Kies ‘n leier

2024-04-21
Matteus 15:14 NLV

Daar is baie goeie leiers om ons – moenie bang wees om hulle te volg nie. Wat egter van die ‘blinde gidse’ waarvan Jesus praat? Hier is ‘n paar tekens om jou te help om hulle te identifiseer en te vermy.

1) Onbuigbaarheid. Ware leiers het ‘n onderrigbare en diensbare gees. Hulle verbly hulself in jou groei en word nie deur jou ontwikkeling bedreig nie.

2) Meerderwaardigheid. Wees bedag vir ‘n ‘slegs-ons-is-reg’ houding. Wanneer iemand nie ander lede van God se familie kan erken en saam met hulle kan werk nie, is iets verkeerd.

3) Gierigheid. Hier is God se standaard vir leierskap: ‘…nie om julleself finansieel te verryk nie, maar omdat julle graag in God se diens staan’ (1 Petrus 5:2 NLV). Die Bybel sê dat goeie leiers ‘…behoort dubbele erkenning te kry…’ (1 Timoteus 5:17 AFR83). Wees egter op jou hoede vir leiers wat sê dat jy slegs in hulle veld en nêrens anders nie, moet saai.

4) Verantwoordbaarheid. Pasop vir die onaantasbare, ‘Ek-is-God se gesalfde’ tipes. Maak nie saak hoe talentvol ons is nie, ons almal het blinde kolle en moet van tyd tot tyd gekonfronteer en aangespreek word. Salomo het gesê: ‘…Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie’ (Prediker 4:10 NLV). Hier is wat Jesus oor die godsdienstige leiers van sy tyd te sê gehad het: ‘…Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word. Ignoreer hulle. Hulle is blinde gidse wat blindes wil lei. As een blinde vir ‘n ander blinde gids wil speel, beland hulle al twee in die sloot’ (Matteus 15:13-14 NLV). Wanneer jy ‘n leier kies, het jy nie ‘n blinde prima donna nodig nie; jy het een met ‘n diensbare gees nodig.

Sielskos: Gal 5:22; 2 Pet 3:3-15; Matt 5:39; 1 Sam 25:1-42