Leef met integriteit by die huis

2024-02-21
Genesis 19:14 NLV

Maak jou lewe ‘n ope boek. Vestig ‘n waardesisteem waarteen alles in die lewe geoordeel word. Wandel met God; behou jou integriteit by die werk en by die huis en jy sal elke keer die regte besluit neem. Lot het dit nie gedoen nie en hy het duur daarvoor betaal. ‘Lot is toe vinnig na buite om sy dogters se aanstaande mans te vertel: ‘Maak gou, gaan uit die stad uit! Die Here gaan dit verwoes!’ Maar die jong mans het gedink hy maak ‘n grap’ (vers 14 NLV).

Ouers, wanneer jy jou integriteit verloor, verloor jy jou geloofwaardigheid. Pas dus jou kinders fisies en emosioneel wanneer hulle jonk is en soos hulle ouer word, op. Leer jou seun om meisies te respekteer en praat met die seuns wat jou dogter op afsprake neem. Maak seker dat jy kontrolleer wat hulle en jy op die televisie en op die internet kyk. Dit beteken nie dat jy nie pret mag wees nie. Wys jou ligter kant vir jou kinders. Moenie so behep met werk of die kerk wees dat jy preuts of vervelig is nie. ‘Blydskap laat ‘n mens se gesig straal…’ (Spreuke 15:13 NLV).

Toe Lot sy familie probeer waarsku het, het hulle nie na hom geluister nie. Was hy te besig om ‘n bestaan te maak om hulle te leer wat die belangrikste in die lewe was? Het hy een ding gesê en ‘n ander gedoen? Ons weet nie. Maar hoe jy ook al daaroor dink, sy verlies was tragies. Die waarheid is dat jou integriteit, of die gebrek daaraan, gevolge sal hê, nie net in jou eie lewe nie, maar ook in jou kinders se lewens.

Sielskos: 1 Kon 1-2; Matt 15:1-14; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14

Wat is al wat vir jou saak maak?

2024-02-20
Handelinge 20:24 DB

Daar is ‘n verhaal van ‘n ryk vrou wat met die Titanic gevaar het. Toe dit die ysberg tref, het sy plek in een van die reddingsbote gekry. Sy het gevra of sy gou na haar kajuit kon terugkeer en hulle het haar drie minute gegee voor die reddingsboot sou vertrek. In haar kajuit het sy oor die geld en kosbare edelstene wat die vloer besaai het, getree en drie lemoene gegryp voor sy na die reddingsboot teruggekeer het. Omstandighede het haar waardes verander; tragedie het haar prioriteite uitgeklaar.

Die vraag is nie of jou kalender vol sal wees nie, maar wie dit sal vul en waarmee dit gevul sal word? As jy wys is, sal jy God oor jou lewensprioriteite raadpleeg en dit dan te alle tye voor jou hou (sien Spreuke 3:6).

Mense ouer as negentig jaar oud, is in ‘n opname gevra: ‘As jy jou lewe kon oorhê, wat sou jy anders gedoen het?’ Drie antwoorde het aanhoudend opgeduik: 1) Ek sou meer tyd saam met my familie en vriende bestee het. 2) Ek sou meer dinge uitprobeer het en meer risiko’s geneem het. 3) Ek sou myself aan iets gee wat sal voortleef nadat ek weg is. As jy vir elke versoek ja sê, sal jy nooit by dit waarvoor God jou geroep het, uitkom nie.

Paulus het dit uitgepluis: ‘…Al wat saak maak, is dat ek doen wat die Here vir my sê om te doen. En dit is om die goeie nuus oor God se goedheid bekend te maak.’ Jou grootste uitdaging is om dinge te dink en te doen wat uiteindelik saak maak. ‘Was hulle maar wys, sou hulle verstaan en sien wat hulle lot sal wees!’ (Deuteronomium 32:29 NLV).

Sielskos: Heb 11:17-13:25; Matt 14:13-36; Ps 28; Spr 5:3-6

Die breekproses (3)

2024-02-19
Matteus 14:19 NLV

Die Bybel sê Jesus: ‘…neem die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra God om die kos te seën. Toe breek Hy die brood in stukke, gee dit aan sy dissipels en sy dissipels weer aan die skare’ (vers 19 NLV). Let die verloop van hierdie verhaal op: Eers is die brode geneem, toe geseën, toe gebreek en toe aan ander gegee. Dis hoe God werk! Om ander mense deur jou te seën, sal Hy jou neem, jou seën, jou breek en jou aan ander gee.

Paulus moes van trots gebreek word. ‘…Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee… Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk… want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk’ (2 Korintiërs 12:7-10 NLV).

As jy dus ‘n persoon of situasie vol ‘dorings’ in jou lewe het, wil God hê dat jy sy genade en krag sal ervaar wanneer jy dit hanteer. Paulus het uiteindelik ‘n plek bereik waar hy God vir sy ‘doring’ kon dank. Die Bybel praat van ‘n ‘…voortdurende lofoffer aan God…’ (Hebreërs 13:15 NLV). Wanneer jy gewillig is om op te offer sodat jy iets kan ontvang, beteken dit dat jy dit genoeg waardeer om die prys daarvoor te betaal.

Wil jy in God se krag stap? Sy seën ervaar? Dank dan God vir jou ‘situasie vol dorings’ en omhels die breekproses waardeur Hy jou vandag neem.

Sielskos: Heb 9:1-11:16; Matt 14:1-12; Ps 5; Spr 5:1-2

Die breekproses (2)

2024-02-18
Psalm 51:19 NLV

Gebrokenheid lei tot seën. Om ‘n dubbele deel van Elia se gees te ontvang, moes Elisa, wat ‘n boer was, sy jukke opkap en twee van sy osse slag. Om haar liefde vir Jesus te demonstreer, moes Maria haar kosbare olie oor Hom uitgiet. Om die Midianiete te oorwin, moes Gideon se driehonderd soldate hulle erdepotte breek, hulle fakkels laat skyn en hulself ‘n teiken maak. Die waarheid is dat God elkeen van ons in verskillende areas breek om ons te kan gebruik. Watter areas? Slegte gewoontes. Hardkoppigheid. Opgeblaaste ego’s. Bose gedagtes. Verlammende vrese. Geheime vooroordele. Misplaaste ambisies. Die lys is eindeloos. As jy na die ooste toe kyk, sal jy nie wes beweeg nie, dus sal God jou omdraai.

Soms verg dit dissipline. Dis jy, nie God nie, wat die lengte en omvang van daardie dissipline bepaal. ‘Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ‘n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gebrei is, die blye oes oplewer van ‘n lewe volgens die wil van God’ (Hebreërs 12:11 NLV). As jy ‘n ouer is, sal jy verstaan. Een kind sal in trane uitbars, terwyl ‘n ander kind jou sal teenstaan. God sal doen wat ook al nodig is om jou uit jou selfgenoegsaamheid te breek!

Paulus skryf: ‘Mag God self… julle volkome aan Hom toewy. Mag Hy julle heeltemal – gees, siel en liggaam – onberispelik bewaar tot wanneer ons Here Jesus Christus terugkom’ (1 Tessalonisense 5:23 NLV). Let op dat jou liggaam laaste in die transformasieproses kom. As ‘n wedergebore gees wat in ‘n onwedergebore liggaam leef, sal jy altyd teen die vlees veg. Wat is die geheim tot oorwinning? Gebrokenheid en oorgawe!

Sielskos: Eks 20:14; Spr 6:23-35; Matt 5:27-30; 1 Kor 6:9-20

Die breekproses (1)

2024-02-17
Psalm 51:19 NLV

Gebrokenheid is die proses waardeur God ons van trots en selfgenoegsaamheid stroop sodat die karakter van Christus kan skyn. Gebrokenheid beteken nie noodwendig dat jy ‘n tragedie beleef het nie. Baie mense ervaar tragedies sonder om nader aan God te beweeg. Die kwessie van gebrokenheid is nie soseer jou omstandighede nie, maar jou reaksie. Wat probeer God vir jou leer?

Gebrokenheid is wanneer God jou van jou selfgenoegsaamheid tot so ‘n mate stroop dat jy geen krag oor het om jouself weer reg te maak nie. Wanneer Hy elke pad wat jy probeer neem blokkeer en jy tot die besef kom dat Hy alleenlik die antwoord is, maak jy ‘n lewensveranderende ontdekking. Wanneer God al is wat jy het, is God al wat jy nodig het! Die waarheid is dat God se krag vir diegene wat opgehou het om dit in hulle eie krag te doen of om dit vir hulle eie doeleindes te probeer bereik, voorbehou word.

Let die woorde: ‘Die offer wat U wil hê, o God…,’ op. ‘n Offer beteken dat iets op ‘n altaar moet sterf. As jy dus ‘n nuwe vlak van God se genade en krag in jou lewe wil ervaar, moet jy gewillig wees om in selfbelang, ego en onafhanklikheid te sterf. Vir ‘n plant om deur die grond te groei, moet die saad gebreek word. Vir ‘n kuiken om die lewe te ervaar, moet die dop gebreek word. Vir ‘n volbloedperd om te wen, moet sy wil gebreek en ingespan word.

Na ‘n ontmoeting met Christus op die Damaskuspad waar hy gebreek is, het Paulus gebid: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53). Is jy vandag in die breekproses? Hier is jou opsies: 1) teenstand, 2) weghardloop, of 3) reageer en sê: ‘Ja, Here.’

Sielskos: Heb 5-8; Matt 13:47-58; Ps 149; Spr 4:25-27

Berei jouself voor

2024-02-16
2 Konings 3:16 DB

Alle goeie dinge kom nie vir diegene wat geduldig wag nie, maar vir diegene wat voorberei. Daar is ‘n goeie illustrasie hiervan in 2 Konings 3. As deel van God se strategie om die Moabiete te oorwin, het Hy vir die Israeliete gesê om gate in die vallei te maak, wat Hy met water sou vul totdat dit ‘n magtige rivier sou word. Hulle het dit gedoen en ‘n wonderbaarlike oorwinning behaal. Moet egter nie die punt hier mis nie. God het gesê: ‘Wanneer julle die gate gemaak het, dan sal Ek dit vul!’ (sien vers 17 DB).

God kan enigiemand gebruik, maar Hy doen nie; Hy gebruik voorbereide mense. Moses het 120 jaar oud geword. Die eerste veertig jaar van sy lewe het hy in ‘n paleis deurgebring, die tweede veertig jaar van sy lewe het hy in die woestyn deurgebring en die laaste veertig jaar het hy bestee deur sy Godgegewe opdrag te vervul. Twee-derdes van sy lewe het hy in voorbereiding deurgebring!

Wat gebeur wanneer jy nie voorbereid is nie? Die dinge wat jy hoop nie sal gebeur nie, gebeur. Dikwels is die skeidingslyn tussen wen en verloor voorbereiding! Paulus se bediening begin met hierdie woorde: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53). God neem hom dan vir die volgende drie jaar na die woestyn toe om hom te leer en vir sy bediening voor te berei.

Of jou roeping nou geestelik of sekulêr is, jy moet weet wat dit in terme van tyd, inspanning en hulpbronne gaan kos en dan daarvolgens voorberei. ‘Met wysheid word ‘n huis gebou. Insig is nodig om dit te onderhou’ (Spreuke 24:3 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – berei jouself voor.

Sielskos: Heb 1-4; Matt 13:36-46; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24