Gebruik die gawe wat God jou gegee het

2024-04-18
1 Korintiërs 12:18 NLV

‘n Gerespekteerde Bybelonderwyser sê: “Omdat my familie so groot is, trek ons name om te besluit vir wie ons geskenke gaan koop. Een Kersdag toe ek my geskenk oopmaak, was ek teleurgesteld. Toe het ek na my tweelingbroer gekyk, wat twee oulike geskenke gekry het. My vrou het agtergekom dat ek teleurgesteld was en vir my gesê: ‘Moenie bekommerd wees nie. Wanneer ons by die huis kom, kan ons dit vir iets anders waarvan jy meer hou gaan omruil.’ Dieselfde gebeur in Christus se liggaam. Wanneer ons die gawes wat God ons gegee het oopmaak, kyk ons dadelik na iemand anders om te sien wat hy of sy gekry het. Wanneer ons na ons gawes kyk, is ons ongelukkig en dink: ‘Ek sal dit omruil vir iets waarvan ek meer hou.'”

Jy besluit nie watter gawe God vir jou gee nie. ‘…God het dit so beskik… dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind.’ Soms neem dit jare voor jy jou gawe herken en dit begin uitoefen. In plaas daarvan om iemand anders se gawe te begeer, wees dankbaar vir jou eie en vra God om dit te gebruik om soveel mense moontlik te seën.

As jy vrae daaroor het, gaan lees die Skrif. Paulus sê: ‘…[God se] gawes en roeping staan onherroeplik vas’ (Romeine 11:29 NLV); ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het…’ (Romeine 12:6 NLV). ‘…Maar ons het verskillende gawes van God ontvang, die een hierdie, die ander weer die ander’ (1 Korintiërs 7:7 NLV); ‘Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind’ (1 Korintiërs 12:11 NLV). Gebruik dus die gawe wat God vir jou gegee het.

Sielskos: Hand 3:11-5:42; Mark 3:13-19; Ps 127; Spr 10:19-21