Goddelike idees

2024-03-04
1 Kronieke 28:11-12 NLV

Die eerste Joodse tempel word as een van die argitektoniese wonders van die antieke wêreld beskou. Die projek, wat in die tiende eeu vC gebou is, was so groot dat Salomo dertigduisend houtkappers en tagtigduisend klipkappers in diens gehad het. Meer as drieduisend voormanne het die sewe jaar lange projek bestuur. Die tempel was die episentrum van die Joodse geloof. Dit was die plek om offers te bring. Dit was die plek van aanbidding. Dit was die plek waarheen pelgrimstogte onderneem is.

Tog was die tempel eers net ‘n deel van Dawid se verbeelding. Die kumulatiewe geskiedenis van die Joodse tempel kan na ‘n idee in die gedagtes van koning Dawid teruggevoer word. Dit was egter nie Dawid se idee nie. ‘Toe het Dawid aan sy seun Salomo die planne gegee vir die voorportaal van die tempel, die ander geboue, die skatkamers, die bovertrekke, die binnevertrekke, die vertrek van die versoendeksel en van alles wat hy in gedagte gehad het…’

Die Gees het Dawid van hierdie planne voorsien. Ons het geen idee hoe God die planne vir Dawid gegee het nie. In ‘n PDF dokument? Geestelike beelde? Gedetailleerde sketse? Een ding is egter seker: Die planne van die tempel is nie in Dawid se gedagtes vervaardig nie; hulle het hulle oorsprong in God se Gees gehad. Die tempel was nie net ‘n goeie idee nie, dit was God se idee.

Vra dus vir God vir ‘n idee. Bid vir ‘n plan. Hoekom? Om twee redes. Eerstens omdat die Bybel sê: ‘Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee’ (Psalm 37:4 NLV). Tweedens, wanneer iets sy oorsprong in God se Gees het, sal dit sekerlik slaag.

Sielskos: 1 Kon 21-22; Matt 20:1-16; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25

Wat jy in die hemel gaan doen

2024-03-03
Openbaring 21:1 NLV

Miskien is die rede hoekom baie van ons nie so opgewonde oor die hemel is as wat ons moet wees nie, omdat ons vertel is dat ons gaan rondstaan en harpe speel, liedjies sing en God vir ewig gaan aanbid. Dink daaroor. Wanneer die gesange en gebede in die gemiddelde diens op ‘n Sondagoggend langer as vyftien minute aanhou, raak baie mense verveeld. Wanneer ons dan hoor dat ons dit sonder ophou, vier-en-twintig uur ‘n dag, vir ewig in die hemel gaan doen, verstaan mens hoekom ons dit nie kan indink of opgewonde daaroor is nie.

Daar is egter meer as een manier om God te aanbid. Sterrekundiges skat dat daar honderde biljoene sterrestelsels bestaan, meer as tien sterrestelsels vir elke persoon wat vandag lewe! Jy sal dus nie uit dinge hardloop om in die hemel te doen nie en dit sal vir seker nie vervelig wees nie. Dit het biljoene mense duisende jare geneem om ‘n enkele klein planeet te verken en ons het nog kwalik ‘n duik op die oppervlak gemaak.

Om die wonders van die nuwe hemel en die nuwe aarde te verken, sal ons vir ewig geïnteresseerd hou. Ons liefde vir God sal as gevolg daarvan ook oneindig groter word. Ons sal dus nooit ophou om Hom te aanbid nie. Jesus het vir die vrou by die put gesê dat God die mense verkies wat ‘…die Vader in Gees en waarheid sal aanbid…’ (Johannes 4:23 NLV).

As jy uit onkunde aanbid, is aanbidding leeg. God wil nie net hê dat jy Hom moet aanbid nie; Hy wil hê dat jy weet Wie jy aanbid en hoekom jy Hom aanbid. Aanbidding is tweevoudig: ‘…in Gees en waarheid…’ Om die waarheid oor God te leer sal jou vir ewig besig, opgewonde, tevrede en vervuld hou.

Sielskos: Eks 20:16; Spr 24:28; Matt 5:33-37; Hand 5:1-11

Sukkel jou besigheid?

2024-03-02
Psalm 46:2 NLV

Wanneer jou besigheid besig is om te misluk, kan jy jou gevoel van sekuriteit, jou gemoedsrus en jou vermoë om te slaap, verloor. Dit kan selfs jou familie affekteer. As dit is waar jy vandag is, lees die volgende woorde: ‘God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help.’

Laat jou gedagtes vir ‘n oomblik gaan en dink aan die volgende: Alles wat jy het, insluitend jou besigheid, behoort aan God, nie waar nie? Hy is die eienaar, jy is die bestuurder. Wanneer moeilikheid dus opdaag, het jy die reg (en die verantwoordelikheid) om na Hom te gaan vir hulp en te verwag dat Hy dinge vir jou sal omdraai. Toe niemand vis gevang kon kry nie, het Jesus vir hulle gesê waar om hulle nette uit te gooi.

Die Bybel sê dat niks te moeilik vir God is nie (sien Jeremia 32:27), en dit sluit jou probleem en die situasie waarin jy jou tans bevind, in. Die skrywer van Spreuke sê: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV). Hy kan jou lei deur die raad van ‘n vriend wat sukses behaal waar jy misluk: ‘Sonder beraadslaging loop planne skeef. Sukses is afhanklik van baie raadgewers’ (Spreuke 15:22 NLV).

Soms verg dit dat jy jou beleide, produkte of personeel moet verander – en dit verg moed en toewyding. As jy egter jou besigheid op ‘n fondament van integriteit, regverdigheid, kwaliteitprodukte en goeie diens gebou het, het jy die reg om na God in moeilike tye te gaan, vir sy hulp te vra en te verwag dat jy dit sal ontvang.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Matt 19:15-30; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22

Reageer met liefde

2024-03-01
1 Petrus 3:9 NLV

Sommige van die negatiewe mense in jou lewe het ‘n gebrek aan intieme verhoudings. Dus hou hulle ander mense op ‘n afstand, deel nie maklik hulle gevoelens nie en is ongemaklik met mense wat dit wel doen. Hulle vind dit makliker om te veroordeel as om te aanvaar. Hulle sienswyse maak hulle onbuigsaam. Dikwels kan hierdie mense nie vryheid hanteer nie. Deur dit te verstaan sal jou help om hulle op die regte manier te hanteer.

Petrus gee ons riglyne hoe om dit te doen. (Interessant genoeg is dit nou die ouer, sagter, meer geestelike Petrus, nie die een wat sy swaard uitgepluk en die oor van die hoëpriester se dienaar afgekap het nie, wat hierdie riglyne gee). “‘n Laaste woord hieroor: Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ‘n seënwens wees. Dít is waarvoor God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën. Want die Skrif sê: ‘As jy die lewe wil liefhê en goeie dae wil beleef, moet jy jou tong weghou van kwaadpraat en jou lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af, ja, doen wat goed is. Soek vrede, ja, jaag dit na! Die Here sorg vir dié wat reg doen, en Hy luister na hulle gebede. Maar die Here is teen dié wat kwaad doen'” (verse 8-12 NLV).

Die Woord vir jou vandag is dus – moenie weerwraak neem nie, reageer met liefde.

Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Matt 19:1-14; Ps 61; Spr 6:16-19

Laat God jou omvorm

2024-02-29
2 Korintiërs 5:17 NLV

Wat sal jy graag aan jouself wil verander? Hoe sou jy dit verander? Wat sou jou eggenoot graag wou hê jy moet verander? Hoe sou jy die sin: ‘Dis tipies van my om….’ voltooi? Altyd laat te wees? Nie op ‘n dieet te bly nie? Die verkeerde ding te sê? In woede uit te bars? Hartseer te wees? Jeremia stel dit so: ‘…Kan ‘n luiperd sy kolle laat verdwyn? Dink julle miskien dat julle skielik kan begin goeie dinge doen nadat julle gewoond was om kwaad te doen?’ (Jeremia 13:23 NLV). Jy sê: ‘Dan is dit seker hopeloos.’ Nee, dis waar God se lewensveranderende krag inkom. ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV).

Wanneer ons ons lewens aan Christus toewy, is ons nie meer dieselfde nie; ‘n nuwe lewe het begin. Dis hoekom die Bybel sê dat ons ‘wedergebore’ is. Ons het onmiddellik ‘n nuwe gesindheid, sowel as die inwonende Heilige Gees. Dit maak die verskil. Net soos jou eerste geboorte die begin van jou lewe was, so is die nuwe geboorte die begin van hierdie nuwe lewe.

Dit word deur ‘n lewenslange proses wat in Romeine 12:2 uitgebeeld word, gevolg: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (NLV).

Sielskos: 1 Kon 15; Matt 18:15-35; Ps 96; Spr 6:12-15

Verander hoe jy bid

2024-02-28
Efesiërs 1:15-16 NLV

Bybelse gebede is kragtig. Hulle plaas dinge in perspektief. Paulus het byvoorbeeld gebid vir die Efese dat: ‘…die Vader… aan julle geestelike wysheid en insig sal gee deurdat julle Hom persoonlik ken. Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou… Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo’ (verse 17-19 NLV).

JoHannah Reardon skryf: ‘1) Maak jou gebede God-gesentreerd. Die skepper van die heelal het jou die voorreg gegee dat jy jou versoeke na Hom kan bring. Wanneer jy vir God vertel hoe groot Hy is, word jy met ‘n verwagting vervul dat iets groot kan gebeur, omdat jy met die Een wat enigiets kan doen, praat.

2) Maak jou gebede vol lofprysing. Die sleutel is nie om op jou probleme te fokus nie, maar om God te dank en te prys omdat Hy weet wat Hy doen. Leer om te sê: ‘Ek weet nie hoekom ek hierdie probleem het nie, Here, en ek sal graag wil hê dat U dinge verander. As U dit egter nie verander nie, weet ek dat U dit ten goede in my lewe sal gebruik.’

3) Maak jou gebede lewensveranderend. Die meeste van ons gebede vra God om ons omstandighede te verander. Miskien wil Hy egter vir jou verander. Dit beteken nie dat Hy nooit tussenbeide sal tree nie; Hy voorsien aan behoeftes, maak deure oop en genees mense elke dag op wonderbaarlike maniere. Wanneer jy egter jare bestee om te bid vir iets wat nooit gebeur nie, mag dit dalk ‘n leidraad wees dat jy nie op die regte manier bid nie. Paulus het vreugde in ‘n tronksel gevind en wanneer God jou oë oopmaak, sal jy ook vreugde in jou situasie vind.’

Sielskos: 1 Kon 14; Matt 18:1-14; Ps 58; Spr 6:10-11