God weet wat die beste vir jou is

2024-04-22
Spreuke 19:21 NLV

Daar is ‘n spreekwoord wat sê dat die duiwel in die detail is. Vir ‘n verloste kind van God, is Hy egter in die detail! Wanneer jy jou hart op iets sit en dit gebeur nie, is dit menslik om teleurgesteld te voel. Jy moet die volgende in sulke oomblikke in gedagte hou:

1) Jy werk altyd met beperkte informasie. Jy mag dalk weet wat die eindresultaat is wat jy begeer, maar God weet wat die beste vir jou is en beplan daarvolgens. ‘Ek is God… Ek maak die einde bekend vanaf die begin… Wat Ek besluit, voer Ek uit. Wat Ek wil, doen Ek’ (Jesaja 46:9-10 NLV).

2) Om buite God se wil te probeer werk, is soos om ‘n gat met ‘n vurk deur ‘n soliede muur te probeer grawe. Jy grawe jouself in ‘n tronk in wanneer jy daarop aandring om te kry wat jy wil hê. Wil jy regtig ‘n plan uitvoer wat God nie goedgekeur het nie? Kan jy op Hom staatmaak om te weet wat die beste vir jou is? ‘Die Here die Almagtige het besluit, en wie sal sy planne kan verander? Wanneer sy hand beweeg, wie kan dit terugbring?’ (Jesaja 14:27 NLV).

Dis beter om tydelik teleurgesteld te wees as om met iets wat jy nie kan hanteer nie, op te eindig. Israel se verhaal is as volg: ‘Uit die vyand se mag het Hy hulle gered… Toe eers het Israel sy beloftes geglo en het hulle sy lof besing. Tog het hulle gou sy dade vergeet en nie op sy leiding gewag nie… In die wildernis het hulle God se geduld beproef. Hy het gegee wat hulle gevra het, maar ook ‘n ongeneeslike siekte’ (Psalm 106:10, 12-15 NLV). Vertrou op God en Hy sal vir jou die beste gee.

Sielskos: Hand 10-11; Mark 4:1-9; Ps 103:1-12; Spr 10:27-29

Kies ‘n leier

2024-04-21
Matteus 15:14 NLV

Daar is baie goeie leiers om ons – moenie bang wees om hulle te volg nie. Wat egter van die ‘blinde gidse’ waarvan Jesus praat? Hier is ‘n paar tekens om jou te help om hulle te identifiseer en te vermy.

1) Onbuigbaarheid. Ware leiers het ‘n onderrigbare en diensbare gees. Hulle verbly hulself in jou groei en word nie deur jou ontwikkeling bedreig nie.

2) Meerderwaardigheid. Wees bedag vir ‘n ‘slegs-ons-is-reg’ houding. Wanneer iemand nie ander lede van God se familie kan erken en saam met hulle kan werk nie, is iets verkeerd.

3) Gierigheid. Hier is God se standaard vir leierskap: ‘…nie om julleself finansieel te verryk nie, maar omdat julle graag in God se diens staan’ (1 Petrus 5:2 NLV). Die Bybel sê dat goeie leiers ‘…behoort dubbele erkenning te kry…’ (1 Timoteus 5:17 AFR83). Wees egter op jou hoede vir leiers wat sê dat jy slegs in hulle veld en nêrens anders nie, moet saai.

4) Verantwoordbaarheid. Pasop vir die onaantasbare, ‘Ek-is-God se gesalfde’ tipes. Maak nie saak hoe talentvol ons is nie, ons almal het blinde kolle en moet van tyd tot tyd gekonfronteer en aangespreek word. Salomo het gesê: ‘…Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie’ (Prediker 4:10 NLV). Hier is wat Jesus oor die godsdienstige leiers van sy tyd te sê gehad het: ‘…Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word. Ignoreer hulle. Hulle is blinde gidse wat blindes wil lei. As een blinde vir ‘n ander blinde gids wil speel, beland hulle al twee in die sloot’ (Matteus 15:13-14 NLV). Wanneer jy ‘n leier kies, het jy nie ‘n blinde prima donna nodig nie; jy het een met ‘n diensbare gees nodig.

Sielskos: Gal 5:22; 2 Pet 3:3-15; Matt 5:39; 1 Sam 25:1-42

Snoer jou mond!

2024-04-20
Jakobus 3:2 NLV

Die Bybel sê baie oor die gevare van die tong. Jakobus wy ‘n hele hoofstuk aan hierdie onderwerp toe: ‘…Maar ‘n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry.’ Dit is ‘n aspek van selfbeheersing om nogal te oorweeg! Die Griekse wysgeer Publius het gesê: ‘Ek het al dikwels my woorde berou, maar nog nooit my stilte nie.’ Die skrywer William Edward Norris het geskryf: ‘As jy jou lippe van glipse wil bewaar, let vyf dinge versigtig op; met wie jy praat, van wie jy praat, hoe, wanneer en waar.’

Koning Dawid stel dit as volg: ‘Ek het gedink dat ek baie goed moet kyk hoe ek leef, want ek wil nie verkeerde dinge sê en so sonde doen nie. Voordat ek praat, sal ek eers mooi dink wat ek sê…’ (Psalm 39:2 DB). Dawid sê dat mens ‘n bewuste besluit moet maak om jou woorde te tel. As jy dit wil doen, is daar drie beginsels waarvolgens jy moet lewe:

1) Dink eerste. Voor jy praat, dink vir tien sekondes en oorweeg eers jou woorde. Is hulle akkuraat of oordrewe? Vriendelik of snydend? Nodig of onnodig? Dankbaar of klaend? Wat jy vandag nie sê nie, hoef jy nie môre oor verskoning te vra nie.

2) Praat minder. Jou kanse om in die moeilikheid te kom neem eksponensieel toe wanneer jy te veel praat. Dis hoekom kompulsiewe praters dit dikwels moeilik vind om vriende te behou. Bewaar jou verbale energie.

3) Begin vandag. Jy het reeds genoeg gelees om jou te help om jou tong in bedwang te hou. Snoer dus vandag jou mond – en kyk hoe dit jou lewe verryk.

Sielskos: Hand 8-9; Mark 3:28-35; Ps 130; Spr 10:24-26

Vind selfwaarde

2024-04-19
Matteus 6:33 NLV

Wanneer jy God se Woord lees, ontdek jy hoe Hy oor jou voel. Gevolglik begin jou herinneringe genees, jou selfwaarde word herstel en jy hou op om met ‘n minderwaardige selfbeeld handel te dryf. Wanneer dit gebeur, glo jy nie meer dat enigiemand anders se geselskap bo jou eie verkiesliker is nie. In ‘n opname van vermeende gelukkige paartjies, het meer as 50 persent gesê dat hulle nie weer met dieselfde persoon sal trou nie. Hoekom nie? Omdat die antwoord op eensaamheid nie mense is nie, maar doelgerigtheid!

Die apostel Johannes was ‘n gevangene op die eiland Patmos toe God vir hom die heerlikheid van die hemel gewys en hy die boek Openbaring geskryf het. Paulus was alleen in ‘n Romeinse kerker toe hy die helfte van die Nuwe Testament geskryf het. God het sommige van sy beste werk gedoen toe Hy alleen was met niemand wat Hom kon loof nie, dus het Hy Homself geprys en gesê: ‘…dit was goed in elke opsig…’ (Genesis 1:31 NLV). Kan jy dit doen?

Dis lekker wanneer ander mense mooi dinge van jou sê, maar wanneer jy mooi van jouself kan praat, reflekteer dit jou opinie van jouself – en dis die opinie waarmee jy elke dag moet saamleef. Iewers anderkant eensaamheid is daar ‘n tevredenheid wat uit nood gebore word. Werk dus daaraan om jou verhouding met God te verdiep. Wanneer jy dit doen, sal jy vreugde vind en ook kwaliteite wat jou vir die regte mense aantreklik maak, ontwikkel. Dis hoekom Jesus gesê het dat wanneer ons: ‘…die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit [maak]; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ – insluitend selfwaarde.

Sielskos: Hand 6-7; Mark 3:20-27; Ps 75; Spr 10:22-23

Gebruik die gawe wat God jou gegee het

2024-04-18
1 Korintiërs 12:18 NLV

‘n Gerespekteerde Bybelonderwyser sê: “Omdat my familie so groot is, trek ons name om te besluit vir wie ons geskenke gaan koop. Een Kersdag toe ek my geskenk oopmaak, was ek teleurgesteld. Toe het ek na my tweelingbroer gekyk, wat twee oulike geskenke gekry het. My vrou het agtergekom dat ek teleurgesteld was en vir my gesê: ‘Moenie bekommerd wees nie. Wanneer ons by die huis kom, kan ons dit vir iets anders waarvan jy meer hou gaan omruil.’ Dieselfde gebeur in Christus se liggaam. Wanneer ons die gawes wat God ons gegee het oopmaak, kyk ons dadelik na iemand anders om te sien wat hy of sy gekry het. Wanneer ons na ons gawes kyk, is ons ongelukkig en dink: ‘Ek sal dit omruil vir iets waarvan ek meer hou.'”

Jy besluit nie watter gawe God vir jou gee nie. ‘…God het dit so beskik… dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind.’ Soms neem dit jare voor jy jou gawe herken en dit begin uitoefen. In plaas daarvan om iemand anders se gawe te begeer, wees dankbaar vir jou eie en vra God om dit te gebruik om soveel mense moontlik te seën.

As jy vrae daaroor het, gaan lees die Skrif. Paulus sê: ‘…[God se] gawes en roeping staan onherroeplik vas’ (Romeine 11:29 NLV); ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het…’ (Romeine 12:6 NLV). ‘…Maar ons het verskillende gawes van God ontvang, die een hierdie, die ander weer die ander’ (1 Korintiërs 7:7 NLV); ‘Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind’ (1 Korintiërs 12:11 NLV). Gebruik dus die gawe wat God vir jou gegee het.

Sielskos: Hand 3:11-5:42; Mark 3:13-19; Ps 127; Spr 10:19-21

Vernietig daardie skanse!

2024-04-17
2 Korintiërs 10:4-5 NLV

Wanneer die Bybel van ‘n skans of vesting praat, verwys dit na ‘n area van jou lewe wat deur verkeerde denkwyses beheer word. Hierdie skanse sal mense wat dieselfde dink, na jou toe aantrek. Daar is egter goeie nuus. Nie net sal God die skanse in jou lewe aan jou openbaar nie, Hy sal vir jou die gevolge wat hulle veroorsaak het, wys.

Sommige van ons bekommer ons obsessief oor geld, omdat ons moeilike kinderjare gehad het. Gevolglik is ons geneig om meer op onsself as op God staat te maak. Wanneer dit by geld kom, steek ons dit weg, hoop dit op of weerhou dit. Omdat ons bang is om te saai, loop ons die presiese oes wat ons probleem sou oplos, mis.

‘Hoe kan ek dus my skans of vesting hanteer?’ vra jy. Val dit met die Woord van God aan. Jy hoef nie alles wat in jou gedagtes opkom te aanvaar nie; jy het ‘n keuse! As jou gedagtes in lyn met die Woord van God is, aanvaar dit – as dit nie is nie, verwerp dit. Wanneer Satan jou aanval, moenie net daar sit en sê: ‘Ek wens hy wil my uitlos. Ek is nie lus om vandag te baklei nie,’ nie. As jy dit doen, sal hy jou ‘verslind’ (sien 1 Petrus 5:8).

Paulus beskryf jou Bybel as volg: ‘…as swaard, die Gees, dit is God se woord’ (Efesiërs 6:17 NLV). Die Heilige Gees binne-in jou sal die swaard van die Skrif namens jou opneem – mits jy jou werk gedoen het, om die Woord van God in te neem. Wil jy die skanse in jou lewe vernietig? Herprogrammeer dan jou gedagtes met die waarhede van God se Woord.

Sielskos: Hand 1:1-3:10; Mark 3:7-12; Ps 43; Spr 10:17-18