2024-04-10
Filippense 4:13 NLV
Dit kan verwoestend wees om jou werk te verloor. Dis hoekom jy die regte perspektief moet behou. Om minder te hê maak nie van jou ‘n minderwaardige persoon nie. Die Christelike lewe is een van toetse en oorwinnings. Paulus skryf: ‘Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (verse 12-13 NLV). Wat moet jy doen wanneer jy werkloos is?
1) Jou uitgawes tot die minimum verminder. Dit beteken dat jy dalk die bus of trein moet neem, jou eie middagete moet maak en ander kostebesparende maatreëls moet gebruik.
2) Die stigma uit werkloosheid neem. Moenie aanneem dat mense minder van jou gaan dink omdat jy jou werk verloor het nie. Mense reageer oor die algemeen op dieselfde manier as jy oor jou situasie. Hulle sal jou entoesiasme oor jou volgende skuif inspirerend vind – selfs al weet jy dalk nog nie wat dit gaan wees nie. ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV).
Deur in die tronk gegooi te word, het Josef Egipte se eerste minister geword. ‘Die Here jou God… het die vloek in ‘n seën verander omdat die Here jou God jou liefhet’ (Deuteronomium 23:5 NLV). God kan talente binne-in jou en konneksies rondom jou openbaar en die deur na ‘n vlak van seën en sukses wat jy nooit gedroom moontlik is nie, oopmaak. Vertrou Hom dus en hou aan glo dat jou beste dae nog voor jou lê.
Sielskos: Jer 36:27-40:16; Mark 1:40-45; Ps 25:1-7; Spr 9:17-18
2024-04-09
Psalm 5:13 NLV
Om werksekerheid te hê moet jy die volgende doen:
1) Jou sigbaarheid in jou industrie verhoog. Vestig kontakte en verhoudings met ander buite jou maatskappy deur plaaslike industrie geleenthede waar moontlik by te woon. Jou doel moet nie net wees om genoeg te weet om oor die weg te kom nie, maar om jou vaardighede te ontwikkel. Wanneer die tyd reg is en jy gereed is, sal God vir jou deure oopmaak.
2) Handhaaf ‘n goddelike perspektief oor jou werk. Herinner jouself dat dit nie die enigste bron van jou sekuriteit is nie, maar eenvoudig een van baie kanale wat God kan gebruik om aan jou te voorsien. Lees die verhaal van Elia, die profeet, en hoe God wonderbaarlik deur ‘n kraai, ‘n waterstroom en ‘n enkelma met net genoeg kos vir een maaltyd, aan hom voorsien het. God het vier verskillende strome gebruik om vir die tuin van Eden water te gee. Wanneer jy dus ‘n behoefte of ‘n finansiële tekort het, moet jy Hom vra om verskillende strome van inkomste aan jou te openbaar.
Staan op die volgende twee beloftes: ‘Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV). ‘God het die Heilige Gees vir ons gegee, en daarom is ons nie bang nie. Nee, die Heilige Gees maak ons sterk en help ons om lief te wees vir mense en om reg te besluit wat ons moet doen’ (2 Timoteus 1:7 ABA). Vrees en geloof is magtige kragte wat jou lewe wil regeer. Een sal jou egter in die verkeerde rigting neem. Versterk dus vandag jou geloof deur God se Woord te lees, te bid en jou lewe se uitkoms aan Hom toe te vertrou.
Sielskos: Jer 33:1-36:26; Mark 1:35-39; Ps 32; Spr 9:10-16
2024-04-08
Spreuke 21:5 NLV
Om werksekerheid te hê, moet jy die volgende doen:
1) Daarna streef om so onvervangbaar as moontlik te wees. ‘Getroue werk lewer wins op. Afskeepwerk lei tot gebrek. Skatte met leuens verwerf, beteken niks en bring net die dood’ (vers 5-6 NLV). Strewe daarna om integriteit en uitnemendheid in jou werk te hê, terwyl jy soveel moontlik oor die prosedures en prosesse buite jou verantwoordelikheidsgebied probeer leer. Wees gewillig om ander mense te help – maar nie ten koste van jou eie effektiwiteit nie.
2) As die vrees om jou werk te verloor uit ‘n persoonlikheidsbotsing met jou baas spruit, aanvaar die Bybelse beginsel van gesag en onderwerping. Die verantwoordelikheid kom alles op die persoon in beheer neer. Dus, besluit om jou aan enigiets wat van jou gevra word – mits dit nie immoreel of onwettig is nie – te onderwerp. Waar moontlik, bevestig jou baas se instruksies met ‘n opvolgmemo, insluited jou terugvoer oor die moontlike uitkomste daarvan. Praat altyd met respek. Wees gewillig om die ekstra myl te loop. Moenie verskonings soek of slegte vakmanskap probeer wegsteek nie. Dis noodsaaklik om met jou baas oor die weg te kom, maak dit dus jou spesiale projek. ‘Die slawe moet aan hulle eie eienaars onderdanig wees en hulle in alle opsigte tevrede hou…’ (Titus 2:9 NLV).
3) Jou markwaarde ken. Is jy in ‘n veld waar daar ‘n sterk aanvraag na jou vaardighede is, of moet jy jou vaardighede opknap? As jy ‘n verhoging of ‘n bevordering wil hê, moet jy gewillig wees om die tyd en inspanning wat nodig is om dit te verdien, in te sit. ‘Mense wat lui is, word gou arm. Hulle wat fluks is, word ryk’ (Spreuke 10:4 NLV).
Sielskos: Jer 31-32; Mark 1:29-34; Ps 72:12-20; Spr 9:7-9
2024-04-07
Spreuke 12:11 NLV
As jy dink dat die perfekte lewe een sal wees waarin jy nie hoef te werk nie, dink weer. God het die tuin van Eden geskep, toe het Hy Adam geskep, en toe het Hy vir Adam gesê dat dit sy werk is om die tuin te versorg. Hoekom? Omdat werk waardigheid en betekenis tot ons lewe toevoeg. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Wie sy grond bewerk, het volop om te eet. Wie met nuttelose dinge besig is, het nie verstand nie’ (vers 11 NLV). Kom ons kyk vir die volgende paar dae hoe om werksekerheid te hê.
Die vrees om jou werk te verloor is in die volgende kernvrese gewortel: Gebrek: ‘Hoe sal ek my verpligtinge nakom?’ Ontoereikendheid: ‘Ek is nie goed genoeg nie.’ Hulpeloosheid: ‘Wat doen ek nou?’ Eensaamheid: ‘Ek sal geïsoleerd word.’ Vir sommige mense is die skaamte en vernedering om hul werk te verloor net so verwoestend as die verlies aan inkomste. Dit kan ‘n selfvervulde profesie word as jy aanhoudend wroeg dat jy jou werk kan verloor, omdat angs jou minder doeltreffend en effektief in jou werk kan maak.
As jy dus met die konstante vrees leef dat jy jou werk kan verloor, is dit tyd om op te hou om jouself te bekommer en te begin om ‘n strategie te ontwikkel wat jou posisie by die werk sal verbeter, of jou van ‘n sagte landing as jy ontslaan word sal verseker. Jou eerste en belangrikste strategie moet wees om op God se getrouheid te vertrou: ‘Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy doen… Die Here sal Hom daarin verbly en jou voorspoedig maak… Dit sal gebeur as jy jou God gehoorsaam…’ (Deuteronomium 30:9-10 NLV).
Sielskos: Gal 5:22; Jes 61; Heb 12:2; Jes 35:3-10
2024-04-06
Jakobus 4:6 AFR83
Hier is drie belangrike beginsels wat jy in gedagte moet hou wanneer konflik plaasvind:
1) Hanteer die kwessie sonder om die persoon aan te val. Sommige van ons sal eerder die verhouding verloor as om die argument te verloor.
2) Soms is dit die beste wanneer paaie skei. Toe Paulus en Barnabas gestry het oor of Johannes Markus saam het hulle op hulle volgende sendingsreis moet gaan, het daar toe: ‘kwade gevoelens tussen hulle ontstaan, en hulle het elkeen sy eie koers gegaan…’ (Handelinge 15:39 NLV). Dis egter nie die einde van die verhaal nie. Dit het die geboorte van twee bedienings tot gevolg gehad. Wees dus genadig. Wat tans aan die gebeur is, is dalk God se manier om jou na ‘n nuwe area van diens en seën te beweeg.
3) Onthou, yster slyp yster (sien Spreuke 27:17). Wanneer yster mekaar slyp, spat die vonke. Veral tieners is meesters op die gebied om met onkonvensionele opinies vorendag te kom wat jou uitdaag en jou eerlik hou. ‘n Ou Kwaker het een keer ‘n iesegrimmige koei gekoop. Elke melksessie het in ‘n wilstryd ontaard. Vasbeslote om genade tydens konflik te bewys, het die ou man geweier om te reageer as Bessie haar voet op die grond gestamp het, haar stert deur sy gesig geswaai het of die melkemmer omgegooi het. Eindelik het sy hom geskop dat hy met ‘n boog deur die lug trek, wat die laaste strooi was. Hy het vir haar gegrom: ‘Bessie, jy weet ek is ‘n Kwaker en mag jou nie terugskop nie, maar as jy so aanhou, verkoop ek jou sekerlik aan ‘n Presbiteriaan!’
Wanneer jy die gewonde party is, moet jy op hierdie belofte staatmaak: ‘Maar die genade wat Hy gee, is nog groter…’
Sielskos: Jer 28-30; Mark 1:16-28; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6
2024-04-05
Matteus 6:32 NLV
Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (vers 33 NLV). Jy vra: ‘Wanneer ek aan God dink, is dit dieselfde as om te bid?’ Dit kan wees. Ons is almal bekend met die krag van ongesproke kommunikasie. Baie van ons het met ouers grootgeword wat niks hoef te gesê het om hul wil bekend te maak nie. Dit kon dalk ‘n sekere kyk in hulle oë of ‘n ander ongesproke gebaar gewees het. Ons het egter presies geweet wat gekommunikeer word en hoe daar van ons verwag was om te reageer.
Gebed werk dieselfde. Wanneer jy aan God dink, is dit ‘n gebed; en wanneer God sy gedagtes aan jou terug kommunikeer, is dit ‘n vorm van beantwoorde gebede. ‘n Seuntjie wou graag ‘n fiets vir Kersfees gehad het. Een aand het hy luidkeels gebid en presies vir God vertel watter kleur en maak sy fiets moes wees. Sy ma het gesê: ‘Seun, jy hoef nie te skree vir God om jou te hoor nie.’ Hy het geantwoord: ‘Ek weet Mamma, maar ek moet skree sodat Oupa kan hoor en vir my daardie fiets kan koop!’
Die waarheid is dat jy nie vir God hoef te skree om jou te hoor nie en jy hoef nie antwoorde op jou gebede te probeer optower nie. Jesus het gesê: ‘…Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.’ Hoekom dan die tyd neem om te bid? Want God wil hê dat jy Hom met vertroue moet nader, Hom met al jou behoeftes moet vertrou en ‘n verhouding met Hom moet bou. Dis waaroor dit gaan!
Sielskos: Jer 25-27; Mark 1:9-15; Ps 31; Spr 8:34-36