2024-02-27
Spreuke 23:18 NLV
Is jy omring deur mense wie se missie dit is om jou ‘n ‘dosis realiteit’ te gee? Hulle wys aanhoudend uit hoe moeilik die ekonomie is, hoe sleg die arbeidsmark is en hoe die lug besig is om te val.
Jon Walker skryf: ‘Ek onthou dat my Engelse onderwyser in die hoërskool my aangeraai het om nie aansoek by Cornell Universiteit te doen nie, want hulle sou my nie aanvaar nie en as hulle sou doen, sou ek nie in staat wees om die werk te doen nie. Ek het amper nie aansoek gedoen nie, maar ‘n paar dae later het ‘n voormalige onderwyser vir my gesê: ‘As jy inkom, gaan. Jy kan dit doen.’ Sy woorde het die wêreldse verskil gemaak. Ek het aansoek gedoen en is aanvaar. Die wêreld het meer optimiste, bemoedigers en inspireerders nodig om met die harte van ander mense te praat en te sê: ‘Ek glo in jou. Volg jou passie na en lewe jou doelwit uit. As jy die begeerte het, het jy die krag om dit te laat gebeur. Hou aan om hard te werk. Die ekonomie is moeilik, maar jy kan nog steeds jou besigheid laat groei. Die arbeidsmark is nie watwonders nie, maar jy sal die regte werk kry. Selfs as jy misluk, sal dit tot iets beters lei. Jy leer en groei.’ Die verskil tussen sukses en mislukking is geloof en dikwels word daardie geloof by ons ingeprent deur iemand wat ons aangemoedig het.’
Om ‘n visie te hê beteken dit dat jy ‘n begeerte het om vorentoe te beweeg; daarsonder bly jy vasgevang waar jy is. Dit maak nie saak wat enigiemand anders dink nie; God sê: ‘Jy sal altyd ‘n toekoms hê…’ Wanneer jy na Hom kyk, sal Hy jou die krag gee om vorentoe te beweeg.
Sielskos: 1 Kon 12-13; Matt 17:14-27; Ps 53; Spr 6:9
2024-02-26
Jakobus 3:17 NLV
Buigsame mense is gelukkige mense. Hulle ervaar baie minder stres as die rigiede mense wat daarop aandring dat dinge altyd op ‘n sekere manier gedoen moet word. Een van die redes hoekom onbuigsaamheid so stresvol is, is omdat ons ons doelwitte moet bereik deur denkende mense wat dikwels hulle eie idees, wat van ons s’n verskil, het. As jy nie die tipe mens is wat ontvanklik vir nuwe idees is nie, omdat jy dit as ‘n persoonlike verwerping van jou eie idees sien, moet jy Jesus, die Groot Geneesheer, vra om korrektiewe chirurgie op jou te doen.
Die Fariseërs was die toonbeeld van perfeksionisme en onbuigsaamheid. Toe hulle Jesus daarvan beskuldig het dat Hy nie die Sabbat onderhou nie, het Hy gesê: ‘…Die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie’ (Markus 2:27 NLV).
Hoe buigsaam is jy? Is jy so spesifiek by die huis dat jou familie op eiers loop in die vrees dat hulle een van jou eindelose voorkeure sal skend? Moet die handdoeke altyd op ‘n spesifieke manier gevou word? As planne moet verander, raak jy angstig of stop en oorweeg jy dit dat God dalk ‘n ander plan mag hê? Moenie probeer om jou gedrag te regverdig deur dit onder die mantel van ‘uitnemendheid’ te probeer wegsteek nie. Ja, jy sal graag wil sien dat dinge op die beste moontlike manier gedoen moet word; probeer egter verstaan wanneer jou gedrag die gebied van uitnemendheid verlaat en begin grens aan ‘n onbuigsame perfeksionis wat nie net vir jouself nie, maar ook vir ander, stres veroorsaak.
Die woord vir jou vandag is – ontspan. Wees bietjie buigsaam. Probeer om dinge te vat soos dit kom.
Sielskos: 1 Kon 10-11; Matt 17:1-13; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8
2024-02-25
Efesiërs 6:18 NLV
Jy moet jou geestelike wapenrusting reg aantrek sodat al die dele inmekaar pas; anders is jy weerloos teen Satan se aanvalle. Hoe doen jy dit? Paulus sê vir ons hoe: ‘Doen alles deur gebed en smeking…’ Jou klerekas is waar jy die klere vind wat jy in die natuurlike ryk moet aantrek, maar jou gebedskas is waar jy dit wat jy in die geestelike ryk moet aantrek, vind. Net deur gebed word jy vir geestelike oorlogvoering aangetrek, moet dus nie ongeklee die stryd betree nie.
Paulus skryf: ‘Nee, soos ‘n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus ‘aantrek,’ en nie ‘n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie’ (Romeine 13:14 NLV). Dis een van die effektiefste verse in die Skrif wanneer dit daarby kom om versoeking te weerstaan.
Professionele mense wat honde leer om na hulle bevele te luister en te gehoorsaam, begin deur ‘n stuk vleis voor die hond te gooi. Die onopgeleide hond begin dadelik eet, maar uiteindelik leer die afrigter die hond om vir hom sy onverdeelde aandag te gee, maak nie saak wat voor hom neergesit word nie. Wanneer die opleidingsproses voltooi is, sal die hond nie sy oë van sy afrigter af neem nie, selfs wanneer die versoeking reg onder sy neus is.
Daar is ‘n belangrike les hieruit te leer. As jy jou oë op Jesus hou, sal dit nie saak maak watter tipe leuen of versoeking Satan oor jou pad stuur nie. Elke nou en dan sal jy dalk daarvoor wil val, maar as jy op Jesus gefokus bly en alleenlik na sy stem luister, sal jy as oorwinnaar uit die stryd tree.
Sielskos: Eks 20:15; Josua 7:1-26; Tit 2:6-10; Ef 4:28
2024-02-24
Efesiërs 6:13 NLV
Kom ons kyk na die volgende drie stukke geestelike wapenrusting wat God vir ons voorsien om in oorwinning te lewe:
1) ‘Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof…’ (vers 16 NLV). Hoekom? ‘…Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet’ (vers 16 NLV). Onthou jy die ou westerse flieks waar daar gevegte tussen inheemse Amerikaanse Indiane en nedersetters was? Die nedersetters het hulle waens in ‘n sirkel getrek en die Indiane het vlammende pyle soontoe geskiet. Jy kan nie terselfdertyd brande en vyande bestry nie; vlammende pyle is ‘n afleiding. Satan gebruik dieselfde taktiek. Geloof (deur op God se Woord te fokus), blus egter daardie brandpyle.
2) ‘Gebruik God se verlossing as ‘n helm…’ (vers 17 NLV). Die helm beskerm jou gedagtes. Wanneer Satan fluister: ‘As jy regtig ‘n Christen was, sou jy nie…’ kan jy sy aanvalle afweer deur jou identiteit in Christus te ken – ‘n bloedgekoopte, vergewe, regverdige, hemelgebonde kind van God.
3) ‘Gebruik… as swaard, die Gees, dit is God se woord’ (vers 17 NLV). ‘Die woord van God’ waarna hier verwys word, is nie logos (die geskrewe woord) nie, maar rhéma, wat ‘uitspraak’ beteken. Dit beteken dat jy God se Woord moet spreek om Satan te verslaan; om die regte Skrifgedeelte op die regte tyd te gebruik om die probleem te hanteer. Dis hoekom Satan so met jou baklei dat jy nie jou Bybel moet lees nie. Drie keer het hy Jesus in die woestyn aangeval en drie keer het Jesus geantwoord: ‘Daar staan in die Skrif geskryf’ (sien Matteus 4:4-10). Hy het Satan met die Skrif verslaan. Die Duiwel kan nog met jou stry, maar hy het geen verdediging teen die Woord van God nie. Memoriseer dus die Skrif en gebruik dit as ‘n wapen om hom te verslaan.
Sielskos: 1 Kon 8-9; Matt 16:13-28; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5
2024-02-23
Efesiërs 6:11 NLV
Elke dag van jou lewe sal jy die wêreld, die vlees en die Duiwel beveg. Om gewapen vir geestelike oorlogvoering te wees, gee Paulus ons ses spesifieke stukke geestelike wapenrusting. Hier is die eerste drie:
Die stewige ‘…waarheid as ‘n gordel om julle heupe…’ (vers 14 NLV). Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ‘n vliegtuig baie kilometers verby sy bestemming gevlieg. Hoekom? Omdat die bemanning, wat nie besef het dat die wind baie sterk was nie, geweier het om die kajuit-instrumente te glo. Gevolglik het almal aan boord omgekom. Toe die vliegtuig jare later gevind is, was die instrumente egter in perfekte werkende toestand. Jy kan op God se Woord staatmaak om jou op die regte pad te lei.
2) ‘…God se vryspraak as borsharnas…’ (vers 14 NLV). Let wel, dis God se vryspraak, nie jou eie nie. Jy word nie gered deur op jou eie optrede te vertrou nie, maar deur op Christus se daad aan die kruis te vertrou. Wanneer jy dit weet, word God se vryspraak ‘n borsharnas wat jou hart van twyfel oor jou verlossing beskerm (sien 2 Korintiërs 5:21).
3) ‘Trek die… vrede… aan soos skoene aan julle voete’ (Efesiërs 6:15 NLV). Skoene dui aan dat jy êrens heen op pad is, moet dus nie verwag om van God te hoor as jy vasbeslote is om op dieselfde plek te bly nie. Wanneer jy begin vorentoe beweeg, sal Hy die regte rigting bevestig deur jou ‘n sin van vrede te gee (sien Kolossense 3:15). Jy sal dan weet dat jy op die regte pad is. As jy nie vrede daaroor het nie, raadpleeg God vir leiding. God wil hê dat jy ‘n blywende gevoel van sy vrede moet hê – moet dus nie daarsonder gaan nie.
Sielskos: 1 Kon 6-7; Matt 16:1-12; Ps 36; Spr 5:21-23
2024-02-22
Johannes 20:25 NLV
Johannes skryf: “Tomas… een van die twaalf, was nie saam met die ander dissipels toe Jesus daar aangekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: ‘Ons het die Here gesien!’ Maar hy het vir hulle gesê: ‘As ek nie die merk van die spykers in sy hande sien… en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.’ Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle. Die deure was op slot en grendel, maar Jesus het tussen hulle kom staan… Daarna sê Hy vir Tomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar glo.’ Tomas het vir Jesus gesê: ‘My Here en my God!'” (verse 24-28 NLV).
Jesus het ‘n twyfelaar gekies om sy dissipel te wees. Toe hy getwyfel het, het Jesus hom nie aan die kaak gestel en afgedank nie. Hy het inderwaarheid ‘n spesiale verskyning gemaak om sy twyfel op te los en sy geloof op te bou. God sê: ‘My gedagtes is anders as julle s’n…’ (Jesaja 55:8 NLV). Die waarheid is dat God nie soos ons dink nie. Hy sien die groot prentjie en Hy werk na ‘n spesifieke doel toe. Jesus het gesê: ‘Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou hanteer nie’ (Johannes 16:12 NLV).
Wanneer jy jouself dus vind waar jy twyfel, bid die volgende: ‘Here, dis nie maklik om te glo wanneer ek seer het en verward is en U swyg nie. Soos Tomas wil ek bewys hê dat U vir my lief is. Help my om verby my begeerte vir vrede en gemak, verby my twyfel en onbeantwoorde vrae te kyk en die waarheid van u onfeilbare liefde en genade te begryp.’
Sielskos: 1 Kon 3-5; Matt 15:15-39; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20