippians 4:13 NKJV).

Discovering the will of God requires faith for the impossible and a childlike dependence on Him. The Bible is full of men and women who discovered their destiny in the perfect will of God by doing things that would ordinarily have been impossible to do on their own. For example:

(1) Noah and his impossible project. Noah was commissioned to build a ship the size of an aircraft carrier – by hand – and on land!
(2) Abraham and his impossible promise. At ninety, after years of trying unsuccessfully to be a father, God told him his children would be as numerous as the stars in the sky and the sands of the sea.
(3) Mary and her impossible pregnancy. Imagine telling your husband to be, “I’m pregnant, and the baby’s father is the Holy Spirit.”

God has always chosen ordinary people to do extraordinary things – and they all had something in common. Every one of them was called to be part of something bigger than himself or herself. And because of their willingness to yield to God and allow His purposes to be revealed in them and fulfilled through them, He used them in amazing ways. God takes pleasure in doing things through us that only He can do, so that in the end, He will receive all the glory, honour, and praise.

Soul food: Rev 5-9; Matt 21:1-17; Ps 77; Prov 6:29

Hoe om moeilike mense te hanteer

2024-03-05
Matteus 5:41 NLV

Jesus het gesê: ‘As ‘n soldaat jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer ver.’ Romeinse soldate was toegelaat om ‘n Jood te dwing om hulle bagasie een kilometer ver te dra. Hulle het Jode as ‘n stuk gereedskap om te gebruik gesien.

Wat sou jy in so ‘n tipe situasie gedoen het? Jesus raai ons aan om die mindere te wees. ‘n Romeinse soldaat soos hierdie kon heel waarskynlik ‘n jong seun, ‘n vreemdeling en waarskynlik self arm, wees. Wanneer jy dan die kilometer klaarmaak, sê jy: ‘Jy lyk moeg. Kan ek jou nog help? Kan ek dit vir jou nog ‘n kilometer dra?’ Dit sou die soldaat verstom. Dis egter wat jy geroep word om te doen.

Wanneer iemand jou uitbuit, wil jy aan hulle as onaangenaam, eerder as ‘n regte persoon met hulle eie verhaal, dink. Daar word vertel dat ‘n vriend die Engelse skrywer Charles Lamb aan ‘n man wat Lamb vir ‘n lang ruk op ‘n afstand gehaat het, wou voorstel. ‘Moenie my dwing om hom te ontmoet nie,’ het Lamb gesê. ‘Ek wil aanhou om hom te haat en ek kan dit nie doen aan ‘n man wat ek ken nie.’

Verstaan die volgende: Jy kan die gawe van empatie gee. Jy kan onthou dat die persoon van wie jy nie hou nie, ook ‘n mens is. Jy kan jouself in sy skoene plaas. Jy kan die tyd neem om jou in te dink hoe hy voel, waardeur hy is en hoe die lewe hom behandel het. Wanneer jy dit doen, word jou probleem ‘n geleentheid om die Christelike lewe uit te oefen. Is dit nie wat jy wil hê nie? Is dit nie waarom jy jou in die eerste plek bekeer het nie?

Sielskos: Op 1-4; Matt 20:17-34; Ps 70; Spr 6:26-28